Skool is ’n riller. Antoinette Diedericks
maak.
Toe nie.
Ons vertel juffrou Klaradyn se storie, behoorlik gedramatiseer met byklanke, beligting en als. Dit word doodstil in die saal. Die kinders skuif tot op die punt van hulle stoele. Haal skaars asem.
Uit die hoek van my oog sien ek hoe die prefekte al hoe bleker word. Veral toe ons soos danige profete verklaar dat wie ook al besluit het om die sottekonsert vanjaar in die studiesaal te hou, maar solank kan begin om hulle eie begrafnisse te reël.
Toe ons klaar is, hang daar ’n aardige stilte in die saal. Gelukkig trek lekker eetgoed die kinders se aandag af en toe die vrolike musiek begin speel, glip ek en Hamburger skelm na buite.
In die maanlig lyk die witgekalkte kloktoring amper asof dit van binne gloei en ek moet myself keer om nie hardop te lag nie. Niemand gaan hierdie aand ooit vergeet nie! En môre? Môre is ons die helde van die skool en sal geen prefek dit ooit weer waag om met ons te sukkel nie.
Uiteindelik staan ons voor die lae houtdeur wat na die toring lei. Agter my hoor ek hoe Hamburger rukkerig asemhaal. Hopelik kry hy nie nou koue voete nie. Die vasgeroeste knop is stram in my handpalm en ek moet dit met mening draai voor die mankoliekige deur oopswaai.
Ons tree oor die drumpel. Binne is dit nagdonker en bedompig. Die plek het seker dekades laas vars lug gekry. Ek skakel my flits aan, terwyl ek my verlekker in die prentjie wat ek voor my geestesoog optower: Binne oomblikke gaan ek die studieklok se tou gryp. Natuurlik gaan almal in die studiesaal hulle besimpeld skrik wanneer die klok begin lui. Veral die prefekte wat vir seker gaan glo die vloek van Bloubaai se studieklok het hulle ingehaal.
En dan, tra-la-la, die grand finale! Gebaai in ’n pers lig, gaan ek en Hamburger op die verhoog verskyn, in ons hande ’n geheimsinnige bak waarin iets bonatuurliks groen gloei. Dramaties gaan ons die redding uit die penarie aankondig: Die skuldige prefekte kan die vloek van die studieklok systap deur hulle gesigte in die bak “paddapoef” te druk. Onnodig om te sê, die konkoksie is gedokter met ’n siekgroen kleursel wat vir dae lank aan ’n mens se vel vasklou …
Nee, genoeg gedagdroom! Ek ruk myself reg en vat die flits vas in my sweterige hande. Dis aksietyd! Die muwwerige ou toring is beknop, maar iewers moet die klok se tou hang … Ek knak my knieë effens en draai my nek om beter te sien.
Net toe bars ’n oorverdowende gebeier bokant ons los.
Wat de …? Ek gryp na my ore en die flits tuimel uit my hand. Paniekerig voel ek om my rond en tjank amper van verligting toe ek dit na die derde probeerslag raakvat. Met hande wat woes bewe, lig ek na bo.
Asof gehipnotiseer volg my oë die ligstraal. Op, op, op tot waar ek die swaar koperklok bo in die toring kan sien. Wat? Dit swaai dan ritmies heen en weer. Moenie vir my sê Hamburger was so braaf om die kloktou beet te kry en dit te lui nie!
Dan, net voor Hamburger agter my kreun en die eerste maagkramp my ook laat dubbel vou van pyn, tref dit my.
Daar is geen tou nie.
Die masker
“Kabous!” Juffrou Papenfus se stem sny deur die skoolsaal. “Jy is al weer uit pas. Het jy dan geen ritme nie?”
Vrek. Kabous voel hoe haar wange vlamvat. Dit maak nie saak hoe hard sy probeer nie, sy kry die simpel danspassies net nie reg nie. Nou gaap almal haar seker weer aan.
Agter haar word die klavier stil. Kabous weet sommer Melly se vingers lê roerloos op die klawers terwyl sy met ’n ag-shame-uitdrukking op haar gesig na haar, wat Kabous is, kyk. Ja, right! Melly is ’n great pel en als, maar hoeveel simpatie kan ’n mens vat voor jy daarin stik?
Uit die hoek van haar oog sien sy hoe Neil en Janus mekaar in die ribbes pomp en grinnik. Kabous wens sy kan tussen die vloerplanke verdwyn. Die coolste ouens in die klas in die rolle van slymerige monsters – en hulle dink sy´ is die hoofnar van die produksie. Hoe suf is dit?
“Fokus, graadagts, fokus! Daar is nog net drie repetisies voor die openingsaand en ek het die skoolhoof belowe vanjaar se revue sal almal se asems wegslaan.” Juffrou Papie klap haar benerige hande sodat die geluid hol van die leë stoele in die skoolsaal terugbons. Sy stap om die tafeltjie waarop sy haar papiere neergesit het en beduie met ’n krom artritisvinger na Kabous. “Danksy jou briljante vertoning moet ons die beweging wéér oefen. Speel asseblief van voor af, Melody.”
“Agge nee!” Bella gee Kabous ’n vuil kyk en gaan sit wydsbeen op ’n bloedrooi paddastoel – een van die rekwisiete wat regstaan op die verhoog. “Hoekom moet almal altyd laat bly net omdat sy´ niks regkry nie?”
Bella is die feëprinses in die revue, en in die skool. Die mooiste, die gewildste, die witbroodjie wat nooit ’n voet verkeerd sit nie. Sy is net só perfek, dis om van naar te word. Kabous wens sy het nie soos ’n lomp trol langs haar gevoel nie.
Juffrou Papie sug en druk ’n muisvaal haarsliert terug in haar bolla. “Jy’s reg, Bella. Die res van julle, gaan haal solank julle maskers in die kostuumkamer en bring dit môre saam na die kleedrepetisie. Die rak met die graadagt-maskers is duidelik gemerk, moet asseblief onder geen omstandighede een van die ander vat nie. Kabous, jy oefen tot jy die passies onder die knie het. En jammer, Melody, maar jy moet ook bly. Dit help nie Kabous sukkel aan sonder die klavier nie.”
Lang skaduwees val oor die skoolterrein toe Kabous en Melly uiteindelik by die hek uitstap.
“Toemaar, man.” Melly se hand vou simpatiek om Kabous se boarm. “Dans is net nie jou ding nie. As Papie jou by beligting ingedeel het soos jy gevra het, het jy almal ore aangesit.”
Kabous glimlag stram. “Ag, ek sal dit oorleef.” Skielik steek sy vas. “Flip, ek moet nog my masker gaan haal. As ek daarsonder by die kleedrepetisie aankom, maak Papie maalvleis van my.”
Met ’n onrustige blik in haar oë kyk Melly terug na die skoolgebou. “Ek sal saamkom as jy wil.”
“Nee, dis klaar laat. Ek sal oukei wees.” Kabous hoop sy klink meer oortuigend as wat sy voel.
“Ja, maar wat van …?”
Kabous waai Melly se beswaar met haar hand weg en groet vinnig. Haar voetstappe knars oor die gruispaadjie terwyl sy alleen terugstap skool toe. Gelukkig staan die voordeur oop. Laer af in die gang eggo stemme – iewers is darem nog mense, wat ’n verligting!
Maar die stemme klink snaaks. Blikkerig. Kabous voel hoe hoendervel oor haar arms kruip. Geen wonder Melly glo die stories van ’n vreemde teenwoordigheid wat ná ure in die ou skoolgebou rondhang nie. Nee kyk, hoe gouer sy hier uitkom, hoe beter.
Haar voetstappe weergalm onnatuurlik hard in die leë gang. Ook die saal is verlate. In die skemerlig wat deur die hoë vensters syfer, lyk die plek grys en grillerig. Onwillekeurig maak Kabous haar rug hol toe sy agter die swaar rooi gordyn omloop na die agterste kamer waar die kostuums en ander rekwisiete gebêre word.
Die deur wys ’n skrefie lig. Versigtig steek Kabous haar hand uit om dit oop te druk.
“WHAAAAAA!”
Sy deins terug toe ’n monster met ’n groen vratgesig skielik met ’n kreet agter die deur uitspring. ’n Mond met drie rye vuilgeel tande waaraan slymerige drelle kwyl hang, gryns in haar gesig.
“HO-HOOOOOO!”
Agter die eerste peul ’n tweede monster uit. Sy gesig is siekpienk en waar sy neus moet wees, is ’n plat varksnoet.
Kabous se bene word lam van skrik, maar sy kom gou tot verhaal. Hierdie stemme ken sy mos! Sy repeteer nie verniet elke middag saam met twee slymerige monsters nie.
Skielik is sy witwarm van woede. Met haar regterhand kry sy monster nommer een se groen wang beet terwyl haar ander hand om die pienk neus van nommer twee vou. Toe, met een pluk, stroop sy die maskers van Janus en Neil se verbaasde gesigte af. “Siesa, julle!”