Die Pro. Leon de Villiers

Die Pro - Leon de Villiers


Скачать книгу
is nou in graad agt by ons. Het maar erg verdwaald gelyk toe hulle weer teruggekom het skool toe. Welma het kwaai gehuil toe die hoof ons in die saal ons hoofde laat buig het vir ’n paar oomblikke van stilte. Christien het ook baie gehuil.

      Ek wens net hulle het sulke goed beter gedoen. Dié en dié is dood en dit is ’n groot skok vir die hele skool en ons innige simpatie met hul families en laat ons ons hoofde buig vir ’n oomblik van stilte … en hierdie jaar sal ons hard moet werk aan die akademie, ook op skoolgebied en kulturele terrein.

      ’n Mens sou sweer dit is net nog ’n afkondiging oor die snoepie oop gaan wees tydens tweede pouse. Kruiwa wat daar staan met sy skynheilige gevreet, terwyl hy solank uitkyk vir die ouens wat hy direk ná opening oor hulle hare kan verneder. Dáár is nou ’n virus as mense al ooit na een gesoek het!

      Nie dat ek self ooit ’n woord vir Welma gesê het nie. Ek wou vir haar ’n briefie skryf om te sê ek is jammer om te hoor van haar pa, maar ek het nie. Nou is dit seker te laat.

      Die kinders in die bus en by die skool praat oor alles wat Desember gebeur het, maar bly dan stil as hulle my sien.

      Waaroor ek eintlik maar bly is.

      Dit is amper twaalfuur, so ek moet dalk nou eerder ophou skryf en aan die slaap kom. Of ek sal kan, weet ek nie. Die kamer ruik pure see.

      Mikofiete en fikofiete

      Welkom in die agterbuurtes van die biologiese wêreld waar die mikofiete en die fikofiete in die donker gangetjies skuil, dwelms gebruik en mekaar se koppe inslaan. Ja, net toe jy gedink het alle plante is softies. Ander naam vir die Miko’s is natuurlik swamme en fungus. Groen is die outjies beslis nie, al lyk ou Mucor op die vergete toebroodjies wel so. Hul voortplanting is net so weird soos hul name. Geslagtelik sowel as ongeslagtelik. Spoortjies is die in-ding. (Niemand het gemerk dat die Mucor sy of haar spoortjies stilletjies in die appelkooskonfyt los nie. Rustig het die tannies die een konfyttertjie ná die ander verorber.) Let wel, die siele word net aan land gevind en verrot alles wat lank genoeg stilstaan.

      Die Fiko’s word deur dié wat hulle persoonlik ken alge genoem. Hulle kom in alle kleure voor, solank dit groen, geelgroen, bruinerig of rooi is.

      Een van die gewildstes in die Fiko-bende is ’n knaap met die naam Spirogyra. Evolusie het egter vir Spiro in die water gelos, sodat hy nog nooit die Mucors ontmoet het nie. Vreet sonlig, en plant met of sonder ’n maatjie voort. Is die spulletjie belangrik? Wel, walvisse is geneig om te vrek as hulle nie ’n daaglikse bord met die fiko’s genaamd plankton inkry nie.

      22 Februarie

      Lyk my die wêreld is vol bendes. Stories loop nou dik hier op die dorp oor die perlemoenstropery. Bendes wat agter die besigheid sit. Mense sê die smokkelaars ruil die perlemoen vir dwelms wat dan weer verkoop word. as hulle so aangaan, is daar nie ’n enkele perlemoen oor nie.

      Hei, nie dat ek van plan is om weer te gaan duik nie! James en Alex neuk verniet. Dit is ’n vry land, hoekom moet ek iets doen net omdat ander mense daarvoor lus is? Dit is in elk geval so ’n beslommernis om die perlemoen skoon te kry en Ma kla aanmekaar oor die skulpe wat lê en stink. Laat hulle gaan duik as hulle lus is. Hoeveel keer het hulle nie verskonings gehad as ek en jy hulle gevra het om saam te gaan nie. Buitendien, wat wil hulle met so baie perlemoen maak?

      Verkoop dit seker skelm aan familie of vriende in die binneland.

      Daardie perlemoenskulp wat eers op Pa se lessenaar gestaan het, is nou hier op my tafel. Dit bly darem ’n moewiese skulp. Die perlemoen was sekerlik al minstens twintig jaar oud gewees. Dalk nog een van die drie ekstras waaroor ons daardie Saterdag so genip het …

      “Hierdie flippen duiksak is so swaar as kan kom.”

      “Ek het jou gesê ons moet die ekstras terugsit.”

      “Is jy gek in jou kop? Wanneer kry ons ooit weer so ’n gelukkie?”

      “Ja, Dirkie, tot ons gevang word. Wie dink jy gaan die boete betaal? My ma en pa? Zero kans, boet. Zeeero.”

      “Wie is gevang? Nee, komaan, stry, dit is die grootstes wat ons al ooit so naby mekaar gekry het.”

      “Ook maar net omdat die son presies reg geskyn het. Ons het vrek lank verniet tussen daardie bamboes rondgeploeter.”

      “Jy was ook maar lekker moeg, nè?”

      “Ekskuus my, asof ene meneer Dirk nie pas oor moegheid gekla het nie.”

      “Ek is net nie so goed gebou vir beweging op land nie.”

      “Aitsa! Daardie woorde sal ek spesiaal bêre vir die rugbyseisoen. Laat ek net gou die prentjie memoriseer; Dirkie, duiksak in die hand, patetiese uitdrukking op die gesig. Woorde: Ek is nie gebou vir beweging op land nie. Stoor.”

      “Soos altyd word die dam onder die eend uitgeruk, Edelagbare. Maar soos u duidelik kan sien, is die aanklaer blond en ’n surfer daarby. Ek dank u.”

      “Vark.”

      “Snotter.”

      “Varker.”

      “Snotterste.”

      “Varkenste.”

      “O hel!”

      “Hei, gebruik jou briekligte.”

      “Duik! Duik!”

      “Wat is dit? Dirkie, wat is dit?”

      “Plat! Kruip dieper onder die bossies in.”

      “Wie is dit?”

      “Wie dink jy?”

      “Die …”

      “Die eienaar van die spesifieke wit bakkie.”

      “O hondeshit! Ek het jou gesê ons moet die goed terugsit.”

      “Hy sal ons nie sien as jy net ophou vroetel nie.”

      “Vroetel! Daar steek ’n dêm stok in my rug. O magtag, as hy ons vang is ek in diep, diep …”

      Sjuut. Hy kyk in hierdie rigting.”

      “Ek hou jou verantwoordelik. Maar nee, vier perlemoene is nie vir jou genoeg nie. Jy wil meer hê!”

      “Sjuuut!”

      “Sjuut jouself. Hoekom sien ek niks nie?”

      “Jy kyk op die verkeerde plek.”

      “Waar? Jy smile. Ek sweer jy smile! Dirkie Lawrence, as jy my verniet … as jy my verniet … Dirkie! Kom terug, jou bloemieng lafaard! Hou op lag en staan stil dat ek jou behoorlik kan opneuk!”

      Kyk, ek dink my pa is baie eienaardig en jy het jou pa verlede jaar elke dag sleggesê oor die skei-storie, maar Albert is heeltemal gek. Hy sê vir my hy dink sy pa smokkel met perlemoen. Glo duikers wat tydig en ontydig daar op die plaas aankom. Dan praat sy pa baie suutjies met hulle en agterna is daar weer vreemde karre wat bokse goed kom haal.

      Miskien is dit so – sy pa is in ’n kategorie van sy eie. Maar ek weet darem nie of Albert sulke stories moet loop en versprei nie. Soms lyk dit vir my asof hy doelbewus wil hê dat sy pa in die moeilikheid moet beland.

      Nie dat ek en Albert nou skielik hierdie dik pelle is nie. Ons sit net langs mekaar in die bus. Dalk aard ek na my pa. Hy praat ook omtrent niks nie, maar mense vertel hom die diepste dinge. Al wat nou taaierig is, is dat ek en pa gewoonlik vir mekaar sit en kyk terwyl ons wag dat die ander een iets moet sê. Gapings wat niemand my ma moet gee nie …

      Partykeer is ek bly dat my ma so baie kan praat, maar meestal is dit net te veel. Soos hierdie hele gekerm van haar oor ek vanjaar nie so goed vaar met die langafstande nie. Hoe moet ek dit verhelp? Ek oefen reeds ure lank by die skool en ek is gedaan teen die tyd dat Garries ons op Vlakberg aflaai. ’n Paar keer het ek saam met Dino Petersen gaan draf, maar hy is so flippen fanaties, dat ek ook nie meer lus is daarvoor nie. Ek moet sê hy doen deksels goed in die 1500. Heel waarskynlik gaan hy nog Boland-kleure kry. Puik


Скачать книгу