Eindspel. Wilna Adriaanse
Eindspel
WILNA ADRIAANSE
Tafelberg
Vir al die lojale lesers
Proloog
Dis skemeraand toe Ellie die dorpie inry. Ou huise en vrugteboorde omsoom die breë straat. ’n Hond hardloop ’n entjie voor haar verby. Twee bejaardes staan oor ’n tuinhekkie met mekaar en gesels.
Die bordjie wat sê Pub is klein en dis eerder die paar gekleurde liggies op die voorstoep wat haar aandag trek. Sy stop, klim uit en stap binne. ’n Hele paar tafels sit al vol mense. Ellie stap tot by die lang kroegtoonbank en gaan sit op die verste stoeltjie teen die muur.
Die man wat opkyk, laat haar aan Joe dink. Hy is net jonger, maar sy hare is ook aan die yl word en hy is net so groot en sterk gebou. Aan sy sy hang ook ’n vadoek.
“Wat sal dit wees?”
Ellie kyk na die rye bottels teen die muur. Sy huiwer by elk, oorweeg dit. As daar al ooit ’n goeie tyd was, is dit nou.
“’n Whiskey en ys.” Sy hoef ook nie alles gelyk te doen nie. Sy het die wêreld se tyd om ’n ander smaak te ontwikkel.
Hy skink vir haar en toe hy dit voor haar neersit, bly staan hy.
“My geld was op witwyn en ek is selde verkeerd.”
Ellie glimlag en skud haar kop. “Nie vanaand nie.”
“Lang pad agter jou of voor jou?”
Sy neem ’n sluk. Laat sak haar skouers en haal diep asem. “Albei.”
Hy steek sy hand uit. “Wynand Bruwer.”
“Eleanor.”
Sy het nie ’n plek gesoek nie. Ook nie juis die regte pad nie. Net ’n pad. Sy weet nie waarom sy die uitdraai gevat het nie. Dalk het die plek háár gevind, dink sy toe sy voor die huis staan. Dis op ’n hoogtetjie. Net hoog genoeg dat sy ’n paar kilometer verder die dorp kan sien, en as sy omdraai, flank die berg haar rug.
Daar is ’n grasperkie met ’n groot akkerboom en ’n leidam met modderwater. Waar die grasperk ophou, het iemand beddings gemaak wat uit die leidam natgelei word. Netjiese sementvoortjies gelei die water. Die beddings is nou kaal, behalwe vir hier en daar ’n onkruid of ’n spinasieplant wat saadskiet.
Sy gaan sit op die swaai wat aan die jakaranda hang en wieg liggies heen en weer. Die jong paartjie wat voor haar in die huis gewoon het, het blykbaar ’n kind gehad.
Sy het vir die eienaar gesê sy soek ’n plek vir ses maande. Dalk vat sy anderdag weer die pad, maar nou voel dit vir haar of sy eers ’n bietjie hier by die jakaranda en die leidam moet vertoef.
As sy geduldig is, haal sy haarself dalk hier in.
Hoofstuk 1
Ellie gewaar hulle in die truspieëltjie langs die orrel, die oomblik toe hulle by die kerk inkom. Sy herken hulle sonder dat sy hulle al ooit gesien het. ’n Oomblik lank is dit asof haar lyf ontspan. Onbewustelik het sy dalk tog verwag dat iemand haar in ’n stadium sal kom soek. Sy kyk hoe albei jong mans hul sonbrille teen hulle voorkoppe opskuif, rondkyk en dan in die agterste bank gaan sit.
Marius steek vas asof hy sy woorde vergeet het, maar gaan dan voort met ’n laaste boodskap. Daarna kondig hy die slotgesang aan.
Die orrelpype teen die muur voor haar begin blaas en dan klink die eerste klanke op. Die gemeente se stemme en die musiek ontmoet mekaar êrens agter haar.
Sy hou die twee in die spieëltjie dop terwyl sy speel. Sy dink aan die afgelope maand se nuusberigte. ’n Vrag perlemoen wat op die N1 onderskep is. Twee vermeende renosterstropers in Limpopo doodgeskiet. ’n Skietery by ’n dwelmbaas se huis op die Kaapse Vlakte. Polisiehoof in hegtenis geneem, ’n ander een word ondersoek. Die gewone weeklikse sirkus.
Hulle staan saam met die ander mense, maar sing nie. Die een kyk rond terwyl die ander een met sy selfoon doenig is.
Ellie is verlig toe sy die laaste note speel. Marius spreek die seën uit, die gemeente antwoord met ’n laaste “Amen” voor hulle uitstap. Die twee agter in die kerk kyk nou openlik na haar en sy skakel die orrel af en maak dit toe. Met haar handsak oor die skouer, begin sy by die trappies van die orrelgalery afgaan. Toe sy skrams omkyk, sien sy hoe hulle omdraai en by die kerk se voordeur uitstap. Sy kyk op haar horlosie. As hulle draf, het sy ongeveer ’n minuut. As hulle stap, hoogstens drie. Sy draf teen die trap af en toe sy buite kom, koes sy agter die eerste ry struike weg. Die motor naaste aan haar begin terugstoot en sy maak die deur aan die passasierskant oop.
“Wat de …” Die ouer man se kop ruk. “O, dis jy, Eleanor-kind. Waarom laat jy my so skrik?”
“Jammer, oom Dirk, maar ek soek ’n geleentheid tot by Carlos se kafee. Dis bietjie warm om te stap.”
“Dis reg.” Hy trek weg en sy kyk nie weer om nie. “Waar’s jou kar dan?”
“Die aansitter lol. Ek sal dat Manie dit môre sommer hier kom kry en daarna kyk. Hoe gaan dit met tannie Patti?”
“Dit gaan goed. Die kinders kuier die naweek daar en dis waarom sy nie saam kerk toe gekom het nie. Sy verlang na jou.”
“Ek verlang na haar ook.”
“Hoe gaan dit met jou? Waarom sien ons jou so min?”
“Ek is bang om ’n oorlas van myself te maak.”
“Ag k- … Hoor hoe lelik laat jy my amper op die Sondag praat.”
Hy kyk na haar en skud sy kop.
Sy lag en raak aan sy arm. “Ek sal die een of ander tyd weer ’n draai kom maak.”
“Waarom ry jy nie sommer saam en eet by ons nie?”
Sy skud haar kop. “Nie vandag nie, maar dankie. Stuur groete by die huis.”
Daar staan twee motors voor die kafee en nadat sy vlugtig op en af in die straat gekyk het, stap sy na die huis wat effens eenkant staan. Iemand het jare gelede ’n bordjie op die hek aangebring waarop Laaste huis geverf is. Die rooi verf is al vaal verbleik en grof geskilfer. ’n Louwarm wind dwarrel flenters papier op en jaag stof om die hoeke van die geboue. Selfs die honde lyk op so ’n dag troosteloos. Ellie stap agterom die huis en toe sy die agterstoep opklim, grom die boerboel, maar hy staan nie op nie. Sy vryf sy kop in die verbyloop.
“Ek sou ook eerder vandag in die koelte wou lê.”
Die deur gaan oop en Wynand loer uit. “En as jy op ’n Sondagoggend hier rondsluip?”
“Die kerkraad het my gestuur om te kom hoor waarom jy nie by die diens was nie.”
“Sê vir hulle as hulle vroeër saans ophou drink, kan ek vroeër toemaak en in die bed klim.” Hy hou die agterdeur vir haar oop, maar sy skud haar kop.
“Ek wil hoor of ek die motorfiets kan gebruik.”
“Watse bee het jy weer vanoggend in jou bonnet?”
Sy vee haar hare agtertoe en glimlag op na hom toe. “Van wanneer af is jy so nuuskierig?”
Hy draai terug en sy stap agter hom aan tot in die kombuis, waar hy ’n sleutel van ’n hakie teen die muur afhaal.
“Ek kry gou die helmet.”
“Is Gerda al terug van die kerk af?”
Wynand skud sy kop. “Nee, sy drink seker eers weer tee.”
“Dis miskien maar beter as jy nie sê ek was hier nie … of van die motorfiets nie.”
Hy hou die helm na haar uit en knik. “Jy gaan seker nie met daai rok en sandale ry nie.”
“Net tot by die huis.”
“Waar is jou kar?”
“Nog by die kerk.” Sy gee vir hom haar motorsleutels. “Doen my ’n guns en vra môre vir Manie hy moet dit gaan haal en daar by hom hou. En terwyl hy daar is, kan hulle hom sommer diens en na die aansitter kyk. Dit