Sag fluister my hart. Schalkie van Wyk
Ek is ’n ervare prinsipale en ek luister met die nodige empatie na jeugdige oortreders se skuldbekentenisse.”
Jean-Pierre se ore gloei selfbewus, maar hy pers sy lippe hard saam en kyk Sandri reguit in die oë. “Daar’s niks wat jy nie weet nie … Behalwe … e … ek het deesdae ’n meisie. Maar dit sal tog niks daarmee te doen hê nie.”
“’n Meisie? En jy sê ons niks!”
“Ek en Christiane gaan van die begin van die kwartaal gereeld saam uit.”
“Dan is dit dalk haar pa –”
“Nee, haar pa en ma woon in Nieu-Seeland. Haar ouers en hul twee jonger kinders het twee jaar gelede na Nieu-Seeland geëmigreer, maar Christiane het haar hart daarop gesit om matriek in ons land te behaal en dan hier verder te studeer,” vertel hy.
“’n Skoolmeisie? Goeiste, my boet, is jy nie bietjie te oud om met skoolmeisies uit te gaan nie?”
Hy maak ’n ergerlike handgebaar. “Moenie laf wees nie, Sandri. Christiane was in matriek toe haar ouers geëmigreer het. Sy het toe in ’n koshuis gaan bly totdat sy klaar was met skool. Vanjaar is sy ’n student. Haar ouers het vir haar ’n woonstel gekoop en sy deel dit met twee van haar vriendinne wat ook eerstejaartjies is.”
“Jy en Christiane … Hoe ernstig is jul verhouding? Ek is nie bloot nuuskierig nie, Jean-Pierre, maar dalk het jy kompetisie. Die man wat met een van jou mense wou praat, is moontlik Christiane se vorige kêrel of –”
“Nee!” val hy haar ferm in die rede. “Christiane is nie ’n flerrie met ’n string gebroke harte of jaloerse mans in haar verlede nie. Sy gesels gereeld met haar ma oor Skype en ek het ook al met haar gepraat. Christiane sê haar ma hou van my. Ek weet nie wie op soek is na my nie, maar ek skuld niemand geld nie en ek woon my klasse gereeld by.” Hy haal sy skouers op. “Ek gaan ’n draai maak by tant Simone, want Oupa sê sy waai Sondagaand oorsee. Ek dink ek gaan die ou tannie mis. Sien jou, Sandri!”
“Ou tannie!” herhaal Sandri onthuts, maar Jean-Pierre het hom reeds uit die voete gemaak. Sy stap na die deur wat haar kantoor met Poppie s’n verbind. Dink Jean-Pierre op sy jeugdige een-en-twintig aan haar as ’n stokou suster wat reeds saam met tant Simone op die rak sit? Al gaan sy nou en dan fliek of uiteet saam met Henk Oosthuizen, haar jare lange vriend, was sy nog altyd te besig om ernstig aan ’n huwelik met hom of enige ander man te dink. Haar groottante Alexandrie die Derde het nooit getrou nie en tant Simone ook nie. Hulle het hul lewe aan die skool toegewy. Dit is dalk wat sy wat Sandri is ook sal doen.
Sy gaan by haar kantoor in en wil net die deur agter haar toetrek toe Poppie se skril stem haar laat opkyk.
“Meneer! Ekskuus, meneer, maar dis mý kantoor!” protesteer Poppie verontwaardig. Dan retireer sy haar eie kantoor binne, gevolg deur ’n lang man, geklee in ’n donkergrys snyerspak.
“Jy het lank genoeg my tyd gemors, juffroutjie. Die sekuriteitswagte by die ingang van die skool het my verseker juffrou Blanchet is die skoolhoof. Ek wil nou onmiddellik met haar praat, met of sonder jou goedkeuring!”
“Sy is dóktor Alexandrie Blanchet,” sê Poppie in ’n ysige stemtoon, en vervolg met groter nadruk: “Doktor Alexandrie die Vierde.”
Sandri maak haar kantoordeur saggies toe en beweeg vinnig terug na haar lessenaar, gaan sit en raap haar bril op, vasbeslote om waardig te lyk.
Dis ’n Blanchet-legende dat groottante Alexandrie haar onsigbare mantel van waardigheid op elke prinsipale van die Hoër Meisieskool Blanchet laat val, juis in sulke oomblikke wanneer kalmte en selfbeheersing nodig is om ’n netelige situasie te hanteer. Sandri glo dit darem nie regtig nie, maar dit help om haar dié mantel om haar skouers te verbeel in krisistye en te onthou dat groottante Alexandrie se Blanchet-bloed ook deur haar are pols.
“A, dan is ek met die adelstand deurmekaar?” hoor Sandri die man sarkasties vra. “Is Alexandrie die Vierde in haar troonsaal? Nee, jy hoef nie te bel nie, juffroutjie. Ek sal self ondersoek instel.”
“Maar, meneer …!” protesteer Poppie toe Sandri se kantoordeur sonder meer oopswaai en ’n man, met die grasie van ’n heerser, inloop. Hy klap die deur in arme Poppie se gesig toe.
Sandri sit onwillekeurig orent. Die man loop nader, onmoontlik selfversekerd, onmoontlik beheers. Hy is lank en lenig, nie besonder gespierd nie, maar breedgeskouerd. Sy hoekige, uitgebeitelde gelaatstrekke wek die indruk van ’n uitdrukkinglose klipmasker. Sy hare is silwerblond en besonder dig en steek skerp af teen sy songebruinde gelaat. Sy gelaatstrekke is sterk met hoë wangbene, ’n Romeinse neus en ’n vasbeslote ken. Maar dis sy oë wat aan sy gesig ’n sensuele magnetisme verleen: Verskuil agter digte wimpers kan sy skielike blik enigiemand soos ’n staalpen deurboor.
“Waar, doktor Alexandrie die Vierde, versteek jy en jou broer my minderjarige voogdogter?” Sy stem sny, nes sy oë, soos vlymskerp staal.
2
As die man nie so groot en dreigend voor haar lessenaar gestaan het nie, het sy in sy gesig uitgebars van die lag, dink Sandri onthuts. Glo die vent sowaar sy is ’n onverantwoordelike tiener wat Jean-Pierre sal help om ’n meisie te ontvoer en êrens te versteek? Sy laat sak haar swartraambril tot op die punt van haar fyn neus en ontmoet sy deurpriemende blik met die hooghartige minagting van ’n vorstin. “U is goed ingelig oor wie en wat ek is, meneer. Mag ek nou weet met wie ek praat?” vra sy neerbuigend, maar laat ’n treiterende tikkie spot deur haar woorde deurskemer.
“Ek is die meisie, Christiane Friskin, se voog. Weet jy nou na wie ek verwys, doktor Blanchet?” vra hy bruusk.
Sandri ignoreer hom, lig die gehoorbuis van haar foon op en versoek saaklik: “Paula, ons besoeker het sy naam en van vergeet. Bel asseblief die sekuriteit en vra die wagte watter naam ons besoeker in die besoekersboek ingevul het om toegang tot die skoolterrein te verkry. As die wagte die man nie kan eien nie, bel die polisie.” Sy plaas die gehoorbuis terug op die mikkie en kyk misnoeg na haar onwelkome besoeker.
“Donder … dag!” ontplof hy op ’n snakkende asemteug, en ’n donker gloed van ergernis kruip oor sy gelaat. “Dan smyt jy nog dreigemente rond ook! Ek waarsku jou, doktor Blanchet, as Christiane nie binne ’n uur veilig aan my uitgelewer is nie, sal ék die polisie en my eie sekuriteitsmense kry om met ’n ondersoek te begin. Jy sal beslis nie van die metodes van my sekuriteitsmanne hou nie – hulle doen enigiets om die waarheid uit hul slagoffers te kry.”
Sandri besef dat sy die man oopmond aanstaar, maak haar mond vinnig toe en vra nuuskierig: “Is u die leier van ’n kriminele sindikaat of sommer ’n doodgewone rampokker en ’n bendeleier? Of probeer u my net bang praat?”
Die vreemdeling druk met albei handpalms op die lessenaarblad voor hom en gluur dreigend in Sandri se oë, sy lippe in ’n dun lyn saamgepers.
“As jy dan móét weet … Ek is …”
“Ekskuus, doktor,” praat Poppie met die oopgaanslag van die kantoordeur, en steek haar kop om die deur. “Die besoeker se naam is meneer Marko Waalstra en sy identiteitsnommer is –”
“Sy naam is voldoende, dankie, Paula,” val Sandri haar met gedwonge kalmte in die rede.
“Is u seker u het nie hulp nodig nie, doktor Blanchet? Of wat van ’n koppie tee en lekker kaaskoek? Ons hou afskeid vir juffrou Simone en daar is skinkborde vol –”
“Dit sal al wees, dankie, Paula. Ek sal laat weet as ek meer inligting nodig het,” praat Sandri haar saaklik tot stilte en wag geduldig totdat Poppie ná ’n onsekere kykie na Marko Waalstra haar kop terugtrek en die kantoordeur toemaak.
“Sien, dit was toe glad nie so pynlik nie, meneer Waalstra. Ek weet wie u is en ek is gewillig om ’n verdere vyf minute na u te luister. Ek steek niemand weg nie. Ek ken nie u voogdogter nie. Ek het haar nog nooit gesien nie en ek weet nie waar sy woon nie. Jean-Pierre is my jonger halfbroer, maar hy het beslis ook nie vir Christiane ontvoer nie. Dit is glad nie in sy aard nie. Tensy hy hom skielik aan drank of dwelms oorgegee het – iets wat nog nooit