Vertrou nie op prinse. Evelyn Wessels
nie!”
“Jy spot nog, my keel is reeds droog by die blote gedagte!” snak Louise en neem ’n groot sluk van die witwyn in haar glas. “Is dit dan hoofsaaklik ’n katalogiseringsopdrag?”
“O nee, dit is maar net die begin – om presies vas te stel wat daar is en dit behoorlik op te teken. Maar hy wil ook hê jy – of die persoon wat die pos kry – moet na die skilderye omsien, sorg dat hulle behoorlik uitgestal en belig word, onder die mees ideale omstandighede bewaar word en so aan. Jy sal kopiereg beheer vir mense wat afbeeldinge wil gebruik in boeke, kalenders en so meer; jy sal dus verantwoordelikheid vir die hele versameling moet aanvaar. Hy dink ook aan ’n behoorlike boek om uiteindelik die versameling se beste stukke kunshistories toe te lig, maar dit is ’n langtermyn-projek. Dit is egter duidelik dat Ryk dit as ’n heeltydse pos beskou, nie bloot as ’n projek vir ’n paar maande of ’n paar jaar nie.”
“Ek weet nie of ek die res van my lewe op die Hofmeyrs se Schoongelegen wil deurbring nie,” sê Louise met ’n frons terwyl sy aan die Brie peusel.
“Daar is slegter plekke om jou lewe te slyt, glo my! Ek het al ’n paar keer die voorreg gehad om daar te kuier. Dit is ’n belewenis. En die inwoon-voorskrif hoef nie vir ewig en altyd te geld nie – dit is maar net vir die aanvanklike groot taak dat dit beter sal uitwerk as die persoon sommer op Schoongelegen inwoon. Later kan dit bloot jou ‘kantoor’ word.”
James en Louise word skielik daarvan bewus dat die paar skape algaande al nader aan hulle begin wei het en dat hulle nou omring is deur die troppie. ’n Ooitjie begin stamp so proe-proe aan Louise se strooihoed wat ’n entjie van hulle af onder ’n boom lê.
“Haai, los my hoed! Jy is nie ’n bok wat enigiets vreet nie!” roep sy onthuts.
Die ooitjie lig haar kop en kyk Louise met sedige oë aan, kompleet asof sy die versoek en aantyging oorweeg. Dan stap sy rustig verder en ignoreer die hoed onder die boom.
“Ons sal nog ’n tydjie moet bly totdat hulle ’n bietjie wegbeweeg het, voordat ons ons uit die voete kan maak,” merk James op, terwyl hy nog ’n stukkie Franse brood lui in sy mond druk. “Ek het aarbeie en room ook gebring.”
Hy grawe in die mandjie en kom met die twee houers en twee poedingbakkies vorendag.
“O, heerlik,” sug Louise genoeglik, “ek kan in elk geval nog ure hier lê.” Sy tuur na die kalm, blou Engelse somerlug. “Wat ’n heerlike aand!”
“Ja, geniet dit,” beaam James, “want oor ’n week of twee is jy terug in die Suid-Afrikaanse winter.” Hy gee vir haar ’n bakkie aarbeie en room en ’n lepel aan.
“Nee,” sê sy gemaak streng vir dieselfde skaap wat haar hoed probeer verorber het, en nou weer met kalme sedigheid na Louise staar, “jy sal nie daarvan hou nie! Eet jou gras.” Dan smul sy met oorgawe aan die suikersoet rooi aarbeie.
Nadat hulle ’n paar oomblikke hul aandag doodstil op die nagereg toegespits het, vervolg Louise: “Nou hoe is dit dat die Van der Byl-skatte aan die Hofmeyrs van Schoongelegen behoort? Was daar nie Van der Byl-nakomelinge nie?”
“Nee, sir Henry het net een dogter gehad, die pragtige Laura. En Schoongelegen was ook oorspronklik sy eiendom. Dit was vir baie geslagte in Van der Byl-besit. Sir Henry het dit by ’n verlangse oom van hom geërf, blykbaar in ’n taamlik vervalle toestand. Hy het toe vir sir Herbert Baker, wat Groote Schuur in opdrag van Rhodes herontwerp het, gekry om die veranderinge aan Schoongelegen te ontwerp en uit te voer. Met sy goeie oordeel het Baker die voorkant van die huis met die Ou-Kaapse gewels net pragtig gerestoureer, maar agter het hy vleuels aangebou wat by die oorspronklike Kaaps-Hollandse argitektuur aanpas. Hy het van die buitegeboue, onder meer ’n groot ou wynkelder wat soos Groot Constantia s’n ’n Anreith-gewel het, en die jonkershuis in die herehuis geïnkorporeer en so die statige, deftige Schoongelegen as ’n gepaste tuiste vir ’n man van sir Henry se enorme rykdom geskep. Dit is so mooi en fyn gedoen dat ’n mens nooit die indruk van aangelaptheid kry nie. Dit lyk asof die hele herewoning, soos hy nou daar staan, op een slag vergestalt is. Dit is regtig een van Suid-Afrika se argitektoniese meesterstukke. Die huis herinner aan ’n Britse ‘stately home’ deurdat die gebou, soos hy nou daar staan, om twee groot binnehowe – courtyards – gestruktureer is: ’n kleiner een agter die ou deel van die huis met die twee oorspronklike vleuels, wat soos by baie Ou-Kaapse huise weerskante van die vooraansig na agter loop, en dan ’n grote in die nuwe deel van die huis. Die lyn en helling van die grond agter die oorspronklike huis beteken dat die ou enkelverdieping op ’n natuurlike wyse algaande ’n dubbelverdieping of selfs trippelverdieping word en tog heel natuurlik lyk.” Hy skep ’n slag asem. “Maar om terug te keer na die Hofmeyrs – weet jy dan nie van die groot familieskandaal nie – ‘le scandale’ soos Ryk se sussie, Anne-Marie, altyd met nadruk daarna verwys?”
“Nee, het die Hofmeyrs ’n familieskandaal? My indruk is dat hulle skatryk, voorbeeldig, gerespekteer en vervelig is; dit is nou afgesien van Ryk se klaarblyklik ongelooflike voorkoms, wat ek nie kan ontken na alles wat ek in die pers en op televisie gesien het nie, en wat seker nie te erg vervelig is nie –”
“Voorbeeldig ja, vervelig glad nie!” onderbreek James haar. “Waarskynlik is die latere geslagte juis voorbeeldiger om op te maak vir die skandaal wat om Ryk se oumagrootjie losgebars het.”
“Om sy oumagrootjie? Vertel!”
“Sir Henry se enigste dogter, Laura van der Byl, was pragtig, fyn opgevoed en het die beste van alles gehad. Sir Henry is laat getroud en sy vrou is vroeg oorlede. Laura was die appel van sy oog. Hy het haar oral met hom saamgeneem. Sy was natuurlik ook die enigste erfgename van sy enorme fortuin en aan mededingers om haar hand het dit nie ontbreek nie. Met hul gereelde reise in Europa het sy klaarblyklik baie huweliksaansoeke gekry van adellikes – van die steeds ryk én die verarmde soort – en van vernames, maar heelwat kansvatters het natuurlik ook hul geluk by haar gewaag. Sir Henry het uiteraard baie beskermend begin optree en ’n hekel ontwikkel aan die vreemde aansoekers. Uiteindelik het hy besluit die enigste veilige uitweg vir haar sou wees om met een van haar eie mense te trou, ’n Kapenaar uit een van die ou vooraanstaande Kaapse families soos sy eie. Hy was dus verheug toe sy susterskind, Alexander Hofmeyr, by Laura begin aanlê het. Mense was destyds nie eintlik ten gunste van sulke huwelike binne die familie nie, maar vir sir Henry het dit beteken dat sy dogter ’n man sou kry wat hy kon vertrou. Hy het waarskynlik sy nefie se hofmakery met taamlike druk op sy dogter ondersteun. In 1905 is hulle in wat destyds beskryf is as die Kaapse huwelik van die eeu – al was die eeu maar nog net vyf jaar oud – in die Groote Kerk getroud.”
Ou-Kaapse verhale het Louise nog altyd gefassineer. Sy hang behoorlik aan James se lippe.
“Aanvanklik het dit gelyk of dit goed gaan. Sir Henry was baie in sy skik met sy skoonseun en het hom algaande ingelei in al die besonderhede en geheimenisse van sy fortuin. Twee seuntjies is gebore, Ryk – ons Ryk se oupa – en Henry, wat na sy oupa van der Byl geheet het. Sir Henry was versot op die twee kinders. Dit was die tydperk, laat in sy lewe, toe hy sy tyd grootliks aan sy kunsversameling gewy het. Die gesin het baie rondgereis en sir Henry het sy skoonseun ook onderrig in alles wat hy van kuns geweet het.”
“O, ek wens ek kon in daardie tyd geleef het,” sug Louise in vervoering. “Maar gaan aan, ek wil nie jou gedagtegang onderbreek nie.”
“Tydens ’n verblyf in Parys het sir Henry besluit dat Laura en die twee seuntjies deur die beroemde Switserse portret-skilder, Claude Becker, geskilder moet word. Becker was destyds saam met John Singer Sargent en Philip de Laszlo die bekendste portretskilders in die wêreld. Terloops, daar is ’n pragtige Sargent-portret van sir Henry self en ’n De Laszlo van die skoonseun ook in die versameling. Becker het eers die twee engelagtige seuntjies in hul wit-en-vlootblou matroospakkies geskilder en toe vir Laura. Sy moes daagliks na sy ateljee gaan om te poseer, en dit is waar dinge skeefgeloop het. Claude Becker en Laura het hartstogtelik op mekaar verlief geraak. Teen die tyd dat die portret – dit word as een van Becker se meesterstukke beskou – voltooi was, was die Hofmeyr-huwelik in sy maai.”
Louise sug diep, heeltemal meegevoer deur die verhaal. Sy kan sommer aanvoel dit is nie een met