Die dood van 'n goeie vrou. Chris Karsten

Die dood van 'n goeie vrou - Chris Karsten


Скачать книгу

      Ella kyk na die swembadspeelgoed. “Waar’s haar man en kinders?”

      “Hy’s Sun City toe, die seuns is op die plaas.” Hy haal sy pet af en vee met die T-hemp se mou oor sy gesig. Nou kan sy die groen van sy oë sien. “Ek maak die swembad skoon, dis al. Vir sakgeld.”

      Asof hy sy teenwoordigheid hier by die moordhuis probeer regverdig.

      “Lyk of die Kreepy werk,” sê sy.

      “Hy werk. Maar om dit mooi skoon te kry moet jy die rande met die hand borsel, en dit suig en backwash, alkaliniteit en pH toets. Anders word dit groen.” Hy bekyk haar. “Jy’t nie ’n swembad nie, nè? Oukei, dis al wat ek weet. My plig gedoen en gebel.”

      “Dankie daarvoor, as meer mense hulle plig doen –”

      Sello se polisieradio knetter en sy hoor Masilo by die hek se stem: “They just arrived. Forensics and CSM.”

      Jimmy-hulle en Crime Scene Management. Vir dok Koster verwag sy eers heelwat later. Hy vat sy tyd, gee Forensies en Misdaadtoneelbestuur kans, sê hy soek hulle nie onder sy voete as hy begin nie. En dit klink of Mara kolonel Sauls eers by die huis in die werk gesteek het.

      “Kan ek nóú waai?” sê Adam. “Gaan kyk self.”

      “Net nog ’n paar vrae.” Sy wys na die potte. “Het jy daardie dooie voël gesien, was dit daar toe jy hier gekom het?”

      “Indiese spreeu. Het dit gesien toe ek na die deur kom kyk.”

      “Hoe weet jy meneer Heyns is by Sun City?”

      “Dis wat sy gesê het, toe sy bel om te hoor of ek vandag kom vir die swembad.”

      “Wanneer het sy gebel? Die presiese datum en tyd, dis baie belangrik.”

      “Gistermiddag net ná vyf.”

      Sy skryf in haar notaboek en toe sy opkyk, betrap sy sy oë op haar. Hy kyk vinnig af, terug na die sel op sy skoot, maar sy kan sweer daardie groen oë was op haar T-hemp, op haar bralose T-hemp.

      “Hoe’t jy by die erf ingekom, Adam?”

      Hy antwoord sonder om op te kyk. “Ek het ’n sleutel vir die klein hekkie. Ek het die klokkie gelui. En ingekom toe sy nie antwoord nie. Dis hoekom dit snaaks was. Die skuifdeur is oop, maar sy hoor nie die klokkie nie?”

      “Sy kon hier in die tuin gewees het. Julle ken mekaar goed, as sy vir jou ’n sleutel gee?”

      “Ek ken haar lank, ja. Sy’t my behandel.”

      “Behandel vir wat?”

      “Ek’s onsosiaal, ek meng nie.”

      Hou hy haar vir die gek? Maar sy gesig verklap niks, dis sonder emosie. Jimmy sal sy vingerafdrukke ook moet neem, ingeval hy binne aan iets gevat het. En hulle sal afdrukke van sy tekkies se sole wil maak.

      “Waar bly jy? Ek’t jou adres en foonnommers nodig.”

      “Maxwellstraat, paar blokke hiervandaan. Naby die UJ-kampus.”

      “Hoe oud is jy?”

      “Negentien.”

      “O, jy’s klaar met skool?”

      “By Wits se School of Arts.”

      “Ek soek ook jou pa se naam en nommers, sel én werk. En ons het jou tekkies nodig vir ’n paar dae. Om jou sole van ander merke te onderskei.”

      Hy kyk na haar en begin dan sy tekkies losmaak.

      “Ek sal weer met jou wil gesels,” sê sy. “Ek sal bel vir ’n afspraak. Hier’s solank my kaartjie, laat weet as iets jou byval.”

      Hy sit sy tekkies langs mekaar op die tafel, staan op en lig sy rugsak van die tafel af oor ’n benerige skouer. Weer daardie skramse glimp na haar bors. Of verbeel sy haar?

      “Kan jy kaalvoet ry? Moet konstabel Sello jou gou huis toe vat vir ander skoene?”

      “Dis oukei, ek sal self ry.” Hy lees haar naam hardop van die kaartjie af: “Ella.” En kyk na haar. “Kan ek jou Ella noem?”

      4

      Die gordyne is nou heeltemal weggetrek, die glasmuur van skuifdeure heeltemal oop, die grense tussen binne en buite het verdwyn. In die sakkerige Tyvek-pak, mus en lateks-handskoene wag sy by die braaiplek op Jimmy se teken. Die son bak nou byna loodreg van bo en selfs hier in die skaduwee van die stoep is die oorpak warm en bedompig.

      Haar oë sweef oor die wit figure van die forensiese ondersoekers, byna roerloos in hulle swyende, diepe konsentrasie, ’n byna dioramiese tablo: dié een staande by die muurrak, daardie een gebukkend oor die bank, nog een wat hurk, ’n ander een wat kniel.

      Sy herken opeens die stem van die bejaarde forensiese patoloog en draai om na dok Koster wat groetend oor die grasperk aankom. Dok wat sê hy het omtrent veertig jaar terug al finaal besef dat simpatie met ’n dooie ’n ondankbare sentiment is, sonder enige betekenis. Wat sê sy werk is nie om vir slagoffers jammer te voel nie, maar om hulle op sy outopsietafel te oorreed om die geheime van hulle dood aan hom te verklap. Wat sê sý plig is om antwoorde te soek op die hoe, nie die wie en hoekom nie, want daai vrae en hulle ontwykende antwoorde is die speurder se baba – háre.

      ’n Stofsuier begin binne brom toe Dok die stoeptrappies steunend met ’n hand op ’n knie bestyg. Sy verlig hom van die verslete ou leertas met sy instrumente van die dood; sy toortas, noem hy dit, vol duiwelsdrek en dassiepis.

      “A, warrant Neser, opgedollie vir ons Saterdagpaartie. Maar ek wou eintlik vandag ’n paar balle gaan rol het.” Wuif met sy hand. “Jy kon dit gerus eerder vir ’n weeksdag gereël het.”

      “En ék was op pad groentemark toe,” sê sy en vat ook sy driepootklapstoel van seil. So byna asof hy reg is vir ’n lang kuier om ’n bosveldvuur; hy sê sy ou knieë kan dit nie meer hou, so hurkend en knielend om die dooies nie.

      Hy haal sy bril af, poets die lense met ’n wit sakdoek en vee dan daarmee oor sy voorkop en bles en oor die ongehoorsame skaapwolletjies om sy ore. Hy begin sy oorpak aantrek, al geselsend.

      “Sonder goedertierenheid, dié helse son, nè? Selfs my miere gooi vanoggend lang skaduwees.” Hy kyk rond. “Jou vreeslose leier nog nie hier nie?”

      “Op pad, Dok.”

      “Kom,” roep Jimmy, “ons is reg, dis julle beurt. En ons is besig met haar kantoor, gedog dis waar jy sal wil begin.”

      “Dankie, Jimmy,” sê sy en tel Dok se tas en stoel op en volg hom by die woonvertrek in op die spesiale trapblokke wat die integriteit van die mat moet beskerm terwyl dit gestofsuig word vir spoorelemente en ander latente bewysmateriaal.

      Binne steek sy vas en sit die tas en stoeltjie neer. Dis deel van haar persoonlike werkwyse, haar maniertjies, spot kollegas; sy sê sy beskou die vista. Sy hou daarvan om eers ’n oorhoofse indruk te kry van die toneel van ’n misdaad, vóór sy op die detail begin inzoem. Met die gordyne oop en in die lig van Forensies se skerp halogeenlampe is hierdie vista nou helder – ten minste helder verlig, die gewelddadige gebeure wat hulle hier afgespeel het steeds duister.

      Die bedekte gedaante wek ’n beeld in haar kop van ’n vroom gelowige wat knielend met uitgestrekte arms op ’n bidmatjie salaam.

      Met die skuifdeure oop is die stoep saam met die woonkamer en eetkamer en kombuis ’n groot oopplanarea. In die woongedeelte is die sentrale fokuspunt ’n groot rusbank met los kussings, gerig op die huisaltaar: die TV-skerm in die muurrak. Dis hier, kan sy haar voorstel, waar ’n eens gelukkige gesin saans saam gekuier het.

      Weerskante van die bank vorm twee passende leunstoele ’n U. Die figuur lê in die middel van die U, met haar maag miskien op ’n lae koffietafel, arms uitgestrek na die TV-rak, voete na die rusbank, wit laken oor haar gedrapeer.

      Op die rak is naas die TV verskeie ander


Скачать книгу