Vertrou nie op prinse. Evelyn Wessels
en is op ’n jeugdige leeftyd aan ’n hartaanval oorlede. Haar ma moes haar alleen grootmaak, en hoewel dié as weduwee ’n baie suksesvolle loopbaan in die onderwys gehad het en nou skoolhoof van ’n groot en bekende meisieskool in Bloemfontein is, was dinge nooit baie breed nie.
Sy verlustig haar in die pragtige kamer met ’n uitsig oor die Kaapse hawe en in die uitstekende diens, waar – so voel dit vir haar – jou geringste wens onmiddellik deur die personeel uitgevoer word. So, dit is soos die Hofmeyrs lewe, dink sy. Hulle ken geen ander werklikheid nie. Geen wonder Ryk Hofmeyr het ’n reputasie vir arrogansie en meerderwaardigheid nie.
Volgens die aanwysings wat sy by haar ma se adres in Bloemfontein ontvang het, moes sy ’n taxi na die Van der Byl-Hofmeyr Trust-gebou neem. Sy verkies egter om ondanks die grou weer net na ontbyt vanaf die voorstrandgebied na die stad op te stap. Sy trek haar goeie Britse reënjas aan, maar soos so dikwels in die Kaap gebeur, het dit skielik opgehou reën. Louise adem die vars oggendlug met die reënwasem diep in. Sy kies die Heerengracht en dan Adderleystraat tot naby die Groote Kerk, en draai dan oos na die pleintjie waar die Van der Byl-Hofmeyr Trust in ’n pragtig gerestoureerde Victoriaanse gebou gehuisves word.
Toe sy deur die dubbele glasdeure stap, wag veiligheidspersoneel haar in, en toe sy haar naam verstrek, is dit duidelik dat hulle haar verwag. Sy word deurgewys na die outydse hysbak en aangesê om na die boonste, die sesde verdieping te gaan. Op die houtpaneel met vergulde gebou-aanwysings pryk by die sesde vlak net dié woorde – Mnr. R. Hofmeyr.
Toe sy bo by die hysbak uitstap, bevind sy haar in ’n luukse vertrek wat eerder na ’n weelderige salon as ’n kantoor lyk. Dit is ovaalvormig met ’n onopsigtelike maar dik woltapyt en pragtige los symatte wat hier en daar gestrooi lê. Die mure bestaan uit roomkleurige panele en die plafon is wit met Victoriaanse gipsdetail versier. Louise merk onmiddellik die pragtige en waardevolle skilderye teen die mure op, elk belig deur sy eie diskrete portretligstafie in brons. Die skilderye moet deel uitmaak van die versameling waaroor sy hoop om aangestel te word. Tussen die panele lei deure in verskillende rigtings uit. Die vertrek is duidelik ’n sentrale ruimte – sonder vensters – waarvandaan die vertrekke aan die buitekant van die gebou uitgaan. Op die ver punt van die ovaal sit twee elegante dames by twee Victoriaanse mahonielessenaars. Dit pas by die elegansie van die vertrek, wat terselfdertyd met die modernste rekenaartegnologie toegerus is. Lugreëling beheer die temperatuur, alle klank is gedemp en die lig strelend op die oog.
Die twee vroue kyk na haar en glimlag. “Juffrou Le Roux? Kan ek u jas neem?” vra ’n donkerkop en kom na haar aangestap. “Sit gerus, meneer Lander sal nou by u wees. Ek is mevrou Smit en dit is mejuffrou Ismael.”
In die middel van die vertrek, onder die glaskandelaar, is ’n groepie antieke meubels om ’n ronde okkerneuthout-tafel gerangskik. Die houtstoele en sofa is in koningsblou fluweel oorgetrek, die gestoffeerde meubels in Sanderson-linne. Louise gaan sit op een van die gemakstoele. Sy haal haar CV uit haar aktetas, eintlik net om te maak asof sy iets het om te doen. As sy genoeg kan konsentreer, kan sy haar dalk voorberei op vrae wat uit die CV kan voortvloei.
Sy tuur oor die CV se bladsye na die skilderye teen die muur. In die prominentste posisie, aan die sykant van die ovaal, is die portret van sir Henry van der Byl deur Sargent – sy herken die skilder se styl én die onderwerp se gesig uit foto’s wat sy al van hom gesien het. Reg oorkant is ’n portret van ’n jonger man, sy vermoed sir Henry se skoonseun, Alexander Hofmeyr. Sy staan op en gaan voor die tweede skildery staan. Dit is inderdaad die De Laszlo-portret waarvan James gepraat het. Alexander Hofmeyr het ’n sterk, ietwat meedoënlose gesig. Seker die resultaat van sy lewensondervinding, vermoed sy – hy moes sterk wees om die skandaal van sy vrou se vlug te trotseer en sy seuns alleen en verantwoordelik groot te maak. Hy het blykbaar daarin geslaag.
Een van die deure naby die twee vroue se lessenaars gaan oop en ’n lang blonde man kom met ’n vriendelike glimlag en uitgestrekte hand na haar toe aan. “Juffrou Le Roux, ek is Martin Lander, meneer Hofmeyr se privaat sekretaris. Hy is ongelukkig ’n bietjie laat – seker die voorreg van die baas – maar ek bestel intussen vir ons tee. Ek hoop nie u is haastig nie?”
Hy is lig, selfs blosend van gelaat, en het ’n seunsagtige voorkoms maar met ’n sterk ken wat manlikheid aan sy gesig verleen, en ’n lenige, sportiewe gestalte. Sy opvallendste eienskap is egter sy ongewone, helderblou oë wat dit vir Louise moeilik maak om weg te kyk van sy vriendelike blik. As die mense dink Ryk Hofmeyr is Suid-Afrika se manlike sekssimbool, dink sy, kan hulle maar wag totdat hulle sy sekretaris raakloop! Na ’n oomblik onthou sy dat hy haar iets gevra het. “Nee,” glimlag sy, “ek het nie ander afsprake vanoggend nie. Ek is geheel en al tot jul beskikking. Julle het my tog spesiaal laat afvlieg vir die geleentheid, of hoe!”
Martin draai na die skildery waarna Louise gestaan en kyk het toe hy die vertrek binnegekom het. “Dit is Alexander Hofmeyr,” sê hy, “sir Henry van der Byl se skoonseun. Sy rol in die opbou van die familiefortuin word dikwels onderskat. Dit was hy wat die oorspronklike Van der Byl-fortuin suksesvol in ander vertakkings uitgebou het. Met die opkoms van Afrikaanse sakeondernemings in die eerste drie dekades van die eeu was hy ’n sleutelfiguur in die stigting van Afrikaans-gerigte banke, versekeringsmaatskappye, bouverenigings, beleggingsmaatskappye, mediagroepe en so meer, en so het hy die werklike grondslag vir die Hofmeyrs se sakeryk gelê. Ryk Hofmeyr, my baas, se pa het dit verder op internasionale vlak uitgebou. Alexander Hofmeyr was in baie opsigte ’n uitsonderlike man.” Hy glimlag vir Louise en laat haar weer by die ronde tafel plaasneem.
Martin Lander het ’n donkerblou formele langbroek aan, met ’n wit hemp en sydas met ’n paisleymotief in wynrooi, donkerblou en ougoud. Sy afgeronde voorkoms pas by die ambience van die kantore.
Louise voel skielik bly dat sy haar Chanel-styl pakkie in ’n grysbontstof (wat haar grys oë ten beste afwys) vir die geleentheid aangetrek het. Sy het haar dik, donkerblonde hare agteroor gekam en dit hang los op haar skouers. Sy weet dat haar ouma se goue antieke oorkrabbertjies die ligter sonstrepe daarin aksentueer. Haar ma het dit spesiaal vir die geleentheid vir haar geleen. Sy kan nie help om op te let dat Martin Lander se blik telkens goedkeurend na haar terugkeer nie.
Wanneer mevrou Smit die keurige skinkbord inbring, skink hy soos ’n goeie gasheer self die tee in die fyn porseleinkoppies en bied vir haar ook tuisgebakte koekies aan.
“Mevrou Smit sorg dat ons nooit sonder die heerlikste tuisgebak hier op kantoor is nie,” sê hy en glimlag teenoor die middeljarige vrou, wat blosend sy kompliment aanhoor.
Dit is vir Louise duidelik dat hy baie goeie menseverhoudinge met die personeel handhaaf. “Moes jy ook hierheen kom vir ’n onderhoud voordat jy aangestel is?” vra sy na ’n kort stilte om die gesprek aan die gang te hou. Effe laat voeg sy by, “meneer Lander?”, om die informele “jy” te probeer besweer.
“Noem my Martin. Ek hoop ons gaan binnekort kollegas wees. Maar nee,” vervolg hy, “ek en Ryk – meneer Hofmeyr – ken mekaar van universiteitsdae af, hoewel ons nie juis vriende was in ons tyd op Stellenbosch nie. Maar ons was saam in die koshuis en het saam rugby gespeel. Uiteraard het ons verder in verskillende kringe beweeg. Hy was ’n miljoenêr wat hom voorberei het vir ’n bevoorregte lewe as die “Prins van Schoongelegen”, soos hy bekend staan. My familie was Hongaarse vlugtelinge ná die 1956-opstand. Ek het ’n meer loopbaangerigte studie in die handelswetenskappe gevolg. Ná Stellenbosch is hy Oxford toe om sy bevoorregte opvoeding voort te sit en ek het in die finansiële bestuur van Leycester & Walker, die internasionale kunsveilingmaatskappy, se Johannesburgse kantoor gaan werk. Uit die aard van die maatskappy se fokus het ek gou ’n groot belangstelling in mooi goed – kuns, meubels, porselein, glasware, alles wat ons verhandel het – ontwikkel. Ná Ryk se terugkeer na Suid-Afrika het hy natuurlik een van ons spesiale kliënte geword, een van dié vir wie ons laat weet het as daar iets baie spesiaals op die veiling was. Miskien omdat dit rugbaar geword het dat ek hom ’n bietjie ken, het ek sy kontakpersoon by Leycester & Walker geword en ons het taamlik baie met mekaar te doen gekry. Ek kon hom ook na restoureerders en ander deskundiges verwys wanneer hy hulle nodig gekry het. Na ’n paar jaar het hy my gevra of ek nie vir hom wil kom werk nie, en ek het ingestem. Ek is baie gelukkig hier; ons is ’n goeie span.”
Louise