Ena Murray Keur 14. Ena Murray

Ena Murray Keur 14 - Ena Murray


Скачать книгу
jy het. Jy het nie eens die ordentlikheid om my te groet nie. Jy is en sal altyd net Katrien Huisamen bly.”

      “Tante, asseblief!” Rudolf kan sy eie ore nie glo nie. Weliswaar is hy maar alte bewus van die feit dat hierdie twee geen ooghare vir mekaar het nie, maar hulle was darem nog nooit so openlik onbeskof in sy teenwoordigheid nie. Tant Kitty is ’n baie reguit mens, maar tog ook fyn beskaaf en dis heeltemal buite haar aard om so op te tree.

      Maar tant Kitty is op hierdie oomblik ’n baie desperate mens. Hierdie rooikat het net vanaand hierheen gekom om moeilikheid te maak, en niks anders nie. Daarvan is sy seker. Hoe gouer sy haar kwaad en hier uit kan kry, hoe beter.

      “Maar dit is mos so! Sy is net so min Catherine Huysamen as wat ek Catherine Wêndermirwie is. Sy is Katrien Huis-Amen en klaar. En natuurlik kom daardie rooi hare uit ’n bottel. Heiden, mens, jy kan dit op ’n afstand sien!”

      “Tante! Dis genoeg!” Rudolf is onthuts. Besef sy dan nie dat sy nou die duiwel behoorlik loslaat nie? Om Catherine nog verder die harnas in te jaag, sal dinge net vererger, nie verbeter nie.

      Madie se geamuseerde laggie klink meteens helder op. Teen wil en dank kan sy dit nie keer nie. Hulle lyk so kostelik, al drie van hulle. Die rooikop spring uit haar stoel op, haar oë ’n oomblik staalhard op die laggende Madie, toe draai hulle venynig na Rudolf.

      “Ek wou jou eintlik oor iets kom spreek het, maar ek sal liewer loop. Wat ek te prate het, kan ek maar by die naaste polisiekantoor ook sê. Goeienag.” Die voordeur klap.

      Madie se lag breek af. Kitty en Rudolf verstar tot standbeelde en toe spring hy weg en die voordeur klap ’n tweede keer hard toe. Madie kyk met donker oë na tant Kitty wat nog ’n oomblik versteen staan en toe snikkend in ’n stoel neersak. Sy stap vinnig na haar en slaan haar arm om die rukkende skouers.

      “Toe maar, tante. Dis nie nodig om ontsteld te wees nie. Kom nou, vee af die trane. Daar is niks om oor te huil nie.”

      Sy probeer opgewek klink, maar binne-in haar lê haar hart soos ’n stuk lood. Sy weet daar is groot probleme êrens in die verlede, maar dat dit met die polisie te doen het, het sy nie gedink nie. Wat kan hierdie rooikat aan die polisie vertel wat Rudolf en tant Kitty so hewig ontstel het? Sy vra egter nie. Tant Kitty is nou te ontsteld.

      “Toe nou, tante. Ag nee! U het haar dan so lekker gesê.”

      Onwillekeurig borrel daar weer ’n laggie na bo, en tant Kitty kyk met ’n bewerige, tranerige glimlaggie op.

      “Ek is jammer, Madie-kind. Ek het my vreeslik sleg gedra. Die gode weet wat jy en Rudolf van my moet dink, maar daardie vroumens …” Sy aarsel en sê toe reguit: “Sy wil moeilikheid maak tussen jou en Rudolf. Ek kon dit op ’n afstand sien. Jy moet dit nie toelaat nie, Madie. Jy moet my belowe. Jy mag Rudolf nie in haar kloue laat beland nie.”

      Madie frons liggies en glimlag toe gerusstellend. “Natuurlik sal ek dit nie toelaat nie, tante. Rudolf is my man en dit sal hy bly … al moet ek elke rooikat in hierdie land beveg. Wat myne is, is myne. Ek belowe tante,” antwoord sy met stille vasberadenheid.

      Sy bedoel elke woord wat sy sê. Wat ook al gebeur, sy sal Rudolf nie aan hierdie vrou afstaan nie.

      Buite in die straat haal Rudolf gou vir Catherine in en gryp haar aan die arm. “Waar gaan jy heen?”

      “Na die naaste telefoonhokkie om ’n taxi te ontbied.”

      Hy sug en versterk sy greep. “Kom, ek sal jou terugneem.”

      Sy draai gewillig om en stap saam met hom terug na sy motorhuis, ’n tevrede glimlag op haar lippe. Sy het gedink hy sal gou ’n ander deuntjie sing!

      7

      Hulle ry in stilte tot by Catherine se woonstel in die middestad. Eers toe hulle regoor mekaar plaasneem in haar weelderige sitkamer merk sy op: “Jy is in ’n gemors, is jy nie, my skat?”

      Hy kyk op, sy oë waaksaam. “Wat bedoel jy?”

      Haar laggie is kortaf. Sy druk die sigaret ongeduldig dood en sê reguit: “Ek praat van daardie klein moordenares wat jy daar in jou woonstel wegsteek. Hoe lank dink jy gaan jy daarmee wegkom?”

      “Dis ’n leuen, Catherine!”

      “Is dit?” Sy tel ’n koerant langs haar op en gooi dit voor hom op die tafeltjie neer. “Daar! Ek het haar onmiddellik herken. Daar bestaan geen twyfel dat jou danige vrou dieselfde Magdaleen Kirschner is na wie die polisie so naarstig soek nie – of wil jy stry?”

      Hy kyk na die foto wat voor sy oë ronddans, en dan weer op. Sy het hom vas, en hulle weet dit albei. Sy verstand werk blitssnel. Catherine is ’n baie gevaarlike vyand, maar as hy die vyand na sy kant kan oorhaal …

      “Nou goed. Wat help dit ons stry? Hoekom het jy vanaand na my woonstel gekom?”

      Sy lê tevrede terug. “Om heeltemal seker te maak dat my vermoedens juis is. Ek was weg en ontsettend besig. Ek het nie tyd gehad om die afgelope twee weke koerant te lees nie. Ek het eers vanmiddag, toe ek ’n kansie kry, die afgelope tyd se klompie koerante vlugtig deurgekyk en toe daarop afgekom.” Sy lag bitter. “Aarde, Rudolf, jy kon my met ’n veer omslaan! Eers kon ek my eie oë en gedagtes nie glo nie. Ek kon net nie begryp dat jý van alle mense in so iets kon beland nie.” Haar mond trek lelik. “Maar ek moes natuurlik geweet het. Daardie sagte hart van jou wat vir ’n ieder en elk oopstaan …”

      “Toe nou maar. Los my uit. Ek is nie van belang nie.”

      “Nie van belang nie! Is jy besete, Rudolf van der Merwe? Weet jy dan nie watter ontsaglike skade hierdie ding vir jou persoonlik kan meebring as dit op die lappe kom dat jy, ’n respektabele dokter in hierdie stad, die hele tyd ’n moordenares in jou woonstel weggesteek het nie?”

      “Catherine, ek wil jou asseblief vra om op te hou om na Madie te verwys as ’n moordenares. Sy het dit nie gedoen nie.”

      “Ja, dis natuurlik wat sy jou inprent.”

      “Sy het niks ingeprent nie. Dis die tragedie van die hele saak. Sy weet niks van hierdie ding af nie.”

      “So?” Haar stem is so skepties dat Rudolf lus voel om op te staan en uit te loop. Maar hy weet hy durf nie.

      “Ja. Sy ly aan geheueverlies.”

      “Werklik? Hoe gerieflik.”

      “Catherine, asseblief! As jy my net sal kans gee om te verduidelik. Ek wou daardie oggend toe jy vroeg daar aangekom en Madie in my bed aangetref het, ook verduidelik, maar jy wou nie luister nie. Sal jy asseblief nou na my luister, enduit luister?”

      Catherine se oë vernou peinsend. Sy moet erken dat sy daardie oggend so kwaad was dat sy na geen verduideliking wou luister nie. Miskien was dit ’n fout. Miskien moes sy hom ’n kans gegee het om te verduidelik.

      “Goed, ek luister, maar moenie verwag dat ek alles sal glo nie. Ek is nie ’n gek nie, Rudolf.”

      “Ja, dit weet ek, en juis daarom verwag ek dat jy my storie sal glo, want dis die waarheid.”

      Hy begin haar van die begin af vertel, van daardie eerste oomblik dat hy die meisie in die matrone se kantoor gesien het toe sy so desperaat om werk kom vra het. Catherine sit roerloos en luister, en hoewel dit ’n byna ongelooflike storie is, is Rudolf so ernstig, sy oë so eerlik reguit op haar gerig, dat sy nie anders kan as om hom te glo nie.

      Maar sy is geensins ingenome toe hy eindelik stilbly nie. “Ek aanvaar dat wat jy my vertel die waarheid is, maar dat jy so ’n volslae idioot kon wees om so iets te waag, Rudolf …”

      “Ja, ja, Catherine, dit besef ek, maar daar is nog iets wat ek besef, en dis dat Madie nie skuldig is nie en dat iemand haar moet beskerm, veral terwyl sy nie weet wat gebeur het nie. Sodra sy haar geheue terugwen en kan vertel wat presies daardie dag gebeur het, sal ek ’n einde aan hierdie klug maak en reguit na die polisie gaan, maar nie voor dan nie.”

      “Hoekom is jy


Скачать книгу