Ena Murray Keur 10. Ena Murray
“As jy ’n man was, het jy nou gesterf aan die punt van my swaard.”
“Wat laat jou dink jy sou gewen het?”
Weer spat die vonke tussen die twee paar oë.
“Mam’selle Jacquard, dis nie nodig om tot sulke uiterstes te gaan nie. Jóú soort vrou sal ek nie eens met ’n vuuryster aanraak nie. Ek hou nie daarvan om een in ’n bondel te wees nie.”
Dis ’n rukkie grafstil in die groot balsaal nadat die weerklank van haar palm teen sy wang weggesterf het. Selfs die lede van die slawe-orkes het al teen dié tyd agtergekom dat iets buitengewoons in die hoek oorkant hulle aan die gang is en het opgehou met speel. Skok en verbystering en algehele ongeloof is op elke gesig te sien. So iets het nog nooit hier gebeur nie!
Ook die man wat die klap ontvang het, staan roerloos, baie duidelik onkant betrap deur sulke ongehoorde optrede. Maar Lille is te kwaad om om te gee. Nog nooit in haar lewe is sy as ’n goedkoop meisie bestempel nie, en dit nogal ten aanhore van ’n hele skare!
“Jy trek onmiddellik daardie beledigende woorde van jou terug, m’sieur!”
“Ek sal liewer byvoeg.”
“In daardie geval dan … Moenie die feit dat ek ’n vrou is, jou weerhou om teen my te veg nie. Waar en wanneer kan ons mekaar ontmoet?”
“Lille!” Die goewerneursvrou tree nou tussenbeide, haar gesig bleek van ontsteltenis.
Maar Lille Jacquard was nog nooit só vasbeslote in haar lewe nie.
“Dit is ’n saak tussen my en die graaf De Louvois, mevrou.” Sy kyk hom spottend aan. “Toe, m’sieur. Is jy bang?”
Hy buig styf, formeel, ’n ligte rooi gloed op sy wange, skielik weer intens bewus van die omstanders en dat elke oog met heimlike geamuseerdheid op hom gerig is. Die graaf De Louvois word deur ’n vrou uitgedaag!
“Soos u verkies, mam’selle. Die plek en die wapens is jou keuse.”
“O nee, m’sieur. Geen spesiale voorregte omdat ek ’n vrou is nie. Ons ontmoet mekaar op gelyke voet. Die plek en tyd kan jý maar kies. Ek kies die wapens. Waarin is u die beste? Pistole of die swaard?”
Sy oë brand in hare. “Albei.”
“So?” Haar oë lag hom uit. “Dan maak ons dit maar swaarde. Nou – hoe laat en waar?”
Sy lippe is ’n dun, wit lyn terwyl ’n gedempte gegiggel agter sy rug opklink. Die Kaapse mense geniet hierdie belaglikheid terdeë – en dit ten koste van hom! Sy tande kners onhoorbaar.
“Môreoggend om sesuur. My koets sal hier wees om jou te kry. Goeienag, mam’selle – tot môre.”
Hy draai om en stap reguit op die goewerneur af, buig vlugtig in sy en sy vrou se rigting en stap dan uit. Agter hom hoor hy ’n vrou se lag klokhelder opklink.
Hoewel Lille ná sy vertrek voorgee dat sy alles nog net so geniet soos vóór die onaangename voorval, is dit tog nie die geval nie. Hoewel sy oënskynlik as oorwinnaar uit die stryd getree het, is daar tog ’n ongemaklike gevoel in haar. Iets waarsku haar dat sy vanaand ’n groter hap afgebyt het as wat sy kan verorber. Die gespot en geterg van die mense laat haar ook nie beter voel nie. Ook die goewerneursvrou se ontsteltenis is opmerklik.
“Besef jy dat René die beste swaardvegter aan die Kaap is?”
“Werklik, mevrou?” Sy probeer haar ongeërg hou. “Dan moes ek liewer pistole gekies het.”
“Dit sou jou weinig gebaat het, mam’selle,” laat die goewerneur hoor. “Het jy vergeet hy is ’n grootwildjagter? Daar is geen soort vuurwapen wat hy nie ook meesterlik hanteer nie.”
Lille se glimlaggie is nie meer so heeltemal oortuigend nie. “O, wel, ons sal maar sien wat môre oplewer.”
Die goewerneursvrou kyk haar ontsteld aan. “Maar julle is tog seker nie regtig ernstig nie! Francis, jy moet dit verbied! Waar het jy gehoor van ’n dame wat teen ’n man veg? Dis … ongehoord en … barbaars!”
Maar haar man glimlag net effens. Vir geen oomblik neem hy hierdie uitdaging ernstig op nie, al het René gelyk asof hy ’n hele regiment manalleen kon stormloop toe hy hier uit is. Maar hy gaan nie sy neus hierin steek nie. Albei dra skuld dat hierdie situasie so handuit geruk het, en hulle moet self sorg dat die lug weer gesuiwer word. Aan die ander kant, dit sal hierdie vurige Franse mam’selle geen kwaad doen om ’n slag goed op haar plek gesit te word nie. Om darem ’n man – en dit nogal René de Louvois! – voor almal deur die gesig te klap … Nee, hy voel geneig om met sy jong vriend saam te stem. Lille Jacquard het vanaand ’n bietjie te ver gegaan.
Lille word moeg vir die geterg, hoewel goedig bedoel, van die ander jong mans wat almal gretig aanbied om as haar sekondante op te tree, want almal beskou dit as die grap van die jaar. Daarom glip sy net voordat die slawe-orkes die laaste dans speel by die dubbeldeure uit en gaan skep ’n bietjie asem in die pragtige roostuin van die Kasteel.
Vroeër in die aand was sy vol bravade, maar dit is besig om baie vinnig te taan. Dit is nie haar geaardheid om haar selfbeheersing só te verloor nie. Maar dis hierdie lang maande van spanning en kommer wat haar so onverantwoordelik laat optree het. Al die skuld lê darem ook nie net by haar nie, probeer sy haarself verskoon. Hy was openlik beledigend. Hy het haar doelbewus uit die staanspoor getart.
En natuurlik het sy die uitdaging nie regtig ernstig bedoel nie! En natuurlik weet almal dat dit maar net ’n soort toneelspelery was. Vir almal is dit die grootste grap. Maar het René de Louvois dit as ’n grap beskou? Sy twyfel. Daar is bedenkinge in haar hart. Sy sien nou nog die wit, woedende gesig voor haar en sy voel haar asem in haar keel vastrek. Maar hy sal, wanneer hy eers afgekoel het, tog besef dat dit net ’n klug was, dat sy nie werklik ernstig was nie.
Maar sal hy? Hy lyk nie vir haar na ’n man wat so iets sommer as ’n grap sal afmaak nie, en sy twyfel of hy die humorsin het om ook die snaakse kant in te sien. Vir hom was dit beslis nie snaaks om deur haar voor al die mense geklap te word nie. Wat as hy haar by die uitdaging hou en haar dwing om teen hom te veg?
“Lille!”
Sy swaai verskrik om toe sy die stem agter haar hoor, en sien dan ’n skaduwee van agter ’n struik te voorskyn tree.
“Louis!” Die eerste keer in ’n baie lang tyd is sy bly om Louis Paquin te sien. “O, Louis, ek is in ’n vreeslike gemors!”
“Dit weet ek.” Sy stem klink baie ontevrede. “Was jy van jou verstand af? Wil jy dood wees voordat jy geërf het?”
Haar vreugde verdwyn net so vinnig. Louis Paquin het net een ding waarom sy lewe draai: haar erfenis. Hy is nie bekommerd dat sy môre miskien sal sterf nie. Hy is net bekommerd oor die erfenis wat dan verlore sal wees.
“Hoe weet jy daarvan? En waar kom jy so skielik vandaan?”
“Ek het jou die hele aand deur die vensters dopgehou. Jy het jou aand terdeë geniet, nie waar nie?”
As dit opregte jaloesie was, sou sy nie omgegee het nie, maar sy weet dit gaan net om die halsbandjie, en nie om die hondjie nie.
“Sover ek weet, het ek my gedra.”
“Ja – totdat jy daardie kastige edelman deur die gesig geklap het.”
Sy beteuel haar humeur. Sy het dit reeds een keer vanaand verloor – met ernstige gevolge – en Louis is nou die enigste een tot wie sy haar kan wend. Sy ken niemand so goed aan die Kaap nie.
“Louis, asseblief, sal jy nie daardie man gaan spreek en hom sê … Hy kon die uitdaging tog nie ernstig opgeneem het nie!”
“Daar bestaan nie so iets dat ek met die man kan gaan praat nie. Hy sal dan onmiddellik wil weet wat ek met jou te doen het.”
“Maar wat gaan ek doen as die koets my môreoggend hier kom haal?” wil sy nou regtig ontsteld weet.
Hy is eers ’n