40 dae tot hoop. Ronell Bezuidenhout
tion>
40 dae
tot hoop
’n Reis deur lydenstyd
Ronell Bezuidenhout
Lux Verbi
Die uitleg van gedigte in hierdie digitale uitgawe van 40 dae tot hoop mag verskil van dié van die gedrukte uitgawe, afhangende van die instellings op u leestoestel. Die uitleg vertoon optimaal indien die standaardinstelling op u leestoestel gebruik word. Lesers kan egter eksperimenteer met die instellings vir verskillende perspektiewe op die teks.
Daar kan met ’n boek soos hierdie net twee mense wees aan wie ek dit wil opdra: my ouers, Maryn en Giel. Dit is die twee mense wat my ganse lewe die intiemste medereisigers op my hartsreis is. Hulle is by uitstek die mense wat my herinner dat ashoop nooit ashoop hoef te bly nie; dat hoop altyd ons reise se bestemming is. Ek kan nie aan twee geselliger mense dink saam met wie ek, so lank ons lewe, elke tree sal wil stap nie.
Dan is daar is ’n spesifieke groep mense wat al my dank verdien: my medereisigers in Fontainebleau Gemeenskapskerk. Dit is die mense wat reeds ’n paar Lydenstyd-seisoene saam met my hartsreise tussen ashoop en hoop doen. Julle is my bemoedigers!
’n Gebed uit die pelgrimsdokument van die Camino de Santiago
To the Pilgrim
Go,
from the day of your birth
you have been on the journey.
Go,
an encounter awaits you.
With whom?
Perhaps with your own self.
Go,
your steps will be your words,
the journey your song,
your fatigue your prayer
and your silence will at last speak.
Go,
with the others;
but out of yourself,
you, that think yourself surrounded by unfriendliness
will find joy.
Go,
although your spirit may not know
where your feet will carry your heart.
Go,
another is coming to meet you,
and is searching for you,
so that you can find Him
in the sanctuary at the end of the pilgrimage,
in the sanctuary deep inside your heart.
He is your peace
He is your joy.
Go,
it is the Lord
Who goes with you.
Reisreëlings vir medereisigers
Welkom by hierdie reis!
Soos met enige onbekende projek wat jy aanpak, geld dié beginsel ook hier: “If all else fails, read the manual.”
Beskou hierdie boek as jou reisgids. Daar is 40 bakens langs die pad, een vir elke dag. Jy sal nie noodwendig elke dag, 40 agtereenvolgende dae lank by elke baken kan stilhou nie. Soms spoed ’n mens met ’n lang asem van noord na suid op die N1, dwarsdeur die nag, en jy mis die Karoo-landskappe. Dit is ’n haastige reis dié. Ánderdag is daar weer kans vir stilhou-stilhou ry …
Só is dit ook met ons innerlike reise. In hierdie geval is ’n 40-dae-reis nie ’n doelwit nie; dit is eerder ’n metafoor. As jy luister-luister reis, sal jou hart jou buitendien begelei. Laat jou hart jou ritme bepaal.
En vertrou jou binne-stem. As jy nie die volle reis hierdie keer kan meemaak nie, dan vertrek jy maar later van daar waar jy agtergeraak het. As jy, onbeplan, ’n paar dae by een van die ruspunte wil stop omdat jy nuwe ontdekkings oor jouself maak wat jy dalk eers moet bedink – goed so! Wat maak dit tog saak as jy dalk eers oormôre wil voortgaan?
Alle reise het ’n vertrekdatum
Die reis van Ashoop na Hoop het deur die eeue heen nog altyd op ’n Woensdag begin. Maar dan ook nie sommer énige Woensdag nie. Ons ontmoet mekaar op ’n baie spesifieke Woensdag, ons reis 40 dae lank saam, en groet mekaar uiteindelik by Hoop.
Elke reis het afwisseling nodig, anders word dit vervelig. Elke sewende dag neem die reis ons by ’n oase verby waar die energie weer aangevul kan word. Op so ’n oase-dag het ’n mens soms meer tyd. Jy hang wasgoed uit, jy sit langbeen in die son. Dit is ’n dag om jou voete te laat rus.
Dalk kry jy dan die kans om van die langer stukke weer te lees, want, ja, nie alle dagreise is ewe lank nie. ’n Oase-dag is gewoonlik ’n dag wat jy met jou rug teen die boom kan sit, jou tamatie-toebroodjie met jou medereisiger kan deel en oor ditjies en datjies kan gesels. Of mekaar kan uitvra, en mekaar se antwoorde bedink.
Uiteindelik sug jy: “Ag, ja, daar lê nog ’n entjie voor. Kom ons gaan maar aan …”
Natuurlik moet elke reis ook ’n goeie noodhulp- en gereedskapkis hê. Soms moet jy versorg word. Maar dikwels is voorsorg beter. Dit is presies wat lewensgewoontes is. Dit is daardie gewoontes wat ons inoefen sodat ons energie het om ons reis enduit vol te hou.
By elke dag se gidsteks kry jy ’n voorstel vir ’n gewoonte wat jou in staat stel om die Ashoop agter te laat en by Hoop uit te kom.
’n Nota oor die gebruik van manlike voorname vir God: baie mense verskil oor die manlike voornaamwoorde vir of oor God. In hierdie boek word die manlike voornaamwoorde deur die uitgewers gebruik ter wille van die leesbaarheid van die teks.
Hamba kahle!
Die aand voor die reis
Dink jou dit in – ’n advertensie wat só lui: Was jy nog altyd lus vir ’n pelgrimsreis? Hier is jou kans! Ons vertrek op Dag 1 vanaf Ashoop en voltooi ons reis op Dag 40 by Hoop. Dit is ’n gulde geleentheid. Moet dit nie misloop nie! Lydenstyd sal nooit weer dieselfde wees nie.
Hoewel die verwysing na Lydenstyd dit nie juis laat klink na ’n soort reis wat ék sou wou onderneem nie. Nogal 40 dae lank. En waarom dié roete – tussen Ashoop en Hoop?
Ons onderneem elke jaar verskeie reise. Ook die kerk vertrek op vele reise: In die vier weke voor Kersfees onderneem baie gelowiges ’n Advent-reis, dit is die uitsien-reis.
En nie lank nadat die nuwe jaar aangebreek het nie, begin daar ’n volgende reis. Vir sommige is dit die laaste wegbreekkans voor die winter begin – Paasnaweek.
Baie mense vier Goeie Vrydag, al is dit bloot omdat dit die begin van ’n langnaweek is. Sommige maak selfs van Goeie Vrydag ’n kerk-toe-gaan-dag. Die Sondag daarná kan jy maar oorslaan; jy wás mos Vrydag in die kerk …
In die Christelike tradisie word daar dikwels in die week voor die Pase ook ’n geloofsreis onderneem, en hier word in Jesus se voetspore gevolg. Dit is die sogenaamde “Heilige Week”. Dit begin gewoonlik die Sondag voor die Paasnaweek, Palmsondag, wanneer kinders in mooi wit jurkies en met wuiwende palmtakke in die kerk se paadjie af stap.
Die Markus-evangelie neem die lesers stap vir stap deur daardie laaste week voor Jesus se dood: Dit begin waar Hy onder luide “hosannas!” Jerusalem op ’n donkie se rug binnery, tussen mense deur wat palmtakke swaai en dit voor Hom op die grond neerlê. En dit eindig op daardie uur wanneer Jesus sy laaste asem uitblaas, met sy hande aan ’n houtkruis vasgespyker.
Maar vir baie Christene wêreldwyd is daar selfs ’n nóg ouer fees as almal wat hierbo genoem word. Dit is die een wat 40 dae voor Paasfees begin. En dit is die fees wat altyd, sonder uitsondering, op ’n Woensdag begin.
Die kerk se oudste feestyd
Ek was verras om te ontdek dat die 40-dae-tydperk voor Opstandingsondag reeds in die jaar 313 nC as ’n amptelike viering