Middernagmusiek. Amelia Strydom
wie de hel dink hy is hy? As sy dit nie self nog ’n keer wou hoor nie, het sy vir hom gesê om te gaan bars.
Hierdie ronde luister sy fyner na die woorde. Die verteller was sewe toe hy en sy ma na ’n dorpie met die vreemde naam “Hazard” getrek het. Vanuit die staanspoor was hy ’n swartskaap. Inwoners het hom met “prejudiced eyes” gevolg, gefluister dat hy “not right” is nie.
Elke woord – elke noot – spreek van eensaamheid. En toe ontmoet die outjie vir Mary: die eerste meisie wat verby die vooroordeel en agterdog kon kyk, wat hom verstaan het. Hulle het graag teen sonsondergang langs die rivier gaan stap, hulself uit die Nebraska-dorpie uit weggedroom.
Dis wat sy ook moes gedoen het, dink Isolde. Ná skool moes sy weggegaan het, die wêreld daar buite aangedurf het, eerder as om op haar skoolliefde se erfplaas te gaan werk.
Sy vestig haar aandag weer op die hartseer lirieke. Een oggend het die sheriff aan die deur kom klop met die nuus dat Mary verdwyn het. Sy het gaan stap en nooit weer teruggekom nie. Die verteller sweer hy het haar laas op die rivieroewer gesien – veilig, ongeskonde, maar niemand glo dit nie. ’n Duisend beskuldigende vingers wys reguit na hom, en hy moet ’n plan maak om by die rivier te kom.
Hoekom, wonder Isolde terwyl die laaste refrein speel. Wil hy selfmoord pleeg?
“Wat de donner was dit?” Hugo se woorde klief deur die stilte in die kajuit.
“Wat bedoel jy ‘wat was dit’? Dis jou CD, nie myne nie.”
“Ek het dit nog nooit in my lewe gehoor nie.”
En as hy nou só klink? Gevaarliggies flikker in haar kop. Het sy wragtig wéér met ’n beduiwelde, wispelturige mansmens deurmekaargeraak?
Is sy ’n magneet vir poepholle?
Sy druk haar skouers agtertoe. “Luister, ek weet nie wat jou probleem is nie. Ek het die CD in jou sakkie gekry. Een van jou meisies het dit waarskynlik hier vergeet.”
Sy oë verlaat die pad vlugtig en kyk haar middeldeur. Isolde gluur terug. Hy moenie dink sy gaan eerste wegkyk nie.
“Oukei,” hensop hy onverwags. “Ek glo jou.”
“Dankie.” Sy laai die woord met sarkasme.
“Speel bietjie die volgende song,” vra hy. Sy gee hom ’n skewe kyk en hy las gou “asseblief” by.
Toe sy die vorentoe-knoppie druk, gebeur niks. Miskien moet sy die CD uithaal en terugsit? Dan kan sy sommer vasstel wie die kunstenaar is.
Die blink oppervlak is egter skoon. “Dis ’n tuisgemaakte CD,” sê sy, “en dit lyk my hier’s net een liedjie op.”
Hugo is tjoepstil. Hy loer in die truspieëltjie en druk die flikkerlig se armpie af. Die getik werk op Isolde se senuwees.
“Is dit ons afdraai?”
Hy beduie na ’n bruin bordjie wat lyk of dit ’n paar sentimeter bokant die grond dryf. Die pale is toe onder die mis en mens kan skaars die lodge se naam uitmaak.
Toe daar oplaas ’n gaping in die aankomende verkeer kom, draai hy op die grondpad af. “Jô, ek was lanklaas so bly om van ’n grootpad af te kom.”
Dis te verstane dat hy kort van draad is na die stresvolle rit, dink sy. Of bedrieg sy haarself?
“Daar’s pynpille in die klapkassie.” Hy kantel sy kop stywerig weerskante toe en rol sy skouers. “Haal vir my twee uit, seblief?”
“Ek kan verder bestuur. Jy’t ’n lang dag gehad en moet nog vanaand optree ook.”
“Ek’s fine.”
“Natuurlik is jy, meneer Macho.” Sy maak die botteltjie oop en skud twee pille uit. “As jy te trots is om hulp te aanvaar, of my nie met jou kosbare Jeep vertrou nie, moet jy maar ly.”
Sy gee die pille en ’n botteltjie water aan. Hy sluk dit kop agteroor af.
“Jy dink seker ek’s ’n regte goorgat,” sê hy met ’n tikkie selfspot. “Eintlik is ek heel nice, hoor.”
“Ek’s seker jy’s ’n regte prins.”
“Is, ja.” Hy wag ’n rukkie. Toe dit duidelik word dat sy nie gaan stry óf saamstem nie, kantel hy sy kop na haar. “Hei, ek’s jammer. My dag het gesuck, maar ek weet joune was tien maal erger.” Hy vryf oor sy nek en grimas.
“Jy’s vergewe. Jy’t ver bestuur en jou nek is seer. Ek moes daarna gekyk het voor ons gery het, dan was dit nou al beter.”
“Spyt kom altyd te laat.” Hy flits sy amper-kuiltjies. So ’n blikskottel. Sy lagwekkende verhoognaam is toe nie so vergesog nie – sy sweer hy kan enigiemand met twee X-chromosome speel-speel oorreed om uit sy hand te eet.
Impulsief draai sy na hom. Sy skulp haar regterhand om sy nek. Haar vingers vind die drukpunte net onder sy skedel en vat hulle ferm vas. Hy kreun, maar sy kan voel hoe sy spiere ontspan. Hy rol sy kop agtertoe, leun in haar aanraking in.
“Moenie ophou nie.” Hy pers die asem tussen sy lippe deur. “Waar was jy die laaste twee jaar, hm?”
Is die grys lug regtig skielik helderder? As sy net behoorlik kon bykom, albei duime kon gebruik om harder te druk. Sy roteer haar bolyf so ver moontlik na sy kant. Sonder om haar regterhand van sy nek af te haal, vroetel sy met haar linkerhand tussen hul stoele tot sy haar sitplekgordel se knip raakvat.
Hugo ruk asof die klikgeluid ’n geweerknal was. “Waddehel dink jy doen jy? Maak vas!”
Haar vingers word dom. Toe sy huiwer, gryp hy die gespe uit haar hand en druk dit só ru in die gleuf dat dit haar vinger vasknyp.
“Eina!” Sy druk die kloppende vingerpunt in haar mond. “Wat’s jou probleem? Jy’t spierknoppe so groot soos gholfballe – ek wou net help.”
“Wanneer jy saam’ my ry, is jou seat belt vas.”
Sy rol haar oë. “Dis ’n grondpaadjie, nie ’n snelweg nie.”
“Beteken nie dis oukei om roekeloos te wees nie.”
“Jammer, Pa. Ek sal nie weer nie, Pa.”
Hy rem skerp. Skielik. Die Jeep se bande sleep deur die sand.
“Haai!” Skrik laat die uitroep oor haar lippe bars. “Wil jy ons albei verongeluk?”
Hy ruk die handrem op. Toe hy na haar draai, is daar ’n wit kring om sy mond. Sonder om te dink maak sy haar gordel weer los en pluk haar deur oop.
Hy vloek gedemp. Sy vingers sluit om haar arm. “Dit was . . . Wag, ek kan verduidelik.”
“Los my, ek wil uitklim.”
“Sit, magtag. Ons is in die middel van nêrens.”
Sy sluk en kyk om haar rond. Óf die mis het gelig, óf hulle het daarvoor weggery. Sy kan die bos nou duidelik sien. Nattigheid glinster teen die dik boomstamme en die reuk van klam grond hang in die lug. Die blaredak is so ruig dat dit selfs in helder sonlig skemer sal wees.
Haar bors wil-wil toetrek, en sy maak haar deur weer toe.
“Is jou vinger oukei?” Sy hand soek na hare, maar sy trek dit weg.
“Vergeet van my vinger. Kry jy ons net by die lodge, verkieslik in een stuk.” Daarvandaan sal sy wel regkom, al het sy nie ’n idee hoe nie.
Hy laat sy voorkop teen die stuur sak. “Ek het bestuur.”
Um, hallo? Hoe nou?
“Die motorongeluk waarvan ek jou vertel het?”
“O.” Sy vryf oor die skaafplek bo haar sleutelbeen waar haar veiligheidsgordel styf gepluk het.
“My pa is op slag dood. Hy het nie ’n seat belt aangehad nie.”
“Hoekom nie?”
“Want