Piekfyn Afrikaans Graad 6 Leesboek vir Huistaal. Fanie Viljoen

Piekfyn Afrikaans Graad 6 Leesboek vir Huistaal - Fanie Viljoen


Скачать книгу
rel="nofollow" href="#fb3_img_img_0bbe465d-aead-5472-a962-f7c2a7ad8803.jpg" alt=""/>

      Dit sou maar sleg met hom gegaan het as Sunguru die Haas nie op ’n dag verby sy grot geloop het nie. Sunguru het in die grot gaan loer en gesien dat die leeu besig is om dood te gaan van die honger. Hy het dadelik begin om sy siek vriend te versorg en hom gemaklik te maak.

      Danksy die haas se mooi versorging het Simba geleidelik weer sterk geword, totdat hy uiteindelik vir hulle bokkies kon vang om te eet. Nie lank nie of ’n groot klomp bene het buite die leeu se grot begin ophoop.

      Toe kom die dag dat Nyangau die hiëna die heerlike geur van murgbene kry terwyl hy in die omtrek rondsnuffel vir iets om buit te maak. Sy neus lei hom tot by Simba se grot – maar omdat die bene vanuit die grot gesien kan word, kan hy hulle nie sommerso steel nie. Nes al sy broers en susters is Nyangau ’n groot ou lafaard, en hy besluit die enigste manier om die lekker happies in die hande te kry, is om met Simba vriende te maak. Hy kruip dus tot by die grot se ingang en gee ’n kuggie.

      “Wie versteur die mooi aand met so ’n lelike hoesie?” wil die leeu weet en hy kom orent om ondersoek in te stel.

      “Dis ek, jou vriend Nyangau,” sê die hiëna, wat so amper die bietjie moed verloor wat hy nog het. “Ek het vir jou kom sê hoe baie die diere jou mis, en hoe ons daarna uitsien dat jy weer heeltemal gesond moet wees!”

      “Skoert,” grom die leeu. “As jy my vriend was, sou jy al lankal na my welstand kom verneem het, eerder as om te wag tot ek weer vir jou van nut kan wees. Skoert, sê ek!”

      Die hiëna skarrel blitsvinnig daar weg met sy stert tussen sy bene, die haas se gegiggel in sy ore.

      Maar die dikvellige hiëna kan net nie vergeet van daardie lekker bene buite die grot se ingang nie. Ek sal weer probeer, besluit hy.

      ’n Paar dae later maak hy seker dat hy besoek aflê terwyl die haas weg is om water te gaan haal om die aandete te kook.

      Hy tref die leeu aan waar hy voor die grot lê en slaap.

      “Vriend,” glimlag Nyangau liefies, “ek verneem dat die wond aan jou been baie stadig gesond word omdat dit so verkeerd behandel word deur jou sogenaamde vriend Sunguru.”

      “Hoe nou?” knor die leeu. “Dis aan Sunguru te danke dat ek nie van die honger omgekom het toe ek op my siekste was nie. En toe het jy en jou metgeselle geskitter in julle afwesigheid!”

      “Wat ek sê, is nietemin waar,” sê hiëna op ’n vertroulike stemtoon. Eers vertel hy hoe ’n wonderlike dokter Sunguru is, en hoe goed sy medisyne is. “Maar almal hier rond weet dat hy jou met opset die verkeerde behandeling gee. Dis om te keer dat jy gesond word, want dan sal hy sy pos as jou huisbediende verloor. Dis mos ’n lekker gemaklike posisie vir hom … Laat ek jou daarom waarsku, my goeie vriend – Sunguru tree nie in jou beste belang op nie!”

      Op daardie oomblik kom die haas van die rivier af terug met ’n kalbas vol water. “Nou toe nou,” sê hy vir die hiëna terwyl hy die kalbas neersit, “ek het nie verwag om jóú hier te sien ná jy die ander dag so vinnig en sonder waardigheid hier weg is nie. Sê my, wat wil jy dié keer hê?”

      Simba draai na die haas. “Ek het so pas geluister na wat Nyangau vir my van jou vertel het,” sê hy. “Jy is glo oral bekend vir jou vaardigheid as dokter. Hy sê ook dat die medisyne wat jy voorskryf sonder gelyke is. Maar hy hou voet by stuk dat jy lank gelede al die wond aan my been gesond kon gemaak het as jy wou, maar dat dit tot jou nadeel sou wees. Is dit waar?”

      Sunguru dink ’n oomblik na. Hy moet dié situasie baie versigtig hanteer, want hy het ’n sterk vermoede dat Nyangau hom met ’n skelmstreek wil vang.

      “Wel,” antwoord hy versigtig, “ja en nee. Jy sien, ek is mos maar nie van die grootste nie. Partykeer is die medisyne wat ek voorskryf egter baie groot en dan kan ek dit nie in die hande kry nie – soos in jou geval, vriend Simba.”

      “Wat bedoel jy?” Die leeu sit belangstellend regop.

      “Dis eintlik eenvoudig,” verduidelik die haas. “Ek het ’n stuk vel van ’n volgroeide hiëna nodig om op jou wond te sit sodat dit heeltemal gesond kan word.”

      Toe hy dít hoor, bespring die leeu vir Nyangau voor die verraste hiëna tyd het om hom uit die voete te maak. Hy skeur ’n stuk vel van die arme sot se rug af – van sy kop tot by sy stert – en plak dit dadelik op sy wond.

      Die oomblik toe die vel van die hiëna se rug afgeskeur word, gaan staan al die hare wat daar oorbly penorent. En daarom het Nyangau se nageslag tot vandag toe op hulle rûe lang, growwe hare wat regop staan.

      Sunguru se faam as dokter het ná hierdie gebeurtenis wyd en syd versprei, want die wond aan Simba se been het sonder enige verdere probleme gesond geword. Maar dit was baie lank voor die hiëna weer die moed gehad het om in die openbaar te verskyn.

      (Uit: Die Madiba-boek. Tafelberg-Uitgewers. 2002)

      Vertaler: François Bloemhof

      Beantwoord die volgende vrae in julle groepe:

      1.Waarom het die hiëna na die leeu se grot gegaan?

      2.Vertel aan jou maats die plan wat hiëna gehad het om die haas te uitoorlê.

      3.Sunguru het uiteindelik as oorwinnaar uit die stryd getree. Vertel wat gebeur het.

      Swaar dra

      al aan die een kant

      Pieter W. Grobbelaar en Séan Verster

      Die skeefste pot kry ’n deksel, en die lompste jongkêrel kom getroud as hy net hard genoeg probeer. So gebeur dit dat Jakkals en Wolf al twee vrou vat. Jakkals haak af met Jakomiena, ’n mooi jong jakkalsmeisie, en Wolfina uit die wolfgeslag is Wolf se bruid. Sy is wel al ’n bietjie lank in die tand en kort van draad, maar as die liefde blind is, dan is Wolf ’n mol.

      Wolf laat nie links lê nie, en hy sorg vir sy huis. Nee, dis die reine waarheid: Hy is ’n goeie pa en broodwinner vir sy gesin. Vroeg en laat is hy op die jag uit, en as hy die dag sonder iets te ete tuis kom of ’n deel langs die pad verloor, is dit nie sy skuld nie. Net Jakkals weet hoekom hy soveel teenspoed kry, en hy sal nie maklik sê nie.

      Eendag het Wolf ’n jong hartbees gevang. Dis om monde te laat water en lippe te laat aflek, selfs net van kyk. Maar Wolf dink nie aan sy eie lus nie. Hy gooi die hartbees oor sy skouer en stap aan. Nie te ver nie, of hy kom by Jakkals verby.

      “Môre, sterkman. Alle vrede,” groet Jakkals beleef, maar hy kan sy oë nie van die hartbees afhou nie.

      “Môre,” sê Wolf kortaf. Hy het nie tyd nie, maar Jakkals stap saam, en gesels land en sand.

      “Kan ek nie help dra nie, Neef?” vra Jakkals naderhand ewe gedienstig toe hy hoor Wolf se asem begin fluit.

      “Help dan,” sê Wolf halfnors, en laat die hartbees grond toe gly om ’n bietjie te rus.

      Nou is Jakkals baie vernaam.

      Spoeg in die hande om beter te kan vasvat.

      Vasvat om nie weer te los nie.

      Hy steun kastig toe hy optel, maar eintlik stoot hy die hele hartbees netjies op Wolf se skouers, en hy leun ook nog met sy gewig daarteen. Wolf se knieë knak eintlik onder sy lyf, maar hy gaan nie eerste kla nie.

      ’n Rukkie vorder dit nie te goed nie, en dan gaan dit al hoe slegter. “Nee!” sug Wolf einde ten laaste en laat die hartbees val. Jakkals ploeg amper op sy neus toe sy stut so skielik hier voor hom padgee, maar hy ruk homself reg.

      “Ek stem saam, Neef,” praat Jakkals vroom. “Die hartbees is vir ons


Скачать книгу