Helene de Kock Keur 1. Helene de Kock
maar Anne Deetlefs is ’n mens wat vinnig kan herstel.
“Nou toe nou, Dai,” sê sy koeltjies. Net die handjie wat die persblou krulle langs haar slaap betas, ruk effens. “Maar drie weke is veels te kort? Martine sal nooit haar klere in dié tydjie kan regkry nie! En as ek dit nie mis het nie, is haar paspoort ook nie reg nie . . .!”
Dai voel die ou greep van sy ma op hom. Ten spyte van sy dertig jaar vóél hy dit.
“Ma, Martine kan nie alleen saam met my gaan nie,” sê hy nietemin pertinent en verheug hom innerlik daaroor. Maar hy sien glad nie die gaping wat dit haar bied nie.
“Dai, liefling,” sê sy sag, haar ewewig heeltemal herstel, “daaraan kan ons mos iets doen.” Sy trek Martine aan haar boarm nader en gee haar ’n moederlike tikkie op die eina-broekie van haar bikini. “Ons kondig dit sommer vanaand by die musiekkring aan, nè?”
“Wat is daar om aan te kondig?” vra hy vriendelik, asof hy met twee ou kleintjies praat.
Martine se mond gaan oop en hy sien hoe daar ’n blos uit haar nek styg. Met ’n skud van haar kop gooi sy die koperkleurige hare terug en ’n kwaai trek spring in haar groen oë.
Sy ma se oë raak uitdrukkingloos, koud.
“Moenie moeilik wees nie, boetie . . .”
“Nee,” sê hy, vee moeg met sy oop hand oor sy gesig en ken, “dis nie ék wat moeilik is nie. Dis júlle wat nie verstaan wat ek sê nie. Ek gaan alleen Londen toe. Niemand gaan saam met my nie!”
Hy wag nie verder nie. Hy tel sy baadjie op, stap verby die twee vroue en hardloop die trappe twee-twee af. Tellings later hoor hulle sy sportmotor se dowwe dreun toe hy wegry.
“Dai kan vreeslik selfsugtig wees,” sug Anne Deetlefs teenoor die meisie, stap na die lang muurspieël en bekyk haarself berekenend, stryk met haar hande oor die heupe van haar duur tweestuk. Sy sug weer.
“Miskien,” antwoord Martine kripties. “Maar dalk is hy net nie lief vir my nie?” Sy begin klere aanpluk oor haar bikini, en die oplaaiende drif waarmee sy dit doen, ontgaan Anne nie. Sy glimlag fyntjies.
“Dai weet nie wat hy wil hê nie, Martine. Kwel jou tog nie. Ons sal nog sien . . .”
2
Die groot vliegtuig sak deur die digte wolkbanke wat laag oor Heathrow-lughawe hang. ’n Lugwaardin buk by Daïrus, waar hy ingedagte deur die venster staar, al is daar nou niks om te sien nie.
“U veiligheidsgordel, meneer!”
Dai glimlag meganies en gehoorsaam. Hy is moeg, tam van die lang vlug en die veeleisende paar weke vooraf. En hy is veral uitgeput deur die stremmende atmosfeer by die huis. Dit het gewissel van ysige stiltes na ’n woordelose tussentoestand, en toe ’n vurige uitbarsting. En al dié temperatuurskommelinge in sy verhouding met sy ma, het hom naderhand laat voel soos iemand wat ’n growwe kwaal onder lede het.
Hy haat onmin, dink hy die soveelste keer. Hy aard te veel na sy pa, want dit ontstig hom tot in sy siel toe om sy ma te opponeer. En tog is sy iemand wat na teenkanting soek. Want haar liefde vir hom is so sterk gekoppel aan haar besitreg dat sy sonder enige diskresie op ’n gebied oortree waar ’n moeder liefs nooit moet kom nie. Enige ander man sou haar kort en klaar na haar peetjie stuur die éérste keer dat sy vir hom probeer vrou soek het. Maar nie hý nie . . .
In die tyd nadat hy aangekondig het dat hy twee jaar lank Charles-Henry se praktyk gaan oorneem, was daar dae dat sy hom byna gesmeek het om te bly. En smeking het groot krag, veral as ’n mens vatbaar is daarvoor. Maar Dai het geweet dat as hy sou toegee, alles vir hom verlore sou wees. Geen eie inisiatief sou verder geduld word nie. Hy móés een maal standpunt inneem, téén haar, al het dit hóé teen die grein gegaan. Een aand het hy by haar gesit terwyl sy haar kort haartjies in ’n silwerblou wolk om haar kop geborsel het. Sy het op Dai se pa gewag, wat nog ’n laaste televisieprogram wou sien. Meteens het sy Dai se blik in die spieël opgevang en omgeswaai, borsel in die hand.
“Boetie, móét jy gaan?”
Hy het net geknik, met sy hele hart gewens dat sy iemand was wat aan bande gelê kon word. Hy het die verspotte wens gekry om die mooi, klein ma van hom iewers waar dit ruim en vry is, op te sluit sodat hy haar kon besoek wanneer hý wou. Dis tog nie dat hy haar heeltemal wil verloor nie. Maar dis op oomblikke soos dié dat hy bly is hy gaan landuit vlug, want soos ’n sterk seestroom waarteen geen swemmer bestand is nie, trek haar ongelukkigheid aan hom sodat hy werklik wens hy kon haar behaag. Want daar was iets byna kinderliks aan die ontstemdheid op die fyn ou gesiggie onder die blinkgrys hare. Haar mondhoeke het weerloos gebeef.
“Maar, boetie, het jy dan nou al die jare saam met Martine vergeet? Het sy dan vir jou niks beteken nie?”
Was daar dan jare-saam-met-Martine? het hy verdwaas gewonder. Sy praat asof dit een van die stadia in sy ontwikkeling was, asof hy daar iets aan te danke het. Sy het ’n verskriklike vermoë om hom te laat skuldig voel, het hy gedink en haar weer goed bekyk.
Sy was geklee in ’n persblou kamerjas met sagte valle, en het allermins formidabel gelyk. Maar onder die sagte, fyn-vroulike uiterlike, moes Dai ten ene male erken, skuil daar ’n wil wat ’n staatsman van koers kan laat verander. Sy het skielik haar twee klein handjies na hom uitgesteek asof sy sy kritiese gedagtegang kon aanvoel. Maar hy het hulle sag weggestoot en opgestaan. Gesorg dat hy nie die geoefende verwyt in haar blou oë sien nie. En hy het haar woorde opsetlik verdraai:
“Ma, dis nie dat Martine niks beteken nie. Dis net dat daar nooit ’n betekenisvolle verhouding tussen ons kan of sal wees nie!”
Sy ma het geslote geraak, soos altyd wanneer iets ontleed moet word. En sy het haar geykte argument gebruik:
“Jy’s net moeilik, boetie! Martine het jou lief!”
Hy het stadig geantwoord, kalm:
“Nie vir mý nie! Ek is maar net die konkrete vervulling van háár ambisieuse drome! Aansien, status, geld . . .”
Sy ma het ’n hand na haar voorkop gebring en in ’n gepynigde stemtoon gesê:
“Ek begryp jou nie. Daar is niks daarmee verkeerd nie! ’n Mens móét weet waar jou toekoms lê. Ek het geweet wat ek wou hê toe ek met Pappa getrou het!”
Toe het hy maar liewer stilgebly. Eenvoudig geweet dat dit niks, niks sou baat om verder te praat nie. Sy sou nie begryp nie. Nie tóé of óóit nie.
Die gesprek met Martine was veel moeiliker. Hy het dit mooi probeer doen. Haar uitgevra vir ete en daarna hoog bokant die stad op ’n koppie stilgehou. Onder hulle het die stadsnag soos ’n tapyt vol blinkertjies gelê. En Dai kon dit nie langer uitstel nie.
“Martine, jy weet dat ek Sondag vertrek, nè?”
Sy was heelaand opgeruimd, selfs dierbaar, maar hy het skielik besef dat hy haar nie moes uitgeneem het nie. Só iets kan nie minlik geskik word nie. Nie met iemand soos Martine nie. En die oomblik toe sy begryp wat hy aan haar probeer sê, het sy teruggekap:
“Vlug jy of vlieg jy?”
Hy het al twee sy hande op die stuurwiel geplaas om te voorkom dat hy haar oor sy skoot trek en die pak gee wat sy kleintyd al moes gekry het. Waarom lê party mense se verweer tog altyd in nydigheid?
“Martine . . .” het hy geprobeer, “begryp een ding . . .”
“Ek begryp niks. Niks! Maar in die vervolg sal ek weet om nooit weer ’n man te vertrou nie! Dankie vir dié duur les!”
“Nou is jy onnodig drasties!”
“Wel!” het sy gestik in haar gramskap. “As dit darem nie die toppunt van . . . van . . .”
“Kyk hier, Martine,” het hy skerp gereageer toe sy geduld eindelik meegee, “ek het jou nooit enige rede gegee om te dink dat ek met jou ’n ernstige verhouding wil aanknoop nie. Jy is lief en baie mooi, maar . . .”
“Ry! Rý!” het sy hees