Eindspel. Wilna Adriaanse
oorkant die gang vir hom soos ’n getypoel. Mense kom en gaan. Soms is daar ’n paar leë stoele, maar die golf stoot elke keer weer nuwes in. Kinders sit op ouers se skote, die meeste in hul nagklere. Paartjies hou aan mekaar vas. Bejaardes lyk bang en verwese. Hier en daar is ’n enkeling wat nie links of regs kyk nie. Sommige lyk by die dood, ander makeer sigbaar niks. Hy is egter oud genoeg om te weet daar waar die tekens onsigbaar is, is soms van die grootste probleme. Diep pyn is gevaarlike pyn.
Hy is verlig toe hulle hom roep om die papierwerk vir Patrice se opname te teken. Dis beter as om net te staan.
Dis toe hy die datum sien, dat hy sy asem hoorbaar uitblaas. Hy moet onthou om haar môre te bel.
Kan dit al vyf jaar wees?
Ellie kyk op haar horlosie. Sy sit die pay-as-you-go-simkaart in die selfoon en skakel sy nommer. Sy wag lank voor die bekende stem antwoord.
“Barnard.”
“Dis ek. Slaap jy al?”
“Mac?”
“Ja.”
“Waar de donner is jy?”
In haar geestesoog sien sy vir Clive. Dis ’n wonder hy het net “donner” gesê.
“Ek bel sommer om te hoor hoe dit gaan.” Ellie het besluit dis beter as sy hom eers nie van die twee mans in die kerk vertel nie. Sy hoop as daar iets gebeur het, sal hy haar vertel.
Daar is ’n oomblik lank stilte, voor hy kras lag. “Fok jou! Jy verdwyn vir amper vyf maande, sonder om my eers te laat weet of jy nog lewe, en dan bel jy op ’n Sondagaand en vra hoe gaan dit. Hoe dink jy gaan dit met my nadat ek maande nie van jou gehoor het nie?”
“Ek is jammer …”
“Daai is die mees overrated sin in die wêreld. Dit beteken net mooi fokol.”
“Clive … het daar iets gebeur waarvan ek moet weet?”
“Soos wat?”
“Ek weet nie. Enigiets wat ’n rooi vlag vir jou laat opgaan het.”
“So eintlik bel jy nie rêrig om te hoor hoe dit met my gaan nie.”
“Clive …”
Hy sug. “Ek weet nie waarvan jy praat nie. Greyling het my gisteroggend gebel en gevra waar jy is. Ek weet nie of hy vir jou ’n rooi vlag is nie.”
“Hoekom het hy gedink jy sal weet waar ek is?”
“Seker omdat almal gedink het ek weet waar jy is. Ons was after all nogal lank partners.”
“Hoe het jy geweet waar ek is?”
Weer sug hy. “Iemand se ma se niggie se agterkleinkind of so iets is ’n ruk gelede in Montagu se kerk gedoop. Die ou het my die Maandag kom vra of dit moontlik is dat hy jou daar in die kerk kon sien orrel speel het. Ek het gesê ek weet nie.”
“Wanneer was dit?”
“Seker so ’n maand gelede. Ek het ook nie vir Greyling gesê jy ís daar nie, ek het bloot gesê iemand vermoed hy het jou daar gesien.”
“Waarom het jy my nie toe in die hande probeer kry nie?”
Hy snork. “Ek is nie die een wat die pad gevat het en nie omgekyk het nie. En hoeveel keer dink jy moes ek jou selfoonnommer bel om te hoor die subscriber is not available?”
“En toe sê jy vir Albert waar ek is.”
“Moenie jou gat vir my wip nie. Hoe de fok moes ek weet waarom hy jou soek?”
“Het hy gesê waarom hy my soek?”
“Nee, net dat dit ’n persoonlike saak is en dringend is.”
“Ons twee het nie meer persoonlike sake nie.” Ellie kan hoor hoe haar stem styg.
“Mac, dalk moet ons twee nie nou verder praat nie. Dit is Sondagaand en hier lê ’n lang week voor. Bel jou eks en vra hom waarom hy jou soek. Hoe de hel moes ek weet wat met jou aan die gang is? Dis nie asof jy my op die hoogte gehou het nie.”
Ellie haal diep asem, maar keer haarself.
“Dankie. Mooi bly.” Sy skakel haar selfoon af.
“Clara Veldman.” Ellie sê die naam hardop. Toe Albert haar verlede jaar gevra het om onder die dekmantel van ’n sekuriteitsbeampte vir Clara by Enzio Allegretti se huis te gaan oppas, het Clive heelwat besware gehad. Sy weet hy neem homself kwalik oor wat op die ou end gebeur het. Die telefoon is egter nie die beste manier om die lug tussen hulle twee te suiwer nie.
Hoofstuk 3
Nick vee oor sy gesig terwyl hy net voor vier terugry Bantrybaai toe. Patrice is in ’n geïnduseerde koma en die dokters kan of wil nie sê of en wanneer hy daaruit sal kom nie.
Die strate is verlate. Hier en daar staan ’n kar by ’n verkeerslig of draai in ’n stil straat in. Op ’n straathoek in Seepunt staan twee prostitute nog. ’n Entjie verder is ’n polisievangwa geparkeer. Soms voel dit vir hom of hy vir ewig vasgevang gaan wees in ander mense se naglewens.
By Allegretti se huis maak hy ’n pot sterk koffie en laat kom toe die sekuriteitswagte een-een in. Albei sweer hoog en laag hulle het niks gesien of gehoor nie. Daar was nie vreemde motors in die straat nie, geen skote nie. Allegretti is nie by die hek uit nie. Geen kuiergaste nie. As Nick hulle nie wil glo nie, kan hy die sekuriteitsvideo’s kyk.
Toe hy klaar met hulle is, loop hy weer na Patrice se woonstel. Hy trap versigtig toe hy die deur oopmaak en instap. Behalwe vir die bloedspoor vanaf die sitkamer, soos Patrice vermoedelik badkamer toe gekruip het, is die slaapkamer netjies. Die beddegoed is teruggevou asof hy reeds gelê het. Hy moes in die sitkamer gewees het toe hy oorval is. Dit gee Nick ongelukkig nog nie ’n idee hoe laat dit gebeur het nie. Patrice gaan slaap soms vroeg.
Die kol op die mat en die bloedspatsels bevestig sy aanname dat hy in die sitkamer geskiet is. Wat Nick nie verstaan nie, is waarom hulle hom nie net doodgeskiet het nie. As hulle hom verras het, het hulle tog die voordeel gehad. Waarom die stoeiery? Wou hulle hom ook saamneem? Vir mense wat dit reggekry het om ’n huis wat baie goed bewaak word stil binne te kom, is dit net te slordig.
Hy soek versigtig rond, maar kry aanvanklik nie ’n patroondoppie nie. Na ’n ruk vind hy dit onder die rusbank, teen die vloerlys. Hy gaan soek ’n plastieksakkie in die kombuis. Tel die doppie met ’n pen op en seël die Ziploc-sakkie. Hy loop nog een keer deur die woonstel, maar sien niks anders wat hy as moontlike forensiese bewyse kan saamneem nie.
Hy sluit die woonstel se deur agter hom en druk die sleutel in sy broeksak. Daarna maak hy die agterdeur oop en stap in die nou steeg agter die huis uit. Die agterkant van die huis sit knus teen die berg. ’n Hoë geëlektrifiseerde heining skei die erf van die berggrond. In die donker kan hy nie veel wys word nie en hy besluit om eerder bo in Allegretti se kamer te gaan soek vir leidrade.
Dit lyk steeds soos hy dit gisteraand aangetref het. As Allegretti ontvoer is, lyk dit nie of hy hom teëgesit het nie. Dit lyk eerder soos enige aand wat hy alleen gelos word. Nick stap in die aantrekkamer in, maar die kaste is so vol, hy sal nie agterkom as daar klere weg is nie.
In die badkamer lyk dit ook nie asof daar iets weg is nie. Tandeborsel, skeergoed, gesigroom. En ’n verskeidenheid duur deodorante en naskeermiddels. In die kas onder die wasbakke is ’n groot karton kondome.
Om die Allegretti-familie se hoof van sekuriteit te wees, het nog altyd uitdagings ingehou. Die feit dat hy eintlik ’n dubbele rol speel, voel soms soos die minste van sy probleme. In Johannesburg was dit makliker. Allegretti senior is ’n baie slim man wat dikwels bereid is om na rede te luister. Sedert hy egter ’n klompie maande gelede deur die ouman Kaap toe gestuur is, voel dit vir hom of hy ’n kinderoppasser geword het. Vir twee bedorwe kinders. Enzio Allegretti het nie sy pa se insig nie en verkies dit om sy eie kop te volg.
Hy gaan kyk na al die bandopnames van die sekuriteitskameras, maar