Susanna M Lingua Gunstelinge 5. Susanna M. Lingua
laggie hoor en gaan dan bedaard voort: “Ek sal seker eendag trou wanneer die regte man my vra, en hy ook gewillig is om Mark as lid van die gesin te beskou.”
“Wanneer neem jy Mark vir ’n besoek aan sy grootouers?” vra Lafras toe hy voor die luukse klub stilhou waarvan hy jare al ’n lid is.
“Ons vertrek oormôre,” kom dit sag van Elmarie.
Vir ’n paar sekondes kyk Lafras stil voor hom uit. Toe maak hy die motordeur oop, klim uit en gaan maak die deur vir Elmarie oop om uit te klim. Hy trek haar arm deur syne en lei haar na die klub se hoofingang.
“Jy moet asseblief vir my die oumense se telefoonnommer gee voordat julle vertrek,” sê hy afgetrokke. Die volgende oomblik flits ’n verslaggewer ’n kamera naby hulle, en Elmarie kan nie help om Lafras geamuseer aan te kyk toe die koerantman hom tegemoetloop nie.
“Meneer Zeeman,” sê die koerantman versigtig, “sal u asseblief vir my een vraag beantwoord?”
“Ek belowe niks. Vra dus maar jou vraag en laat ek hoor,” antwoord Lafras kortaf.
“Wel, ons weet almal dat die Zeeman-skeisaak gister afgehandel is, en ek weet ook dat u ’n tafel vir twee hier in die klub bespreek het. Is dit miskien u en mevrou Zeeman se afskeidsete?”
“Natuurlik nie!” voeg Lafras die kêrel vererg toe. “Ek koester geen planne hoegenaamd om van my vrou afskeid te neem nie. So, gaan speel asseblief elders met jou kamera en jou bandopnemertjie, meneer.”
Die koerantman is nog besig om die jong mynmagnaat verward aan te kyk, toe verdwyn hy en Elmarie deur die hoofingang.
“Die verslaggewer het moontlik gelyk, weet jy?” merk Elmarie met ’n vriendelike glimlaggie op terwyl hulle ’n heerlike ete geniet. “Dit mag dalk nog ons afskeidsete wees, hierdie …”
“En daarmee bedoel jy bepaald dat jy na dese nooit weer saam met my wil uitgaan nie,” wil Lafras weet met iets soos teleurstelling in sy stem.
“Nee, dit is nie wat ek bedoel het nie, Lafras,” sê sy bedaard. “Ek het maar net daaraan gedink dat wanneer Mark en ek terug is in Pretoria, jy weer in Europa sal wees.”
“My meisie,” sê Lafras met ’n geheimsinnige uitdrukking in sy grys oë, “ek dink jy moet liewer nie probeer om die toekoms te voorspel nie, want ek het ’n gevoel dat ons nog baie van mekaar gaan sien.”
“Nou goed, ons sal maar sien wat die toekoms vir ons inhou. Onthou net, ek gaan nooit gedurende die week uit wanneer ek werk nie,” sê sy vir Lafras.
“Maar jy ontvang darem seker besoekers, nie waar nie?”
“O ja, bedagsame besoekers wat self weet dat hulle elfuur moet loop, is welkom,” glimlag sy ondeund.
Die ete loop gesellig ten einde. Daarna besoek hulle ’n eksklusiewe nagklub, waar hulle tot eenuur die nag dans.
Met haar tuiskoms skryf Elmarie eers oubaas Dekker se telefoonnommer vir Lafras in sy sakboekie. Toe neem hy haar weer in sy arms en groet haar met ’n baie teer kus.
“Tot siens, swartkoppie,” sê hy sag. “Ek hoop jy en Mark geniet julle verblyf op die plaas. Ry versigtig, en bel my asseblief sodra julle daar aankom.”
Hy druk weer ’n klein, ligte soentjie op haar lippe en laat haar dan vry uit sy arms.
Lank nadat sy die bedliggie afgeskakel het, lê Elmarie nog aan Lafras en dink. Gedurende die tyd wat hulle getroud was, het hy haar nie een maal gesoen of styf teen hom vasgehou terwyl hulle gedans het nie. Vanaand het hy haar al twee maal in sy arms geneem en gesoen, en haar met elke dans ferm teen hom vasgehou asof sy uitsluitlik aan hom behoort.
Eers na ’n lang ruk tref dit haar dat hy te eerbaar was om van sy status as haar man misbruik te maak.
Elmarie is die volgende dag druk besig om in te pak. Toe Mark hoor dat sy oupa en sy oom Schalk vir hom ’n ponie en ’n saal en toom gekoop het, begin hy meteens opgewonde uitsien na hulle besoek aan Spitskop. Later kan hy oor niks anders praat as die ponie en hoe lekker hy op sy eie ponie gaan ry nie.
Dit is nog donker toe Elmarie en die seuntjie uit Pretoria vertrek. Die pad is lank en warm, maar anderkant Aliwal-Noord ry hulle deur ’n sagte bui reën wat hulle sommer dadelik alle moegheid ontneem. ’n Paar kilometer duskant Doringrant, die Dekkers se plaaslike dorp, hou die reën skielik op en ry hulle weer in die warm son.
Dit is net na sesuur toe Elmarie voor die Dekkers se woning stilhou. Die oumense is dadelik by om die besoekers te groet, en twee werkers word aangesê om die bagasie na Elmarie se kamer te neem.
“Tannie Elrie,” sê Mark waar hy op sy oupa se arm sit, “ek sien nie ’n ponie en ’n saal nie!”
“Die ponie het gaan slaap, my skat. Diere slaap mos ook,” verduidelik Elmarie.
“Maar dis te vroeg om te gaan slaap, tannie Elrie. Ek gaan dan nooit so vroeg slaap nie!” hou hy ernstig vol.
“Dit is omdat jy ’n seuntjie is en nie ’n diertjie nie,” help sy tannie hom geduldig reg.
“O, nou goed, ek sal jou maar eers na Ponie se stal toe neem,” doen die oubaas glimlaggend aan die hand en voeg dan sommer ook die daad by die woord.
Elmarie is duidelik verbaas toe sy en die tante die woonkamer binnestap en dokter Schalk Dekker vlugtig na vore tree en haar met ’n hartlike handdruk groet.
“Ek het nie geweet u woon by u oom en tante op Spitskop nie, dokter,” sê Elmarie terwyl hulle al drie plaasneem.
“Ek woon nie by my oom en tante nie, meisie,” hoor sy Schalk goedig sê. “My plaas, Driehoek, grens aan my oom se plaas. Ek is hier slegs in die hoedanigheid as lid van die verwelkomingskomitee.”
“H’m, Mark en ek voel geëerd,” sê sy ietwat sarkasties.
Die jong man kyk haar aan en begin meteens saggies lag. Elmarie se mooi geboogde swart wenkbroue vorm duidelik ’n vraagteken toe sy sê: “As ons weet wat die grap is, mag ons dalk saamlag.”
“O, ek het maar net gedink aan daardie dag toe jy my en jou gewese verloofde uit jou woonstel geboender het. Is jy nog so ’n vuurvreter, of het die getroude lewe jou mak gemaak?” vra Schalk met ’n geamuseerde glimlaggie.
“Ek is nog dieselfde mens as altyd, dokter Dekker. Maar dit herinner my daaraan dat ek belowe het om my gewese man te bel sodra Mark en ek ons bestemming bereik.” Sy kyk na die tante en wou net vra of sy die telefoon mag gebruik, toe dit begin lui.
Die tante kom dadelik orent, maak verskoning en verlaat die vertrek om die oproep te beantwoord. Na ’n paar sekondes maak sy weer haar verskyning in die woonkamer.
“Dit is ’n hooflynoproep van jou gewese man, mevrou Zeeman,” sê die ou dame.
Elmarie bedank haar gasvrou en loop vinnig na die voorportaal waar die instrument teen die muur pryk.
“Hallo! Elmarie hier!” antwoord sy.
Sy glimlag goedig toe sy Lafras tergerig hoor sê: “Naand, mevrou Zeeman! Dit is meneer Zeeman wat praat. Waarom het jy my nie gebel soos jy belowe het nie, swartkoppie? Ek was bekommerd oor julle veiligheid.”
“Ek wou jou nou net gebel het, Lafras. Trouens, ons het ongeveer vier minute gelede eers hier aangekom. Ek het nie my belofte vergeet nie.”
“Goed, ek glo jou. Maar sê vir my, het julle darem voorspoedig gery?”
“Baie voorspoedig, dankie. Maar ek moet sê, dit was ’n lang en vermoeiende pad. Mark het natuurlik die meeste van die tyd geslaap, en met ons aankoms kon hy nie ’n oomblik langer wag om sy ponie te sien nie. Sy oupa was verplig om hom maar dadelik die ponie te gaan wys.”
“Ek hoop julle geniet jul verblyf op die plaas, meisie. Hoe lank is jy van plan om daar te vertoef?”
“Ek het gedink twee weke, maar miskien bly ons langer, Lafras. Ek glo nie Mark sal