Hartklop Omnibus 2. Malene Breytenbach
nou asseblief vir my wat vanaand hier gebeur het, suster Mouton?”
Mila vertel hom van Sunet se psigiatriese geskiedenis, haar vorige keiser en die gebeure wat aanleiding gegee het tot die agtergeblewe plasenta. Toe sy klaar is, skud dokter Myburgh sy grys kop.
“Neem julle nie onnodige risiko’s in daardie eenheid van jou nie, suster Mouton?”
“Onnodige risiko’s, dokter?” Doelbewus hou Mila haar stem so kalm moontlik.
“Hoekom nou ’n vrou wat vroeër ’n keiser gehad het, blootstel aan die gevaar van ’n normale geboorte, suster? Dis mos veiliger om weer die baba chirurgies te verlos. Die litteken op haar uterus kan immers skeur, met tragiese gevolge.”
Terwyl Mila nog besig is om in haar stresbenewelde brein rond te tas vir die mees diplomatiese antwoord, kom Peet de Wit tot haar verdediging.
“In verloskundige kringe word dit nie as ’n onnodige risiko beskou nie, Koos. Om die waarheid te sê, die meeste kenners beskou dit as net so veilig soos ’n herhalingskeisersnit. Die kans op uterusruptuur is maar omtrent ’n halfpersent. Mens moenie vergeet dat ’n snit ook maar risiko’s inhou nie.”
Mila kyk dankbaar na die ginekoloog. Sy blou oë, ligter as gewoonlik onder die akwamaryn teaterkappie, laat haar skielik aan Derek dink. Sy wonder of haar buurman al rustig in die meenthuis langs hare lê en slaap. Vir ’n oomblik verstout sy haar om te wonder hoe dit sou voel om heelnag in sy arms te slaap … om wakker te word met sy lippe op hare …
Dokter Myburgh ruk haar egter wreed terug na die werklikheid. Hy het haar nog nie klaar oor die kole gehaal nie.
“Almiskie, Peet. Ek kan nou nie sê dat ek met jou en suster Mouton saamstem hieroor nie, maar ek kan darem jul punt verstaan. Wat ek egter glad nie begryp nie, suster Mouton, is wat op aarde u laat dink het dat so ’n onstabiele pasiënt ’n goeie kandidaat vir die geboorte-eenheid sou wees. Die reël is tog dat net laerisiko-gevalle daar mag kraam, dan nie?”
“Versigtig, dokter Myburgh,” begin Peet de Wit, skielik nie meer op voornaamterme met sy kollega nie. “Ek is die pasiënt se ginekoloog en ék is die een wat besluit of sy ’n geskikte kandidaat vir die Aktiewe Geboorte-eenheid is of nie. As jy vir suster Mouton van swak oordeel wil beskuldig, beskuldig jy my ook.”
Mila is baie dankbaar dat Peet haar so verdedig. Tog wil sy haar eie sê ook sê: Sy wil self hierdie beterweterige ou fossiel op sy plek sit.
“Die besluit, dokter Myburgh,” tjip sy in terwyl die twee mans oor ’n roerlose Sunet na mekaar gluur,“is nie deur my óf deur dokter De Wit geneem nie.”
Myburgh lig sy grys wenkbroue sinies. Onwillekeurig bal Mila haar vuiste binne die steriele handskoene. Dit verg al haar selfbeheersing om professioneel te bly in die teenwoordigheid van hierdie arts met sy neerbuigende houding. Sy tel tot tien voordat sy verder praat.
“’n Multi-dissiplinêre span – waarvan ek en dokter De Wit lede was – het koppe bymekaargesit om te besluit wat die beste vir die pasiënt sal wees. Soos ons, het die pasiënt se psigiater, sowel as haar kliniese sielkundige, gevoel dat ’n normale geboorte in die Aktiewe Geboorte-eenheid die minste spanning sou veroorsaak. En hoewel Sunet natuurlik tydens haar swangerskap steeds op medikasie was, was sy allesbehalwe onstabiel. Niemand kon vanaand se skielike … um … episode voorsien het nie.”
Maar hul meningsverskil word kortgeknip. Oomblikke nadat Peet de Wit die halsstarrige plasenta in die silwer nierbakkie laat val het, begin ’n donker poel op die groen doek onder Sunet versprei. Haar baarmoeder wil nie behoorlik saamtrek nie en haar bloeddruk val gevaarlik. Bekommerd kyk Mila van haar pasiënt op die teaterbed na die ginekoloog oorkant haar. Sy kan aan sy stem hoor dat hy ook besorg is.
“Spuit nog 20 mg Synto, Koos, en stoot bietjie vog. Sy kan mos nou nie só wil gaan staan en bloei nie.”
Vir ’n paar minute werk almal in die teater met opgehoue asems. Dan vra Peet de Wit vir Mila ’n vraag wat sy gehoop het om nie vannag te hoor nie.
“Weet jy of die pasiënt nog kinders beplan het, Mila? Die hemel weet, ek wil nie, maar as sy so aanhou bloei het ek geen ander keuse nie …”
“Ek het haar nog nie só gevra nie, dokter. Sy is al agt-en-dertig en het ’n amnio met hierdie baba gehad om Downsindroom uit te skakel. Sy het ook meer as een keer gesê hoe moeilik ’n swangerskap is as ’n mens bipolêr is. So ek weet nie of sy nog kinders wil hê nie, maar ek glo ook nie sy is heeltemal gereed om …”
“Die fabriek te sluit nie?” Die ginekoloog sug.“Ek sal doen wat ek kan, Mila, ek sal doen wat ek kan.”
Wat ’n eenvoudige prosedure van omtrent ’n halfuur moes gewees het, sit om in ’n uitgerekte chirurgiese nagmerrie. ’n Volle drie uur later sluit Mila eindelik die deur van die geboorte-eenheid oop. Sy is so moeg dat sy byna nie haar arms kan oplig nie. Sunet slaap eindelik rustig in die postnatale saal. Sy sal ’n paar eenhede bloed moet kry, maar ten minste is haar uterus nog waar dit hoort. Haar psigiater het ’n sterk sedeermiddel voorgeskryf en sal haar deur die loop van die dag kom sien. Baba Leila is pragtig en gesond, salig onbewus van al die dramas rondom haar ma. Mila hoop maar net dat Sunet met haar baba gaan bind. Sy’s bekommerd oor die manier waarop die vrou haar vroeër weggestoot het.
Hoewel Mila nog nie oor haar ontsteltenis is nie, is sy dankbaar dat alles goed afgeloop het. Nou moet sy net Sunet se kaart op datum kry en die res van die papierwerk afhandel, dan kan sy huis toe gaan. Sy sal haar ontvangsdame vra om al haar afsprake te skuif en om die skoonmakers te bel vir die chaotiese kraamkamer.
5
Mila is net besig om Leila se naam in die geboorteregister te skryf toe die spreekkamerfoon lui. Sy antwoord dadelik, bang dat dit slegte nuus oor Sunet is. Maar dit is Sharleen Niewoudt, die hospitaalbestuurder se persoonlike assistent.
“Aa, Mila, ek’s bly om jou in die hande te kry! Leon het gevra dat jy vanoggend ’n draai kom maak indien enigsins moontlik. Dis redelik dringend.”
Mila voel hoe haar maag op ’n knop trek. Sy kan nie onthou dat sy al ooit só na die bestuurder se kantoor ontbied is nie. Kan dit wees dat Leon Swiegers haar oor laasnag se dramas voor stok wil kry? Het dokter Myburgh dalk sy kritiek verder gevat en haar van nalatigheid aangekla? Sy probeer haar stem so normaal moontlik hou.
“Weet jy waarmee dit verband hou, Sharleen?”
“Nee, jong, ongelukkig nie. Hy’t my net vanoggend toe hy hier instap gevra om jou so gou moontlik in die hande te kry. Jy klink moeg, Mila, het julle laasnag ’n bevalling gehad?”
“Ons het,” sug Mila. “’n Moeilike geval. Ek voel soos ’n opgewarmde lyk en lyk ook nie veel beter nie. Moet Leon my vandag sien? Kan ek nie maar môreoggend eerste ding ’n draai kom maak nie? Minstens gaan ek dan nie soos ’n voëlverskrikker lyk nie.”
“Jammer, man,” maak Sharleen simpatiek verskoning. “Maar jy weet mos hoe dit is. Die baas het gepraat.”
“Nou maar goed. Ek maak net my papierwerk klaar, dan stap ek oor. Sien jou nou-nou.”
Sharleen neem Mila sonder versuim deur na Leon Swiegers se kantoor. Hy staan op uit sy swart leerstoel en beduie vir Mila om oorkant hom te gaan sit.
“Môre, suster Mouton. Dankie dat u gekom het. Ek verneem by Sharleen dat u heelnag besig was met ’n bevalling?”
Mila kyk verward na die hospitaalbestuurder. Soos gewoonlik kan ’n mens hom deur ’n ring trek: van sy gejelde swart borselkop tot sy noutoon-ontwerperskoene. Hoewel party vroue hom ongetwyfeld as aantreklik beskou, vind Mila hom effens grillerig. Hy is vir haar net te … glad. Miskien is sy bevooroordeeld, maar Mila het die man nog nooit vertrou nie.Vanoggend maak hy haar ekstra senuweeagtig. As Sharleen hom ingelig het dat sy laasnag by ’n bevalling was, beteken dit dat hy haar nie oor Sunet se komplikasies oor die vingers wil tik nie. Waarom is sy dan hier?
“Uhm, ja, ons was heelnag besig met ’n mamma.”
“Dan