Ingrid Jonker: Versamelde gedigte. Ingrid Jonker
wat eenmaal my lewe was,
bly ek in eensaamheid ontnugter staan,
bly ek tog menslik aan jou vas.
Ag, laat my dan geen digter wees,
maar net ’n soet, onskuldig kind
wat in jou arms eindelik onbevrees
beskermd lê teen hierdie bitter wind.
Laat my ’n onbewuste meisie wees,
wat needrig om jou gunste vra,
maar wat jou liggaam en jou gees
se einddoel eendag heilig in my dra.
Die Huisgenoot, 18 Maart 1955
As jy slaap …
As jy slaap en die verdriete
en selfs ons bitter liefde agterlaat,
is jy maar weer ’n argelose kind
met drome wind’rig oor jou mooi gelaat.
Ag, as die teer nag in jou arms lê,
en sterlig oor jou bors en hare skyn,
is jy maar weer ’n seuntjie weggedwaal
van huis en ouers en hul soete samesyn.
Ag, in jou slaap wil ek jou neem
en aan my bors hou tot die môre wyd
oor al die heuwels breek – wil ek jou neem
en terugbring van jou eensaamheid.
Naweekpos, Mei 1955
Van ’n skilder
Ek sien in die geverfde glas
jou helder oë deur die ure
Die beeld wat so geheilig was
gevange op my duister mure
Ek sien deur ruite in die late
nagte vuurpatrone oor die hange
Ek sien die rooi Picasso-strate
in ’n kleindorp van verlange …
My kaartespel vul duister aande
en teen plafonne rus my dowwe hoof
Soos diamante is jou hande
Jy het jou eens aan my beloof
Ek min die swart vlag van jou hare
en oë wat nóg warm nóg kil
deur sterre kyk – die kunstenare
verf nou nog daardie lippe stil
En venstertjies verlig en klein
is met die hemele skoon verward
want hulle spring en dans van pyn
Die vensters van my hart …
1955
Roep die rooidag môrekoffie
en ek roep: gee lig, o God!
Pleit hul in die agt-uur biduur:
Laat u Naam geheilig word,
blaf ek teen hul woorde eensaam,
Laat hul eers my trane stort.
Lag hul oor die oggendure
Bring die tee, resepteboek!
Sit ek afgeskei en duister:
Laat hul dors soos myne soek
van die kerke tot hotelle
in die straat om elke hoek.
Loop hul hand aan hand en smalend
Ons-is-aan-mekaar-verbind –
Ek en jy of ek en almal
kan dan nooit voltooiing vind,
en die waan van warm nagte
lê ontnugter op die wind.
Roep ek koffie, praat oor godheid
deel resepte oral uit,
sit ek selfs my hand in joue
staan ek voor ’n koue ruit
met my duister en my honger
altyd van jul afgesluit.
Die Huisgenoot, 17 Desember 1956
Die winter is ’n krom ou vrou
wat op die sypad ween.
Wa-la, sy dra ’n koue rok
van vuil-grys crêpe-de-chine
Ek mik verby die rooi robots
koes teen die winkelvenster,
ek loop my telkens blindelings vas
in ’n ballingskap van mense.
Ek haat die liggies van die stad
wat uit die duister groei
en in die strate oopgevlek
soos groot wit blomme bloei.
My ouma was ’n krom ou vrou,
ons huis was sink en kluite,
en voor die wintervensters was
koerantpapier vir ruite.
Jou liefde was ’n werklikheid
soos melk en bloed en warm grond,
nou druk hul telkens as ek skree
’n fopspeen in my mond.
Die suiwerheid van klapperwit
varkblomme langs die waterspruit
brei in ’n roes van modder op
teerstrate monsteragtig uit.
Die Huisgenoot, 17 Desember 1956
Ontvlugting
1956
Vir Abr. H. Jonker
Ontvlugting
Uit hierdie Valkenburg het ek ontvlug
en dink my nou in Gordonsbaai terug:
Ek speel met paddavisse in ’n stroom
en kerf swastikas in ’n rooikransboom
Ek is die hond wat op die strande draf
en dom-allenig teen die aandwind blaf
Ek is die seevoël wat verhongerd daal
en dooie nagte opdis as ’n maal
Die god wat jou geskep het uit die wind
sodat my smart in jou volmaaktheid vind:
My lyk lê uitgespoel in wier en gras
op al die plekke waar ons eenmaal was.
Vyf lewens
Met die eerste wit John Collins
is ek ’n kunstenaar uit die renaissance
Jy is die mona lisa van my hart
en ek bekend met ’n da vinci-smart
Ek sien in spieëls ’n karmeliete-vader
wat draai en draai en my gedurig nader
Teerheid en tering speel in sy oë saam
dis ek, dis ek, wat in die spieël staan!
Toe loop ek op my tone op ’n draad
’n