40 dae tot hoop. Ronell Bezuidenhout
met die ou geloofsvaders te kan sê: “U is nader aan my as ek aan myself!”
Intimior intimo meo.
Dit kan net by die stroping van jouself begin: ’n totale oorgawe aan God, die weggee van jou eie beheer, die laat val van die maskers, die verwondering aan wat liefde beteken.
Ja, jy kan gebed steeds as praat en vra en bely beskou. Maar daar is ook ’n ander dimensie wat by gebed gevoeg behoort te word; dit gebeur wanneer gebed naaktheid voor God word.
Gebed: Here, ek kan U niks vra wat U nie weet nie. Ek kan aan U niks gee wat U nie het nie. Ek kan wel vir U dankie sê. Dankie, Here!
Dag 5
Gemaksones
We have the choice of two identities: the external mask
which seems to be real … and the hidden, inner person
who seems to us to be nothing, but who can give himself
eternally to the truth in whom he subsists.
Thomas Merton
Wanneer ’n mens in ’n gemaksone is, het jy selde besonderse dinkwerk nodig. Jy hoef nie aan dinge te peuter nie; jy weet presies wat gaan volg. So ’n gemaksone se motto kan goedskiks wees: “’n Mens krap nie waar dit nie jeuk nie.”
Maar die probleem met ’n gemaksone is dat jy in hierdie plek of stadium in jou lewe ook nie juis veel van jouself leer ken nie. Dit gaan nie vir jou nodig wees om spesifieke vrae oor jouself te vra nie, en ook nie oor die lewe nie. Solank dit met jou goed gaan – want dit is tog wat ’n gemaksone is – hoef jy ook nie te veel oor ander mense te dink nie.
Dit is nie dat jy nié oor hulle begaan is nie. Jy het mos nie ’n klip-hart nie! Dit is net dat jy nie nou jou gemaklike lewe ontwrig wil hê nie …
Wanneer laas het jy tyd daaraan afgestaan om oor die lewe na te dink? Om jou met ongemakliker vrae besig te hou? Vrae soos:
•Is ek regtig wie ek dink ek is?
•Glo ek regtig wat ek sê ek glo?
•Hoe lyk egtheid?
•Hoe lyk integriteit?
•Wat steek ek weg? Watter slegte gewoontes is ek nie bereid om raak te sien nie?
•Watter verskonings dink ek gewoonlik vir my slegte gewoontes uit?
Nee, dit is nie lekker vrae nie …
Richard Rohr skryf só in Wondrous Encounters: “During these 40 days of Lent, let us allow ourselves to be known! All the way through. Nothing to hide in ourselves, from ourselves, or from God. Allow yourself to be fully known, and you will know what you need to know.”
Lydenstyd is dié tyd om die helder kollig vol op jou skadukant te laat val. Om tot in jou siel ontbloot te word. Hoe anders gaan jy ooit werklik ontdek wat jy wegsteek?
As jy eerlik na jou lewe kyk – wat, onder meer, ook al jou “geite” insluit, jou selfmisleiding, jou maskers – dan is hierdie ontbloting aanvanklik ’n bedreiging. G’n wonder nie dat ’n digter eens uitgeroep het: Waar sal ek gaan om U te ontglip? Hoe gaan ek van U ontslae raak? U weet álles. My praat en my gedagtes is bekend aan U. My lofliedere én my leuens. My barmhartigheid én my brutaliteit.
Is dit dan vreemd dat hy uiteindelik uitroep: Dié wete dat U alles van my weet oorweldig my? (vgl Ps 139:6).
Soos die gelowiges van ouds ons geleer het: As jy jouself leer ken, kan jy nie anders as om God ook te ken nie. Jy ontdek juis hoe God jou bedoel het om te wees as jy ontdek hoe jy nié dit is wat jy eintlik is nie.
En soos Thomas Merton dit stel: Ons leef in die skadu van ons eie illusies: ons vals self. Ons hou nie juis daarvan om hierdie illusies te herken nie. Veral nie, só skryf hy in New Seeds of Contemplation, daardie illusies wat ons oor onsself troetel nie.
Maar daar is ’n uitweg: Jy moet God toelaat om die versluierde “egte jy” na vore te bring. Deur hierdie skeppingsdaad leer ken jy dan sommer ook jouself, as geskapene. As beeld van God. Dan kom jy agter: My ware self is soos God. Dít is die beeld waarvolgens my “egte ek” gevorm is.
Dink ’n bietjie hieroor! Dit kan tog nie anders as die waarheid wees nie? As jy “soos God” gemaak is, dan is dit tog hoe God jou ware menswees veronderstel het om te wees!
Laat toe dat jy voluit geken word! Veral dat jy jou ware self leer ken.
Wat beteken dit vir jou dat jy ten volle geken word?
Wat beteken dit dat God jou gedagtes, jou binnekant, ken?
Wat, dink jy, kan of probeer jy wegsteek?
Watter gemaksones weerhou jou daarvan om eerlik teenoor jouself te wees?
Gebed: Deurgrond my, o God, deurgrond my hart, ondersoek my, sien tog my onrus raak. Kyk of ek nie op die verkeerde pad is nie en lei my op die beproefde pad! (uit Ps 139).
Geloofsgewoonte 5: ’n Oefening in “oorbegin”
Dit is Maandag, en die wonderwerk – en die stryd! – is dat ek weer kan begin.
Ek beskou hierdie oorbegin as een van die mees genadigste moontlikhede denkbaar. Die heilige Benediktus, die ou kerkvader, het gelowiges wat struikel en opstaan juis met hierdie woorde bemoedig: “Dan begin ons maar weer …”
Al my goeie voornemens kan so maklik, en gerieflik, vergete raak. Gebeur daar iets wat my weer aan my vroeëre, vergete besluite herinner, is daar ’n paar maniere waarop ek kan reageer – waarvan die gewildste dalk dié selfkastyding is: Ek is tog so ’n mislukking! Hoekom kan ek nie by my besluite hou nie?
Of hierdie swaar hoogmoed-las wat jy op jouself kom lê: Hóé kan God my weer ’n keer vergewe?
Waarskynlik het die Christene in die 4de eeu met dieselfde probleem opgeskeep gesit. En jy sou verwag dat ’n belangrike kerkvader soos Benediktus sy gemeentelede behoorlik met die Woord sou bykom. Maar hy het nie.
In plaas daarvan dat hy oor slegwees preek, klink sy woorde só: “Dan begin ons maar weer …”
Die God wat ons so goed ken, is die God van oorbegin. Die God van nuwe kanse. Van weer en weer en weer. Dít is sekerlik wat genade beteken.
Gun jy jou dit om oor te begin? Of kasty jy jou oor jou mislukkings?
Dag 6
Heaven is real! … Ja, hier op aarde!
Ons kultuur is tog so gefikseer op doodgaan
en hemel toe gaan, terwyl die hele Skrif fokus op
die hemel wat aarde toe kom.
NT Wright
“Waarom is Jesus gekruisig?” vra ek die groep graad 11’s.
Asof uit een mond kom die antwoord: “Om vir ons sondes te sterf.”
“Goed, maar hoekom sou Hy nou eintlik juis vir ons sondes wou sterf?”
Maklik: “Dan kan ons hemel toe gaan!”
Die meeste van ons word deur die hemel gefassineer. Wie sou byvoorbeeld ooit kon dink dat Hollywood ’n lokettreffer soos Heaven is real sou maak? Die fliekmakers het sekerlik geweet dat die mark daarvoor reg was …
Maar hoekom sou ons so graag hierdie lewe onder die maan eendag vir “die lewe daarbo” wou verruil?
Ek dink ons moet so ’n bietjie briek aandraai met daardie teologie van “sodat ek hemel toe kan gaan”. Dalk is dit nie heeltemal in ooreenstemming met wat Jesus in gedagte gehad het nie.
Toe Jesus mense geroep het om Hom te volg, was dit nie ’n uitnodiging “agter My aan, hemel toe” nie. Nee, dit was veel meer alledaags. Iets