Van sorg na liefde. Malene Breytenbach
jy dit omsit in jul powere geldeenheid.”
“Dis een van die redes waarom mense soos ek oorsee gaan werk.” Sy probeer die bitsigheid uit haar stem hou, maar kry dit nie heeltemal reg nie.
“Jean vra of jy goed kan bestuur, want jy sal die Bentley moet bestuur,” sê Sarah.
Mia skrik. Daardie yslike motor? Sy kan nie nou sê sy sien nie kans daarvoor nie.
“Ek het al gesê Ma moet daardie motor verkoop en iets meer prakties kry.”
“Ek verkoop nie jou pa se motor nie. Ek gaan nog lank daarmee ry.”
“’n Ferrari is ook nie wat ek ’n praktiese motor sou noem nie,” laat Mia in ’n onbewaakte oomblik val. Liewe hemel, dit is die sjampanje wat nou praat.
Hy kyk spottend na haar. “Nee, maar ek hoef nie ’n praktiese motor te ry nie.”
Nee, vir jou gaan dit oor vertoon, dink sy. En wat is nou meer vertonerig as ’n peperduur rooi sportmotor? En dit op Jersey waar jy nie vinnig mag ry nie.
Tot haar verligting kom die groot kat met ’n miaau by die stoep opgestap.
“Haai, ou Sylvester, kom hier,” sê Jean. Hy steek sy hand na die pragdier uit en die kat kom nader sodat hy gestreel kan word. “Jy leef darem lekker. Kyk hoe vet is jy.” Hy streel sag oor die kat se pels.
Mia is verbaas. Jean lyk nie na iemand wat vir katte lief sal wees nie. Die egalige hale wat sy vingers oor die kat se rug vee, betower haar. Dis die mooiste hande wat sy nog aan ’n man gesien het.
“Hy het op my bed kom lê,” sê sy.
Jean en sy ma kyk na mekaar. “Hy sal seker na jou kamer gaan, want hy het dit altyd gedoen,” sê Jean. “As jy nie van katte hou nie, kan jy hom wegjaag.”
“Ek is lief vir katte. Ek sal hom nooit wegjaag nie.”
Sy sien Sarah de Lisle se oë blink asof daar ongestorte trane opdam. “Hy het altyd daar gaan lê toe Bienne nog gelewe het.”
Mia glimlag vir haar. “Ag, hy kan seker aanvoel dat ek van katte hou. Katte het mos ’n ekstra sintuig.”
Jean staan op en skink vir hulle almal nog sjampanje. “Is jy gewoond aan drank?”
Wat ’n vreemde ding om te vra! Probeer hy haar nou uitvang? As sy ja sê, kan dit mos klink asof sy te veel drink. “Wel, ek kom van ’n streek waar wyn gemaak word,” sê sy dan maar.
Hy gaan sit weer. “Dis goed, want dan sal jy weet hoe om dit te hanteer. Ek wil nie hê my ma se versorger moet aangeklam raak nie.”
“Ek sal nie aangeklam raak nie,” protesteer sy.
“Ag, Jean, moenie die arme kind terg nie,” sê sy ma. “Dalk skrik jy haar af en dan wil sy weggaan.”
Mia kyk nie na hom nie, glimlag net vir sy ma. “Ek skrik nie sommer nie, mevrou. In elk geval nie vir koue pampoen nie.”
Sarah lag. “Jean, dalk is sy opgewasse vir jou. Jy is te gewoond dat almal gedienstig is en jou nie die harnas in wil jaag nie.”
Hy gryns. “Ons sal sien.” Hy verander die onderwerp en praat met sy ma oor mense wat Mia nie ken nie.
Jy gaan my nie intimideer nie, meneertjie, dink Mia. Dalk is hy nog al die jare bederf en duld geen teenstand nie. Hy hou seker van sy vroue onderdanig, gedienstig en aanbiddend. Hy is die alfaman en vroue is ondergeskik aan hom. Hy sou seker ’n harem aanhou as hy kon.
Barnes kom kondig aan dat die aandete gereed is en hulle gaan in. Die sogenaamde klein eetkamertjie is kleiner as die grote, maar die tafel het sitplek vir ses mense en dit is pragtig ingerig met keurige houtmeubels, ’n buffet en skilderye van seetonele aan die mure. Die tafel is vir drie gedek en die eetgerei en borde is van die mooiste wat Mia nog gesien het. Sowaar, hier word alles in styl gedoen, dink sy.
Jean sit aan die hoof van die tafel en die twee vroue weerskante van hom. Barnes skink eers vir hulle wyn en toe bedien hy en Pierre hulle met consommé en broodjies. Mia kyk hoe netjies Jean sy broodjie breek en hoe hy sy sop skep en eet sonder om te slurp. Sy tafelmaniere is onberispelik. Sy drink stadig aan die wyn, want sy het twee glase sjampanje in en sy moet hom nie die idee gee dat dit na haar kop toe gaan nie – veral nie ná sy vorige opmerking nie.
Hy kyk na haar toe sy sop klaar is. “Waar in Suid-Afrika het jy grootgeword, mejuffrou De Villiers?”
“Op ’n dorp met die naam Stellenbosch. Ek is daar skool en universiteit toe. Daarna het ek skoolgehou by een van die hoërskole.”
“Wat doen jou ouers?”
Dit klink soos ’n ondervraging, maar sy kyk direk en vreesloos terug in die kritiese donker oë. “My pa gee steeds klas by die universiteit en my ma het ook tot onlangs onderwys gegee.”
“Het jy broers en susters?” vra Sarah.
“Ek het ’n suster wat vier jaar ouer as ek is. Sy en haar gesin het na Australië geëmigreer.”
“Daar is ’n geweldige gaping tussen ryk en arm in Suid-Afrika, nie waar nie?” sê Jean. “En baie mense emigreer. Daar is heelparty Suid-Afrikaners wat geld in Jersey kom belê.”
“Ja, daar is ’n groot gaping, maar ons het darem ook ’n stewige middelklas, nie net brandarmes en skatrykes nie,” sê Mia skerp.
Hy kyk haar met skrefiesoë aan. Gelukkig kom Barnes en Pierre in met geurige visdisse. Dit lyk vir Mia soos die produk van ’n voorste restourant. “Dit lyk my jul sjef verdien sy goeie naam,” sê sy.
Sarah glimlag ingenome. “Beslis. Jy sal nog beïndruk word.”
“Dis waarom ek hier kom eet,” spot Jean. “My huishoudster kan nie kos maak op Etienne se vlak nie.”
Bedorwe, dink Mia. Kan nie self kos maak nie. Alles word vir hom gedoen. Sy weet nie of dit maklik sal wees om van hom te hou nie, al styg haar bloeddruk ’n graad of twee elke keer dat sy na sy aantreklike gesig kyk. Hy het die vreemdste effek op haar, asof hy haar toor. Sy voel asof haar balans effens versteur word sodra hy naby is en sy hou nie van die gevoel nie.
Vervolgens kry hulle biefstuk, groente en aartappels wat soos ’n kunswerk op elke bord lyk. Gaan hulle sowaar elke dag so eet?
“Hierdie aartappels is die lekkerste wat ek nog geëet het,” sê sy.
“Dis die Jersey royals,” sê Sarah. “Nêrens gaan jy lekkerder aartappels kry nie.”
Daar is sowaar nog nagereg ook. Klein dog elegante porsies van ’n soet poeding wat versier is met ’n rooi jus en kruisementblaartjies.
“Sal ons koffie in die sitkamer gaan drink?” vra Sarah.
Die sitkamer is ook ’n pragtig gemeubileerde vertrek. Hulle kry sterk koffie in klein koppietjies. Mia dink aan die uitdrukking “in the lap of luxury”. Dis waar sy nou is. Ongelooflik.
Jean drink sy koffie en kondig aan dat hy moet gaan. “Ek sien Ma weer môre. Ek kom vir die naweek.”
Hy staan op en soen haar op die wang wat sy vir hom aanbied. Dan kyk hy na Mia. “Tot siens, mejuffrou De Villiers.”
“Tot siens, meneer De Lisle,” sê sy so kil soos sy kan.
Nadat hy weg is, vergesel sy Sarah de Lisle na haar kamer. Daar help sy haar uittrek en stort. Dit is ’n vreemde ervaring om ’n ander vrou te ontklee en haar met intieme dinge te help, maar Sarah is darem nie moeilik nie en altyd dankbaar. Mia dink sy moet net afskakel en alles onwillekeurig doen, sy sal seker nog gewoond raak aan alles.
“Maak asseblief daardie deur oop,” sê Sarah.
Dit is ’n yslike inloopkas wat rye rokke, jasse, baadjies, rye skoene, laaie met onderklere en nagklere, hoede en laaie met serpe bevat.
Sy beduie waar Mia nagklere moet uithaal. “Die pienke met die beige kant, asseblief.”