Jou Romeo. Fanie Viljoen
rol sy die pak plakkate in haar hand oop en gee vir Tyler een.
Hy bestudeer dit aandagtig. Knik dan sy kop. “Cool. Baie professioneel.”
Tyler is bietjie van ’n perfeksionis, daarom meet hy eers die kennisgewingbord met die oog voordat hy die plakkaat daarteen vasdruk. Die kante parallel met die bord s’n.
Met bedroefde gesigte sit Kumi, Vera en Beast op ’n houtbankie langs die kennisgewingbord. Hulle oë op die grond. Soos Yvette is hulle steeds moedeloos oor die slegte begrotingsnuus.
Diep ingedagte gaan staan Yvette met haar rug teen die gangmuur. Sy het nog nie eens haar leotard uitgetrek nie. Hoekom moet sy?
Uit die hoek van haar oog sien sy hoe Tyler se skouers sak. Voel hy ook steeds soos sy oor hierdie toneelstuk? Sy vat Tyler aan die arm en draai hom na haar toe. “Ons droom al van graad agt af hieroor. Ek en jy, Romeo and Juliet.”
Tyler knik. Daar is ’n jammerkry-uitdrukking op sy gesig. Saam kyk hulle weer na die plakkaat, ’n dromerige kyk in hul oë.
Romeo and Juliet …
Op daardie oomblik kom Mildred om die hoek gestap. ’n Klomp leerders drom om haar saam. Didi en Lexi met hul pienk uniforms en perfekte hare is ook daar. Mildred, in haar skoolklere met die matriek-speldjie op haar lapel, babbel aaneen vir die kamera wat ’n ander meisie vashou. “Ratser as Jonty, vinniger as Fanie, en sexier as AB. Die talent van ’n duisend sporthelde vasgevang in een jong man.”
Die spul leerders kom by Yvette en Tyler verbygestroom. Pen hulle vas teen die muur.
Mildred borrel ongestoord voort: “Die afwesige pa, single ma, peanutbutterbroodjies en ’n onblusbare behoefte om te presteer.”
Tyler se oë rek. Hy kyk na Yvette langs hom. Sy gee ’n waddehel-kyk terug. Glip dan saam met Tyler weg. Die res van die Dramabrigade probeer ook wegkom. Maar skielik steek Mildred vas. Haar hand skiet uit na Vera. Die gepunte vingers byna by haar neus. “Drie woorde wat jy nog altyd vir Marko Marais wou sê!”
Vera staan verskrik soos ’n bok wat in ’n kar se ligte gevang is. Sy het duidelik nie die skielike aandag verwag nie. “Um …” is al wat sy uitkry. Beast druk sy hand vinnig oor Kumi se mond voordat hý iets naars kwytraak.
Die ander kinders lag. Dit lyk of ’n skielike skaamte Vera oorval.
Mildred lig haar wenkbroue spottend. Sy kyk weer in die kamera. “Nie almal is bestem vir drie sekondes van fame nie … Ons beweeg aan.”
Yvette rol haar oë. Sy en Tyler beur weg in die teenoorgestelde rigting, maar skielik roep iemand: “Marko!” En daar storm die horde leerders, Mildred en haar dekselse kamera inkluis, weer terug.
Nou sien Yvette hoekom. Marko en Brink het hulle verskyning aan die onderpunt van die gang gemaak. Hulle stap breëbors in hul krieketklere, skoolbaadjies en -pette nader. Leon, die skool se gelukbringer, stap ewe windmakerig langs hulle, met ’n vreeslike rooi strik op die bors en die lawwe eendekop in sy hand.
In die loop teken Marko ’n krieketbal soos ’n celebrity. Hy druk die kokipen se doppie terug, gee die blinkrooi bal aan vir Brink. Dié gooi dit onderhands gangaf.
Yvette en Tyler steek weer vas. Druk hul rûe teen die muur dat Mildred-hulle kan verbykom. Is daar nie iemand wat skarebeheer kan toepas met die spul nie? wonder Yvette suur.
“Marko-o-o!” roep Mildred skielik hard uit. Sy vee ’n klomp kinders uit haar pad. Marko draai na haar toe. Yvette rol haar oë. Sowat van fladderende wimpers het sy lanklaas gesien. Doen Mildred dit nou vir Marko met sy hemelblou ogies of vir haar gehoor?
Vir ’n oomblik trek iets Yvette se aandag af. Dis die krieketbal wat Brink gegooi het. Die ding lê reg voor haar voete. Sy buk. Raap dit vinnig op.
“My gunsteling-sosiale-mediaprojek, kommentaar?” sêvra Mildred, borrelend soos ’n blikkie Coke wat geskud is.
Marko probeer iets sê van spanwerk, maar Mildred val hom dadelik in die rede: “Ek voorspel ek en jy gaan hierdie jaar trend. #PowerCouple.” Vir ’n oomblik is almal om haar stil asof hulle die prentjie wil laat insink: Marko Marais + Mildred Groenewald = PowerCouple
In watter wêreld sal dit gebeur? wonder Yvette. “Spongebob SuckPants!” sê sy. Té hard. Skielik kyk almal na haar. Mildred ook. Die skok is duidelik op haar gesig.
Marko kry ’n stil glimlag.
“Jy’t jou bal verloor,” sê Yvette vermakerig vir hom. Sekuur flip sy die wedstrydbal oor die ander se koppe.
Marko vang dit moeiteloos. Beïndruk kyk hy daarna, dan weer na Yvette. Die fronslyntjies op sy voorkop laat hom nogal sexy lyk, maar Yvette sal nie daarvoor val nie. Sy kyk regdeur ouens soos hierdie. “Goeie veldwerk,” sê hy. Sy wenkbroue skiet op toe hy glimlag.
Yvette gee Marko ’n smalende kyk. Nee, vir sulke ouens val sy beslis nie. Hulle kamtige sjarme laat haar koud.
Mildred gluur Yvette nog geïrriteerd aan toe Brink skielik hard roep: “Oukei!” Hy klap sy hande. “Laaste een by die party is so lame soos ’n drama-drip!” Die ander kinders lag en bondel agter Marko en Brink in die gang af.
Yvette skud haar kop. Tyler kyk hulle agterna, sy oë donker van onrus. “Belowe my jy sal …”
“Nooit. So lank as ek lewe nie,” sê sy asof sy presies weet wat hy bedoel.
“Mooi. Jocks is –”
“… vir poppies. En poppies vir jocks,” maak sy Tyler se sin klaar. Maar in haar agterkop wonder sy hoe waar dit regtig is.
Die oorwinningspartytjie is by Brink se huis. Musiek pomp deur die WiFi-luidsprekers. Persblou feetjieliggies is om die pilare op die stoep gedraai waar Marko agteroor in die jacuzzi lê. Sy oë trek amper toe van die borrelende lekkerte. Lexi, die geesleier met die mooi lyf en donkerbruin hare, is langs hom. Hy skuif sy arm agter om haar skouers en vat nog ’n sluk van sy mengeldrankie. Brink is langs hulle in die water. Hy kan sy oë nie van Didi met haar krullerige blondekop en klein bikini afhou nie, of so lyk dit vir Marko.
Na ’n ruk draai Lexi agtertoe. Sy sit haar glas met die sambreeltjie op die rand van die jacuzzi neer en kry haar selfoon.
Marko se wenkbroue lig toe sy die foon voor haar uithou vir ’n selfie. “Whoa, jy is sewentien, dan wil jy saam met my ’n foto neem?”
“Grootbek,” kap Lexi spelerig terug. Sy sit die selfoon weer weg.
Marko glimlag. Brink skop na hom onder die water asof hy wil sê: Hoe laat jy so ’n kans verbyglip, dude?
Marko skop terug. Brink moet hom liewer by sy eie meisie bepaal.
Dan lig Brink sy glas. “Special moment,” sê hy. Hy maak keelskoon. “Ek wil graag ’n toast maak op die man in my lewe! Brother from another mother.” Hulle klink hul glase teenmekaar. “Ons gaan konings wees, bra.”
“Yes,” beaam Marko trots.
“Vir die Proteas open!”
“Oh yes!” ’n Lekkerkry-gevoel styg in Marko op. Mag daardie voorspelling waar word. Dit sal flippen ongelooflik wees.
Brink stoot sy bors nog verder uit. Sy oë rek groot. “En ’n bietjie van daai Herschelle –”
“Ag, jy is simpel,” onderbreek Lexi hom suur. Sy gluur Brink aan asof daar ’n krieketboks op sy voorkop geplak is.
Dit skrik Brink nie af nie. Hy is nou éérs selfvoldaan. “Baby, ek is ’n hero. Marko is ’n hero.” Marko knik. Glimlag. “Ons mag dalk simpel wees, maar almal soek ’n hero om te love, of hoe sê ek?” Hy knipoog vir Didi. Sy stem saam.
Marko lag lekker. Dié Brink is ’n karakter. Ander mense sal dink hy het sy tor verloor, maar dis hoe hy is. Hy gee nie om wat hy sê, en vir wie nie. Hy sal ook nie twee keer dink om met homself of sy pelle te spog nie.
Terwyl Brink oorleun na Didi, waag Lexi ook ’n kans.