Skool is ’n riller. Antoinette Diedericks
Neil probeer haar nie eens antwoord nie.
Kabous skud haar kop terwyl sy kyk hoe hulle wegloop. Pateties. Hoe kon sy ooit dink hulle is cool?
Nou is sy alleen in die kostuumkamer. Dit ruik muf en lyk spokerig in die flou lig van die kaal gloeilamp wat uit die dak hang. Toe sy binnestap, glip ’n ongemaklike krieweling langs haar ruggraat af. Dit voel kompleet of iemand haar dophou. En verbeel sy haar of haal die blikkostuum van die Middeleeuse ridder wat langs die deur staan asem?
Nee, sy gaan haarself nie bangpraat nie! Sy gaan ’n masker gryp en so vinnig as wat haar bene haar kan dra, spore maak.
Die rak met die graadagt-maskers is teen die heel agterste muur. Die maskers wat nog nie gevat is nie, het hol oë wat haar vanuit dooie gesigte dophou. Kabous ril van kop tot tone. Sy is niks lus om tot daar te loop nie.
Haar oë gly deur die vertrek en val op ’n masker wat slap aan ’n haak net langs die deur hang. Hoekom kan sy dit nie sommer vat nie? Ou Papie sal mos nie weet nie. Haastig gryp sy die masker en prop dit in haar sportsak.
Toe laat waai sy huis toe.
“Reg, graadagts.” Papie tik-tik met haar vingers op die tafeltjie voor haar. “Op met julle maskers! Vandag repeteer ons of ons lewens daarvan afhang.”
Met lam hande haal Kabous haar masker uit haar sportsak. Toe sy dit vanoggend behoorlik bekyk het, was sy spyt sy het nie meer moeite gedoen om ’n mooier een te kies nie.
Haar masker is bra vaal. So ’n grys-wit elfgesiggie met ’n onnutsige glimlag om die mondhoeke. Kabous sug. Ook maar goed so. Hoe minder die gehoor haar raaksien en hoe gouer die vertonings agter die rug is, hoe beter.
“As hierdie produksie flop, is dit als jóú skuld!” snou Bella toe sy in haar ysblou feëprinseskostuum verby Kabous sweef. “Shame, arme ou Papie sal dit nooit oorleef nie. Almal weet mos sy het ’n ogie op die hoof.”
“Wag maar, Kabous gaan julle almal nog verbaas,” kom Melly vir haar op van agter die klavier.
Kabous sluk swaar. Sê nou sy verongeluk die revue? Nee, daaraan wil sy nie eens dink nie. Toe sy met die verhoogtrappies opklim, val sy amper oor haar eie voete soos haar bene bewe.
Agter juffrou Papenfus se rug sluk Neil amper sy ore in soos hy lag. Janus sper sy neusgate oop met sy vingers en trek ’n vieslike otgesig. Kabous onderdruk die begeerte om vir hulle tong uit te steek. Maar om haar aan hulle kinderagtigheid te steur, gaan haar niks help nie. Sy moet liewer koelkop bly en probeer om nie ’n aap van haarself te maak nie.
Almal neem hulle posisies in en sit hulle maskers op.
Kabous ook.
Die masker voel warm op haar gesig. Haar hart skop in haar keel toe sy ou Papie se oë op haar voel. Sy weet sommer die juffrou gaan haar weer voor almal verneder as sy ’n voet verkeerd sit.
Melly begin speel. Haar talentvolle vingers toor blink, helder note uit die klavier.
Vir ’n verandering val Kabous presies op die regte plek in. Flip, wat gaan aan met haar? Dis asof iemand anders in haar lyf geklim het. Asof elke senuwee die ritme van die musiek aanvoel en haar voete so lig soos ’n dwarrelwindjie oor die verhoog laat dans.
Toe die klanke uiteindelik wegsterf, weet Kabous haar vertoning was perfek. Sy sien dit ook op die gesigte van die kinders wat in ’n kring om haar staan. Die meeste lyk stomverbaas, maar Bella se oë spoeg gif en Janus se mond hang skaapagtig oop.
Juffrou Papenfus glimlag tevrede. “Mooi, Kabous! Wat oefening en konsentrasie nie kan doen nie, nè?” Sy maak die boek op die tafel voor haar toe. “Ons het nog twee oefeninge, dan is dit die groot aand. As julle so aanhou, kan niks verkeerd loop nie.”
Kabous voel of sy sweef. Met die masker nog op haar gesig dartel sy ligvoets by die verhoogtrappies af.
Skielik hou ’n hand op haar skouer haar terug.
Dis Janus. Hy staan nog op die verhoog en buk af na haar. “Ek … ek’s jammer, Kabous,” stotter hy en lek oor sy lippe. “Ek was ’n regte noedel. As jy wil, kan ons ’n smoothie gaan drink.”
Verbaas gaap Kabous hom aan. Netnou nog was sy lus om vir hom skewebek te trek, maar as sy donker oë so in hare kyk, smelt haar weerstand.
Sy hap nog na woorde, toe Janus sy balans verloor. Sommerso, uit die bloute. Sy arms maak wilde wawiele in die lug. Sy voete glip en hy tuimel kop eerste van die verhoog af. Sy gesig tref die hoek van ou Papie se tafeltjie en jy sien net bloed spat.
Chaos breek los. Die kinders skree. Juffrou Papenfus storm nader en sak op haar knieë langs Janus neer. ’n Gesmoorde kreet glip oor Kabous se lippe toe die juffrou hom omdraai. Langs sy neus is ’n bloederige, gapende gat en sy oë rol wit in sy kop.
“Ambulans!” Juffrou Papie se stem is skril. “Iemand bel ’n ambulans!”
Eers baie later toe die ambulans vir Janus kom haal het, besef Kabous sy het nog die simpel masker op haar gesig. Afgetrokke haal sy dit af en wil dit net in haar sportsak druk, toe haar asem skielik stol. As sy nie van beter geweet het nie, het sy gedink die ding het vir haar geknipoog. Verdwaas skud sy haar kop. Dis seker net die rubber wat so gevou het. Na alles wat gebeur het, is haar senuwees erg op hol.
Kabous rits haar sak toe en stap saam met die ander kinders by die saal uit.
Die volgende middag toe die graadagts bymekaarkom vir die voorlaaste kleedrepetisie, heers daar ’n gedempte atmosfeer.
Kabous se hande bewe effens toe sy die masker met die stout elfgesiggie uit haar sportsak haal en opsit. Sy behoort opgewonde te wees na haar vertoning van gister, maar wanneer sy aan Janus se ongeluk dink, voel haar maag soos ’n klip.
As sy net kan weet wat gebeur het!
Behalwe Melly, wat met haar arms vol bladmusiek verbygekom het, was daar niemand buiten sy naby nie. Hoe kon hy so val? Dit was amper asof iets hom vorentoe gepluk het.
“Waag dit net om my show te steel!” onderbreek Bella haar gedagtes toe sy verbyloop. “Ek hou jou dop, hoor.”
“Nou is jy sommer paranoid, Bella,” kom dit van Melly waar sy agter die klavierstoeltjie inskuif.
Kabous is nie eens lus om kommentaar te lewer nie.
Eers toe almal hulle posisies ingeneem het, kyk ou Papie op van agter haar tafeltjie. “Wel, klas,” sê sy en vee moeg met die agterkant van haar hand oor haar voorkop. “Ons het ’n terugslag gehad, maar gelukkig kan die revue voortgaan met een slymerige monster.” Sy glimlag flou in Neil se rigting. “En onder omstandighede gaan dit goed met Janus. Hy moes steke kry en het harsingskudding, maar sal volgende kwartaal weer perdfris wees.”
Die klas klap verlig hande en Melly begin speel. Nes die vorige dag sweef Kabous oor die vloer. Hoe langer hulle repeteer, hoe meer geniet sy dit. Op ’n kol, toe sy ’n diep buiging voor feëprinses Bella moet maak, kan sy dit nie help nie en trek vir haar skewebek agter die masker. Niemand kan dit tog sien nie, en wie dink Bella anyway is sy om almal te behandel asof hulle haar onderdane is!
Kabous het net weer weggeswaai toe pandemonium losbars. Sy vlieg om en haar hart spring amper by haar keel uit toe sy sien wat aangaan. Bella se lang sleep het seker verstrengel geraak in een van die kandelare met brandende kerse, want dit het omgetuimel en haar opgetooide hare is in vlamme.
Gillend gryp Bella na haar kop en storm oor die verhoog na waar juffrou Papenfus die toneel met ’n uitdrukking van totale verskrikking op haar gesig aanskou. Al die aksie maak die vlamme natuurlik net erger en toe Neil uiteindelik sy mantel afpluk en dit smoor, het Bella net ’n paar verdwaalde hare op haar kop oor wat soos verskroeide strooihalms regop staan.
’n Verslae stilte daal oor die graadagts neer toe die ambulans uiteindelik opdaag om die kermende Bella te kom haal. Wat nou? Arme juffrou Papie staan net daar met sulke glaserige oë en wring haar knopperige hande.
Eintlik wil Kabous nog ’n bietjie