My redder, my beminde. Malene Breytenbach

My redder, my beminde - Malene Breytenbach


Скачать книгу
wat die sny toemaak wat haar wang oopgekloof het. Groot, troebel grys oë met lang wimpers kyk op na hom. Sy laat hom aan ’n gekweste diertjie dink, soos die katjie wat met ’n seer poot by sy huis aangekom het en wat hy reggedokter het.

      Wat hom ook tref, is dat sy werklik ’n natuurlike skoonheid is. Hy weet maar te goed watter hulpmiddels vroue alles gebruik om mooi te vertoon. Hier sit sy gewond, sonder enige mooimaakgoed, en haar vel is steeds vlekloos, en wat van haar gesig uitsteek, wys ongetwyfeld waarom sy ’n gesogte aktrise is.

      Hy volg haar loopbaan al ’n geruime tyd vandat hy haar in Suid-Afrika gesien optree het. Talentvol en pragtig. Dis geen wonder sy het so vinnig opgang – eers in Suid-Afrika en later in Engeland – gemaak nie. Hy het haar in die rol van Juliet in Romeo and Juliet, as Ygraine in Pendragon en as Ariel in The Tempest gesien.

      Maar kyk hoe lyk sy nou. Getraumatiseer en in haar vaart gestuit. En dit is deels sy skuld.

      Sy maak ’n vreemde gevoel in hom wakker. Teerheid, jammerte . . . maar ook iets anders. Soveel beroemde, mooi en ydel mense het al onder sy hande deurgeloop. Van sommige het hy gehou, ander het hy verduur, en nog ander het hom genoop om net met inspanning vriendelik te wees. Van filmsterre en hul grille kan hy jou heelwat vertel, en daarom is hy versigtig om nooit by enigeen betrokke te raak nie.

      Hierdie gekweste katjie is ’n aktrise van formaat, ’n glanspersoonlikheid. Een wat te veel aandag trek en publisiteit kry. Wat gedurig deur fotograwe gepla word. Oor wie daar geskinder word. ’n Bron van nuus.

      Dit is die héél laaste soort vrou by wie hy romanties betrokke wil raak. Tog, as hy na haar kyk, vermurwe sy hart. Gebeur iets in sy lyf wat hy laas by Susannah ervaar het.

      Hy kug. “Ek en Peter het eers ’n kliniek op Somerset-Wes gehad, maar is nou hier in Oxfordshire. Ons het albei aan Stellenbosch gestudeer. Peter het ’n ruk lank in Engeland gewerk, maar toe gaan hy terug na Stellenbosch en swot anestesiologie. Nou is hy die narkotiseur by Rigby Clinic. Verskeie Suid-Afrikaners werk vir ons.”

      Adela kyk verstom na hom. “Regtig? My broer, Vernon Morgan, het ook geneeskunde aan Stellenbosch gestudeer. Ken jy hom dalk?”

      “Ja, ek onthou vir Vernon Morgan.”

      Hy haal ’n pamflet uit sy sak en gee dit vir haar. “Kyk hierna.”

      Adela kyk na die foto waarop ’n herehuis van grys klip met talryke vensters en skoorstene soos Lynley Hall pryk. Daar is ’n bord wat Rigby Clinic aandui.

      “Dit lyk baie mooi.”

      “Ek is nie bloot hier om jou te kom ontmoet nie,” sê hy. “Ek is ’n plastiese chirurg. As jy na my kliniek kom, sal ek my bes doen om jou te laat lyk soos voorheen. Ek sal dit gratis doen omdat ek deels die ongeluk veroorsaak het.”

      Adela kan haar ore nie glo nie. “Gratis? Regtig? Maar ek kan mos nie verwag dat jy my gratis moet behandel nie. Ander mense betaal ’n fortuin vir sulke behandeling.”

      Hy glimlag.“Lees die pamflet sodat jy weet wat ons alles daar doen.”

      Sy lig die pamflet en lees hardop: “Located in splendid South East England in Oxfordshire, not far from Oxford, the City of dreaming spires, where one of the most prestigious universities in the world has been dominating the scene for centuries, the Rigby Clinic is ideally situated and draws patients not only from the UK but from across the world.”

      Sy lees oor die prosedures en behandeling. “Reconstructive plastic surgery as a result of severe injury, congenital abnormality, infection and disease. The pre-eminent procedures are the removal of tumours, treatment of lacerations, scar removal, hand surgery and nonsurgical skin and reconstructive surgery. At Rigby, patient privacy is paramount.”

      Sy blaai na waar die personeel se foto’s en kwalifikasies getoon word. James Beresford se besonder aantreklike dog ernstige gesig kyk terug na haar. Sy hare is swart, die gesig hoekig, die oë donker. Hy kyk met ’n selfversekerde en intelligente uitdrukking reguit na haar.

      Sy lees: Plastic and reconstructive surgeon Dr James Beresford. MB.ChB, University of Stellenbosch. Postgraduate: F.C. Plast Surg (SA), College of Medicine of South Africa 2005. Registrations: Association of Plastic and Reconstructive Surgeons of South Africa, British General Medical Council, International Society of Plastic Surgeons, International Confederation for Plastic, Reconstructive and Aesthetic Surgery.

      “Ek moet erken jy het indrukwekkende kwalifikasies.” Sy sug. “’n Geskende gesig is helaas nie al wat my makeer nie. Ek sal ook met ’n gebreekte pols en enkel by julle aankom. Die ortopeed sê ek sal vir eers ’n rolstoel moet gebruik.”

      “Dit is niks. Daar is mos dokters en verpleegsters by Rigby. Dis ’n mediese opset. Kom reguit na ons toe sodra jy hier ontslaan word. Hoe gouer, hoe beter.”

      “In my bedryf is my gesig ongelukkig belangrik,” sê sy skamerig.

      Hy steek sy hand uit en druk hare vlugtig. Die aanraking skok haar. “Ek kan dit verstaan. Jy weet mos wie is daardie ou filmster Stacy Keach? Hy is met ’n haaslip gebore en hy het steeds goeie rolle gekry.”

      “Hy is ’n man, dokter, dieselfde genade geld nie vir vroue nie. ’n Aktrise moet jonk, slank en mooi probeer bly, anders is die hoofrolle haar nie beskore nie.”

      “Ek weet. Dit is seker so in ’n kompeterende bedryf met baie mense wat beroemd wil word.” Hy beduie na die pamflet. “Daar is vyf ander Suid-Afrikaners by die kliniek. Die res van die personeel is Britte hier uit Engeland. Kyk na die eerste vyf name ná myne.”

      Adela bestudeer hul foto’s. Daar staan dat dokter Sandra Gouws, ’n plastiese chirurg, deeltyds vir die kliniek werk. Dokter Peter Baird is die narkotiseur, Linda Human is ’n teatersuster, Melissa Meyer is die bestuurder van die velsorgeenheid en Cindy Smith is die hoof van ontvangs.

      “Die personeel is almal bekwaam, hoor, en met soveel Suid-Afrikaners daar sal jy sommer tuis voel.”

      Sy kyk oorstelp na hom. “Baie dankie vir die aanbod, dokter Beresford. Ek neem dit met graagte en groot dankbaarheid aan.”

      James moet die begeerte onderdruk om haar hand te vat en haar te troos en te vertel dat hy haar sal heelmaak; dat hy haar wil beskerm. Juis daarom sal hy op sy hoede moet wees. Sal hy koel en professioneel moet optree.

      “As ek na jou kliniek kom, moet julle asseblief die pers en ongewenste besoekers van my af weghou,” sê sy in haar soet stem.

      “Ons doen dit beslis. Bekende mense kom na ons toe en hulle wil gewoonlik privaatheid hê.”

      “Dan is ek bly.”

      Lang wimpers sak oor die grys oë. Hy kyk gefassineer daarna. Hoe die wimpers skaduwees soos halwe sterre op die bleek wange gooi. Saal hy nou vir hom ’n mal perd op deur haar te laat opneem? Maar hy kan tog nie anders nie. Hy voel skuldig omdat hy deels die oorsaak van haar beserings is.

      “Goed, ons het nou kennis gemaak. Ek sien jou weer wanneer jy by Rigby aanmeld.” Saaklik, professioneel soos dit hoort.

      Sy kyk op, in sy siel in. Hy groet vinnig en loop.

      Adela se ouers en broer is baie bly toe hulle van James Beresford se aanbod hoor. Vernon bel hom om dankie te sê. Hulle kry egter nie kans om hom te ontmoet voordat hulle moet terugkeer Suid-Afrika toe nie.

      Gary kom slegs een keer weer vlugtig kuier voordat hy ontslaan word. Vriende uit die film- en toneelbedryf kom kuier, maar die besoeke raak al minder, want hulle lei almal besige lewes. Adela weier om die lastige verslaggewers te sien wat met haar wil praat.

      Heeltyd dink sy aan James Beresford. Vernon het hom “’n jintelman en ’n Samaritaan” genoem.

      Haar agent, Milly Stewart, doen die moeite om soveel moontlik te kom kuier, al is sy hoe besig. Sy is ’n ware steunpilaar, en haar gevatheid, haar humor en lekker skinderstories oor die bedryf beur Adela telkens aansienlik op.

      “Die première van Pride and Prejudice is geskeduleer vir oor twee maande in Londen,” vertel sy toe sy kom kuier die middag net


Скачать книгу