Ettie Bierman Keur 11. Ettie Bierman
nie?”
“Nee. Ek was suid. Punda Miha se kant toe.” Hy kyk vraend na Katinka. “Waarheen is jy op pad, Tinktinkie?”
“Rondawel toe. En moet my asseblief nie daardie verspotte naam noem nie,” antwoord Katinka iesegrimmig. Sy groet en stryk aan na die eindpunt van die ry, waar haar rondawel is langs dié van haar pa en ma.
Walt se wenkbroue lig vraend. “Waaroor was die haas? Ek sê skaars hallo, toe sê Tinktinkie tot siens.”
“Miskien was ook sy nie baie lus om met jou te gesels nie.”
Janie se skimp word egter nie gesnap nie. Walt kyk haar goedkeurend op en af.
“Jy lyk mooi met jou hare in twee bossies bokant jou ore gebind, en jy moet altyd denim dra. Dit pas jou. Kom jy vanaand partytjie hou?”
Sy vinnige verandering van onderwerp betrap Janie onverhoeds. Terwyl sy nog aarsel, sê Walt geamuseerd: “Jy hoef nie vir die groot slegte wolf bang te wees nie. Dit gaan ’n doodonskuldige partytjie wees om my verjaardag te vier. Almal kom.”
“Verjaar jy? Ek het nie geweet nie. Baie geluk.”
“Nee, ou Walt is mos nie belangrik nie. Niemand onthou wanneer dit sy verjaardag is nie …” sê Walt met ’n oordrewe seergemaakte uitdrukking op sy gesig.
Janie lag. “’n Mens kan nie iets vergeet wat jy nie geweet het nie. Kom al die ander mense ook partytjie hou?”
“Hier gaan so min aan in Pafuri, jy sal die mense nie met stokke en swaarde van ’n partytjie kan weghou nie. Wanneer verwag jy die gelukkige bruidegom terug?”
“Moenie altyd van die ‘bruidegom’ praat nie,” sê Janie geïrriteerd.
“Groot ekskuus. ’n Mens moet seker nie met siekte spot nie. Wanneer kom jou man terug? Of objekteer jy ook teen so ’n onvanpaste benaming?”
Janie verkies om Walt se insinuasie te ignoreer. “Môre,” jok sy kalm. Theo sê nooit vir haar wanneer hy vertrek of wanneer hy terug sal wees nie.
“Môre eers?” Walt klink uiters teleurgesteld, dog sy oë lag. “Ag, dis ’n jammerte! Nou loop hy my verjaardag mis en sit jy met mý geselskap opgeskeep. Het jy al tyd gehad om te dink, astertjie?”
“Waaraan?” vra Janie koel.
“Aan my aanbod om saam te gaan Parys toe. Nee,” keer hy, “moenie so verontwaardig lyk nie. Ek weet in die binneste van daardie warmbloedige hart van jou het jy baie lus om saam met my te gaan. Toe, erken dit?”
Janie skud haar kop en kyk doer ver oor die veld, waar ’n paar aasvoëls besig is om wye sirkels in die blou lug te maak.
Walt draai haar kop na sy kant toe en grinnik toe hy sien dat sy bloos.
“Erken maar dat jy van my hou, astertjie …”
“Ek weet nie waarvan jy praat nie, Walt,” sê sy koel. “Sal jy my asseblief verskoon? Ek het baie werk wat wag.”
“Watse werk?” terg hy. “Weer vleis in die oond? Of watter werk is daar hierdie keer wat wag?”
“’n Boek wat deurgelees moet word,” antwoord sy en stap weg sonder om op Walt se antwoord te wag. Sy hoor hoe hy lag en in sy motor klim, maar sy kyk nie om nie.
Ek gaan beslis nie na sy partytjie toe nie, besluit Janie. Ek hou nie van Walt nie. Hy maak my bang. En Theo sal in elk geval woedend wees as hy daarvan te hore kom dat ek weer in Walt se rondawel was – al was daar baie ander mense en al het ek skaars met hom gesels. Ek sal maar liewer vir die soveelste keer met ’n boek in die bed klim en myself wysmaak ek is ’n ou tannie van oor die honderd jaar wat nie smag na geselskap en ’n bietjie opwinding nie …
Janie wag totdat Walt se motor om die draai verdwyn het en dan stap sy met kloppende hart na Katinka se rondawel toe. Daar is iets wat sy wil gaan vra en sy sal nie weer toelaat dat Katinka haar ontwyk of ’n antwoord skuldig bly nie. Almal het lank genoeg in raaisels gepraat en sy het die volste reg om te weet. Sy moes lankal op die volle waarheid aangedring het, maar sy was bang. Sy het verkies om soos een van Theo se volstruise te maak: haar kop agter ’n klip in te druk en te maak of die gevaar nie bestaan nie.
Katinka lyk nie baie verbaas om haar te sien nie. Sy sit op die toegegaasde stoep en nooi Janie met ’n skewe glimlaggie om binne te kom en te sit.
“Jy laat jou nie deur onderbrekings en my onvriendelikheid van stryk bring nie, nè? Hoekom probeer jy dit vir jouself moeiliker maak, Janie?”
“Ek wil graag weet,” fluister Janie.
“Ek het gedink dit sal vir jou eie beswil beter wees as jy nooit die volle hartseer ou storie hoor nie, as jy net weggaan en van ons hele klomp vergeet …”
“Nee.”
Katinka sug en bied aan om koeldrank te gaan skink. “Om vir my onvriendelikheid te vergoed,” sê sy verleë. “Ek het soos ’n skurk gevoel. Miskien was ek verkeerd, maar ek het gereken dit sal dit vir jou makliker maak as … as ons twee nie vriende is nie; as jy nie van my hou nie …”
Terwyl die meisie in die kombuis besig is, gaan Janie op die puntjie van ’n stoel sit en haar oë dwaal onwillekeurig deur die vertrek. Katinka het goeie smaak, maar sy verkies die egte bosveldatmosfeer wat Theo met riempiesbanke, dierevelle, grasmatte en Sakkie Eloff-skilderye in hulle eie rondawel geskep het. Katinka se woonkamer het ’n Europese karakter en sy raai dat daardie twee etse en die marmerbeeldjies oorsee gekoop is en ’n fortuin moes gekos het. Dis nie namaaksels daardie nie.
Janie staan op om na ’n naam by die etse te soek en dan sien sy skielik die geraamde foto van Theo op die Italiaanse Dama-tafeltjie staan. Die inskripsie is in netjiese blokletters: Aan Tinka, met al my liefde …
Sy hoor Katinka binnekom en vlieg skuldig om, maar die ouer meisie het reeds gesien waarna sy kyk.
“Dis ’n mooi foto van Theo daardie, is dit nie?” vra sy met ’n glimlag. “Dit het mooipraat en stoomroller gekos om Theo by ’n ateljee te kry. Hy het vir my ’n paar kleiner foto’s van homself gegee, maar ek wou graag hierdie groter een hê.”
Janie neem die glas koeldrank meganies, haar gedagtes in ’n warboel. Hoekom het Theo daardie foto vir Katinka gegee? Met al my liefde … Dis nie sommer vriendskaplike liefde nie, is dit? Dis nie die liefde of groete wat ’n mens onderaan ’n brief of in ’n Kerskaartjie skryf nie, is dit?
“Katinka …” Janie neem ’n sluk lemoensap en begin dan weer. “Katinka, jy en Theo was … baie goeie vriende, nie waar nie?”
“Nie wás nie; is nog steeds,” antwoord Katinka sag, maar sy kan Janie nie in die oë kyk nie. Sy maak nat kringetjies op die tafeldoek met haar glas, peuter met haar horlosieband en spring dan op. “Ek wil vir jou die ander foto’s wys wat ek van Theo het …”
Janie kyk na ’n foto van Theo voor ’n pragtige grasdakhuis met ’n gewel, en na ’n foto waar hy op ’n perd sit, en een waar hy in ’n baaikostuum staan en besig is om iets grappigs te sê vir die persoon wat die foto geneem het. En onderaan elke foto staan in dieselfde netjiese blokletters: Aan Tinka, met al my liefde, en soentjies …
“Dit was Theo-hulle se huis op Soetdorings. ’n Pragtige huis en ’n lieflike ou plaas. En dis ou Mercurius daardie. Ek weet nie hoekom Theo die perd daardie naam gegee het nie, want hy was nie vinnig nie, net baie sterk. Hy het ons albei menigmaal op sy breë ou rug gedra. En daardie foto is by Theo-hulle se swembad geneem, een vakansie toe ek weer by die Vermaaks gekuier het. Hy wou keer dat ek die foto neem, gesê sy hare is deurmekaar! My straf omdat ek nie wou luister nie, was om kop eerste in die water gegooi te word.”
Janie het dit lankal geweet, maar sy was bang om dit te erken. Al het niemand dit vir haar vertel nie, kon sy dit agterkom in Katinka se houding teenoor Theo, die manier waarop sy na hom kyk wanneer sy met hom praat, die uitdrukking op haar gesig wanneer Theo ter sprake kom …
Janie se hand bewe toe sy die foto’s in