die na-dood. Breyten Breytenbach
breyten breytenbach
die na-dood
(die singende hand se oggendboek-hierinneringe)
human & rousseau
Die uitleg van gedigte in hierdie digitale uitgawe van die na-dood mag verskil van dié van die gedrukte uitgawe, afhangende van die instellings op u leestoestel. Die uitleg vertoon optimaal indien die standaardinstelling op u leestoestel gebruik word. Lesers kan egter eksperimenteer met die instellings vir verskillende perspektiewe op die gedigte.
behier my hart, behiér –
en laat wat buite is bedaar
hierdie diep buiging opgedra aan:
die Juweel in die Goue Lotus
What is the definition of dancing? Once you start moving,
how do you know when you’ve crossed the line?
Anders Varveus, Sweedse nagklubeienaar
c’est parce qu’il n’y pas d’accord qu’il y a danse
Ka’afir
Even when we cannot hear one another,
the dance remains.
Robert Hughes, Goya
A self is an ongoing process that enacts an ‘I’
and in which the ‘I’ is no different from the process
itself, rather like the way dancing is a process
that enacts a dance and in which the dance
is no different from the dancing.
Evan Thompson, Waking, Dreaming, Being
What one hopes to pass along is the living experience
of being in each moment.
Gary Snyder, Nobody Home
Leser, kom saam
op hierdie reis oor seë
met meer ink as roem en dieper as vaam
sodat jy mag weet
die laat-gaan is jou binnenaam
1
onder sterre se gewig
en te luister
hoe dakvoeë kraak
onder sterre se gewig
opsomming
“denn leider wissen wir nur das, was uns scheiden”
– Schiller, in ’n brief aan Goethe
met grootdenkerigheid
gee ek die sinnelose ’n slegte reputasie
(og, die waarhede tog weggeskryf in die woorde)
hoedanigheid van digter te wil wees
(behalwe die danigheid dan met woordself)
is om te laat deurskemer
dat daar dit is wat nie gesê kan word
en buite en agter die kadansdansery
val soos verkluimde trekganse in die sneeu
kyk hoe braaf is digter dan
om voort te ploeter in geleende vere
as versinnebeelding van soeke na die hoedoenige
van daardie dit wat nie bestaan nie
soos die vlerkslae van sterwende voëls
ekdigter: die voëlverskrikker
wat iewers tussen die woorde
woer-woer om te kan vlieg
hierdie woorde, ’n nederige gebed dat die barbarisme nie hoop ook sal vermoor nie
ek getuig net hy wie se hart bewe
van liefde vir die medemensmense
sal méns kan wees
net hy wat vuriglik méér vir hulle
as vir homself wil beding
vryheid, vrede, waardigheid
net hy wat die lewe as heiliger
beskou dan sy geloof en sy gode
ek getuig slegs hy
wat onverpoosd
die haat in hom en om hom bestry
sal méns kan wees
slegs hy wat hom afvra
wanneer sy oë oopgaan op die môre
wat gaan ek vandag doen
om te sorg ek behou my waarde en trots
as méns?
(Abdellatif Laâbi, na ’n terreuraanslag op
Charlie Hebdo in Parys, Januarie 2015, lukraak vertaal)
soos hierdie gedig
dus ’n verdigsel van myself, die ek
wat soek-soek binne my lewe
en kleindier spartel om dood te gaan,
geluidloos bly skreeuskandeer
vir genadetroos en ’n singende hand
om uit die lewe geskulp te kom:
ek, die kluisenaarkrap van die self,
soos hierdie draggie woorde
’n digsel synstuipsel is
wat waarheid
se vergestalting van weesheid
tot gedig wil verding
die woordeboek
woorde wat wil boek
is soos bye wat korf
nes boermense dorp toe trek
vir beskerming teen die dood
van verlore te raak sonder ’n horison
se verwysing
of voëls wat moet swerm
om die gekerm binnensmonds te hou
in binnekamergebede
wanneer daardie bye
wat aan voëls kon ontsnap
jou tong kom verangel
woorde wat boek breek oop
op soek na die geswolle stilte
van bybetekenisse
terwyl voëls en sterre hul teen die ruite
van vertolking
te pletter vlieg
en jy woord vir woord
bid-besef jy is maar net die dood
as byeboer
se bywoner in die buitekamer
vleeswoord
die voortyd van die werkwoord lewe
moet tog seker larwe wees
net soos die verlede tyd
belowe om die lyksoos te lawe
en begrawe in die goeie sooie
en sinne van vervlindering:
lyklewe is mos in wese metamorfose
wanneer