Ena Murray Keur 11. Ena Murray
meewarig. “Ek praat net die waarheid. Vir ander moet ek ’n front voorhou, maar ek gaan nie skynheilig teenoor myself ook wees nie. Hier is meer as genoeg valsheid en skynheiligheid in hierdie Eden van ons sonder dat ek nog daaraan toevoeg.”
Daphne staar hom weemoedig agterna. Sy besef dat sy haar kleinboet vir altyd verloor het. Hy het skielik ’n groot man, ’n volwasse man geword … sedert Julius met sy jong bruidjie na Eden teruggekeer het. Sy byt hard op haar onderlip, onbewus dat sy ’n gewoonte van Julius se vrou na-aap.
Toe Karlien later die oggend haar oë oopmaak, kyk sy in Daphne se bekommerde gesig vas. Sy glimlag, verbaas dat sy so swak voel.
“Liewe aarde, Daphne, ek is nie van plan om dood te gaan nie. Weg met daardie lyksmasker op jou gesig.”
Daphne sug verlig, maar laat kwaai hoor: “Jy kan nog grappies maak! Ons het ons byna doodgeskrik!”
“Wat het gebeur? Ek … ek kan nie onthou nie.”
“Julius het jou bewusteloos in die tuin opgetel. Jy het gebrand van koors. Jy was op die punt om sonsteek te kry. Jy was die hele nag deurmekaar en het aanmekaar gebabbel.”
Karlien se oë rek. “Wat … wat het ek gesê?”
“Nee, ons kon nie uitmaak nie. Dit was net ’n gemompel.” Sy lag. “Toemaar. Jy het geen geheime verklap nie! Wat meer is, Julius was by jou, dus sou dit ook nie saak gemaak het as jy het nie. Daar is mos nie geheime tussen man en vrou nie, nie waar nie?”
Weer rek Karlien se oë. “Julius! Jy bedoel … hy het … het hier geslaap … by my?”
“Ja, natuurlik.” Daphne se oë is lig spottend. “Ek het aangebied om na jou te kyk, maar jy het begin yl en onophoudelik na hom geroep. Toe het hy by jou kom slaap … ten minste, jy het later rustiger geword, maar ek dink nie hy het ’n oog toegemaak nie. Hy moet vanoggend vol krampe en pyne wees.”
“Hoekom?”
“Hy het jou die hele nag teen sy bors laat lê sodat die beddegoed nie aan jou seer vel raak nie. Vanoggend, toe ek hier inkom, het hy nog in dieselfde posisie gelê, te bang om te roer.”
“O!” Karlien het niks verder te sê nie.
“Hoe voel jy?”
“Nog styf en seer – my vel span asof dit te klein vir my is – maar origens voel ek nie te sleg nie. Nog net ’n ligte kopseer, dis al.”
“Jy bly vandag in die bed. O ja, dis doktersbevel. Jy gaan ook ’n paar dae by my kuier. Julius kan jou maar weer later kom haal.”
Eintlik voel Karlien verlig om dit te hoor, maar sy vra tog aarselend: “Wat sê Julius? Hy sal dit nie toelaat nie.”
“Hy het eers vreeslik teengeskop, maar ek het hom oorreed. Dis te sê as jy by my wíl kuier.”
“Maar natuurlik wil ek. Dit sal heerlik wees,” laat Karlien vinnig hoor, te vinnig vir ’n pasgetroude vrou. Daphne se oë trek weer peinsend saam. Dan knik sy net haar kop.
“Dan is alles reg. Malcolm moet môre weer hierheen kom, dan kan hy sommer vir jou ’n paar stukkies klere saambring.”
“Waar is Julius?”
“Hy is af na die hawe. Hy sal nou terug wees. En hy sal glo net vertrek as hy tevrede is met jou toestand en oortuig is dat jy ’n paar dae sonder hom sal kan bestaan.”
Daphne se stem is effens spottend, maar Karlien kom dit nie agter nie. Haar verligting is te groot, en sy kan Daphne gerus soen. Dit is gerusstellend om te weet dat sy Julius nie die volgende paar dae in die oë hoef te kyk nie, of, nog erger, ’n verduideliking hoef te gee van wat in die hoteltuin gebeur het voordat sy flou geword het nie. Sy voel regtig nie nou al opgewasse teen hom nie.
Daar is nog ’n rede hoekom sy bly is dat sy ’n paar dae onder Julius se oë uit sal wees. Sy bewe van skaamte en ontsteltenis by die gedagte dat sy ’n hele nag teen sy bors geslaap het, na hom geroep het en volgens Daphne dalk allerhande dinge kwytgeraak het. Wat moet hy van haar dink? En sal hy dit nie geniet om haar daarvan te vertel nie! O nee! Dis baie beter dat sy ’n paar dae lank onder sy spottende oë weg is.
Toe Julius enkele oomblikke later die kamer binnestap, gevolg deur Malcolm, lyk dit asof Karlien weer koors het. Die blos op haar wange versprei verder toe sy baie vlugtig in haar man se deurdringende oë kyk.
Malcolm buk bekommerd oor haar. “En toe? Hoe gaan dit vanmôre met die gaar meisie?”
Sy lag swakkies. “Darem nie meer heeltemal so gaar nie, dankie. Ek voel regtig baie beter.”
“Jy het ons darem groot laat skrik, meisiekind. Wanneer jy heeltemal gesond is, behoort Julius jou oor sy skoot te trek.”
“Moenie een enkele oomblik dink sy gaan haar straf vryspring nie, my vriend. Ek wag net totdat sy terug is op Praslin,” sê Julius, en hoewel sy stem skertsend klink, vertel sy oë haar dat hy glad nie grappies maak nie. Daar sal beslis nog ’n afrekening tussen hulle twee plaasvind.
“In daardie geval sal ek my maar permanent op Mahé vestig,” probeer sy ook skerts terwyl sy voel hoe haar keel toetrek.
Julius se wenkbroue trek omhoog. “Jy hoort by my, my vrou – nie hier nie. Ek kom jou oor ’n paar dae haal. Sterk dus vinnig aan.” Hy buk oor haar en skielik is sy hand onder haar ken en word haar gesig omhoog gedwing. Hy kyk af in haar oë en sê dan sag: “Pas jouself asseblief op, my vrou. Ek …” Hy breek sy sin kort af en laat sy lippe vol oor hare sluit. Dan kom hy vinnig orent. “Ons kan maar gaan, Malcolm.”
Malcolm knik, buk af en soen haar broederlik op die voorkop. “Soet wees, meisiekind. Moenie oor Julius bekommerd wees nie. Ek sal sorg dat hy gereeld eet en dat hy agter sy ore was.”
Karlien lag bewerig, maar haar blik kleef aan die man wat reeds in die deur op Malcolm staan en wag. Skielik hou sy glad nie van die gedagte om hier agter te bly nie, wil sy saam met hom gaan. “Jy … moenie te lank wag voordat … jy my kom haal nie, Julius.”
Voordat sy haar kom kry, is die woorde uit. Daar ontspring ’n lig in die blou oë wat haar so verward en verleë maak dat sy weer pynlik bloos.
“Nee, ek sal nie. Ek kom sommer gou. Tot siens, my liefling.”
“Tot siens … Julius.”
Sy weet dis alles toneelspel. En hoe verspot van haar hart om skielik so aan die bons te gaan asof dit uit haar ribbekas wil spring! Nog belagliker is die drang in haar om uit die bed op te spring en agter hom aan te hardloop. Hy sal dink sy het regtig sonsteek opgedoen!
Daphne se tergende stem ruk haar terug na die hede. “Toe nou, liewe aarde, hy gaan nie vir ewig weg nie! Vee af die trane …”
Karlien kyk haar geskok aan. Tot haar verbystering voel sy met die rugkant van haar hand dat daar sowaar trane aan haar wimpers kleef. Sy vee vinnig oor haar oë.
“Ek … huil nie. Moenie verspot wees nie. Dis sommer … swakheid,” sê sy vinnig.
Die ouer meisie se oë versag. Sy vee die haartjies van die steeds warm voorkop af weg en sê sag: “Natuurlik! Ná so ’n koors is ’n mens maar baie swak.”
Daphne doen haar bes om die ure vir Karlien so aangenaam moontlik te laat verbygaan. Ook John doen sy deel en Daphne laat hom maar begaan. Sy sal hom tog nie van Karlien af kan weghou nie, en miskien is dit goed dat hy haar gereeld sien. Die een of ander tyd sal hy wel besef dat dit hopeloos is – soos sy alte goed weet.
Ook James Roderick besoek Karlien en die gesprek gaan grotendeels oor Julius. Die direkteur het net die grootste lof vir sy uitvoerende hoofbestuurder en Karlien voel hoe haar hart swel. Hy is immers haar man en dis net menslik om lekker te voel as iemand anders hom prys, vertel sy haarself.
Teen die aand se kant is Karlien al so teë vir die bed, dat sy Daphne na veel gesoebat oorhaal om haar toe te laat om op te staan. John tref haar op die stoep aan toe hy van die kantoor af kom.
“Hoekom