Vertrou nie op prinse. Evelyn Wessels
verby is.”
Hulle stap die trap op voor die Kunstekaap-teater en dan deur die glasdeure na binne. Onmiddellik flits ’n kameralig op hulle.
“O, my wêreld,” lag Louise, “as dit nou in die koerant ver-skyn, gaan almal wonder wie die nuwe vrou aan jou sy is. Min weet hulle ek is maar net ’n voornemende werknemer!”
“Die foto sal my reputasie as metgesel van skoonhede geen kwaad doen nie,” antwoord Ryk galant.
Louise voel hoe haar gesig effens warm word na die onverwagte kompliment.
Hulle neem hul plekke in kort voordat die ouverture begin. Louise sak terug in haar sitplek en laat die lieflike musiek oor haar spoel. Dan begin Mozart se komiese drama oor liefde en verraad. Louise wag vir haar gunsteling-arias in die eerste bedryf. In “Soave sia il vento” sing die ouer Don Alfonso en die twee jong susters, Dorabella en Fiordiligi, die twee jong mans – verloof aan die twee meisies – ’n goeie skeepsreis met gunstige winde toe. Die lieflike trio gly lig en melodieus oor die gehoor. ’n Mens hoor as ’t ware die boot deur die golwe vaar.
Die musiek is verruklik en Louise voel heeltemal betower. Skielik word sy bewus van ’n geamuseerde blik op haar. Verontwaardig loer sy na haar metgesel. “Is jy dan nie meegevoer deur die musiek nie?” vra sy toe die applous losbars.
“O, absoluut,” sê Ryk droog, en kyk belangstellend na die verhoog. Fiordiligi se “Come scoglio” – onveranderlik soos ’n rots is haar liefde vir Guglielmo, verklaar sy – is nog ’n hoogtepunt. En wanneer Ferrando weer oor sy liefde vir Dorabella sing, “Un aura amorosa”, vergeet Louise vir die oomblik van die man langs haar en ervaar net die genot van die hemelse melodie, waarin Mozart die idealiserende liefde van ’n man vir ’n vrou vasgevang het.
Pouse is dit vir Louise asof sy uit ’n ondersese droomwêreld opstyg en deur die watervlak van die werklikheid breek. Sy tuur lighoofdig om haar toe die gehoorsaal se ligte aanflits. “O, dit was onbeskryflik!” sug sy in vervoering.
“Kom ons gaan drink koffie,” sê Ryk en hulle beweeg stadig saam met die stroom mense uit die gehoorsaal na die foyer.
Terwyl hulle koffie drink, bespreek hulle eers die produksie en die gehalte van die sangers. Dan vra Louise uit die bloute ’n vraag wat sy nog die hele dag brand om te vra: “Ek weet van James dat jou oumagrootjie die Kaap – en haar familie – saam met Claude Becker verlaat het. Het sy nooit weer na Suid-Afrika teruggekeer nie?”
“Sy het wel,” sê Ryk. “Haar pa, sir Henry, het mos ’n beroerte gekry net nadat sy haar man – my oupagrootjie – verlaat het. Dit was in 1911, dink ek. Sir Henry was toe ’n algehele invalide, maar het nog vyf jaar gelewe. In 1916, dus in die middel van die Eerste Wêreldoorlog, is hy oorlede. Die Beckers het hulle aan die begin van die oorlog in neutrale Switserland, Claude Becker se vaderland, gevestig. Ek sê ‘die Beckers’, maar omdat my oupagrootjie nie van haar wou skei nie, is Laura en Becker nooit wettig getroud nie. Sy het blykbaar in die omgang as ‘madame Becker’ bekend gestaan, maar wettig het sy altyd mevrou Hofmeyr gebly. Dit was destyds moeilik om te skei en omdat my oupagrootjie die onskuldige party was, kon sy hom nie vir ’n egskeiding dagvaar nie; hy moes háár dagvaar en hy het geweier om dit te doen.”
Louise knik simpatiek – sy weet nie watter party van die driehoek sy die jammerste kry nie.
“Nou ja, na haar pa se dood het hulle weer hier in die Kaap opgeduik. Sy het ’n saak aanhangig gemaak om as sy enigste dogter ’n deel van sir Henry se boedel te bekom. As ’n vrou wat in sonde met ’n kunstenaar saamgeleef het, is ek bevrees, het sy nou nie juis geloofwaardigheid hier in die Kaap de Goede Hoop gehad nie. Die hof het beveel dat sir Henry se testament gehandhaaf word. Die boedel is deur haar man, Alexander Hofmeyr, beheer en sou dan oorgaan na hul twee seuns. Sy het nie ’n pennie gekry nie. Haar betoog dat die testament voor haar skeiding van haar man gemaak is en dat haar pa haar nooit sonder vermoëns sou gelaat het nie, het nie opgegaan nie. Die hof het besluit as haar pa sy boedel reeds voordat sy haar man verlaat het, aan hom toevertrou het, sou hy dit des te meer wou doen nadat sy met die kunstenaar weggeloop het en haar kinders agtergelaat het. Die Beckers is toe weer druipstert hier weg, terug na Switserland. Daarna het hulle, sover ek weet, nooit weer teruggekeer nie. Die twee seuntjies het ook nooit weer hul ma gesien nie.”
“Het Laura en Becker materieel swaar gekry?” vra Louise.
“Nie aanvanklik nie. Soos jy weet, was Becker ’n baie suksesvolle kunstenaar en hulle kon heeltemal goed lewe, hoewel nou nie in die weelde waaraan sy saam met haar pa gewoond was nie. Maar die storie het nogal ’n nare nadraai. ’n Paar jaar later het Becker die een of ander geesteskwaal ontwikkel. Hy is in ’n sanatorium opgeneem, en sy broer het beheer oor sy sake verkry. Omdat Laura nie wettig met hom getroud was nie, het sy geen wetlike aanspraak gehad nie.”
“Die arme vrou! Wat het van haar geword?”
“Sy het blykbaar baie swaar gekry, maar later het dit weer beter gegaan. Ek sal jou miskien eendag die dokumentasie daaroor in Schoongelegen se biblioteek wys. Dit is baie interessant. Sy is in 1935 in Genève oorlede.”
Die klokkies in die teater begin lui; hulle sit hul koppies neer en beweeg terug na hul sitplekke.
Louise verdiep haar in die tweede helfte met sy donker sy wat dié betrokke produksie duidelik na vore bring. Hoewel die gehoor heelwat lag, veral vir die bediende, Despina, se manewales, word hulle ontstellend gekonfronteer met die feilbaarheid en verraad van die swakke vlees. Don Alfonso het ’n weddenskap met die jong mans aangegaan dat hul geliefdes nie aan hulle getrou sou bly as hulle weggaan nie, en dit word duidelik dat hy die weddenskap gaan wen. Selfs Fiordiligi, wat haar liefde vir Guglielmo so selfversekerd met ’n rots vergelyk het, weifel en val uiteindelik voor die romantiese aanslag van haar “Albaniese” minnaar, in werklikheid haar suster se vermomde verloofde. Die mans word geheel en al ontgogel. Aan die einde is daar sprake van vergifnis, maar dit is nie heeltemal duidelik wie by wie gaan uitkom nie, en die verhaal laat maar ’n wrang smaak in die mond. Die produksie, stem Louise en Ryk uiteindelik saam, was egter uitstekend.
Toe hulle uitstap, reën dit weer en Gerald wag met sambrele vir hulle by die teater se uitgang. Hulle stap af na die groot donkerblou motor en Louise sak genoeglik terug in die sagte sitplekke. Ryk gooi ’n kniekombers oor haar skoot. Wat ’n lewe, dink sy behaaglik, terwyl die voertuig stil-stil deur die nat strate gly. Rykdom is uiters verleidelik! Ryk staar by die motorvenster uit. Dit lyk nie of hy van haar teenwoordigheid bewus is nie. By die hotel klim hy egter uit en vergesel haar tot in die foyer.
“Dit was vir my ’n wonderlike aand,” sê sy opreg. “Ek waardeer jou gasvryheid ontsettend.”
“Ek het dit ook geniet,” sê Ryk. Anders as vroeër die aand, merk sy egter weer iets neerbuigends, meewarigs in sy houding op toe hy vir haar knik en terug na sy motor uitstap.
Louise sien deur die groot, nat foyervensters hoe Gerald spring om vir hom die deur oop te hou terwyl hy inklim. Sal ek jou ooit kleinkry, meneer Hofmeyr? wonder sy. Die een oomblik sjarmant en vriendelik, die volgende hovaardig en meewarig. Jou voet, besluit sy skielik vererg, ek sál my weg deur hierdie situasie en hierdie wêreld vind sónder dat jy my ontstel.
In haar kamer vind sy dat sy te opgewen is om aan die slaap te raak. Sy haal haar sketsboek uit, wat sy altyd as ’n soort terapie by haar hou, en begin met ’n potlood skets. Dit is Ryk Hofmeyr se fynbesnede gesig wat onder haar vaardige hande gestalte aanneem. Die swart krullerige hare om die gladde voorkop, die fyn geboë neus, ferm ken, mooi mond. Met die grys potlood op die wit bladsy kry sy dit reg om iets van die besonderse blik van die helderblou oë voor te stel. Toe die kop en skouers voltooi is, vind sy dat sy langsaan nog ’n gesig begin teken. Dit is ’n seunsagtiger gesig, tog veronderstel dit ’n groter gestalte, ’n blonde kuif wat oor die hoë voorkop val, ’n sagte lyn by die wange maar ’n sterk ken. Weer worstel sy ’n bietjie met die presiese blik van die oë. Terwyl Ryk Hofmeyr se uitdrukking een van geslotenheid, ondeurdringbaarheid, onpeilbaarheid is, is daar op Martin Lander se gesig ’n sekere welwillendheid, amper weerloosheid te bespeur.
Wat vandag ook al oplewer, dink sy terwyl sy die sketsboek wegpak