Die dood van 'n goeie vrou. Chris Karsten
“Kan jy ten minste sê of sy gely het?”
Sy skud haar kop. “Jammer, ek weet nie, ek’s nie ’n dokter nie.”
“Laat sy vra,” brom Zimmerman.
“Meneer Heyns, ek het jou gevra om te gaan dink of jou vrou moontlike vyande het, iemand wat haar om die een of ander rede sou wou seermaak.”
“Nee, daar’s niemand nie. Almal was lief vir haar, sy’t uit haar pad gegaan om mense te help. Sy was ’n goeie vrou.”
“Het julle ’n huishulp?”
“Ja, Pula werk van Maandae tot Vrydae, kom met ’n taxi uit Soweto. Werk al tien, elf jaar vir ons. Min of meer van Tommy se geboorte af.” Heyns snuif en vee oor sy oë.
Haar hart wil-wil vermurwe. Sy kan nie eens probeer dink hoe daardie ontmoeting met sy seuns Sondag verloop het nie.
“’n Tuinier?”
“Elias kom Vrydae in, skoffel bietjie, hark bietjie, vee die stoepe. In die somer kry ons ook tuindienste.”
“Pula en Elias loop nie, sover jy weet, met enige wrokke teen jou vrou nie? Jy weet mos, lees dit in koerante, dat inbrekers soms huis- en tuinwerkers as medepligtiges werf.”
“’n Inside job? Nee, nie Pula nie, sy’s deel van ons gesin. En Elias is omtrent sewentig, ons persoonlike welsyngeval; Clara kry dit nie oor haar hart om hom te laat gaan nie.”
“Dalk het jou prokureur jou ook ingelig: in súlke gevalle fokus ons gewoonlik eers op eggenotes. Nie omdat ek jou verdink nie, net om jou gou as verdagte uit te skakel. Ek dink ek het met ons eerste ontmoeting in dié koers gepraat, maar nou’s dit meer amptelik: Het jy rede om jou vrou van ’n onbehoorlike vriendskap te verdink?”
“’n Skelm affair?”
“So iets, ja.”
Is ’n affair nie per definisie skelm nie? Nee, seker nie. Sy en Lou Pepler het tog ’n openlike affair.
Heyns is driftig. “Néé, sy’s nie so nie.” Oorgeskakel tot snelrat, laat borrel hy alles in die teenwoordige tyd uit. “Sy’s ’n eerbare vrou, ons kinders en ons huis beteken áls vir haar. En ek.”
“Hoe weet jy? Hoe weet jy met wie sy almal bevriend is, wie sy almal sien wanneer jy op safari is, of wildberade bywoon?”
Intense konsultasie met fluisterstemme.
Sy laat hulle begaan. As die Eloffs reg vermoed, het Tom Heyns en sy Duitse finansier ’n affair. Maar het Clara ook een gehad, en met wie? Sy blaai in haar lêer.
Heyns kug. “Ek was vroeër getroud, maar het nie kinders uit daai huwelik nie. Ek was jonk en onverantwoordelik. Toe ontmoet ek vir Clara. Sy raak swanger. En ek het besef dis ware liefde. ’n Maand ná my egskeiding is ons getroud.”
Gaaf dat hy dit beken, gee hom ’n regmerkie.
“Het jy Clara ook verneuk, meneer Heyns, soos jy jou eerste vrou met Clara gekul het?”
Oë afgewend, langs hom Zimmerman soos ’n baber met ’n vishoek in die bek.
“Nee,” sê Tom Heyns.
Verkeerdmerk.
“Sy was nie in die pad van ’n nuwe romanse nie?”
“Néé. Ek het haar nie verneuk nie en haar ook nie doodgemaak nie!”
Tweede kruis. The lady doth protest too much, methinks. En sy haal ’n plastieksak met amptelike plakkers en saak- en bewysstuknommers uit die boks, skuif dit na Heyns oor.
“Herken jy dit?”
Hy lig die sak op, bekyk die inhoud. “Ja, ek het dit vir haar gekoop.”
“Vir die rekord, wat is dit?”
“’n Serp.”
“Kan jy meer spesifiek wees?”
“Hermès. Silk Twill Carré uit Lyon, om presies te wees. Ek dink die oorwegende kleur word koraal genoem.”
“Dankie. Wanneer het jy jou vrou laas lewend gesien?”
“Vrydagmiddag in die etensuur.”
“Het sy toe die serp aangehad?”
“Ja.”
Sy haal ’n ziploc-sak uit. “Herken jy dié?”
“Ja, dis haar leerbelt, sy’t dit ook Vrydag aangehad.”
Sy haal die derde sak uit. “Die laaste een, vir eers.”
Hy lyk onseker, bestudeer dit van alle kante, sê: “Haar kamerjas, die satyn-een, lyk soos sy belt.”
Sy sit die serp, leergordel en seintuur in die kartondoos terug en kyk hom reguit in die oë: “Ook vir die rekord: Meneer Heyns, het jy iets te doen met die dood van jou vrou? Direk … óf indirek, gegewe jou alibi op die moordnag?”
“Néé.” Lyk dan onseker of hy reg gehoor het. “Wat bedoel jy met indirek?”
“Het jy iemand gestuur of gehuur om jou vrou kwaad aan te doen, seer te maak, of haar lewe te neem?”
“Nee!”
Zimmerman stamp sy stoel terug. “Kom, Tom, die onderhoud is verby, dis genoeg van haar skimpe.”
“Wanneer is die begrafnis?” vra sy.
Heyns steek by die deur vas. “Môre. Hoekom?”
Sy haal haar skouers op. “Ek wil dit graag bywoon – onopsigtelik natuurlik, uit julle pad uit.” Sy staan ook op, maak haar dokumente bymekaar. “Ek wou nog jou toestemming vra vir jou jongste selfoonstaat.”
“Dis vertroulik,” sê Zimmerman, sy arm beskermend om Heyns se skouer.
“Dan kry ons ’n lasbrief.”
“Op grond van?” vra Zimmerman.
“Suspisie van medepligtigheid aan die dood van Clara Heyns.”
“Jissus, warrant, medepligtigheid? Waarvan praat jy?”
Sy wend haar tot Heyns. “Het jy ’n nuwe vennoot in Simba Africa Safaris – dis mos jou jagsafari-onderneming, is dit nie?”
“Kom!” sê Zimmerman.
Sy los hulle. Haar en Tom Heyns se geselsies is nog lank nie verby nie, met of sonder Zimmerman. Wou net ’n laaste saadjie saai, nie al haar troewe te vroeg uitpak nie. Tess Waldeck sal die onderwerp wees van ’n lang opvolggesprek. Ook die vlerke; Jimmy-hulle is nog besig met forensiese toetse, dit vat lank om elk van die sowat 500 sintetiese vere vir vingerafdrukke en DNS te toets.
Sy het nie ses onderskeidings in matriek gehad of haar graad gecum nie, maar sy dink nie sy is heeltemal onnosel nie. Haar common sense-kwosiënt – vergeet nou maar eers van haar IK – kan dalk op Mensa-vlak wees, hoor sy wanneer haar kollegas op kantoor haar sesde sintuig bespreek. Stallie sweer byvoorbeeld dat haar verfynde aanvoeling inderdaad al psigiese proporsies begin bereik het. Maar dis net gesonde verstand, en common sense sê speurwerk kom neer op drie dinge: wat jy dink, wat jy weet, wat jy kan bewys. En sonder die bewys-een beteken die eerste twee niks nie.
Kry dus die bewysbare feite vir die Wie, Wat, Waar, Hoe, Hoekom.
Geen feitlike antwoorde op enige van dié vrae nie, geen hoop op ’n rekonstruksie van die daad nie; geen rekonstruksie nie, geen hoop op ’n oplossing nie, klap maar die lêer toe, smyt die dossier in die hoek in, wag vir die stof. Nóg ’n koue saak.
En koue sake háát sy soos die pes. ’n Dossier vol stof pluk al die ou gesegdes uit: Jy’t gaan lê, jy’t die handdoek ingegooi, jy’t harpuis geruik, jy’s bloedneus gemoer, jy’s ore aangesit. Al manier om dit te verhoed is om jou agterent van die stoel af op te lig en te gaan voetwerk doen, want al die antwoorde wag daar buite – gaan soek