Piekfyn Afrikaans Graad 6 Leesboek vir Huistaal. Fanie Viljoen
“Goed, Neef,” sê Jakkals kastig gedweë. “Jy sal seker weet. Ek wou net gehelp het.”
Soos hulle aanstap, lê Jakkals al hoe swaarder op die hartbees sodat Wolf moet ingee. “Nee, die hartbees is soos ’n klip,” hyg hy en laat sy buit vir ’n tweede keer val.
“Ons het seker nie genoeg daarvan geëet nie,” sê Jakkals. “Laat ons dit nog ligter maak.”
“Ja, laat ons maar,” sê Wolf.
Dié keer gaan Jakkals hom heeltemal te buite, terwyl Wolf net hier en daar kan proe omdat hy so moeg is.
“So ja,” sê Wolf toe hy sy asem teruggekry het. “Kom ons probeer weer.”
Nou hang Jakkals met sy hele gewig aan die hartbees, en Wolf kom nie weg nie. Hy waggel so ’n paar tree, en toe stort hy en die hartbees en Jakkals op ’n hoop neer.
“Ai toggie,” kreun Wolf toe hy eindelik uitgekruip kom, “ek kan nie verstaan watse soort hartbees dit is nie. Dis die eerste keer in my lewe dat ek so swaar dra.”
“Dis gesonde vleis wat so maak; dit was ’n goeie vangs,” prys Jakkals. “Ek het nog nooit in my lewe ’n mooier jong hartbees gesien nie.”
“Dit kan wees,” sê Wolf, “maar wat help die beste vleis in die wêreld as jy dit nie by die huis kan kry nie?”
“As jy nie sterk is nie, moet jy slim wees,” sê Jakkals. “Ek het nou die beste plan. Ons begrawe die een helfte van die vleis hier onder die sand, en ons dra die ander helfte weg. Dan kan ons mos later weer die res kom haal sonder om ons moeg te maak.”
“Wil jy glo,” sê Wolf dankbaar, “ek het nooit daaraan gedink nie.” Hy begin sommer dadelik grawe.
Met die een helfte van die vleis veilig gebêre, gaan dit nou voor die wind, want Jakkals help selfs dra om Wolf so gou moontlik so ver moontlik weg te kry.
Toe hulle anderkant ’n rantjie afsak, sien Jakkals dis nou veilig. “Eina!” skree hy skielik so hard dat Wolf die stuk hartbees amper laat val van die skrik.
“Wat is dit nou met jou?” wil hy weet.
“’n Pendoring het my gesteek, Neef,” kerm Jakkals kamma droewig. “Ek sal dit eers moet uithaal en my poot in koue water hou vir die pyn voor ek verder kan dra.”
“Dis nie nodig dat jy dra nie,” sê Wolf grootmoedig. “Ek is mans genoeg vir hierdie stuk.”
“Ai, dit breek my hart dat ek jou so in die steek moet laat, neef Wolf,” snik Jakkals, “maar ek kan niks daaraan doen nie.”
“Toemaar, ’n ongeluk is ’n ongeluk,” sê Wolf. “Dit kom die bestes van ons oor. Gee dat ek jou poot sien. Dalk kan ek help.”
Nou huil Jakkals dat die trane oor sy wange loop. “Moet liewer nie daaraan raak nie. Dit pyn te erg.”
“Nou goed,” sê Wolf. “Maar jy moet jou poot begin dokter, want die son wag vir niemand nie.”
“Stap solank aan,” sê Jakkals. “Ek sal jou nie kwalik neem nie.”
“As jy so sê,” antwoord Wolf, en hy val weer in die pad.
Skaars het Wolf agter die eerste doringbos verdwyn, of Jakkals spring orent. Eers trap hy so ’n paar keer hier en daar asof hy danspassies maak. Dan vlieg hy om en lê oop oor die rantjie dat die klippies tussen die graspolle gons, terwyl hy sy liedjie sing:
“Die een kant af,
En die ander kant op –
Wolf, ou Wolf,
Jy’s tóé in die kop;
vandag het ek jou
weer lekker gefop!”
Toe Jakkals by die plek kom waar hulle die halwe hartebees gebêre het, grawe hy dit haastig uit, gaan steek dit op ’n ander plek weg, vee sy spore met ’n takkie dood en draf houtgerus huis toe om sy vrou en kinders te roep sodat hulle kan kom help aandra.
(Uit: Jakkals en Wolf. Human & Rousseau. 2011)
Beantwoord die volgende vrae in julle groepe:
1.In die eerste paragraaf kom heelwat idiome (figuurlike taal) voor. Skryf die idiome neer en gee elkeen se betekenis.
2.Wat beteken dit as ’n mens sê iemand is ’n jakkals?
3.Van watter karakter hou julle die meeste: Wolf of Jakkals? Motiveer julle antwoord.
Die waterval in die miswolk
Fanie Viljoen
Dit is vakansie, maar dae lank al reën dit net. Ek en Melody, my vriendin, sit en kyk verveeld hoe die wêreld buite die venster vervaag agter ’n watergordyn. Ons is lankal nie meer lus vir die bordspeletjies en kaarte wat my ma gekoop het nie.
“Ag, Dawid, ek wens dit wil nou ophou,” sug Melody. “Ons was nog nie eens naby die see nie. Ons gaan een van die dae terug huis toe, dan het ons nog nie ’n voet in die water gesit nie!”
“Tensy dit reënwater is!”
“Jy’s nie snaaks nie!” spoeg sy en sug weer.
Maar ons is verniet bekommerd. Die volgende dag trek al die swaar wolke weg. Die son breek helder deur. En ons weet: Die vakansie begin nou eers!
Ek en Melody pluk ons swemklere aan, gryp ons handdoeke en roep net vir my ma-hulle: “Ons gaan solank strand toe. Sien Ma-hulle later!”
Verbeel jou – my ma wil altyd eers grimering aansit voor sy strand toe gaan. Alles gaan mos afwas. Dit is net ’n mors van tyd. En my pa beweeg nie voordat hy die oggendkoerant klaar gelees het nie. Koerant lees op vakansie? Nee, wat. Dis hoekom ons solank see toe gaan. Die branders roep ons.
Ek en Melody baljaar behoorlik in die water. Uiteindelik sak ons moeg op ons handdoeke neer. Mens moet darem ’n bietjie asemskep ook! Ek lê op my maag en voel hoe die son my rug streel. ’n Tevrede glimlag sprei oor my gesig. Dis mos nou die lewe! Geen bekommernisse oor skool en huiswerk nie. Net pret en plesier.
“Ek gaan vir ons roomys koop,” sê Melody en spring op. Sy skud die klewerige sand van haar boude af en hardloop in die rigting van die strandkafee.
Ek skree nog vir haar: “Ek soek een met sjokoladesous oor. En daai gekleurde balletjiegoed!” Maar ek dink nie sy hoor my nie.
Ag wat, dink ek toe maar. Roomys is roomys. Ek sak weer terug op my handdoek en loer net af en toe wanneer ’n meisie verbystap. As hulle sien ek kyk vir hulle, maak ek my oë toe. Lekker skelm!
Melody kom terug, twee smeltende roomyse in haar hand.
“Jy sal nie glo wat het ek nou net gehoor nie!” roep sy.
“Wat?”
“Daar is glo ’n versteekte waterval hier naby. En die beste van alles …” Sy bly stil en kyk my met groot oë aan.
“Wat, Melody? Sê my!”
“Dit spook daar!”
“Ag, nonsens. Hoekom sal dit nou by ’n waterval wil spook?”
“Ek weet nie. Maar dis wat die meisie by die strandkafee gesê het.”
“Watter meisie?” vra ek.
Melody rol haar oë. “Die meisie met die rooi hare wat agter my in die tou gestaan het. Sy het dit alles vir haar vriendin vertel.”
“Ag so, dis ’n skinderstorie!” Ek skud my kop en lek die roomys