Wierook van verlange. Annelize Morgan

Wierook van verlange - Annelize Morgan


Скачать книгу
sit hulle swyend by die opening wat as venster dien en kyk uit in die nag. Liliane weet monsieur Laurent is dood, maar sy weet nie wat van madame en die twee kinders geword het nie. En sy het geen benul waar Margot haar op hierdie oomblik bevind nie.

      Die uitgebrande stapel lê nog daar voor die huis, terwyl sjeik Jamal al Din se handlangers oral is.

      Al sou hulle kon ontsnap, waarheen sal hulle tog gaan? Hulle weet nie eens hoe ver dit na die naaste hawe is nie en dit is waar hulle sal moet uitkom.

      Liliane voel-voel tussen haar klere na die hangertjie. Sy vat die voorwerp raak wat in ’n doek toegedraai is, maar haal dit nie uit nie. Sy sal ’n manier moet vind om dit by sjeik Dawud uit te kry, maar hoe gaan sy dit doen?

      Twee ure later word hulle gehaal. Hulle word toegelaat om hulle goed in die huis te gaan haal, maar skaars tyd gegun om alles bymekaar te kry voordat hulle uitgeneem word na waar die kamele reeds wag.

      Die helder maanlig verleen aan alles ’n vreemde gevoel van onwerklikheid. Die sandsteengeboue lyk bleker as gewoonlik teen die donker bosse en bome, terwyl die duine meer verlate as vantevore lyk. Oral brand daar lampe en is daar bedrywigheid.

      Sjeik Jamal al Din is nog besig om die laaste bevele te gee voor hulle vertrek. Eindelik draai hy om en klim op sy kameel.

      Net voor húlle op die kamele moet klim, vra Liliane vir een van die rasjids wat van madame Laurent en die twee kinders geword het. Die man aarsel eers, maar sê dan: “Hulle is terug na hul huis anderkant die water.”

      Liliane snak na haar asem.

      Kon hulle nie maar vir haar, Ignez en Margot ook teruggestuur het Frankryk toe nie? Dit bevestig net weer vir haar dat hulle niks meer as slawe is nie. Sy en die ander twee is sommer net so in Arabië gelos asof hulle niks meer as ’n sak dadels is nie.

      Ignez het gehoor wat die man sê en kyk met verskrikte, wydgerekte oë na haar terwyl die besef dat hulle in die steek gelaat is, stadig insink.

      Nog nooit tevore het Liliane, wat dikwels al verlate gevoel het, so verlore gevoel soos nou nie.

      Vyf dae lank reis hulle snags en slaap hulle in die hitte van die dag. In hierdie tyd kry Liliane die geleentheid om die papierrol uit te haal en daarna te kyk. Sy kan Arabies nie lees nie en skielik het dit lewensbelangrik geword, besef sy. Sy draai dit weer in die doek toe en bind die koord vas. Sy sal dit saam met haar hangertjie veilig hou tot sy ’n manier kan vind om dit by sjeik Dawud bin Nazim te kry. Die man wat dit vir haar in soveel angs gegee het, het met sy lewe betaal. Sy het immers gehoor toe dit gebeur het en sal dit nooit in haar lewe vergeet nie.

      Sy is natuurlik ook nie heeltemal onwillig om aan die versoek te voldoen nie, want dié klein papierrol sal haar na die een persoon neem wat sy nie uit haar gedagtes kan ban nie. Sy is halfbang en halfopgewonde daaroor dat die voorsienigheid die rol in haar hande geplaas het en haar na ’n herontmoeting met sjeik Dawud bin Nazim stuur.

      Eindelik bereik hulle Ghazi na ’n vermoeiende reis en sonder enige voorval. Die sjeik se huis lê aan die buitewyke van die oase, weg van die bedrywigheid, maar Liliane sien dit skaars raak. Daar is te veel dinge wat swaar op haar gemoed druk.

      Liliane en Ignez word in sjeik Jamal se harem geplaas met sy vroue en dogters en slavinne. Hulle kry kos en klere en slaapplek, maar dit voel steeds asof hulle teen hul sin aangehou word.

      Niemand vertel hulle wat aan die gang is of wat hulle lot gaan wees nie.

      Sjeik Jamal se hoofvrou, Reema, glimlag heel vriendelik, hoewel sy haar afstand hou en nie met hulle verkeer nie.

      Hier is niemand wat sy genoegsaam kan vertrou sodat sy die hangertjie dalk kan wys nie, besef Liliane. Die boodskappie is in Arabies agterop gegraveer, maar sy weet nie waarom haar pa dit in daardie taal gegraveer het nie. Miskien is daar iets aan die hangertjie wat iemand sal laat onthou …

      Maar wie kan sy vertrou?

      Een aand verskyn Asmara, die vrou in haar veertigs wat die harem bestuur, in die deur by Liliane en Ignez. Sy hou klere na hulle uit: “Trek aan!” sê sy kortaf. “Julle moet voor sjeik Jamal en sy vriende verskyn.”

      Hulle vat die klere van dun sy by haar, en Liliane besef dat hier moeilikheid kom. Die rokke is ontwerp om hul lywe ten beste te vertoon. Sy kyk angstig na Ignez wat verskrik terugstaar. Waarom moet hulle voor die mans verskyn? Wat wil hulle met haar en Ignez doen?

      “Toe, toe!” Asmara, in ryklik geborduurde klere, staan met haar hand op haar heup en gluur hulle aan.

      Terwyl hulle begin verklee, deel sy hulle mee: “Daar is vir elkeen van julle ’n Arabiese naam gekies. Jul Franse name mag nie meer gebruik word nie.”

      Liliane sien net al meer gevaarliggies en geen oplossing nie. “Wat is myne?”

      “Farhah … dit beteken ‘blink’ of ‘glansryk’.” Sy kyk na Ignez. “Jou naam is Houri, dit beteken ‘maagd van die paradys’.”

      “Ek wil my eie naam behou,” skop Ignez teë.

      “Jy kan nie. Julle sal vanaand aan die mans voorgestel word. Prins Fazir kuier by sjeik Jamal en het spesifiek gevra om julle te sien.”

      Liliane ril. Sy onthou hoe prins Fazir by monsieur Laurent se huis na haar gestaar het.

      Asmara maak die laaste koordjie agter vas en staan terug. “Moenie vir die mans wys dat julle ontsteld is nie. Hulle haat dit.” Sy glimlag effens simpatiek. “Probeer in sjeik Jamal se goeie boekies kom, dan sal julle ’n goeie lewe hier hê. Hy is baie streng, maar nie onredelik nie.”

      Liliane se maag trek op ’n knop, en haar hart bons van angs. Sy kan haar voorstel wat die mans vir haar en Ignez beplan. Haar hande bewe.

      Eindelik is hulle albei gereed, maar net voordat hulle na die vertrek geneem word waar die mans is, kom ’n jong meisie binne, uitgevat in ragfyn, geborduurde, diep pers sy. Liliane het haar al vantevore in die harem opgemerk en herken haar as sjeik Jamal en Reema se dogter, Sakira. Die tooisel om haar nek is duidelik nie van geslypte glas nie, maar van glinsterende edelgesteentes. Om haar pols dra sy ’n breë, goue armband met filigraanwerk.

      Sy is nie ’n buitengewone skoonheid nie, maar die duur en waardevolle versiersels boesem ontsag in. Om haar hang die geur van jasmyn. Sy is nog bloedjonk, maar baie selfversekerd.

      Liliane staan doodstil en probeer Sakira ignoreer wat stadig om en om hulle loop asof die twee meisies perde is wat te koop aangebied word.

      “Die Nasrani-vroue is nie eintlik mooi nie,” sê sy. “En hulle is te maer.”

      So ver die meisie loop, buig slavinne tot op die klipvloer voor haar. Sakira stoot die een slavin ongeduldig met haar voet uit die pad toe dié gedeeltelik tussen haar en Liliane en Ignez kom.

      Sakira is korter as Liliane en hou opvallend nie daarvan om na haar te moet opkyk nie. “Hierdie een kyk my in die oë en kniel nie.”

      Asmara kom gou nader en stamp Liliane in die waai van haar bene sodat sy met ’n slag op haar knieë te lande kom. Sonder om te aarsel, staan sy weer op en kyk na die ander meisie wat haar woedend aangluur.

      “Versigtig,” sê Asmara, “hulle word vanaand voorgestel.”

      “Ek sal môre met haar afreken,” sis Sakira dan, draai om en stap vinnig uit.

      Die ouer vrou kyk kopskuddend na Liliane.

      “Jy maak dinge vir jouself baie moeilik. Jy is nou Farhah, jy is nie meer Frans nie.”

      “Ek is nie ’n Arabier nie en ek is nie haar gemors nie.”

      “Jy is in ’n vreemde land tussen vreemdelinge. As jy jou kaarte reg speel, kan dit goed met jou gaan. Aanvaar jou naam, aanvaar jou nuwe land en miskien koop een van die goeie sjeiks jou en dan kan jy vir die res van jou lewe goed leef.”

      Liliane kyk na haar. “Ek het na my vader kom soek, ek het nie hierheen gekom om iemand se slaaf te wees nie.”

      Asmara aarsel en kyk nuuskierig na haar.


Скачать книгу