40 dae tot hoop. Ronell Bezuidenhout
nè? Nietemin is dit vir bidders baie bevredigend. Hulle weet: Ek praat met God. Ek bring my behoeftes na Hom toe. Ek leer om ander se nood raak te sien, en ek kan ook dit na God toe te bring. Daar is geen onsekerheid oor die feit dat God na my luister nie.
Ek kan onthou hoe ek as ’n tiener onseker was of daar ’n regte manier is om te bid, en toe het iemand my dié raad gegee: Praat net!
Alhoewel Jesus se woorde oor gebed in Matteus 6 ’n eie fokus het, verstaan ons tog dié woorde: “ … gaan na jou kamer toe, maak die deur toe …”
En praat! Vra. En as jy reg vra, sal daar vir jou gegee word. Hieroor is daar weinig onduidelikheid.
Maar daar kom ’n tyd dat gebed nie meer so eenvoudig is nie. Jy sou dit goedskiks ontnugtering kon noem. Jou prentjie van God begin ook verander as die “vra” en “gegee word” nie meer met mekaar ooreenstem nie.
Steeds klink die formule helder op: Bid in my Naam, en vir julle sal gegee word. Maar dié duidelike opdrag-en-gevolg klop nie meer met jou belewenis nie. Dan probeer ons dit – onbeholpe! – verduidelik en sê: God sê soms ja (soos die groen verkeerslig wat sê “ry”). Soms sê God: Wag, nie nou nie, dalk eers later (’n oranje verkeerslig). En soms sê Hy blatant nee (’n rooi verkeerslig).Want, sal ons oor hierdie rooi lig sê, God weet beter.
Ek is jammer, maar hierdie antwoord is uiters onbevredigend. Daar is immers mense wat ná banale, selfsugtige gebede ’n ja kry (of so getuig hulle; dit is nou wanneer hulle daardie spesifieke parkeerplek so dringend van God afgebid het omdat hulle so haastig was). Daar is ook dié wat vanuit ’n diep eksistensiële krisis by God pleit, en ’n nee kry. Hoe werk dit dan?
Dit word ’n geloofsontnugterende oefening as ’n mens begin wonder oor gebede wat beantwoord word, en dié wat nie beantwoord word nie.
So ’n fase bring baie gelowiges by ’n kruispad. Dit is in dié tyd dat etlike Christene uitroep: “Gebed werk nie!” Dit is asof die metaforiese verkeerslig sonder meer uit verskillende hoeke begin flits en totale chaos veroorsaak.
Dan begin ’n mens wonder of daar nie dalk waarheid in die klag is dat gebed niks anders as selfspraak is nie.
Baie mense draai hier van God af weg. “Hulle het hul geloof verloor,” sal ons dit verduidelik.
Tog is daar baie wat, te midde van hul ontnugtering oor gebed, nie kans sien om van God afskeid te neem nie. Ongeag hul teleurstelling, beleef hulle steeds ’n intense behoefte aan God.
Hoe nou gemaak? Wat staan hulle te doen?
Kom ons vertoef net ’n oomblik weer by ons idee oor gebed: Gebed word waarskynlik deur die meeste gelowiges as ’n gesprek met God beleef. Wanneer ons die Bybel lees, praat God met ons. En ons gebed is ons antwoord aan God. Só verduidelik ons dit, ook aan onsself.
Gebed is vir baie van ons, as ons hieroor eerlik wil wees, die uitroep dat ons nie weet wat om in ’n bepaalde situasie te doen nie. Daarom doen ons gou by God aan. By Hom is alles moontlik. Hy sal vir ons raad hê.
Weinig van ons dink aan gebed as ’n totale stroping van ons vermoëns. Dat ons juis begin bid wanneer ons eie vermoë uitgeput is.
Gebed beïnvloed dus jou siening oor jouself en oor jou eie vermoë. Maar meer as dit: Dit beïnvloed ook jou verstaan van God.
Wie is God vir my? kan jy nou vra. En hoe kommunikeer ek met hierdie God van wie die Bybel sê dat “sy ore nie te doof is om te hoor nie”?
As gebed nie vra is nie maar ’n naakte eerlikheid, dan staan ek maar hier omdat ek nie van enige ander plek weet waarheen ek kan gaan nie.
En so ’n naakte oomblik verander alles. Dit is dan dat iemand aan sy of haar geliefde verklaar: Hier het ek niks om agter te skuil nie; jy leer my nou in my totale broosheid ken. Ek weet jy kan my seermaak, maar kan ek nie anders as om my aan jou te gee nie.
Ons gebruik graag uitdrukkings soos “verhouding met God”, “gemeenskap met God” of “eenwording met God”. Dit is natuurlik alles seksueel-gelade begrippe, omdat ons nie genoeg woorde het om ons smagting na God te beskryf nie.
Wanneer Carlo Carretto skryf dat dit my siel is wat deur ’n enkele kyk met God kommunikeer, is dit iets heel anders as die “ek” wat nog in beheer is terwyl ek met God praat. Soos seksuele intimiteit impliseer dat ek my oorgee aan emosies waaroor ek geen beheer het nie, so word my eenwording-met-God ’n oorgawe van my ek-wees.
Wat kan ons regtig hiervan verstaan! Ons met ons eie menings … Ons met ons ego se verslawing om altyd te wil reg wees …
Min van ons sien regtig daarvoor kans om buite beheer te wees. Maar die intimiteit met God vra juis dit! Gebed is om buite beheer te wees. Om aan God oorgegee te wees. Aan Hom, die Bruidegom.
Die 14de eeuse geloofsmoeder, Julian van Norwich (1346-1416), het my geleer om hieroor na te dink. Sy het gesê om jou siel te ontdek, is om God te ontdek. “Daar is geen verskil tussen die siel se taal en God nie,” het sy geskryf.
Ek voel huiwerig om dit hier te herhaal. Hoe kan daar geen verskil tussen die siel en God wees nie?
Tog is dit ook hoe die Genesis-skrywer ons leer. Hier sê die Skepper: Kom ons maak mense soos ons. Nie halfpad soos ons nie, nie bietjie vir bietjie nie. Soos ons!
Dit is ’n geloofswysheid wat eeue lank al deur die mistici in die Christelike teologie bedink is. Maar ons het die mistieke taal mos in die rakke van ongebruikte biblioteke gebêre, waar dit lankal besig is om stof te vergaar. Ons is tog moderne mense, sê ons. Die brein se taal is ons enigste taal. Ons wil verstáán.
Want as jy verstaan, is jy in beheer.
Maar iewers moet daar ’n oomblik kom waar verstaan prysgegee word; dit is dan daar dat misterie begin oorneem.
In die Bybel is “verstaan” en “ken” twee verskillende begrippe. Ek kan verstaan en steeds in beheer wees, maar die Bybelse begrip “ken” (as tipering van geslagtelike intimiteit) beteken dat ek my ek nou bý jou en vír jou prysgegee het.
Julian van Norwich was daarvan oortuig dat om God te ken en om jou eie siel te ken dieselfde saak is. Dat ons nooit die een kan ken as ons nie ook die Ander ken nie.
Dit is wat intimiteit is. Niks kan die eenheid wat ons met God het, verbreek nie. Wat wel kan gebeur, is dat daardie eenwees met God versluier kan raak. En dit gebeur op daardie oomblik as ek glo dat ek in beheer is.
Nou kan ’n mens natuurlik nie anders as om nuut oor gebed te begin dink nie: As gebed ’n totale prysgawe van myself is, impliseer dit dat my pleidooie dat God sekere dinge vir my moet doen of gee of bewerk, irrelevant raak.
Gebed word nou liefdestaal. Dit is die bruid en die bruidegom wat by mekaar tot rus kom.
Gebed word die simbool van dié versekering: By jou is ek veilig. Gebed word die waardering vir die omhelsing deur die ander een. Die ontmaskering van alles wat voorheen hierdie intimiteit ’n armlengte van my af wou hou.
Daarom kan ’n mens verstaan waarom Meister Eckhart (1260-1329) op ’n keer kon skryf: “Die enigste gebed wat ons ooit hoef te bid, is die gebed van dankbaarheid.”
Die Minnaar het my lief! kan jy nou juig. Die Minnaar se Naam is Liefde. Die Minnaar se styl is liefhê. Dit wat die Minnaar in my laat opwel, is niks minder nie as liefde.
Gebed kan nou nie meer net lippetaal wees nie; dit word die taal van die hart. Dit word lyftaal.
Ek reken ons almal word uitgedaag om deur ons verskeie gebed-fases te beweeg, soos ons ook uitgedaag word om deur verskillende lewensfases te beweeg.
Gebed as praat – dié ken ons. Die ontnugtering van ons eie verwagtinge oor God – dié ken ons ook.
Maar ken ons daardie oomblik wanneer ons God in ons naakte broosheid toelaat om ons nader te trek, in sy ruimte in? Daardie ruimte wat heet: Hier is woorde onnodig?
Meister Eckhart sê: “Die rede waarom ons God nie in ons lewe herken nie, is aan ’n enkelvoudige oorsaak toe te skryf: Ons het ’n