Hartklop Omnibus 2. Malene Breytenbach
sy haar ma verbitterd vertel het wat Derek met haar eenheid beoog, het dié op haar gematigde manier geantwoord: “My kind, ek glo dat die lewe altyd ’n venster iewers oopmaak as ’n deur in jou gesig toegeklap het. Soek jy maar daardie venster.”
Maar Mila is geensins van plan om sommerso handdoek in te gooi en deur vensters te begin klouter nie. Sy glo die deur is nog op ’n skreef oop: Solank haar eenheid bestaan, sal sy aanhou baklei. Sy haal ’n paar keer diep asem en probeer doelbewus om alle kommer oor die toekoms – en gedagtes van wraaksug teenoor haar blouoog-buurman – opsy te skuif. Wanneer sy by die kraamkamer instap, mag niks haar aandag aftrek nie.
Toe Mila voor die geboorte-eenheid stilhou, is sy verlig om te sien dat Renier en Jenna nog nie daar is nie. Sy hou nie van die idee dat ’n pasiënt in sterk kraam buite in die motor vir haar moet sit en wag nie. Haastig sluit sy die geboutjie oop. Sy skakel die dowwe ligte aan en begin die bad vol tap, steek kerse aan en kies strelende musiek. In die kombuisie draai sy handdoeke om ’n warmwatersak vir die baba, later. Sy maak ’n plastiekdrinkglas vol yskoue water en sit dit op die badrand neer vir Jenna.
Toe motorligte voor die venster verbyswiep, stap Mila buitentoe om die Odendaals te ontmoet. Renier maak die motordeur vir Jenna oop en help haar uit. Mila lei haar pasiënt binnetoe terwyl Renier hul sakke uit die kattebak haal. Hulle haal nie die kraamkamer voordat nog ’n kontraksie Jenna beetpak nie. Die rooikopvrou gryp haar buik met een hand vas en klou krampagtig met die ander aan die sekuriteitshek om regop te bly. Mila glip agter haar in en begin haar rug met sirkelbewegings masseer.
“Pragtig, Jenna,” prys sy.“Jy’s so sterk! Ek gaan jou nou ondersoek en ek is seker ek gaan sommer goeie nuus vir jou hê. Dit lyk vir my of jy al ver gevorder het.”
Toe die pyn skiet gee, lei Mila vir Jenna reguit na die dubbelbed in die kraamkamer.
“Lê jy gou-gou vir my hier sodat ons kan sien wat aangaan.”
Jenna sak swaar op die bed neer. Haar rooi kurktrekker-krulle kleef deurmekaar aan haar natgeswete voorkop. Haar groen oë lyk blink en ongefokus en haar wange is bloesend. Mila druk ’n kussing onder haar rug in en help haar om uit haar sweetpakbroek te wikkel. Sy luister na die baba se hart voordat sy met ’n geoefende hand ’n inwendige ondersoek doen.
“En toe,” vra Renier wat intussen hul hele pakkaas op die kraamkamer se vloer neergeplak het. “Hoe lyk dit?” Mila sug diep. Sy draai vir ’n oomblik weg van Renier se afwagtende blik en gooi stadig haar handskoene in die asblik. As sy net nie vir Jenna goeie nuus beloof het nie! Sy kan haarself skop oor haar voortvarendheid – sy weet mos hoe vinnig dinge in kraam kan skeefloop. Sy gaan sit op die bed langs Jenna en neem haar hand.
“Met ons babatjie gaan dit goed,” stel sy die ouerpaar eers gerus. “Die hartkloppie is sterk en reageer mooi op die kontraksies. En jy is al ’n hele agt sentimeter ontsluit, Jenna. Maar ek het ook slegte nuus. Ek is bevrees ons moet dokter De Wit bel. Hy sal waarskynlik ’n keiser moet doen.”
“Ag nee, Mila, asseblief …” Jenna beur orent teen die kussings, haar oë smekend.
“Ek is jammer, skat,” troos Mila. “Baba lê heeltemal verkeerd. Ek weet nie wanneer sy só gedraai het nie, maar in plaas van om met haar kroontjie te lei, lê die klein stouterd gesig eerste.”
“Sal sy nie so kan uitkom nie? Ek sal saamwerk, regtig, ek sal!”
Mila se hart trek inmekaar van jammerkry toe sy Jenna antwoord.
“Ongelukkig maak hierdie posisie normale geboorte onmoontlik. Dis te gevaarlik vir Baba om dit eens te probeer.”
Mila is intens bewus van die paartjie se teleurstelling. Sy weet hoe bitter graag hulle ’n natuurlike watergeboorte wou gehad het. Sy probeer hulle so goed sy kan troos terwyl sy Jenna voorberei vir die teater en haar in ’n rolstoel na die hospitaal stoot.
Peet de Wit is toevallig reeds in die kraamsaal. Hy’t pas ’n ander baba gevang en kan Jenna dadelik sien. Hy bevestig Mila se diagnose en verduidelik aan die Odendaals waarom ’n keiser onvermydelik is. Dan verdwyn hy om die reëlings vir die noodoperasie te gaan tref.
’n Uur later stoot Mila en ’n lywige teatersuster Jenna se bed by die ysige operasiesaal in. Mila stel haar pasiënt aan die narkotiseur voor en glip uit om vir Renier te wys waar om te verklee.
“Trek jou klere uit en hang dit aan een van die hakies daar binne, Renier. Jy moet ’n steriele broek en hemp aantrek, en van daai blou papiersokkies bo-oor jou skoene. Hier is die masker wat jy moet opsit voor jy mag inkom.”
Renier lyk maar taamlik bleek om die kiewe en Mila gee sy skouer ’n vriendelike drukkie.
“Is jy orraait? Dis ’n skok, nè?”
“Dit is, maar ek sal sterk wees om Jenna se onthalwe. Ek was net nog nooit ’n ou vir bloed en so nie …”
“Toemaar, Renier, jy hoef niks van die operasie te sien as jy nie wil nie. Jy kan by die koppenent van Jenna se bed sit, agter die skerm. Sit net met jou rug so half op dokter De Wit gekeer, dan sal jy niks sien wat jou kan laat omkap nie. Hou maar haar hand lekker styf vas, dit sal julle albei laat beter voel.”
Peet de Wit is in ’n gul luim toe hy die operasieteater binnekom. Sy blou oë vonkel ondeund bo die masker oor sy mond.
“Ek is darem vandag só bly oor hierdie snit,” terg hy. Mila kners ongesiens op haar tande. Sy haat dit as die ginekoloë so blasé optree by keisers. Is niks dan vir hulle heilig nie? Vir die pa en ma bly ’n keisersnee die geboorte van hul baba; kan die dokters nie bietjie meer sensitief wees en probeer om ’n gewyde atmosfeer te skep nie?
“Hoekom is u bly, dokter?” vra die teatersuster, gretig vir ’n geselsie.
“Want ek het gisteraand op die skaal geklim, suster, en die skok van my lewe gekry! Ek het besluit om vanoggend vroeg op te staan en gym toe te gaan. Hierdie keiser het my van ’n sweetsessie gered!”
Die teatersuster skater en selfs Mila glimlag onwillekeurig: Die uitdrukking op Peet se gesig is te komieklik vir woorde. ’n Mens kan sien dat hy op sy dag ’n aantreklike man was – ’n regte haan onder die henne, seker nie bietjie trots op sy eie voorkoms nie.
Renier kom skamerig die vertrek binne, duidelik ongemaklik in sy blou scrubs en in die vreemde omgewing. Hy gaan sit op ’n hoë stoeltjie langs Jenna en praat sag met haar. Die liefde in sy stem maak Mila skoon bewoë.
Nou gebeur dinge vinnig. Dokter Alma Mulder, die hospitaal se enigste vroulike narkotiseur, is besonder knap met spinale verdowing en voor jy kan sê mes, kan Jenna nie meer haar bene voel nie. Alle oë draai afwagtend na Peet de Wit.
“Wie kort?” vra hy en kyk vlugtig van die een gemaskerde gesig na die ander.“Gaaf, almal is hier behalwe die pediater. Ons wag net vir hom voor ons begin.”
Hy wend hom tot Adriaan Smith – ’n jonger ginekoloog wat vanoggend assisteer – en knoop ’n gesprek aan. “Jy sal nooit raai wie ek laasweek op die gholfbaan gesien het nie!”
Mila raak bewus van Derek se teenwoordigheid in die teater sekondes voordat sy hom sien of hoor. Toe hy instap, is dit asof ’n geruislose elektriese stroom deur die vertrek – en deur haar are – suis en haar hart vinniger laat klop. Sy wil nie opkyk nie, maar sy oë trek hare soos magnete aan.
“Môresê, kollegas,” groet hy vriendelik, sy stem so vol en strelend soos die beste rooiwyn. Hy stap nader en sy oë talm op Mila.
“Suster Mouton,” glimlag hy. Sy groet is onberispelik hoflik, maar iets in sy stem is asemrowend intiem. Vir ’n oomblik kan Mila geen woord uitkry nie. Sy vergeet momenteel dat sy woedend vir hom is. Sy knik net woordeloos, hulpeloos. Dan stoot magtelose toorn egter weer in haar op. Hoekom móét hierdie man so ’n effek op haar hê? Hy is ’n gevoellose geldwolf wat alles wil vernietig waarvoor sy gewerk het! Haar kop verstaan dit goed genoeg, maar haar lyf wil dit nie aanvaar nie en smelt soos botter in die son sodra hy naby is.
Hy skuur moedswillig teenaan haar verby en Mila voel asof tyd stilstaan, asof die ander mense