Ingrid Jonker: Versamelde gedigte. Ingrid Jonker
Ek spoed die lug in om te voel
die dood hang aan my slingerstoel!
Die voetval wat deur ster-nat strate klink
die maer gelaat wat in bierglase blink
Die man wat hurk in Roelandstraat
wat sterf van honger is my skadu-maat!
Die vyfde Collins maak my nugter
Die papie roer en ek word digter …
Graf
Aan Berta
In die aand by Gordonsbaai
het sy kinderlik geraai
waar die lelieblom kan wees
wat haar hart van pyn genees.
In haar soektog raak haar hande
aan die onkruid op die strande
word haar oë sag en blind
waai haar drome in die wind
hurk sy roerloos vasgerank
toegemaak deur wier en sand.
Puberteit
Die kind in my het stil gesterf
verwaarloos, blind en onbederf
in ’n klein poel stadig weggesink
en iewers in die duisternis verdrink
toe jy onwetend soos ’n dier
nog laggend jou fiesta vier.
Jy het nie met die ru gebaar
die dood voorspel of die gevaar
maar in my slaap sien ek klein hande
en snags die wit vuur van jou tande:
Wonder ek sidderend oor en oor
Het jy die kind in my vermoor … ?
Die skildery
Die lig brand helder in my ateljee
en helderder is ek vanaand geklee:
Hier waar ek nou begin om jou te haat
verf ek ’n spotprent van jou mooi gelaat
Verf ek jou as sirkus-harlekyn
maar sou jou oë dromerig verskyn
As hierdie masker netnou met die dans
verroer en jou nie heeltemal verskans
Sou ek jou uitwerp in die straat
maar in die nanag hierdie ateljee verlaat
Om jou te soek teen duistere rante
verflenter en verwaai na alle kante
Om jou te vind en fluist’rend te bely:
Daar kan geen haat wees tussen jou en my.
Offerande
Die kamer sal verander in ’n woud
waarin ek ronddwaal, stom en koud
Ek sal ’n plekkie uitkies as ’n stand
waarop ek jou as offer sal verbrand
Uit hierdie muwwe duisternis en pyn
sal nie vanaand ’n ander lam verskyn.
Ek sal die altaar bou, die vuur aansteek
Hoe lank gelede het my God gespreek?
Jou woorde en jou liefde sal verstyf
en om my sal jou rookvloek stikkend dryf
En tog, my lam, sal Gods lig eendag skyn
oor hierdie stand en teken van ons pyn.
Man en vrou
By vriende is ons goeie kritici
oor Boesmankuns, Picasso en Medici
maar ons is stil wanneer ons saam
oor skottelgoed en opwaswater staan
Ek word nog van ’n jonger man bewus
wanneer ons smiddags op besoek uit is
Ek wil sy hande en sy mond aanraak
die somer in sy oë sien ontwaak …
Maar by die huis gooi ek my lyfband neer
en gaan die kinders in die straat aankeer
En eindelik ontwar ek Sondagnag
die antwoord waarop ek al huiwerend wag
toe ek gelate in jou arms rus –
dat ek noodwendig altyd onbewus
van jou deur alle jare sal moet wees
want ons is een, een liggaam en een gees.
By die Goodwood-tentoonstelling
Hul het my uitgekies en ingetroon
tot hierdie tronk waarin ek woon
waarom hul daagliks, vry nog, gaan
en nie my stom kreet kan verstaan
’n Eerste Prys hang om my nek
maar saans verlang ek halfpad gek
terug na die kudde, weg van hul lof
na die Karoo-veld en die stof
waar ek nog trots teen die aandwind staan
een van die duisende sonder naam,
Sonder die juk van die roem of die dors
en die Eerste Prys op my bors.
Gabriël
Jy daal deur dakke, skoorstene en krotte
en skrik my skielik op uit teruggetrokke
drome, uit die vergeefse en geheime klug
Jy ruk my tot jou dooie liggaam terug.
Ek kon in die vertedering versink
eerdat jy my berekenend vermink
want vroom sing jy vir my ’n sagte lied
maar in jou hande hou jy my verdriet.
Jy is die skaduwee, die nag wat dros
Jy is die spook, jy is die tokkelos!
Jy het vir my gesterf …
Jy het vir my gesterf sonder my wete
sodat ek jare met gevoude hande en gebede
en preutse oë op ’n herontmoeting hoop
(nog smiddags angeliere vir die woonstel koop)
en my verbeel ek sien in neon-lig
die wit en blou patroon van jou gesig.
Nou weet ek jy is dood en alle bande
geknip met ’n stomp skêr in sagte hande –
die flenters van ons liefde lê verspot
onbruikbaar, vormloos en sonder God
Nou weet ek jy is dood en al my lof
verminder daagliks oor die gruis en stof.
Die onverkrygbare
Met erkenning aan M.R.
Ek koop ’n rok van crêpe-de-chine
met