Die Pro. Leon de Villiers

Die Pro - Leon de Villiers


Скачать книгу
Is dit nou toeval of wat?

      En ja, Kruiwa het alreeds weer oor my hare gekla. Ek het glo ’n “wal” ná die vakansie, en verder is dit ook te lank. Asof Tryna in haar lewe sal waag om ’n skoolseun se hare anders as die skoolreëls te sny. Verlede jaar het hy mos aanmekaar gekerm dat ek my hare doelbewus gebleik het. Heng, hoe dink hy surf ’n ou dat die see en son dit nie verbleik nie? Kom seker nie eens op die strand nie, en as hy wel daar kom, dra hy seker een van daardie outydse swempette. Geen wonder sy seun het so aan die suip gegaan nie. As hy my pa was, sou ek ook.

      Maar wat ek nou eintlik wou sê, is dat ek toe weer Henko Wiese se graad elf-handboek gekry het. Dié keer is dit: Lewenswetenskappe vir Amateurs. In sy matriekboek is dit dalk al: Lewenswetenskappe vir Pro’s. Ek moet dalk bietjie uitkyk daarvoor. In elk geval, dit lyk asof sy byskrifte by die sketse dié jaar weer die enigste snaakse deel van die sillabus gaan wees.

      Ag, ek moet seker wag en sien of hierdie opsommings van my gaan help. Daar is nie juis iets in Lewenswetenskappe wat vir my snaaks is nie. Miskien tog die name. Flagellums en sulke goed. Kom dit alles van Latyn af? wonder ek. Moet seker wees. Van snaakse Latyn gepraat, jy het toe nooit my Asterix and the Black Gold teruggee nie. En dit bly vir my een van die beste Asterixe wat daar is.

      Daardie windgat Marius vra my nou die dag: Tiaan, hoe gaan daardie grappie van Dirkie oor die drie nonne nou weer? Nie dat ek dit kon onthou nie, jy weet ek kan nooit grappe onthou nie, maar vir wat vra hy my? Dink hy ek het boekgehou van al jou grappe, of wat? Noudat hy nie meer regtig kompetisie het nie, trippel hy daar by die spiesgooi rond asof hy die een of ander ingevoerde Rus is. Dink seker hy gaan al jou rekords breek. Nie ’n kat se kans nie, daarvoor is daardie lyf van hom te maer. Eintlik, moet ek jou sê, maak hy my nogal siek.

      Nog een wat my siek maak, is Gustav. Dié het mos nou ’n maatjie bygekry en hulle sit van die heel eerste dag af langs mekaar in die bus. Dustin is die knaap se naam. Die meisies kwyl vreeslik oor hom, maar net hulle sal weet hoekom. Albert sê jy moet die twee met ’n putty-mes van mekaar af losmaak as jy met een van hulle wil praat.

      Ja, ou Albert is nog net soos altyd. Ek was juis vanmiddag saam met hom en Yvette daar na die groot vlei toe. Sy idee gewees. Hy wou vir Yvette die flaminke gaan wys en vra toe ek moet saam. Eers was ek glad nie lus nie, maar toe dink ek dit sal dalk help om Ma darem ’n week of twee uit my hare te hou. Buitendien, van volgende Saterdag af is dit net weer heeltyd atletiek en dan kry ’n mens nie kans vir enigiets anders nie. Hugo kon ongelukkig nie saam nie, want ons was bang hy jaag die voëls. Jy weet mos hoe rasend die kiewiete en mosselvreters hom maak.

      Gelukkig was dit laaggety, anders het die branders ons teen die duine vasgedruk soos die keer toe ek en jy deur die bosse moes terugsukkel huis toe. Maar dit was daardie walviskoei en haar kalfie hier vlak agter die branders se skuld! Ons kon net nie van hulle af wegkom nie. En het jy nie ’n klomp nonsens kwytgeraak nie …

      “Ons gaan dit nooit maak nie! Vannag slaap ons hier tussen die adders en spinnekoppe. Dink net: sulke koue, harige pootjies oor jou nek. Of stinkende slangasems teen jou gesig.”

      “Ja, en wie het aanmekaar gesê: net nog ’n paar minute, Tiaan, net nog ’n paar minute?”

      Asof jy regtig wou geloop het! Heng, ek is só dêm honger. My tekkies vir ’n braaiboud. Hoor iemand my? BRAAIBOUD! Soos net my ouma dit kan maak. Met geelrys en …”

      “Shurrup!”

      “Of gerookte varkribbetjie. Met my ma se braai-aartappels.”

      “Shut up, sê ek jou!”

      “Dit is verby met ons, Tiaan. Alles is verlore. Ons gaan verkluim. Verhonger! Hulle gaan dae lank tevergeefs na ons soek, dan ophou. Ons sal moet lootjies trek oor wie se hand ons eerste gaan afkap. En ons het nie eens vuurhoutjies nie. Sal dit rou moet eet.”

      Was naderhand lus en stamp jou in die water, of druk jou kop in die sand, maar dit sou seker ek gewees het wat op die ou end moes sand vreet. Die groot ouens kry mos nie verniet altyd kleiner outjies vir pelle nie.

      Albert weet maar min van die see af, maar hy het per ongeluk op die flaminke afgekom en is nou skoon in vervoering. Ry spesiaal met sy fiets van die plaas af om te kom kyk. Nee, ek speel nie. Hy doen dit regtig. Onse Albert.

      Yvette ken die see beter as hy en was al ’n paar keer daar by die groot vlei, maar sy het self nog nooit die flaminke gesien nie. Die ver ent se strandstap het haar glad nie gepla nie.

      Jy ken vir Albert, altyd aan die nonsens praat. Die nuutste is sy natuurreservaat. Die duisende toeriste wat eendag sy persoonlike natuurreservaat gaan kom besoek. Sy plaas wat see en berg en als gaan hê. As jy my vra, gaan sy ouer broer alles erf. Maar ek bly maar stil, hou my mond.

      Yvette was maar stillerig, heeltyd besig om skulptonge op te tel. Luister ewe ernstig asof sy elke woord van Albert glo.

      Snaaks hoe ’n mens vlak by die see kan loop en dit tog kan ignoreer. Hou net jou oë op jou voete of kyk binneland se kant toe. Werk ook nie altyd nie. Daardie ploegsakke wat hulle tonge rondskaats op soek na bloublasies … Net soos ’n surfer wat op sy bodyboard lê en wag vir die regte golf. En al kyk jy ook nie, alles ruik in elke geval na see en see en see. Die flaminke was toe wel daar gewees. Honderde pienk lywe gebalanseer op rooi stokkiesbene. Ewe ernstig aan die woel met hulle snawels in die water. Tussendeur gesels hulle dat dit klap. Sulke snaakse toeneus-toetergeluide.

      Yvette was in die wolke. Sy is mos gek oor watervoëls. Sy sê sy wil nog al die kolganse en verskillende eende daar in die vleilande gaan teken. Jy moet haar gehoor het toe ek haar vertel van die visarende wat ek en jy verlede jaar van naby gesien het. Eers het sy nie geweet waar om te kyk toe ek van jou praat nie, maar toe wou sy in detail weet waar ons die voëls gesien het, wat ons daar gemaak het, ensovoorts, ensovoorts.

      Ek het vandag vir die eerste keer besef dat die blou van haar oë met ’n groen randjie omlyn is. Sy is nogal mooi as sy so opgewonde raak. Geen wonder jy was begin van verlede jaar so mal oor haar nie. Sy en Albert praat nogal baie met mekaar by die skool. Maar of hulle iets aan die gang het, weet ek nie.

      Die uittoggie was toe nie heeltemal so sleg as wat ek gedink het nie. Toe ons vroegaand terugkom, het die mistigheid al ver teen die land uitgestoot en die son het oor die rand van die see gesink. Sulke tye lyk Vlakberg soos ’n sprokiesdorp waar dit in die elmboog van die berg teen die see sit. Skoon moranties, soos jy sou gesê het.

      Albert wil hê ons moet sommer gou weer vleie toe, ek twyfel of ons gaan tyd kry. Ek wil in elk geval nie hê Alex-hulle moet my daar langs die swemstrand sien loop nie, anders begin hulle weer met hulle geskerm dat ek moet kom surf.

      Ek sit maar deesdae langs Albert in die bus. Hy en sy pa stryk nog steeds nie en op sulke donnerdae kan die uur skool toe regtig baie lank raak. Meestal praat hy en droom hy nog asof hy iewers op ’n wolk leef, maar ek weet nie, daar is iets anders aan hom vanjaar. Dis asof hy nóg meer stiltes het. Die weirdste van alles is, hy is ook definitief netjieser as voorheen.

      Party kinders sê ek is ook anders. Waar hulle aan dié snert kom, weet net hulle. Soos ek gesê het, my ma kerm aanmekaar dat ek te min uitkom en my lewe omslaap, maar ’n ou moet tog rus as jy so vinnig groei! As ek ’n bietjie verander het, so what? Wat traak dit ander mense wat ek doen?

      Almal verander tog die hele tyd. Dit is in elk geval ’n nuwe jaar, ’n nuwe graad, nuwe kinders op die bus. Nogal baie. ’n Klompie graadagts, en dan so paar in elke ander graad. Net een nuwe matriek, maar drie graadelfs. Almal seuns. Dustin, waarvan ek jou vertel het, en nog twee nuwe ouens, Dino en Kevin. Kevin het ’n ongelooflike mooi sussie. Graad nege. Ek kan nie vir jou beskryf hoe mooi sy is nie. Lang, swart hare en die mooiste swart oë en sulke kuiltjies in haar wange as sy lag. Ja, nou kan ek hoor wat jy sou sê oor mense met swart oë en swart hare. Maar háár hare is nie poenskop gesny nie, en haar oë is swart, nie vuilbruin soos ’n steenkoolmyner s’n nie.

      Jis, jy het darem vir Kruiwa opgewerk met jou kort hare. En nog meer met daardie hansgatkyk van jou met die laaste haarinspeksie. Seker die naaste wat hy aan beroerte was. Wonder wat hy sou gesê het as hy jou in die Desembervakansie met die oorring én ’n tepelring


Скачать книгу