Ena Murray Keur 14. Ena Murray

Ena Murray Keur 14 - Ena Murray


Скачать книгу
vir die toekoms toe, en as hulle dit by mekaar kan vind, des te beter. Maar die moontlikheid dat dit ooit sal gebeur, is baie skraal. Hierdie twee kinders stuur af op ’n afgrond en daar is niks wat sy kan doen om dit te keer nie, behalwe deur Madie te vernietig. Maar deur Madie te beskerm, gaan Rudolf miskien vernietig word en op die ou end … miskien hulle albei.

      In die dae wat volg, gaan dit heelwat kalmer as gewoonlik. Madie is skynbaar nou meer tevrede om voorlopig ’n platoniese verhouding met Rudolf te hê, wetende dat sodra sy weer heeltemal sterk en gesond is, alles tussen hulle sal regkom.

      Daardie een hartstogtelike omhelsing het haar vrese tot ruste gebring. Sy weet nou dat haar man nie onverskillig teenoor haar staan nie, en dat hierdie tydjie van onthouding en terughouding vir hom net so swaar is soos vir haar. Sy besef ook dat sy hom ter wille van hulle albei nie in die verleentheid moet stel nie, en dit is daarom dat sy, tot Rudolf se groot verligting, ’n broer-suster-verhouding tussen hulle handhaaf.

      Tant Kitty bly egter bewus van die onderstroom van spanning. Daar sal binnekort ’n verandering moet intree, of daar gaan nuwe uitbarstings kom, feller as tevore …

      Madie doen alles in haar vermoë om haar volle gesondheid terug te win. Eintlik ís sy al gesond, behalwe vir die bietjie gewig wat sy nog moet aansit.

      Daar is nog ’n probleem wat kop uitsteek en wat Rudolf en tant Kitty moeilik weet hoe om te hanteer. Tot dusver was Madie nog te swak om haar te veel te steur aan die feit dat sy dag in en dag uit in die woonstel gekluister is. Maar namate die dae verbygaan en sy al fikser en gesonder word, wil sy na buite gaan en kos dit hulle al hul takt om haar binne te hou. Hoewel die koerante nou doodstil is oor die aangeleentheid, is dit nog te gou om te waag dat sy helder oordag op straat gesien word. Iemand met ’n lang geheue kan haar net toevallig herken.

      Madie kom gewis agter dat sy amper soos ’n gevangene in die woonstel gehou word. Maar sy het ook al slimmer geword en laat nie blyk dat sy dit vreemd vind nie. Sy weet teen hierdie tyd dit sal nie help om hulle hieroor te konfronteer nie.

      Hulle sal wel die een of ander flou verskoning aanvoer wat vir haar heeltemal onaanvaarbaar sal wees, maar waarby sy haar sal moet neerlê om die vrede te bewaar. En vrede moet tot elke prys bewaar word, het sy besluit. Sy wil niks doen wat ’n verdere verwydering tussen haar en Rudolf kan bring nie. Daarom ook dat sy nie eise aan haar man stel nie, maar oënskynlik tevrede is met hierdie verspotte vader-dogter-verhouding tussen hulle.

      In hierdie dae dink Madie baie diep en besluit op ’n ander strategie om al die vreemdhede te benader en te oorwin. Opstandigheid en openlike uitdaging bring haar nêrens nie, het sy al uit ondervinding geleer. Dit vervreem haar van haar man. Sy sal hierdie probleem op ’n ander manier moet aanpak.

      Ten eerste weet sy nou dat sy haar man liefhet, nog altyd liefhet, besluit sy. Sy wil hom nie verloor nie. Op die een of ander manier gaan sy hom terugwen, besluit sy. Want dat daar iets met hul huwelik skort, daarvan is sy oortuig. As sy net kan uitvind wat agter haar kuier by tant Kitty en die daaropvolgende ongeluk skuil. Iets vertel haar dat die onbekende Catherine tog iets met die saak te doen het. As sy haar net kan opspoor …

      Maar terwyl sy aan hierdie dinge dink, is daar niks aan haar uiterlike gedrag te bespeur wat Rudolf of tant Kitty sou kon laat vermoed dat Madie nie hul stories as die volle waarheid aanvaar nie. Sy moet hulle gerus maak, besluit sy. Hulle moet glad nie ’n vermoede hê dat sy nog steeds in die verlede probeer delf en na die donker geheim soek wat daarin verskuil lê nie. Sy twyfel nie meer daaraan dat daar wel ’n donker geheim êrens in haar verlede is nie.

      Soms wens sy dat sy daarvan kan vergeet en elke dag met ’n dankbare hart aanvaar.

      Haar spieël vertel haar dat sy reeds ’n bietjie kleur in die wange gekry het, reeds ’n bietjie gewig aangesit het. Sy voel en lyk blakend gesond.

      Eintlik is tant Kitty se hulp oorbodig. En dis heeltemal onnodig dat sy by haar in die kamer slaap.

      Maar Madie swyg. Ten eerste kan sy tant Kitty tog nie reguit sê dat sy in die pad is en maar kan teruggaan huis toe nie. Sy sal haar nooit so seermaak nie, want sy was soos ’n moeder vir haar en sy het hierdie tante uit haar hart uit lief. Dis Rudolf se plig om dit vir haar te sê, maar nie een van hulle is skynbaar van plan om die geringste beweging in daardie rigting te maak nie. Madie besef haar hande is afgekap; sy self kan niks aan die situasie verander nie.

      Sy besef ook solank daar ’n derde persoon in die klein woonstel is, sal dit byna onmoontlik wees om die kloof tussen haar en Rudolf te oorspan. Hulle is baie selde regtig alleen, en selfs dan is hulle nie werklik seker van hul privaatheid nie, want tant Kitty kan elke oomblik by die deur ingestap kom.

      Nie dat dit seker sal saak maak as tant Kitty haar op haar man se skoot of in sy arms betrap nie, maar Rudolf lyk altyd so verleë as daar die geringste intimiteit tussen hulle plaasvind, dat sy ook nie meer probeer om hom aan te raak wanneer sy tante by is nie.

      Hulle het teruggeval in die ou piksoentjie-gewoonte, en sy verduur dit nou maar gelate, hoewel sy soms voel hoe die frustrasie binne-in haar kookpunt bereik en sy dit net met die grootste selfbeheersing beteuel.

      Kom wat wil, sy moet uitvind wat in haar verlede skuil. Sy sien nie langer kans om so voort te gaan nie. Laat dit dan wees dat haar huwelik reeds op die rotse was en dat die pragtige Catherine iets daarmee te doen gehad het, maar eerder die volle, harde waarheid as om in hierdie onnatuurlike omstandighede voort te dobber. Sy sal dit nie veel langer kan verduur nie.

      Madie is die enigste van die drie wat bly is om Catherine een aand onverwags in die voordeur te sien verskyn. ’n Oomblik lank is almal so verslae dat nie een weet wat om te sê of te doen nie.

      Dit is Madie wat vorentoe stap en met ’n beleefde glimlag laat hoor: “Kom gerus binne, Catherine. Ek is Madie.”

      Selfs Catherine lyk ’n oomblik effens dronkgeslaan toe sy die uitgestrekte handjie neem en binnekom. Sy het nie juis vriendelikheid van Rudolf se vrou verwag nie. Sy het vermoed sy sal baie onwelkom wees hier.

      Haar groen oë gaan vlugtig na Rudolf se verslae gesig en sy frons liggies toe sy tant Kitty gewaar. Dan is die ou heks ook hier! Dis jammer.

      “Eintlik het ons al voorheen ontmoet, maar jy was nie daarvan bewus nie. Dit was ’n bietjie vroeg in die oggend,” lag sy en neem plaas, haar oë tergend op Rudolf wat met die beste wil ter wêreld nie aan iets kan dink om te sê nie.

      Wat soek sy hier? Wat wil sy hê? dreun dit deur sy gedagtes.

      Die groen oë rus op hom en straal ’n duidelike uitdaging uit. “Is ek nie welkom nie, Rudolf? Ek wou maar net kom hoor hoe dit gaan.”

      Madie se hart sak in haar skoene toe sy na Rudolf se bleek en ontstelde gesig kyk en haar blik ook na tant Kitty laat dwaal. Selfs hierdie vrou wat gewoonlik ’n antwoord gereed het, lyk asof sy die kluts kwyt is.

      Madie se lippe trek vlugtig grimmig, terwyl sy vriendelik na die onwelkome gas draai: “Maar natuurlik is jy baie welkom, Catherine. Ek is seker Rudolf waardeer dit dat sy ou vriendinne nog aan hom dink.”

      “Ou …” ’n Oomblik lank flits die groen oë. Toe ontspan haar gesig en sy lag. “Is dít wat hy jou vertel het – dat ek ’n ou vriendin is? Wel, ja, ek is seker, nè, Rudolf?”

      Sy tong ruk los van waar dit soos gesmelte koper aan sy verhemelte vasgesit het. “Hoe gaan dit, Catherine?”

      “O, goed. Baie goed, dankie. Ek het maar vanoggend eers tuisgekom. Ek het jou mos gesê ek sal so veertien dae weg wees. Onthou jy nie?”

      Madie se wenkbroue lig en sy gee voor sy sien nie die verleentheid wat oor Rudolf se gesig spoel nie. Vanuit ’n ander oord klink nou ’n stem op: “Naand, Katrien. Ek sien jy hou by die rooi.”

      Die groen oë blits na tant Kitty. “Goeienaand, juffrou Van der Merwe. Ek sien u is nog steeds ’n tipiese oujongnooi.”

      “Mense, asseblief! Moenie weer daarmee begin nie. Kan julle nie ’n minuut in mekaar se geselskap wees sonder om mekaar in die hare te vlieg nie?” keer Rudolf vinnig, ongemaklik, terwyl Madie met groot oë sit en toekyk. Dis baie duidelik dat


Скачать книгу