Wierook van verlange. Annelize Morgan
felste vyande, maar sjeik Dawud staan nooit vir hom terug nie. Hy heers oor die Oseaan van Vuur, die gevreesde Rub’ al Khali. Dit is sy tuiste en soms dink ek dat hy en daardie onverbiddelike woestyn een siel deel.”
Die woorde waarmee Margot probeer om haar af te skrik, dien net om Liliane se nuuskierigheid te prikkel. Die man het ’n diep indruk op haar gemaak, een wat haar gedurig sal bybly.
’n Week later kry sy die geleentheid om monsieur Laurent direk oor haar posisie hier te konfronteer. Margot het haar gevra om ’n skinkbord met gharwa vir hom te neem.
Volgens gebruik skink sy ’n koppie van die sterk koffie vir hom in en sit dit saam met ’n bakkie stroopsoet dadels voor hom neer. Sy kom orent en kyk na hom toe hy die koppie optel.
“Is daar nog iets?” wil hy effens geïrriteerd weet.
“Het u my as slavin gekoop, monsieur?”
Hy lyk ongemaklik. “Ek het jul opsigter betaal omdat sy sonder julle sou moes klaarkom, dis al.” Hy kyk haar egter nie in die oë nie.
Sy gluur hom aan, want sy kom agter hy jok. “Jy het my en Ignez soos stukke vee gekoop, maar niemand gaan teen my sin van my ’n slaaf maak nie!”
Hy haal sy skouers ongeërg op. “Jy kan dit nie meer verander nie.”
Die kilheid waarmee hy dit sê, is vir haar skokkend.
“Jy sal nog maai wat jy saai,” sê sy bewend voor sy omdraai en driftig by die vertrek uit stap. Hy is ’n slawehandelaar, besef sy ontsteld, en hy besit my en Ignez nou.
Ignez kyk op toe Liliane na aan trane by die vertrek in storm. Dit neem haar ’n oomblik om tot verhaal te kom.
“Monsieur Laurent het erken dat ons slawe is.”
Ignez staar haar met wydgerekte oë aan. “Is jy seker?” vra sy.
“Ja.” Liliane gaan by haar sit. Hoe gaan sy haar pa ooit opspoor as sy ’n slavin is? “Ek weet nie wat ons gaan maak nie.”
Dit voel vir haar asof die einde van haar lewe aangebreek het. Sy het alles op die spel geplaas net om na haar pa te kom soek en nou gaan die lewe vir haar net hier in slawerny eindig.
Later die aand sit sy met die hangertjie in haar hand en verwonder haar weer oor hoe mooi dit is. Sy vee die trane wat oor haar wange loop met haar mou af. Dit sal seker ook eendag van haar weggeneem word, dink sy wanhopig, en dan het sy haar lewe gewaag vir niks.
Noudat sy weet dat sy tot die vlak van slaaf gedaal het, besef sy ook hoe ver sjeik Dawud bin Nazim van haar sfeer verwyder is. Mense in haar posisie moet voor hom buig en mag nie eens aan hom raak nie.
In hierdie land het sy onwetend ’n uitgeworpene geword.
2
’n Week later word monsieur Laurent deur prins Fazir, die sultan se broer, besoek en hoor sy hulle iets oor slawe sê toe sy inkom om vir hulle koffie en dadels te bring.
Sy spits haar ore, maar hulle swyg terwyl sy by hulle is. Sy sien egter hoe die prins haar met ’n grynslag bekyk, en dit laat haar ril. Sy maak so gou moontlik klaar sodat sy weer kan uitgaan.
“Dit is die een,” hoor sy Laurent op pad uit sê, en sy word yskoud van vrees. Is hy nou besig om haar aan prins Fazir te verkoop? Margot het haar al vertel dat hy ’n wreedaard is. Hy is die een wat sjeik Dawud se vrou betrap en daarop aangedring het dat sy gestenig word, en die slawe in sy diens kry glo oor die geringste dingetjie slae.
Later die aand hoor sy juis hoe prins Fazir ’n man in sy diens verskree: “Waar is dit? Hoe kon jy dit net verloor het?”
Sy loer om die deur na waar prins Fazir die kneg in die binnehof aan die arm beet het. Dit lyk soos die man wat die prins se perde vroeër versorg het. “Het jy enige idee hoe waardevol daardie dokument is?” gil Fazir op die man.
“Ek is jammer, u hoogheid, ek weet regtig nie wat daarvan geword het nie.”
“Ek soek nie jou verskonings nie!” Prins Fazir trek los en slaan hom met sy vuis in die gesig.
Die man steier terug. “Asseblief …”
Maar die prins luister nie na sy pleidooie nie. Hy slaan die stalkneg weer in sy maag en sy sodat hy dubbel vou van pyn.
Liliane druk haar hand voor haar mond om nie hardop te gil nie. As sy net iets kon doen om die man te help! Maar sy kan net magteloos toekyk.
Prins Fazir hou nie op om die man te slaan nie, en sy slagoffer probeer nie eens om homself te verdedig nie. Toe die arme man op sy knieë sak, skop Prins Fazir hom nog een keer en loop dan weg.
Liliane hardloop na waar die man nou uitgeput in die sand bly lê het. “Kom, laat ek vir jou hulp kry.” Sy help hom orent en laat hom op haar skouer leun.
Dan vat sy hom na Margot toe om na sy wonde om te sien.
“Dankie, saïda,” prewel hy.
Die man word so goed as moontlik gedokter en dan teruggestuur na die stalle waar hy na prins Fazir se perde moet omsien.
Uiteindelik kry Liliane tyd om aandete te geniet. Net toe klief helder, hoë, paniekbevange gille deur die lug. Daar kom nog ’n geskreeu en ’n gebulder, en deur alles heen hoor hulle vroue huil en kinders wat histeries is.
Hulle kyk verskrik na mekaar.
Die volgende oomblik word die gordyn voor die deuropening weggeruk en kom Margot met wydgerekte oë in. “Maak gou! Maak gou! Ons moet gaan. Kry als bymekaar wat jy wil saamneem. Ek het geweet hierdie dag gaan kom.” Sy draai om en hardloop na Ignez terwyl Liliane nog probeer om tot verhaal te kom.
Meer en meer geluide uit die res van die huis bereik haar ore. Dit is egter die skril, histeriese gil van klein Lilli, Laurent se dogtertjie, wat haar laat opspring. Sy begin haar bondeltjie besittings naarstiglik bymekaar kry.
Buite in die gang loop sy haar in die ander vas. Margot gryp haar hand en hardloop vooruit met die trap af na die agterste deel van die huis, weg van waar hulle die gegil en geskreeu hoor. Terwyl hulle hardloop, hoor hulle voetstappe in hul rigting kom, al in die gang af na die bediendekwartiere.
“Die kinders …” hyg Liliane terwyl sy probeer byhou.
“Dis te laat … ons sal hulle nie meer kan bereik sonder om gevang te word nie.”
Margot kyk nie eens om nie, maar bly hardloop.
Hulle gaan deur ’n nou deuropening en al met ’n smal klipgang af. Aan die regterkant is daar vensteropeninge waardeur die maan skyn, die enigste lig op hul pad. Die gang voor hulle eindig in stikduisternis. Daar ontdek hulle ’n trap en moet hulle voel-voel afgaan omdat ’n fakkel buite die kwessie is.
Onverwags bereik hulle die einde van die gang en die trappe, en loop hulle hul teen ’n muur vas.
“Links!” fluister Margot en neem weer die leiding al verder en verder weg van die lawaai.
Na wat soos ’n ewigheid voel, is daar weer ’n stel trappe en kan hulle die koel aandwind van iewers voel inwaai. Voordat hulle in die maanlig uit hardloop, hou Margot haar hand op as teken dat hulle moet wag. Sy bespied die omgewing, maar die grootste bedrywigheid is in die huis self. Hulle kan hoor hoe die aanvallers vir mekaar skree soos wat hulle stelselmatig deur die huis gaan. Iewers is daar ’n brand, want die gloed slaan anderkant die huis op en verlig die omgewing met flikkerende lig. Die skerp reuk van materiaal wat brand, bereik hulle neuse.
“Wat gaan aan?” wil Liliane dringend weet.
“Ons sal later praat! Dit is sjeik Jamal al Din wat genoeg gehad het van monsieur Laurent se leuens en bedrog.”
“En prins Fazir?”
“Hy is nog hier, maar ek weet nie aan wie se kant hy is nie.” Margot beduie na ’n geboutjie van sandsteen. “Ons gaan daar oorkant in daardie geboutjie skuil tot sjeik Jamal al Din se mense weg is en dan kan ons wegkom. Ek het hierdie ding