Ettie Bierman Keur 11. Ettie Bierman

Ettie Bierman Keur 11 - Ettie Bierman


Скачать книгу
maak haar eie afleidings.

      Maar nou weet sy dat Theo sy vrou met die ouer meisie bespreek het. Sý het vir niemand vertel dat sy ’n weeskind is en dat tant Johanna onsimpatiek was nie; ook nie dat sy verlore gevoel het toe sy uit die skool is en begin werk het nie. Theo moes dit alles vir Katinka vertel het. Hy het seker haar raad gevra oor hoe om van ’n onwelkome vrou ontslae te raak en toe het hulle natuurlik saam besluit dis die beste dat Katinka met Janie moet praat. Sy is miskien met meer takt geseën en moedswillige Janie sal eerder na haar luister as na haar man. Die oomblik wat hý mos met haar praat, tart sy hom uit en doen net mooi die teenoorgestelde ding as wat hy haar gevra het. Janie kan in haar gedagtes Theo se stemtoon hoor toe hy daardie woorde vir Katinka gesê het. Dis tipies hy en op daardie oomblik was daar seker ’n frons tussen die kil blou oë en ’n ergerlike trek om sy mond.

      Daar is egter iets wat haar hinder, ’n stuk wat nie in die legkaart pas nie. Hoekom het Theo daarop aangedring dat sy in Pafuri bly en die indruk skep dat hulle huwelik gelukkig is?

      “Katinka,” frons sy, “een aand, omtrent drie weke gelede, toe Theo en ek weer bitterlik rusie gemaak het, was hy onder die indruk dat ek na Johannesburg wou teruggaan; na Okkie toe. Dit was nie die geval nie, maar dis nie nou ter sake nie. Wat ek nie kan verstaan nie, is waarom Theo nie daardie dag die kans aangegryp het om van my ontslae te raak nie. Dan sou sy gewete hom mos nie gepla het nie. Dan sou dit mos ék gewees het wat uit vrye wil weggegaan het. Hoekom wou Theo my nie na Okkie toe laat gaan nie?”

      Katinka kyk vinnig op, maar dan is sy skielik met oordrewe belangstelling in klein Ollie en die vlakvarke geïnteresseerd.

      “Okkie? E … wag, laat ek net gou hierdie blik wegneem voordat jou troeteldier homself verongeluk.” Sy tel die blik op en plaas dit bo in ’n doringboom, buite bereik van Ollie. Toe sy weer praat, is haar stem gelykmatig. “O ja, Okkie … Theo het van hom gepraat, maar die naam het my ontgaan.”

      “Of Ockert dan,” voeg Janie by. “Theo noem hom nooit op sy bynaam nie. Hy voel seker dis te familiêr, want hy het ’n hekel aan arme ou Okkie. En eintlik is Okkie skadeloos. ’n Doodgoeie ou …” Terwyl Janie praat, hou sy Katinka onderlangs dop. Iets in die meisie se reaksie op die noem van die naam was nie heeltemal reg nie. Dit het gelyk asof sy die naam nog nie voorheen gehoor het nie en dit het Janie hoop gegee. As Theo haar in sy vertroue geneem het en oor die verhouding tussen hom en sy vrou gepraat het, sou hy tog sekerlik Okkie Smuts se naam genoem het. Dus, miskien het Theo haar nie alles vertel nie. Miskien het Katinka tóg ’n paar eie afleidings gemaak, gesien hoe dinge tussen die jonggetroudes staan en twee en twee bymekaar gesit.

      “O ja, Theo het my van daardie telefoonoproep van Ockert vertel waaroor julle so hewig rusie gemaak het. Hy het gesê dit was net mooi die laaste strooi om sy liefde vir jou dood te maak. En toe het hy ook besef daar is eintlik nie rede om jou jammer te kry nie. Jy was nie so eensaam en kêrelloos soos jy voorgegee het nie.”

      Janie draai haar kop stil weg, bang dat Katinka die pyn in haar oë moet lees. ’n Oomblik lank het die hoop opgevlam dat Theo darem ’n greintjie lojaliteit en ordentlikheid teenoor sy vrou oorgehou het en nie elke stukkie detail van hulle rusies aan Katinka oorvertel het nie, maar nou sterf daardie hoop ’n stille dood. Theo het niks weerhou nie. Katinka weet seker ook dat Theo sy vrou daarvan beskuldig het dat sy met Walt flankeer, dat sy haar soos ’n goedkoop flerrie gedra.

      “Ek het nooit voorgegee ek is kêrelloos sodat Theo moet dink ek is eensaam en verstote en my moet bejammer nie,” antwoord Janie, maar sy wonder of sy nie dalk onwetend daardie indruk by Theo geskep het nie. Reeds gedurende daardie eerste naweek in Pafuri het sy agtergekom dat die aantreklike veldwagter soms onredelik besitlik kan wees en dis waarom sy hom nie van Okkie en Peet en al die ander ouens vertel het wat saam met haar werk en saam met wie sy gereeld uitgaan nie. Dit was seker verkeerd van haar, want dis waarom Theo so ontstoke was toe Okkie hom uit die bloute ingeklim en daarvan beskuldig het dat hy sý nooi gesteel het.

      “Maar hoekom het hy gekeer dat ek weggaan van Pafuri af?” herhaal Janie. “Dit sou mos die ideale oplossing gewees het.”

      Katinka huiwer ’n oomblik en dan skud sy haar kop. “Ek weet nie,” sê sy reguit. “Theo is ’n meer ingewikkelde persoon as wat ons dink. Hy het seker die een of ander obskure rede gehad. Wat presies was sy argument waarom jy hier moes bly?”

      Theo se woorde daardie aand is in Janie se geheue gegraveer en sy herhaal amper woordeliks alles wat Theo vir haar gesê het.

      Katinka is ’n lang ruk stil. Sy het op haar hurke gaan sit en is ingedagte besig om met ’n stokkie in die sand voor haar te krap en allerhande patroontjies te teken.

      Janie wens skielik sy het die gawe besit om ’n persoon se handskrif te kan ontleed. Party mense sê jou persoonlikheid kan ook ontleed word deur die krabbelpatrone wat jy maak wanneer jy byvoorbeeld met ’n telefoongehoorbuis in die hand sit en wag om deurgeskakel te word, of wanneer daar ’n vertraging op die lyn is. Dieselfde ontleding kan seker ook gedoen word wanneer jy ingedagte met ’n stokkie in die sand voor jou voete sit en teken. Sy sou graag wou geweet het wat alles deur Katinka se gedagtes gaan en wat haar gevoel vir Theo is. Soms kry sy die indruk Katinka Labuschagne is ook op Theo verlief, hoewel sy gesê het hulle is soos broer en suster.

      Katinka kyk skielik op. “Ja, dis soos ek vir Theo ken. En soos ek netnou gesê het, hy is ’n trotse man met ’n wrewel daarin om bejammer te word. Ek kan dit glo dat hy wil keer dat die mense agteraf sê: ‘Sies tog, nou het hy nóg ’n nooi verloor. Arme man …’ Iemand soos Theo sal so iets nie kan verduur nie. Ja, dis natuurlik die rede waarom hy jou verbied het om weg te gaan en beveel het om die skyn van ’n normale verhouding tussen julle te bewaar.” Sy gooi die stokkie weg en staan op.

      “Maar, Janie, dink jy dis reg dat trots ’n man se hele lewe verwoes? Dat hy teen sy sin by ’n vrou bly net omdat hy bang is vir wat die mense sal sê? Hy weet dat daardie ander meisie hom met ope arms sal terug ontvang as hy sy vinger lig. So, waarom laat hy jou nie gaan en vergewe daardie ander meisie nie? Almal weet tog sy treur oor hom en sy maak geen geheim daarvan dat sy nog steeds op hom verlief is nie. Om die waarheid te sê, niemand verwag dat julle huwelik sal voortbestaan nie. Annatjie het net gister vir my gesê dis duidelik julle twee speel toneel, dat julle huwelik ’n klug is. Theo kan maar erken hy het daardie ander meisie nog steeds lief en wil van jou skei.”

      Dit maak Janie bitter seer om te dink dat selfs Annatjie – Annatjie Weideman wat so ’n liewe mens is – van haar skinder, en sy besef wat Theo bedoel het toe hy gesê het in Pafuri moet jy nie verwag om jou privaatlewe vir jouself te hou nie. Die mense het nie veel afleiding nie en dis almal se geliefkoosde vermaak om die ander personeellede te bespreek.

      “Katinka,” sê Janie, skielik ergerlik. Omdat sy self so seergekry het, voel sy lus om ’n ander ook te kwets. “Vandat ek hier gekom het, hoor ek van ‘daardie ander meisie’. Het sy nie ’n naam nie?”

      “Sy het ’n naam,” antwoord Katinka stadig. “Maar ek dink dis beter dat jy nie weet wie sy is nie. Jy het al genoeg seergekry. Jy is ’n liewe mens en ek wens ek kon jou die hartseer spaar.”

      “Dankie, maar dis nie nodig om vir my jammer te voel en my gevoelens te probeer spaar nie. Ek sou sê dis in elk geval ’n bietjie laat daarvoor. Wie is die meisie? Ken ek haar?”

      Katinka lyk verlig toe ’n stowwerige rooi motor stadig tussen die rondawels aangery kom en sy ’n verskoning het om die onderwerp te verander. Sy wuif vrolik.

      “Kyk, hier is Walt – terug van sy uitgebreide sketstoer.”

      Selfs onder gunstige omstandighede sou Janie nie bly gewees het om Walt de Witt te sien nie en nou is sy ergerlik. Sy beantwoord skaars sy groet.

      “Stapels sketse gemaak?” verneem Katinka belangstellend.

      Walt haal sy skouers op. “Kwantiteit, ja, maar nie kwaliteit nie.” Hy kyk tergend na Janie. “Ek het gedurigdeur jóú gesig voor my gesien. My voëls het almal dromerige grys oë, omring deur swart wimpers en ’n perskeblos op hulle wange.”

      Katinka giggel, dog Janie toon geen emosie nie. Sy wens Walt wil ry. Wat gesels hy


Скачать книгу