Louisa du Toit Omnibus 11. Louisa du Toit
se huis, of jou koshuis.”
Die suggestie van hom en haar op die smal bed is genoeg om hom op te hits. Maar hy is nie van plan om hom deur kortstondige plesier dalk lewenslank te bind nie. Hy wil voorts nie ’n skandaal ontketen en onder sy sitvlak uitgeskop word nie. Bowenal is hy nie van plan om sy selfopgelegde missie te verkwansel nie. Hy moet onthou waarom hy na hierdie afgeleë riviergeweste gekom het.
“Of ek kan uitruil,” bied Reinet aan toe sy weer ’n paar oomblikke kry. “Sommer die naweek al nagskof, dan kom jy …”
“Hokaai, Reinet. Ek het nog nie eers vrede gemaak met die gedagte dat jy my so lekker ore aangesit het nie.” Hy kyk op sy horlosie. Dis skuins oor sewe. “Ek sal hier by jou vertoef tot jy nege-uur van diens af gaan. Saam met jou hotel toe stap, my kar kry en ry. Ek is bekommerd of die sweiswerk aan die tenk van gehalte is. Dis ’n rowwe pad uit Driekolk toe, ek ry dit liefs nie te laat in die aand nie.”
Tel hy teenspoed op, sal Dewald wel later vannag op hom afkom en hulp verleen. Maar voorlopig moet hy tuiskom om sy gemoed in orde te kry. Hy het vir Leen gesê hy eet op die dorp. Half spytig dink hy daaraan dat hy die ete-vir-vier om die aandtafel sal misloop. Maar daar sal vir hom smeergoed op tafel gelos word en gesnyde brood, dalk ’n koue aartappel. Hy dink met ’n klein glimlag aan laasgenoemde, sodat Reinet pols: “Dit lyk of jy darem begin bly word dat ek hier is?”
Hoe kan hy vir haar sê dat hy aan koue aartappel gedink het? En aan die feit dat hy reeds woorde soos “tuiskom” in sy kop gebruik? Hy wil nie die opgetoënheid van haar jong meisiegesig afvee nie.
Hoewel bedek met stof, is sy motor ongedeerd toe hy teen die rant afsak en sy draai op die Thirion-werf maak. Die waenhuis met permanent oopstaande sinkswaaideure is leeg, soos afgespreek. Arno se bakkie is soos gewoonlik by die lorrie en trekker onder die kameeldoring ingetrek.
Arno het tot nou toe water gelei; sy swaaiende lantern kom van anderkant die grootvoor aan. Soms kom hy tussenin huis toe om te eet of te melk of te rus of werkies te doen, voor hy die water in ’n ander akker moet gaan sit. Immer ook is die angs vir staanwater of hoogwater daar: die eerste wat die oes kan laat verdroog, die tweede wat dit kan kom meesleur. Hy sien hoe dit besig is om vir Arno, wat nog jonk is, oud te maak.
Wat ’n plek, wat ’n lewe … karig en kaal, tog betowerend; die groengeurige nag, die paddas by die voor, die prikkelreuk van droë lusern, die wit pad in die sterlig.
Dit sal Reinet moeilik kan verstaan, die boeie van hierdie klip- en grondlandskap, afgewissel met die koel lafenis van rivier, grootvoor en leivore. Hy moes ten afskeid belowe om haar hierheen te bring vir rondkyk en kuier. Sy vind Roosville met die wit huise, groen landerye, wingerde en paar behoue waterwiele poskaartmooi, ten spyte van die hitte en minder geriewe as waaraan sy gewoond is. Hy kon nie vir haar sê dat Driekolk ’n afgeskeepte klein nedersetting met nog minder geriewe en meer stof is nie.
Hy glo dat hy nie meer so senuweeagtig en wêreldvreemd voorkom soos daardie eerste traumatiese dag nie. Hy en die Thirions, ma, dogter en seun, kom goed klaar. Selfs Boel het sy argwaan verloor, dalk omdat Nelis ’n eie meisie blyk te hê. Hy lyk onbedreig as hy hier kom, al trek Leen Thirion se mond ontevrede. Iets het gebeur tussen Nida en haar ma, besef Nelis. Waar Nida eers ongeduldig en krities was, is sy nou sagter. En daar het terselfdertyd nuwe diepte in haar en Boel se vriendskap gekom; dis nie mis te kyk nie. Daar is bedoeling in hulle oë en bewegings as hulle naby mekaar kom, sodat Nelis in die pad voel en ’n bietjie jaloers.
Dis net soms in die nagte dat hy nog wakker skrik met daardie ou benouende angs van ’n half onthoude droom. Verder stap hy soggens ná die brekfis van pap, eiers, brood en koffie, teen die klipperige opdraand uit na waar die kinders reeds om die hoeke van die skoolgeboutjie speel. Hulle loer selfs deur die skoolhuisvensters met die te klein, afgeleefde gordyne. Hy los hulle; daar is geen gras of bome waar hulle kan baljaar nie, en min genoeg misterie in hulle lewe.
Buitendien wil hy geen kind kwets of te na kom nie. Hy besef dat hy deesdae te sag met sy dissipline is, en hulle benut dit deeglik. Maar oor die algemeen is die sewentien stuks gehoorsaam en hardwerkend.
In elke kind se oë soek hy Banie se oë, in elke mond Banie s’n. Hy vind dit veral in Fransie Venter, maar weier om hom voor te trek. Met die stoutstes beoefen hy die meeste geduld, omdat hy ’n soort boetedoening daarin vind. Dan wonder hy: Dink ek ooit nog helder? Is my denke aangetas deur die grootste skuldgevoel denkbaar? En moet dit die res van my lewe duur, as ek nog so jonk is?
Met pouses drink hy tee uit die fles, “… en meneer moet maar sê as dit te flou is of as ek liewer nie self die suiker moet ingooi nie.” As die skool uitkom, gaan hy huis toe vir ete. Steeds te voet, want dis te na om te ry en hier is geen skaduwee vir sy kar nie. As hy laat is, wat dikwels gebeur, bêre Leen sy middagkos met ’n omgekeerde bord oor.
Hy rus ’n rukkie in sy buitekamer, waar die kameelboomskadu verhoed dat die namiddagson ’n bres deur die mure brand. Sodra dit afkoel, werk hy by sy tafeltjie, of gaan terug boontoe om in die klaskamer te werk.
Een keer het hy teen sesuur gevra dat Nida ’n entjie saam met hom stap in die rigting van die lande. Daar sou dit koeler wees, en hy het lus gevoel vir haar geselskap. Verder sien hulle mekaar hoogstens soms aan tafel. Haar ma het haar kop so hoopvol opgelig oor die “entjie se stap” saam met hom, dat Nelis gevoel het dis ’n misleidende skuif. Tog het hy die uitgestelde hoop dat Nida lig kan gooi op sy probleme: die rede vir sy koms hierheen, die onverwagte nuwe situasie met Reinet. Maar hulle het oor koeitjies en kalfies gesels. Dit was nogtans aangenaam saam met haar, die beleë kalmte wat van haar uitgaan en hom die eerste dag reeds getref het.
Hy oefen nou egter om sy gedagtes op Reinet toe te spits. As hy daaraan dink dat sy van werkkring verander het, haar ouerhuis tydelik verlaat het, slegs ter wille van hom, dan wonder hy of hy haar ooit genoeg waardeer. Hy moes terloops verneem dat sy haar ouers vet om die oë gesmeer het om weg te kom. Die kans is groot dat hulle vir hom vies is.
Saans gaan die son rooi onder agter die kokerbome in die getande rantjies, waarvan Driekolk suid en wes omring is. Die klein nedersetting lê hier in die vallei soos ’n bebroeide eier, warm en geil. Bedags is die omgewing steeds vaalwit en warm. Na sononder begin die skroeiende dag die aftog blaas en skaduwees vloei mild uit die holtes tussen die klippe.
Hy gaan meer as een keer per week vir Reinet besoek, verkieslik tydens haar skof. Hulle het ’n enkele keer gaan fliek, ’n opelugvertoning deur die skool aangebied. Sy het daarvoor ’n stukkie skof uitgeruil. Hy dra origens sorg dat hulle nie lank alleen is, hetsy in haar werkplek of hotelkamer nie. Sy maak haar vir hom mooi, kom hom altyd in die portaal tegemoet, geurig en kleurvol. Hoewel sy nie Nida se stil boeikrag besit nie, kan hy nie anders as om haar skattig te vind nie. ’n Plesier vir die oog. Die heel eerste keer toe hy haar uitgeneem het, kon hy nie ophou kyk nie; na die kundig getemde krulle, foutlose grimering, die lyfie soos ’n Coke-bottel. Hy het gewonder hoe ’n man haar ooit lekker sal kan soen, met daardie grimering. Maar dit het nie moeilik geblyk te wees nie.
“Naand,” sê sy, en pers haar lippe saam in ’n glimlag wat kuiltjies in haar wange uitdruk. Dis ’n tipe glimlag wat sy beslis voor ’n spieël aangeleer het. Terselfdertyd gewaar hy egter die skynsel van trane in haar oë.
“En nou?” wil hy weet. Hy is nie gewoond daaraan dat sy aangedaan raak nie.
“My ma-hulle het vir my ’n brander geskryf. Ek moet sorg dat ek by die huis kom, en hoe kon ek hulle so bedrieg, en geen man is dit werd nie.”
“Eintlik bedoel hulle geen man is jóú werd nie.” Van wie ek die vernaamste is, moet hy dink.
“Moenie vies wees nie, ek dink hulle hou tog van jou.”
“Hoe bedoel jy, tog? Ek wil nie van gehou wees nie. Dit suggereer die teendeel.”
“Moenie so geleerd praat nie.”
“Moet dan nie met halfgebakte trooswoordjies kom nie.”
Sy begin trane wegpink.
“Jy huil tog nie? Die inbellers sal hoor as jy toeneus is.” Hy haal sy sakdoek uit, gelukkig nog skoon opgevou en gestryk. Leen Thirion sorg self