Susanna M Lingua Gunstelinge 6. Susanna M Lingua
studeerkamer, waar hy besig bly totdat Lena die klokkie lui vir aandete.
Na ete keer hy dadelik terug na sy studeerkamer, en moet Ronelle weer eens met haar eie geselskap opgeskeep sit.
Tienuur neem sy vir hom ’n koppie tee en gaan kruip daarna ewe gedwee in die bed. Sy besef deeglik dat haar vader haastig is om sy proefnemings hier op Braca te voltooi sodat hulle terug kan gaan na hulle eie tuiste in Johannesburg. Maar sy besef ook dat hy besig is om sy gesondheid te ondermyn deur feitlik dag en nag aaneen te werk. Hy is alreeds hopeloos oorwerk. Dan troos sy haar egter met die wete dat haar vader ’n dokter is en behoort te weet hoe ver ’n mens kan gaan voordat jy breekpunt bereik.
Die volgende dag is Ronelle opsetlik die hele dag uithuisig. Sy koester hoegenaamd geen sinnigheid om met Diago oor die telefoon te gesels nie. Sy het haar reeds voorgeneem om in die vervolg uit sy pad te bly sodat sy hierdie ongevraagde liefde vir hom uit haar gestel kan kry, en sy gaan by daardie besluit bly. Sy wens sy kan vanaand se dinee ook ontduik. Maar ongelukkig kan sy aan geen oortuigende rede dink wat sy as verduideliking vir haar afwesigheid kan aanvoer nie. Derhalwe sal sy maar moet gaan, of sy daarvan hou of nié. Gelukkig rek die Duque darem nie sy dinees tot na middernag uit nie, dus sal sy slegs ’n paar uur van foltering moet verduur.
Pas ’n halfuur voor haar vader se tuiskoms daardie middag, keer Ronelle ook terug van haar uitstappie na die strand. Sy groet haar vader en toe wil hy sonder meer weet waar sy die hele dag rondgeflenter het, dat hy weer die spit met Diago moes afbyt.
“Wat! Het hy my ou paps al weer by die hospitaal lastig geval?” roep sy verontwaardig uit. Sy vly haar langs hom op die bank neer en kyk hom met ’n onpeilbare uitdrukking in haar oë aan.
“Ja, hy het vanmiddag glo herhaalde male hierheen gebel, net om te verneem dat jy nog nie tuis is nie,” antwoord haar vader ietwat verwytend. “Daarna wou hy van my weet waar jy is, asof ek elke oomblik van die dag van jou rustelose bewegings verslag kan gee. En toe ek vir hom sê dat ek geen idee het waar jy jou op die oomblik bevind nie, vertel hy my so ewe dat jy die leiding en beskerming van ’n duenna nodig het.”
“En wat sê my ou paps toe vir hom?” vra sy, nou met ’n flikkering van ondeunde pret in haar oë. Dog sy waag dit nie om te glimlag nie, want haar vader lyk duidelik omgekrap.
“O, ek het hom onomwonde vertel dat geen duenna langer as ’n week met jou pas sal kan volhou nie,” antwoord hy. “Jy is gans te vol lewe. En soos wat ek jou ken, sal jy jou bloedweinig aan ’n duenna se teregwysings steur. Jy het die afgelope twee jaar daaraan gewoond geraak om vir jouself te dink en te besluit, en daarbenewens is jy mondig en baas van jou eie lewe. Maar as jou rondlopery ’n slegte invloed op die plaaslike jongdames het, sal ek jou met die eerste geleentheid Johannesburg toe terugstuur. Daarvan wou hy egter ook nie hoor nie en het toe vriendelik voorgestel dat ons hierdie saak later breedvoerig bespreek – so asof dit ’n einde aan jou rondlopery sal maak …
“In elk geval, ek dink nog die beste sal wees as jy saam met André teruggaan. Jou rondlopery en die Duque se voortdurende gemor hinder my ontsettend in my werk. En dit gaan ek nie langer duld nie. Nee, dan moet jy liewer saam met André gaan en by hom op die plaas kuier tot tyd en wyl my taak hier afgehandel is … O, ja, byna vergeet ek. Die Duque het gevra of jy weer vanaand die orrel sal bespeel. Ek het toe namens jou ingestem. Dus, onthou asseblief om ’n paar musiekboeke saam te neem.”
“Ek het nou sommer baie lus en woon glad nie eens sy dinee by nie,” verklaar Ronelle, nou self effens liggeraak, want dit wil vir haar sterk voorkom asof hierdie adellike Duque nie weet wat hy wil hê nie. Haar rondlopery is vir hom ’n doring in die vlees, en tog wil hy ook nie daarvan hoor dat sy Braca nou al verlaat nie.
Maar dan hoor sy haar vader byna radeloos sê: “Kyk, jy en Diago het my genoeg versondig vir een dag, Ronelle. Gaan trek jou asseblief nou dadelik aan vir die dinee en sorg dat jy halfagt gereed is om te gaan.”
Sonder ’n enkele woord verder gehoorsaam Ronelle haar vader. Sy kan merk dat sy senuwees behoorlik uitgerafel is en sy wil hom liewer nie meer kommer op die hals haal nie. Maar innerlik voel sy lus om Diago te verongeluk, want dit is deur sy inmenging dat haar vader in so ’n slegte bui is.
Twintig minute voor agt daardie aand hou die Dekkers se motor voor die kasteel stil en vader en dogter klim uit. Albei is deftig uitgevat vir die dinee – die professor in sy onberispelike aandpak, en Ronelle in ’n pragtige silwerkleurige dineetabberd van lamé, ’n mantilla, skoentjies en aandsakkie van dieselfde kleur as haar tabberd. Om haar hals dra sy ’n ragfyn silwersnoer met ’n enkele diamantrosie daaraan, en aan haar oorbelletjies skitter twee fyn diamantoorkrabbetjies.
Diago ontmoet hulle persoonlik by die deur. Hy groet die twee vriendelik en kyk dan vas in Ronelle se ongelukkige oë, waarin hartseer nou weer naak lê. Dog die volgende oomblik draai sy haar gesig weg en is hy slegs bewus van die hartseer trekkie om haar mond.
Daar is ’n opvallende teerheid in sy stem toe hy aanbied om die musiekboeke vir haar te dra – ’n teerheid wat professor Dekker verbaas na hom laat kyk. Maar hy ignoreer die ouer man se verbaasde blik, neem die musiekboeke by Ronelle en bied haar sy arm aan.
“Ek merk jy is deesdae weer knaend uithuisig, pequena,” voeg hy haar bedaard toe onderwyl hulle in die rigting van die groot sala beweeg.
Dog laasgenoemde kyk hom nie eens aan nie toe sy onverskillig sê: “Dis jy wat so ontydig bel, Diago. En afgesien daarvan: Ek is nie oud of getroud nie, dus is daar niks wat my aan bande lê nie. Ek kom en gaan soos ek wil.”
Hierdie onverskillige woorde van Ronelle maak die jong edelman diep seer. Maar hy laat daar niks van blyk nie en sê slegs bedaard: “Jy behoort iemand in die huis te hê wat jou bedags geselskap kan hou.”
Toe tree hulle die sitkamer binne, en Diago stel hulle voor aan sy tante en niggie – doma Elena en Julietta Montes. Die ou dame kan slegs ’n paar Engelse woorde besig, maar Julietta is nogal taamlik op die hoogte met die taal.
Professor Dekker en Ronelle antwoord paslik op die bekendstelling, groet die res van die gaste en neem dan op een van die klein bankies plaas.
“Wel, ek moet sê, Diago het beslis ’n oog vir skoonheid,” voeg Ronelle haar vader sag in Afrikaans toe. “Sy niggie is stellig die mooiste Portugese meisie hier op Braca. Maar as hy nie gou met haar trou nie, gaan Armando hom sowaar by die nooi droogsit. Kyk hoe gooi hy sy flikkers vir haar, Pappie.”
“Ek dink Diago maak ’n gek van homself,” antwoord haar vader ewe bedaard. “Sy is gans te jonk vir hom. Ek glo sy is nie ’n dag ouer as agttien nie, en hy is alreeds drie-en-dertig.”
“Dis waar, sy lyk baie jonk,” moet Ronelle toegee. “Maar dit maak vir haar blykbaar nie saak dat hy soveel ouer as sy is nie …”
Die diensmeisie wat ’n skinkbord met skemerkelkies na hulle uithou, maak ’n einde aan vader en dogter se gesprek.
Die volgende oomblik sluit Diago by hulle aan en neem langs Ronelle plaas. “Wat het jy toe alles tydens my afwesigheid aangevang, pequena?” vra hy belangstellend en blik haar ondersoekend aan. “Tia Maria kla dat jy haar sedert Sondag nog nie een keer besoek het nie en almal wil van my weet waarom jy hulle deesdae nie meer besoek nie.”
Ronelle haal haar skouertjies ongeërg op en antwoord ietwat onverskillig, sonder om hom direk aan te kyk: “O, ek sal hulle nog die een of ander tyd besoek. Ek is maar net nie die soort wat knaend op ander mense se drumpels boer nie.”
Diago kyk haar etlike tellings stil aan. Toe draai hy hom na haar vader en knoop ’n gesprek met die oubaas aan. Hy kan nie begryp wat oor Ronelle se lewer geloop het nie. Hierdie onverskillige houding van haar slaan hom totaal dronk. As hy nie daarvan oortuig was dat sy hom ook bemin nie, sou hy oortuig gewees het dat sy geselskap haar vanaand uiters verveel. Maar daardie middag in die swembad het hy onverbloemde liefde in haar oë gelees. Ook haar spontane oorgawe aan sy omhelsing was nie geveins nie … Nee, iets is beslis nie pluis nie, en tog kan hy nie ’n vinger daarop lê nie. Maar hy is in elk geval vasbeslote om nog uit te vind wat aangaan met hierdie nooientjie wat hom eensklaps so onverskillig en aggressief gesind is!
Na