40 dae tot hoop. Ronell Bezuidenhout
Omdraai? Waarvandaan?
Draai van die kronkelpad af weg, en hou nou reguit aan vorentoe.
Is jy nog nie seker watter pad nie?
Kyk, die pad wat julle tans loop, verteenwoordig Rome se waardes. Bekeer julle daarvan, volg My. En sorg dat jy jou bagasie saambring. Tel jou kruis op.
En weet dat ons na Jerusalem toe op pad is. Daar sal dit vir jou duidelik word hoekom jy jou kruis moet dra.
Bekeer jou, tel jou kruis op en volg My, beteken niks minder nie as dit: Kom, loop die pad saam met My, maar weet by voorbaat dat hierdie pad jou jou lewe gaan kos.
Hierdie alternatiewe Jesus-pad lei jou na regstreekse konfrontasie met die mense van die Ander Pad. Laasgenoemdes wil nie hê dat hulle selfgemaakte reëls uitgedaag word nie. Weet dus dat as jy saam met Jesus op hierdie nuwe pad loop, dit ’n stryd gaan wees.
Dit gaan meermale vir jou voel asof dit ’n verloor-pad is. Hier gaan jy oor selfprysgawe leer. Jy gaan oor liefde vir jou vyande leer. Jy gaan leer hoe om vir swakkelinge te sorg.
Die Ander Pad word as ’n veel beter, aantrekliker roete bemark. Daar is beloftes van rykdom en koninkryke, en van ’n beter lewe – ten minste vir sommige. Op hierdie pad sal mense wat mag het altyd bo uitkom. Hier geld dié reël: Hoe groter jou ego, hoe groter jou sukses.
Maar die uitnodiging bly: Bekeer jou, en volg My.
Ons 40-dae-reis sal jou konfronteer met die radikale verskille tussen die Jesus-pad en die Ander Pad – en ál die ander paaie waarop jy, bewustelik of onbewustelik, loop.
Daar is geen manier waarop die Jesus-pad jou ongeskonde gaan laat nie. Inteendeel: Jy kan nou reeds weet dat jy op hierdie pad alles sal moet prysgee.
Jy sal ook leer dat “ek” nie meer op hierdie pad bestaan nie; dit is nou slegs “Ek is …”
Scot McKnight skryf: “Jesus wanted far more than to be accepted into one’s life. He wanted to take over, and his essential call was to trust him enough to surrender one’s entire being to him.”
Dink ’n bietjie hieroor:
As jy dink jy kan met hierdie pad hemel toe gaan, maar sonder om ’n totaal veranderde “jy” te word, maak jy ’n groot fout. As jy dink jy kan met hierdie pad hemel toe gaan, maar jou leefstyl het nie soos handomkeer verander nie, bluf jy jouself. As jy dink hierdie pad is jou roete na die hiernamaals, sónder dat ’n kruis jou konstante reisgenoot is, loop jy in die verkeerde rigting.
Hierdie pad gaan oor ’n nuwe leefstyl. Dit leer jou splinternuwe waardes. Hierdie Jesus-pad wat in “Jerusalem” eindig, maak die gewone, alledaagse lewe “hemel”.
En nie ééndag nie. Nou!
Maar juis nou is dit ook nodig dat jy die volgende vrae oordink:
•Waarom volg jy Jesus?
•Wat vra hierdie Jesus-pad van jou?
•Wie en wat is die ander koninkryke wat die botsings op die Jesus-pad veroorsaak?
•Is jy steeds vasgevang in die belofte van “eendag hemel toe”, in teenstelling met die uitnodiging “kom saam Jerusalem toe”?
•Hoe ernstig neem jy teksgedeeltes soos Markus 1:15-19 en Markus 8:34-38 op?
Gebed: Here, maak dit vir my duidelik waar ek op twee paaie probeer loop.
Geloofsgewoonte 6: Bedink geloofsgroei
Don Whitney het gesê: “Spiritual disciplines are activities. They are not attitudes. Disciplines are practices. Spiritual disciplines are things you do. They are not character qualities. They are not graces. They are not the fruit of the Spirit. They are things you do.”
Geloofsgroei – of dan nou dit wat sommige mense geestelike vorming noem – is die metamorfose van die ou mens na jou egte self. Sommige mense noem dit karakterontwikkeling, en dan by implikasie: om die karakter van Jesus aan te neem. Jy word, met ander woorde, dit wat jy bedoel is om te wees.
Hier is ’n skynbare teenstrydigheid: Dit is tegelykertyd iets waaraan jy kan werk én iets wat sonder jou toedoen gebeur. Dit is tegelykertyd die vrug van jou eie inspanning én die Heilige Gees se geskenk aan jou.
Dit beteken dat daar dalk net een woord is om dit te beskryf, en dit is “misterie”.
Wat is dit wat jy sou kon doen om al meer deur dié misterie oorweldig te word?
Iemand het gesê: Jy ontvang so min, want jy verwag so min.
Of, soos ek dit reeds vroeër gestel het: Jy sal nooit minder kry as dit waarvoor jy jou inspan nie. Die kans is baie groot dat jy baie meer sal kry.
Geestelike oefeninge is sedert die vroegste tye deel van die Christelike geloofsreis. Mense het geweet dat as jy op hierdie Jesus-pad staande wil bly, jy sal moet oefen. As jy jou bestemming wil bereik (of nie wil uitsak nie, aldus Paulus), dan moet jy fiks wees.
En dit is waar geloofsdissiplines, of geloofsoefeninge, ter sprake kom.
Daar is deesdae wêreldwyd, en veral by protestantse Christene, ’n vurige belangstelling in die vroeë kerk se gebruike. Die Christendom het ongekende groei in daardie eerste klompie eeue beleef. Die kerk het toe ’n impak gehad soos nog nooit daarna nie.
Nou, in die 21ste eeu, is dit presies andersom – nie waar nie? Wat het verkeerd geloop?
Ek dink ons is teen so ’n spoed op pad hemel toe dat ons nie hier op aarde word wat ons behoort te wees nie. Ons wil tog so graag “gered word”, ter wille van “eendag”, dat ons nou onfikse reisigers geword het, sonder enige invloed op ons omgewing en ons medemens.
Die vraag is: Wat doen jy om jou karakter al hoe meer te laat groei sodat dit in ooreenstemming met Jesus se karakter kan word? En, ja, “doen” ís die regte woord; dit is beslis nie “wag” nie.
Dag 7
Slegte bemarking
Jesus did not come to give you a burden but a blessing.
Rick Warren
Dit klink vir my maar na ’n resep vir ’n mislukking. Wie gaan tog op ’n uitnodiging reageer soos: Tel jou kruis op en volg my?
Hoekom was mense 2 000 jaar gelede so onmiddellik gewillig om ’n vernederende pad, want dit is wat ’n kruisweg beteken, saam met Jesus te stap? Hulle was dan selfs in die eeue daarna bekend as “mense van die Weg”.
Wat het hierdie Jesus-pad so onweerstaanbaar gemaak dat hulle hul visvangnette net so gelos het?
Waarskynlik moet ’n mens eers probeer verstaan wat in hierdie reisigers-van-ouds se wêreld aan die gang was. Wat hulle omstandighede was dat hulle “Die Weg” gekies het – want jy kies hierdie pad nie sommerso nie. Veral nie as jy nie weet hoe dit gaan eindig nie.
En wie was hulle, hierdie armste van die armes wat op die Galilese platteland gebly het? Hoekom het hulle Jesus-volgelinge geword? Hoe het dit gekom dat hulle selfs ’n bedreiging vir Rome ingehou het? Dat die polisie in Jerusalem ontplooi is daardie spesifieke pasgaweek?
Daardie pelgrims was immers mense sonder enige politieke of ekonomiese mag. Hulle was die nobodies van destyds. Die agtergeblewenes, die gesigloses, onderdruktes en ballinge in hul eie land. Die minimum wagers met geen vooruitsig op armoedeverligting nie.
Daarby was hulle mense wat swaar aan godsdienstige wette gedra het (wat deur Jesus “’n juk” genoem is). Hulle het so uitsigloos geleef dat hulle niks van die toekoms verwag het nie. Dalk het God van hulle vergeet …
Dit blyk dus dat toe hulle dié alternatief aangebied is, toe die “Volg My!”-oproep hul ore bereik het, hulle dit met albei hande aangegryp het. Daar was nie vir hulle ’n ander pad nie. Dit was hul enigste uitweg.