Die verdwyning van Billy Katz. Chris Karsten
hoe graag sal sy nie só ’n private versameling wil hê nie. Sodat sy elke aand voor slaaptyd eers ’n paar dinge met daai geweldenaars kan uitpraat, hulle uitvra oor wat hulle gedoen het, of hulle dit nog kan onthou, oor hóékom hulle dit gedoen het, en – baie belangrik – oor hoe hulle nóú daaroor voel, so aan haar uitgelewer.
Sy sal graag om die beurt op elkeen wil neerkyk en vra: So, hoe voel dit, Pottie … Manlief? Nie gedink jy sal ooit so hulpeloos en leweloos aan my voete lê nie, nè? Gedink jy sal altyd wegkom met wat jy aan ons gedoen het, veral aan die kinders? Praat maar, ek luister – hoekom nou so stil en beskeie? Wanneer jy jou vuiste gelig het, was jy nooit stil nie, dan het jy saamgeskreeu en saamgevloek met elke hou wat val, op my, op Vera, op Heidi, op Rakker. Jou tong ingesluk, Skattie?
Vir sy vriende met die besmette siele wat hy huis toe gebring het: Sien, dis wat gebeur as julle ons seermaak, as julle geweld gebruik om julle sin te kry. As julle dink julle kan ons liggame misbruik en verguis, ons gees vernietig. Gedink daar sal vir julle geen gevolge wees nie? Gedink ons is swakkelinge? Dít was julle almal se groot fout: Julle het julle met ons misgis. Ons het ons krag by mekaar gevind en ons veg terug, ons vat ons eer en ons waardigheid terug. Al sê julle wat met ons gebeur het, is ons eie skuld, want ons het daarvoor gesoek. Ja, dis julle maklike verweer: pak die las van skuld óók op ons.
Maar julle verstaan dit nie mooi nie: ons voel nie skuldig oor goed wat ons self doen nie, ons voel skuldig oor goed wat ander aan ons doen.
5
Arme lessenaar, ys Ella toe die kolonel se groot skaduwee oor haar en haar afskorting val. Sy hou van hierdie ou lessenaar, sy hou van alle ou houtmeubels, haar huis is vol daarvan, meubels van enige soort hout: oregon, geel, swart, stink, eik, mopanie, kiaat.
Goed, dié lessenaar is nie juis kothuis nie, eerder staatsdiens, massaproduksie uit eikehout, miskien dertig, veertig jaar oud. Maar sy hou vas aan hom (Stallie noem dit klou), want Openbare Werke dreig om alle ou houtmeubels uit te faseer. Vader weet hoekom, niks fout met eikehoutmeubels nie, dit sal nóg dertig, veertig jaar hou. Eikehoutmeubels is warm en sterk, soos ’n goeie man. Maar Openbare Werke voer ’n faseerkampanje: faseer hout uit, faseer blik-en-chroom in. Soek werk vir hulle hande.
Sy skuif die lêers rats na veiligheid, net betyds voor die aansienlike (en groeiende) sitvlak op sy geliefkoosde hoek neersak. En hoor net hoe kraak en protesteer die arme ou ding, tot diep in elke kwas en swaelstertvoeg.
Die kolonel leun oor en druk ’n geel Post-it teen haar skerm vas. Kaplaks, sommerso, gee nie ’n dêm om oor die taai kol wat sy weer moet afkry nie. Met sy handskrif … nee, die spoor van ’n dronk vlieg wat in ink geval het.
“Kekker … Kesler?” Sy kyk op na hom. “Wie’s Kesler?”
“Dis Pepler! Kan jy nie lees nie?” grom hy. “Ekspolisieman uit ’n vorige lewe. Was glo ’n regte klein upstart wat almal die moer in gemaak het.”
“Wat doen die ekspolisieman hier?” Sy tik met ’n nael op die plakker.
“Hy’s in sekuriteit,” sê hy en streel oor sy snor.
“O, een van hulle?” Wat het ’n astrante ekspolisieman met haar uit te waai?
“Ja, een van daai,” sê hy. “Kry ’n goue handdruk, laat druk ’n paar fancy kaartjies en noem homself ’n Security Consultant.”
“Wat soek hy, kolonel?”
Pleks van ’n antwoord kry sy so ’n algemene, allesomvattende handgebaar oor haar en haar rekenaar en oor die lêers op haar lessenaar. “Vorder nie eintlik met jou ondersoek nie, nè?”
“Dokter Koster sê die amputasies is nie met ’n chirurgiese saag gedoen nie, lyk of die voete sommer met ’n gewone ystersaag afgesaag is – dieselfde saag vir al vier. Hy vermoed dis een mens se handewerk.” Sy loer weer na die geel plakker. “Wat van dié Pepler?”
“Gaan kuier vir hom, hoor wat hy te sê het. Hy’t die voeteberig in die koerant gelees en besluit om my te bel. Ek het eers bietjie oor hom gaan uitvis. Hulle sê hy was ’n korrelkop, maar goeie speurder.”
Ja, korrelkoppe trek mekaar aan, dis hoekom die kolonel sy tjap van goedkeuring aan dié Pepler-man gee.
Die lessenaar sug verlig toe hy opstaan. Hy bekyk haar ’n oomblik. “Voel jy beter?”
“Ja, kolonel. Maar ek het nog nie jou sakdoek gewas nie.”
“Hou dit vir die volgende snot-en-trane-sessie, dis nog nie verby nie.”
Sy bel en ’n vriendelike vrouestem skakel haar deur na ’n bars manstem: “A, vermaarde speurder Neser. Steeds adjudant-offisier, sien ek, nog nie bevorder nie, nè? Dog hulle sou jou darem al luitenant gemaak het. Met ’n fris bonustjek en medalje … Goue Orde van die Baobab. So iets.”
Hoe oud is hy nou, dié “klein upstart” in die ou SAP? “Meneer Pepler, het jy dalk iets anders om vir my te sê, iets meer tersaaklik tot my ondersoek?”
“Ja, ek het. Die vraag is of jy my gaan glo. Silas Sauls het seker dadelik die lyne warm gebel om te hoor presies wie ek is. Het hy jou ook ingelig dat ek nooit die SAP se titel van Mees Populêre Persoonlikheid gewen het nie?”
“Ons het nie eintlik oor jou gepraat nie. Hy’t net gesê ek moet jou bel, dat jy dalk vir my ’n wenk het.”
“Ja, ek het. Iets soos jy wys my joune, ek wys jou myne.”
“Jy eerste. Wat kan jy wys?”
“Twintig jaar terug was ek ook ’n moordspeurder, ’n sersantjie. Wat was Silas Sauls toe? ’n Kaptein, ja. Sien, ek het óók bietjie rondgebel. Sulke vinnige spronge tot kaptein het destyds nie sommer in enige … hmm, ónwit broek gesit nie. Om daai ou Broederkliek te beïndruk moes hy iets goed gedoen het, en ek bedoel nie gatlek nie. Wat ek hoor, is dat Silas eerder sou krepeer as om énige agterent te lek, veral ’n bleek een.”
“Dis eenvoudig, hy’s bevorder omdat hy ’n briljante polisieman was … en steeds is. Jy kon my sommer gevra het. Ek ken hom goed, ek het voor hom grootgeword. Hy en my pa was saam speurders.” En nadat ’n boef se koeël haar pa in ’n koma gelaat het, het Silas sy plek ingeneem – soort van. Maar dit hoef hierdie vent nie te weet nie.
“Dan weet jy dat jou kolonel ná ’94 die nuwe polisie se blinkste meteoor was. Kaptein, majoor, luitenant-kolonel, kolonel. Als op eie stoom, sonder politieke konneksies. Groot dinge is vir hom voorspel.”
“Ja, ek weet,” sê sy.
“Was dit nie vir sy beneuktheid en hekel aan politici nie. Toe gebeur iets en hulle pluk twee van sy sterre af, stamp hom terug ondertoe.”
“Luister, meneer Pepler, ek het regtig nie tyd vir …”
“Ja, jy’s besig, ek weet. Ons is almal besig. As speurder het ek ook eenkeer met vermiste ledemate te doen gekry.”
“My ledemate word nie vermis nie, dis die liggame wat vermis word.”
“Wil jy nou meer! Jy’t ledemate sonder liggame, ek het liggame sonder ledemate gehad. Wel, sonder vingers. Pas ons gevalle nie perfek by mekaar nie? Soos ’n poephol op ’n pot. Of word sulke taal deesdae nie meer in die polisie toegelaat nie? Word julle vuil bekkies nou met blouseep geskrop?”
“Vloek gerus, meneer Pepler, as vuil taal jou manier is. Maar ek sal dit waardeer as jy nie só met my praat nie.”
“Aitsa, wip sy haar. Raait, as jy nie in my wenk belangstel nie omdat jy dink dat ek te rof en onbeskof is, koebaai dan. O, terloops, die vingers het ek self afgeknip.”
Kliek.
Sy sit vir ’n paar sekondes nog met die gehoorbuis teen haar oor, plak dit dan terug. Mooi positiewe dêm einde aan dié gesprek. Self vloek sy nie hardop nie, maar niks keer ’n harde woord of twee by geleentheid binnetoe nie, daar waar net die groot genadigheid haar hoor brom.
Gaan