Ingrid Jonker: Versamelde gedigte. Ingrid Jonker
Ingrid Jonker
Versamelde gedigte
Human & Rousseau
Die uitleg van gedigte in hierdie digitale uitgawe van Ingrid Jonker: Versamelde gedigte mag verskil van dié van die gedrukte uitgawe, afhangende van die instellings op u leestoestel. Die uitleg vertoon optimaal indien die standaardinstelling op u leestoestel gebruik word. Lesers kan egter eksperimenteer met die instellings vir verskillende perspektiewe op die gedigte.
Vir jou gee ek my bloedjong digterskap,
My kinderkuns, my baie woorde
Dwaling
Toe het ek gedink dat jy en julle
min is; ek het gevoel
dat ek verby die kille
winde van jul onreg en die doel
van jul terloopse groet is.
Ek het die hoop en liefde wat ek eens
gegee het as jou erfenis
geneem; ek het gelag en weens
my vrolikheid en goedheid veel gewen.
Maar toe die ligte dof word en die aandklok fel
die leegte inlui was ek diep bedroef en
in myself was ek teleurgestel.
Junie 1951
Na die Franse kunstentoonstelling
Voorgrond
Vir jou gee ek my bloedjong digterskap,
My kinderkuns, my baie woorde
Maar as ek weer
Met diep gedagtes stap vir stap
Na koue, winderige oorde
Keer
Gedenk ek slegs die groot onvrye dinge
Wat fel en seker is:
Die fondament
Van lewe en van dood, die silwerlinge
Wat ons lewens koop, en voor ons wis
Vir ons na vaster, strakker dieptes wend.
Junie 1951
Skrik
Jy is
’n rustelose see;
dis snaaks hoe jou liefde
’n vrees is; ek is bang
As jy stort en styg om my heen
Tot ek vlug
Oor die sand
Van die bewende waterkant heen.
Jou woord is ’n klotsende brander
en die skuim jou wit trots
Maar wat gebeur en verander
In die donkergroen diep van jou bors?
Junie 1951
Reën
Ek loop in God; Hy reën
In koue teen my aan; ek loop
Verby Hom waar hy langes steen
En teerpad in ’n groen plant groei.
Al het jy daardie ander reën
Oor my gestort as kroon en spot
Bly jy verstote: langes steen
en teerpad in my een talent groei God.
Junie 1951
Keuse
Ek het U raad, o Heer, verloën en ru
Gewens om hom by my te hê instede van
die samesyn met U.
Ek het die bitter kan
van U linkerhand geneem toe U
tussen die sterre deur twee bekers na my reik
En nou het ek die sku
gevoel dat ek U in die oë sal moet kyk.
Junie 1951
Die plakkaat
My lewe is meteens ’n leë straat,
’n straat waar ou koerante, nuusberigte, waai –
flou buislig-skynsel oor ’n vuil plakkaat –
my lewe is meteens ’n leë straat.
Verlate staan ek voor een winkel stil,
’n dooie pop herinner my aan jou,
jou glimlag en jou bors; om jou ontwil
staan ek eerbiedig voor een venster stil.
Uiteindelik in die middel van die straat –
daar is geen sterre en geen maan, dit is verby,
die wind vaar in die ou koerante, die verflenterde plakkaat,
verlate staan ek in die middel van die straat.
En teen geslote deure gaan ek sit
van huise waar daar eenmaal vriende was –
ek wis nie dat ek nog kon ween en bid;
teen die geslote deure gaan ek sit.
My lewe is maar net ’n leë straat,
’n straat waar ou koerante, nuusberigte, waai –
flou buislig-skynsel oor ’n droewige plakkaat;
my lewe is maar net ’n leë straat.
Die Huisgenoot, 12 Maart 1954
Opdrag
Wat kan ek nou nog vir jou sê –
My bitter liefde is uiteindelik verby,
En net jou sterre-oë uit die duister
Skyn hierdie oomblik nog naby.
Wat wil jy nou nog van my hê,
Eerdat die laaste gloed uitbrand?
Ek weet alleen ons siele bly
Nog hierdie oomblik diep verwant.
Ek kan jou fluisterend vertel
Die eindtoon van die helder lied
Van jeug en liefde is gemeng
Met skemeringe van verdriet.
Ek kan my laaste woorde gee,
My laaste trane en my laaste leed.
Dan sal ek, na dié oomblik, selfs
Hart van my hart, selfs jou vergeet!
Naweekpos, 26 Julie 1954
Die digteres
Ek laat die fakkellig van sterre
in my hare en in my oë brand,
en in die stadsnag met sy verre
wysheid hou ek die robots in my hand.
Ek is die hoof en wagter van my stad,
en in die skou is ek die danseres,
In hierdie glorie het ek jou nooit liefgehad –
is jy die bode, ek die kroonprinses.
En