Susanna M Lingua Gunstelinge 5. Susanna M. Lingua
sê Schalk ernstig, “jy pas baie beter by my as by een van die ander twee.”
Sy staar hom vir ’n oomblik sprakeloos aan, dan merk sy ietwat droog op: “Jy is óf van jou wysie af, Schalk, óf jy yl.”
“Nooit gesien nie!” sê hy met ’n geamuseerde glimlag. “Ek het nog nooit in my lewe so goed gevoel soos nou nie.”
“Ek dink dit sal beter wees as ek ook maar gaan slaap.” Elmarie sit die foto terug in haar handsak, kom vinnig orent en sê vir die twee oumense: “Ek hoop u sal my verskoon as ek nou gaan inkruip.”
“Doen dit gerus,” sê tant Hester besorg. “Ons verstaan dat jy ’n vermoeiende dag agter die rug het. Ek sal netnou vir jou ’n warm melkdrankie kamer toe bring.”
Elmarie bedank haar, wens almal ’n goeie nagrus toe en gaan na haar kamer waar Mark reeds rustig op die een bed slaap.
Elmarie is die volgende oggend heerlik uitgerus, toe Mark langs haar in die bed kruip en vir haar met sy gebruiklike soentjie môre sê.
“H’m, ek het gedink jy en jou ponie is al besig om jou oupa se plaas plat te ry,” begroet Elmarie haar pleegseun met ’n liefdevolle glimlaggie en trek hom saggies nader totdat hy in haar arm lê.
“Ek wil nie alleen ry nie, tannie Elrie moet kom kyk. My oupa het vir ons gejok. Hy het gesê hier is baie perde, en hier is nie,” sê Mark teleurgesteld.
“Die ander perde is seker in die veld, ou grootman,” laat sy gerusstellend hoor. “Ek glo nie jou oupa sal opsetlik vir ons ’n leuen vertel nie. As ons nou dadelik opstaan, sal ek nog kans kry om te kyk hoe jy ry voordat jou oom Schalk opdaag.”
Elmarie en die twee oumense staan agter die huis en kyk hoe Mark oor die werf ry, toe Schalk se silwerkleurige sportmotor ’n entjie van hulle af stilhou en die jong man tydsaam uitklim. Etlike sekondes betrag hy Mark en die ponie met belangstelling, dan sluit hy by Elmarie-hulle aan en groet hulle in ’n opgewekte luim.
“Wel, ek is bly om te sien dat jy darem betyds gereed is,” sê Schalk terwyl hy Elmarie, wat in ’n wit geblomde somerrokkie gekleed is met wit hoëhaksandale, van kop tot tone waarderend betrag.
“Jy dink tog seker nie dat dit net julle plaasjapies is wat soggens vroeg opstaan nie?” kap sy dadelik terug. “Ek ken baie mense in Pretoria wat vroeër as julle opstaan.”
“Ek sal nie met jou daaroor stry nie,” glimlag Schalk. “Trouens, ek wil glad nie vandag met jou stry nie. As jy dus gereed is, kan ons maar gaan.”
Elmarie waai vir Mark toe hulle by hom verbyry. Dan hoor sy Schalk langs haar sê: “Waarom dra jy nog steeds jou trouring, Elmarie? Jy is mos nie meer getroud nie!”
“Al is ek en Lafras geskei, is ek nog steeds mevrou Zeeman, Schalk,” verduidelik sy. “En wat meer is, ek hou van my ringe, daarom dra ek hulle.”
“Met ’n trouring aan jou vinger sal almal dink jy is getroud,” maak hy met ’n ergerlike frons beswaar. Hy wens sy wil die Lafras-kêrel se ringe van haar vinger verwyder sodat dit hom nie elke keer daaraan herinner dat sy reeds aan iemand anders behoort het nie.
Hy hoor Elmarie met ’n ligte skouerophaling sê: “Ek gee nie in die minste om wat ander mense van my dink nie, Schalk. Of ek getroud of geskei is, het hoegenaamd niks met ander mense te doen nie. Toe ek Lafras die dag na ons egskeiding gesien het, het hy ook nog sy trouring gedra.”
Elmarie sien die frons tussen Schalk se wenkbroue en wonder heimlik waarom hy so gesteurd frons. Sy laat egter nie toe dat sy fronsery haar van stryk bring nie, en na ’n paar sekondes hoor sy hom sê: “So lank as wat jy ’n trouring dra, sal al die kêrels dink jy is getroud en jou doelbewus vermy.”
“Dit sal my baie goed pas, want ek wil nie nou al deur mans lastig geval word nie,” erken sy ruiterlik.
Albei swyg en weldra ry hulle die dorpie binne en hou voor die poskantoor stil, wat ook die dorp se sentrale is.
Schalk stel Elmarie voor aan Karin Naudé wat in die poskantoor werk, en terselfdertyd die sentrale waarneem. Hy verduidelik dat Elmarie by sy oom en tante kuier, en verneem dan of daar pos is vir Driehoek en Spitskop. Hy gaan stel Elmarie voor aan die apteker en sy vrou, en daarna aan die eienaars van die dorp se afdelingswinkel en supermark, oubaas Siegfried Gottmann en sy dertigjarige seun, Dieter.
Dieter se noulettende blou oë helder dadelik op toe sy blik op die mooi swartkopmeisie val. Schalk sien dit, maar laat niks blyk nie. Hy hoop net dat Dieter nie straks probeer om sy hand by Elmarie in die as te slaan nie.
Op sy beurt wonder Dieter of Schalk ’n ogie het op die pragtige meisie, en of sy dalk familie is van die Dekkers.
Schalk het haar voorgestel as mevrou Zeeman, maar hy het nie gesê of sy ’n weduwee of geskei is nie. Hy sien dat sy ’n trouring dra en dit verwar hom nog meer.
Oubaas Gottmann nooi Schalk en Elmarie om saam met hulle elfuurtee te geniet – ’n uitnodiging wat Schalk baie teësinnig aanneem, aangesien Dieter reeds besig is om Elmarie te monopoliseer asof hy alleenreg op haar het.
Schalk besluit egter om Elmarie nie lank aan Dieter se sjarme bloot te stel nie. Hy wil die vurige meisie graag vir homself wen, en Dieter staan bekend as die dorp se hartebreker teen wie geen meisie bestand is nie – ’n feit wat hy onverwyld onder Elmarie se aandag bring toe hy haar later die res van die dorp wys.
“Dieter mag ’n hartebreker vir Doringrant se meisies wees, maar hy beïndruk my nie juis nie,” verseker Elmarie hom onomwonde. “Gelukkig verskil mense se smaak, en só bestaan daar geen gevaar dat my hart in die slag mag bly nie.”
“Jy laat my inderdaad verlig voel, Elmarie,” hoor sy Schalk sê toe hulle verby die stadsaal ry. “Dieter het dit nog nooit ernstig met ’n meisie bedoel nie. Al sy verhoudings was slegs ’n oppervlakkige spel waarmee hy hom vermaak het.”
Schalk kyk na sy polshorlosie en sê dan dat dit tyd is vir hulle om huis toe te gaan. “Ek hoop jy gee nie om as ek eers by Driehoek aandoen nie. Ek moet gaan hoor of daar vir my oproepe gekom het,” sê hy voorts.
“Nee, toe maar, ek gee nie om nie, Schalk. Jy gaan mos darem nie ure daar vertoef nie, of hoe?”
“Nee, dit sal nie lank duur nie,” verseker hy haar. Hy vertel haar van sy praktyk as veearts en sy voorspoedige stoetboerdery wat die meeste van sy tyd in beslag neem.
Al geselsend hou hulle op Driehoek se werf stil, waar ’n opgesaalde perd in die koelte van ’n boom staan.
“Dit lyk of jy ’n besoeker het,” sê Elmarie toe ’n lang, blonde meisie om die hoek van die huis verskyn.
“Jy kan maar in die motor bly sit,” doen Schalk aan die hand terwyl hy uitklim en die blondine, wat in ’n blou denimbroek en hemp geklee is, langs die motor inwag.
Die meisie lyk dadelik gesteurd toe sy Elmarie in die motor sien sit.
Schalk stel die twee meisies aan mekaar voor, en Elmarie wonder vererg waarom die blonde Kotie haar so uit die hoogte aankyk asof dit ’n oortreding is om saam met Schalk in sy motor te ry.
“Jy is ’n regte rondloper, Schalk,” hoor sy Kotie sê. “Ek wag al langer as ’n halfuur vir jou!”
“Ek het nie geweet jy is hier nie,” voeg Schalk haar ongeërg toe. “Ek vrees jy sal nog langer moet wag, want ek moet Elmarie aanstons terugneem Spitskop toe.”
Na daardie woorde stap hy van hulle af weg in die rigting van die agterdeur wat oopstaan. Kotie bloos vererg oor Schalk se onverskilligheid teenoor haar. Sy werp Elmarie ’n vernietigende blik toe en stap na die opgesaalde perd onder die boom. Na ’n rukkie dawer die perd se hoewe oor die werf, en weldra verdwyn perd en ruiter in die rigting van die groot plaashek.
Schalk bly nie lank weg nie, toe vertrek hulle na Spitskop sonder dat hy ’n woord oor Kotie of haar haastige vertrek sê. Elmarie bewaar ook maar die swye. Tog kan sy nie help om te wonder nie, want vir haar is dit baie duidelik dat daar ’n verhouding tussen