Jesus ruik na mirre en stof. Pierre du Plessis
het ook gehuil.22
Die mirre was by Jesus se geboorte en by sy graf ’n wonderlike reuk. Jesus ruik na mirre. Jesus ruik na lewe en ook na die dood.
Die dood gaan altyd die opstanding vooruit, het Luther die Hervormer gesê. Winter kom altyd voor die somer, die saad sterf altyd voor die oes, die nag kom altyd voor die dag,23 slaap voor wakker.
Om die reuk uit die mirre te kry moet ’n mens dit breek – dit vermorsel, om die waarheid te sê. So is dit met menige ander reuk. Mirre word fyngemaal en blomblare word stukkend gedruk. Elke keer as jy ’n lekker reuk ruik, is dit omdat iets stukkend gebreek is – die peper wat in die meul gemaal is of die kaneelstokkies wat tussen jou vingers gebreek het.
Hoekom sal dit nou anders wees met ons lewe? Hoekom is ons so verbaas as daar steeds swaarkry, hartseer en perse is wat ons maal en breek? Ons het seker gedink dat om in onsself te sterf soos Jesus gevra het, sommer iets is wat net so gebeur. God gebruik die stukkende wêreld om die mooi reuk in ons los te kry, om die harde doppe af te kry, ons blinknuwe gepoetste ego’s ’n klein bietjie te laat krap.
God maak ook altyd iets moois uit iets leliks. God gee vir ons geluk in plaas van as, vreugde-olie in ruil vir treurigheid,24 brood in plaas van slange en rose in plaas van hartseer. God is meesterlik om vir ons iets uit ons seer te gee. Die punt is dat sonder ons seer is daar niks wat ons vir God kan gee nie. As ons nie besef dat ons stukkend is nie, dat ons sterflik en dat ons gekraak is nie, dan kan God ons nie vernuwe nie.
God se opstandingsgees woon in ons. Dit is dieselfde Gees wat Jesus uit die dood opgewek het en net Hy kan ook ons seer nuutmaak. Nie vir altyd wegneem nie, maar nuutmaak en weer laat opstaan. Vir seker. God werk van die binnekant af buitekant toe. Hy het begin by die graf in die tuin en die lewe kring en kring steeds uit totdat dit eendag alles sal omvat.
* * *
Op die hoek van die straat naby ons huis, staan ’n beeld deur ’n vriend van my, Angus.25 Die bronsbeeld is van ’n man wat met sy arms gevou staan. Bo sy kop hang ’n klomp sfere wat ’n tipe wolk vorm. Die balle is almal blink silwer. Dit is hoe dit met ons lewe is: selfs die sleg (of dalk juis die sleg) is eintlik die goed. Alles wat met ons gebeur, werk ten goede mee. Die wolk wat bo ons koppe hang, het nie net ’n silwer randjie nie.
Die hele wolk is silwer.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.