Jesus ruik na mirre en stof. Pierre du Plessis
dag, die dag van God se oordeel, en dat God nuwe liggame sou gee aan die regverdiges. Daar was net een vangplek, daar moes iets van jou oor wees.
Die rabbi’s het verskil oor hoeveel van jou oor moes wees. Sommige het gesê slegs een rugwerwel is genoeg en ander het weer geglo die hele skelet was nodig voordat God weer vleis en vel kon aansit soos in die visioen van Esegiël waar God die geraamtes weer lewend gemaak het.20
* * *
Ek lewe asof ek nooit gaan sterf nie; ek dink baie van ons leef so. Dit klink poëties en sterk asof dit so moet wees, maar eintlik is dit ’n simpel manier van leef. Ek gaan sterf, herinner ek myself elke nou en dan. In ’n stadium gaan iets gebeur of my lyf gaan besluit dit is nou klaar en ek gaan, wel, gaan.
Gesigroomadvertensies help ook nie. Jy ken die advertensies met die 3D-animasie wat jou wys hoe die goue balletjie hierdie keer, met hierdie nuwe tegnologie, diep onder jou vel gaan insypel en dan so van onder af die plooie gaan uitdruk en jou vel glad stryk. Jy is dit mos werd, of hoe? Ons wil tog almal so nuut, vars, en jonk lyk.
Die hele wêreld is ietwat behep met nuut en vars en lekker ruik. Die oomblik as daar ’n krappie of ’n skrapie op is, moet dit uit en vervang word en dan verkieslik met die nuwe, beter model. Kyk almal se tande is selfs wit en perfek. Botox is deel van partytjies. Ons verf so ’n mooi lagie vernis oor die wêreld en kyk vinnig anderkant toe as ons die stukkende dele en die dood raaksien. Ons sluit ons toe in perfekte estates met mooi tuine en hoë mure en ignoreer die wêreld daar buite.
Koop net vir jou ietsie moois, dan voel jy beter. Eet gou iets. Drink net vinnig hierdie slukkie wyn, hierdie klein pilletjie. Ons bedwelm ons seer sodat dit kan verdwyn.
Kyk, jy moet my mooi verstaan, ek self lewe al lank met antidepressante waarvoor ek baie dankbaar is, maar dit is iets anders as wanneer ek ’n ma sien wat blitsvinnig ’n koekie in ’n dogtertjie se hand druk wanneer sy hartseer is, of wanneer daar vinnig die aandag van verlange afgetrek word of wanneer iemand hul pyn onder wyn toegooi in plaas daarvan om dit in die gesig te staar, jouself uit te huil en sterker op te staan.
Hartseer is mos ’n sonde.
Hulle het vir Jesus aan die kruis mirre, gemeng met wyn gegee om te drink.21 Dit was ’n verdowingsmiddel. Jesus het dit uitgespoeg toe hy proe wat dit was. Jesus het nie bedwelmd deur die kruisiging gegaan nie; die pyn en die dood moes deur Hom gaan.
Die dood is lankal nie meer deel van ons samelewing nie. Ons bedwelm en beskerm onsself mooi daarteen. Ek is seker ’n honderd jaar of dalk nie eers so lank terug nie was dit heel anders. Die dood was nader en deel van die daaglikse lewe soos dit in die tyd van Jesus was. In Jesus se tyd het die meeste mense net-net hulle 20’s gehaal en die meeste kinders is oorlede lank voor hulle vyf jaar oud was. Die dood was ’n deel of ten minste ’n aanvaarde deel van hul bestaan.
Die klein familiebegraafplase wat so verwaarloos langs die teerpad staan, laat my daaraan dink dat die dood voorheen deel van die lewe was. Wanneer iemand in die plaashuis gesterf het, moes mense self die graf grawe, die lyk was en hanteer en self die graf toegooi. Vandag het ons die dood uitgekontrakteer aan hospitale en begrafnisondernemers en die meeste van ons sal heel moontlik deur ons hele lewe gaan sonder om een keer aan ’n lyk te vat en sommige seker sonder om eers ’n lyk te sien. G’n wonder ons dink die dood is iets wat met ander mense gebeur en iets wat ver en onbekend is. Geen wonder ons dink ons gaan vir ewig leef nie.
* * *
Mirre het ook ’n ander gebruik gehad. Dit was ’n uitstekende geneesmiddel. Mirre is antisepties, anti-inflammatories en is vir verskeie kwale gebruik. Die helende eienskappe van mirre was ook aan die Grieke bekend. Elke Griekse soldaat het so ’n klein bietjie vloeibare mirre saam met hom in die oorlog gedra.
Aalwyn, die vetplant waarvan Johannes skryf, was ook bekend vir sy helende eienskappe, veral vir veltoestande, swelling, brandwonde, snyplekke en so meer. ’n Bietjie Aloe Vera doen wonders.
Wat vir baie ’n vreemde ding is, is waarom Nikodemus so ’n groot hoeveelheid mirre en aalwyn – 33 kilogram of amper die helfte van ’n volwasse man se gewig – gebring het om Jesus se liggaam mee te behandel. Sommiges reken dit was ’n koninklike hoeveelheid om Jesus te eer, maar selfs daarvoor was dit steeds te veel.
Daar is ’n ander teorie, naamlik dat Nikodemus die helende eienskappe van mirre en aalwyn goed geken het. Die teorie is dat hulle dalk nog ’n klein bietjie hoop gehad het en geglo het dat die mirre en die aalwyn Jesus gesond kon kry. So ’n groot hoeveelheid van ’n antiseptiese en anti-inflammatoriese mengsel sou die regte ding gewees het nadat iemand geslaan, gegesel en gekruisig is soos in Jesus se geval. Dalk kon Nikodemus ook nie aanvaar dat Jesus moes sterf nie en dat die dood deel was van die storie wat Jesus kom leef het nie. ’n Dooie Messias is nie ’n Messias nie.
Die ongemaklike waarheid is dat Jesus nodig gehad het om te sterf sodat ons kan lewe, sodat Hy weer kon lewe. God het gekom om mens te wees en as mens moes Hy ook sterf, want mense sterf; dis deel van ons storie.
Nicholas, wat saam met ons by 3rdplace werk, sê altyd: “Lief en leed loop altyd saam soos twee spore in ’n pad.”
* * *
Onthou dat jy ook sal doodgaan – dit is wat memento mori beteken. Christene het oor die eeue heen Memento Mori-meditasies geskryf en objekte soos skedels en kuns wat doodsimbole uitbeeld in hulle huise en kerkgeboue geplaas. Daar is ’n kapel in Portugal, Capela dos Ossos, wat versier is met mensskedels en bene. Selfs die kandelare is van bene gemaak as ’n kolossale Memento Mori. Hierdie gedig kan ’n mens in die kapel lees:
Where are you going in such a hurry, traveler?
Stop … do not proceed;
You have no greater concern,
Than this one: that on which you focus your sight.
Recall how many have passed from this world,
Reflect on your similar end,
There is good reason to reflect
If only all did the same.
Ponder, you so influenced by fate,
Among the many concerns of the world,
So little do you reflect on death;
If by chance you glance at this place,
Stop … for the sake of your journey.
The more you pause, the further on your journey
you will be.
Fr. António da Ascenção
In ons huis het ek ook begin om uitbeeldings van skedels te versamel en uit te stal soos Christene deur die eeue heen gedoen het. Mense frons altyd as hulle dit sien, want wat soek so iets in ’n Christen se huis? Het jy ’n obsessie met die dood? Nee, juis nie; daarom het ek die skedels nodig.
Dis eenvoudig. Dit herinner my om reg te leef, om elke dag te tel, om te onthou dat die dood deel is van die lewe en deel is van die reis. Dat die dood nou steeds ’n rol het om te speel, dat hartseer ons laat groei en op ’n manier heelmaak, en dat pyn ons leer om ander te dra en te help.
Wanneer iemand Jesus begin volg begin hulle dikwels om kruise in hul huise te sit en aan hul motor se spieëltjie te hang of as juwele te dra. Ons vergeet vinnig dat die kruis ’n martel-instrument was, so goed soos om vandag ’n elektriese stoel as ’n simbool te gebruik. Die kruis is die eintlike Memento Mori – of behoort dit te wees.
* * *
Hartseer en dood het sy plek in ons wêreld. Dit vorm ons en gee vir ons lewe op ’n manier wat ons nie kan verstaan nie. Dit is die kompos vir ons tuine. Elke keer wanneer ons ons liggame met kos voed, het ’n plant of dier hul lewe afgestaan sodat ons kan leef. Ons kan nie die storie van Jesus vertel sonder dood en hartseer nie.
Ons dra lig en donker in ons. Elkeen het ’n doring in die vlees wat die Here toelaat of gebruik, iets wat ons naby aan Hom hou, ’n verlange na die dag wanneer alles heel sal wees.