40 dae tot hoop. Ronell Bezuidenhout
lewe is buitengewoon waardevol. Dat jy ook weet soos jý dit leef, jy nie noodwendig daarmee rekening hou dat dit waardevol is nie.
En hoe verder jou reis jou neem, hoe meer smag jy na die vervulling van die belofte van ’n profeet wat sê: Moenie bekommerd wees nie! As jy by die volgende kruispad kom, sal daar iemand wees wat jou sal aansê om diékant toe te draai.
Daardie stem kan jy net herken as jy diep en deurdag met jouself doenig is. Soos God met jou doenig is.
Spesifieke reisgewoontes
Van die vroegste tye af is daar drie spesifieke geloofsgewoontes in hierdie 40 dae se selfondersoek ingeoefen.
“Geloofsgewoontes” (sommige mense noem dit geloofsdissiplines) is deesdae ’n baie gewilde woord. Maar wat is dit presies?
Eenvoudig: Dit is bloot die hulpmiddels wat gelowiges tot hul beskikking het om die alledaagse weer as heilig te beleef. Om God in alles raak te sien. Hierdie geloofsgewoontes kan jy saam met ander gelowiges beoefen, maar ook wanneer jy alleen is.
Hoe kry ’n mens dié gewoontes reg? Hoe leer jy ’n nuwe patroon aan as jy aan die oue gewoond geraak het? Maklik: Jy herhaal die nuwe gewoonte totdat dit nie meer nuut is nie.
Met ander woorde: Geloofsgewoontes word deur herhalende inoefening gevestig. Dit kom later so natuurlik dat jy nie eens meer daaraan hoef te dink nie.
Die hóé vir hierdie lydenstyd is alreeds in die 4de eeu voorgestel, en daarom gebruik mense sedertdien hierdie reis van ontwaking as ’n inoefening van dié drie gewoontes: bid, vas, gee.
Wonder jy hoe jy ná ’n winterslaap ontwaak? Deur te bid, deur te vas, en deur te gee.
Ons almal ken mense wat in hierdie 40 dae sjokolade prysgee, of ophou koffie drink. Waarom? Seker ook omdat dit gesond is …
Maar watter nuwe patroon wil jy daarmee inoefen? Jy wil tog nie bloot ’n ou gewoonte laat staan net om dit 40 dae later te hervat nie?
Nee, hierdie reis is nie ’n oefening in wilskrag of selfdissipline nie. Dit is ’n reis wat jou dwing om na jou eie verslawings te kyk, na jou toegeklemde hande. Na die boeie wat jou daarvan weerhou om voluit te leef.
Voordat jy iets prysgee – wat ons ter wille van ons reis “vas” sal noem – moet jy weet waaraan jy so geheg is. Wat dit is wat jou lewe so ontwrig dat jy nie kans sien om langer met daardie ou leefstyl voort te gaan nie.
Die pelgrims wat versigtig met hul skraps kosvoorraad moes omgaan, is deur die hongerpyne herinner aan die rede waarom hulle hierdie reis onderneem. Dat hulle bepaalde dinge prysgee … ter wille van ’n nuwe moontlikheid.
Wat is jou “ter wille van …”?
Vir die pelgrim was die reis altyd ’n gebedsaak. Elke tree word ’n gesprek met God. Daar word onder meer gevra: “Hoe word ek wat U bedoel het ek moet wees? Waar weerstaan ek die werk van die Gees om, soos Paulus dit noem, ‘Christus-gelykvormig’ te word? Waar weerhou my verknogtheid aan my ego of my vals self my om tot die gestalte van Jesus te groei?”
Ons reis swaar deur die lewe. Dikwels druk ons laste – soms “besittings” genoem – ons plat.
Maar jy leer vinnig hoe belangrik dit is om lig te reis. Veral wanneer jy self jou bagasie moet dra. Om van jou laste vry te kom, moet jy begin om vrygewigheid in te oefen.
Dit behels egter veel meer as om bloot van jou geld of besittings ontslae te raak. Dit vra ook veel meer as jou goedheid. Want hoe meer jy gee, en hoe ligter word die pad, en hoe ligter jou tred.
Totdat jy leer om jouself prys te gee. Dan begin jy verstaan dat Hoop se ander naam Vryheid is.
Ek wonder dikwels hoekom dit ons so lank neem om dit te leer. Dalk is dit die rede waarom ons hierdie reis jaar ná jaar moet onderneem. Miskien sal ons, op hierdie manier, ééndag begin onthou hoe ons van Ashoop tot Hoop kom.
WEEK 1
Dag 1
Jou default
Geloofsgewoonte 1:
Die kruis op jou voorkop
Dag 2
Metamorfose
Geloofsgewoonte 2:
Skakel oor na ’n laer rat
Dag 3
Verspeelde kanse
Geloofsgewoonte 3:
Maak jou potlood skerp
Dag 4
Stilhouplek
Geloofsgewoonte 4:
Die sewe classics
Dag 1
Jou default
Hoe dieper ons geloof, hoe sterker ons hoop,
hoe groter ons begeerte,
hoe oper is ons om die geskenk te ontvang.
Hoe passievoller die begeerte, hoe waardevoller die vrug.
Wanneer die apostel skryf: “Bid sonder ophou” (1 Tess 5:15)
bedoel hy juis dít daarmee: Smag met alles in jou, sonder
ophou, dat die lewe van vreugde – wat niks anders as
’n ewige vreugde is nie – aan jou geskenk sal word.
Net Hy alleen kan die Gewer wees.
Augustinus van Hippo (354-430 nC )
Daar is slegs een rede, of daar behoort net een te wees waarom jy jou aan hierdie hartsreis verbind, en dit is dat jy ’n behoefte aan geloofsverdieping het. Maar dit is nie net bloot ’n behoefte nie, dit is diepliggender as dit. Dit is eintlik ’n verterende begeerte.
Dalk kan jy dit nog nie in presiese taal verwoord nie, maar jy weet dat iets van hierdie reis te make het met jou begeerte na agterlaat en oorbegin.
Jy weet (ag, en dalk voel jy dit net aan) dat woorde soos “selfontdekking” en “eerlikheid” stapmaats in hierdie volgende weke sal wees.
Dalk het dit met belydenis en vergifnis te maak. Dalk met koersverandering. Ten minste weet jy dat dit ’n reis van herbesinning en herbelyning gaan wees.
Die Bybel praat in geen onduidelike taal nie oor God se begeerte dat mense met Hom versoen moet wees (vgl Joh 3:17). Maar is dit nie bloot kerktaal nie?
Kom ons beskryf dit dan anders. Só: God begeer om in jou teenwoordigheid te wees. God begeer dat jy nie met jou rugkant na Hom gedraai sal leef nie.
God kan Hom nie van sy eie begeertes wegkeer nie. Hy kan jou nie prysgee nie! Hieroor gebruik Hosea sterk woorde: God kan nie anders nie (vgl Hos 11:8-9).
Augustinus van Hippo het eens gesê: Hoe groter jou geloof, hoe groter sal jou begeerte na God wees. En Lydenstyd het waarskynlik presies hiermee te make: om in jou ’n begeerte aan te wakker – die begeerte na God; die begeerte na heelheid; die begeerte na nuwe kanse; die begeerte om te kan opstaan.
Die begeerte na Hoop.
Die einste Augustinus skryf ook dat wanneer jy na God smag, jy maar kan weet dat jy nie minder gaan kry as waarna jy smag nie. Jy gaan waarskynlik meer kry.
Die 1933/1953-vertaling van Psalm 27:4 klink só: “Een ding het ek van die HERE begeer, dit sal ek soek: dat ek al die dae van my lewe mag woon in die huis van die HERE, om die lieflikheid van die HERE te aanskou en te ondersoek in sy tempel.”
In die 1983-vertaling begin hierdie sin só: “Net een ding het ek van die Here gevra en dit sal ek najaag …”
Dít wat ek begeer, is altyd ook dít wat ek sal najaag. Wetend of onwetend. My default is altyd my eie begeerte. My begeertes bepaal my lewe se koers.
Lydenstyd