Marlene en die macho man. Anita du Preez
doen met my wat ek weet jy wil. Woes en wild. Ek sal nie breek nie en jy hoef nie heeltyd so super-hoflik te wees nie! Asseblief tog! Maar haar mond wil nie die woorde sê nie en sy lê grootoog en kyk hoe hy omdraai en wegstap.
By die deur gaan hy staan. Marlene hou haar asem op. Toe roep hy oor sy skouer: “Maar dalk moet ons môreoggend weer gaan brekfis?”
“Dalk,” sê Marlene.
Stupid, stupid, stúpid! kasty sy haarself in haar gedagtes. Hoekom het sy nie verdomp gesê wat sy wou nie? Nee, hoekom het hý nie? Die atmosfeer was so dik soos heuning tussen hulle, maar nee, hulle is albei te flippen stúpid! En nou lê sy hier soos ’n bleddie fool met begeertes wat haar gaan wakker hou wanneer sy rus moet kry.
Ergerlik vat sy die pakkie Zopivanes op die bedkas en sluk een af, gryp na haar iPod, besluit op voëlgeluide eerder as walvisparingsmusiek en druk die oorfone in haar ore. Toe skakel sy haar selfoon op vibreer en prop dit onder haar kopkussing in.
Sy verbeel haar sy hoor eers die dreuning van die Harley toe Tom stadig verby haar kamervenster wegry.
Toe sy wakker word van haar foon wat te kere gaan onder haar kussing, is dit sewe-uur en skemer buite. Sy het agt uur aaneen vas geslaap. Dit is ongewoon baie. Sy grawe die foon onder die kussing uit en skakel terug.
“Ek is bitter jammer, kolonel,” sê kaptein Mulder, “maar ons sit hier met ’n probleem.”
“In die haak. Ek luister,” sê Marlene en woel haarself los uit die beddegoed.
“Dis hierdie studente-oproeriges, kolonel. Hulle is hier met griefskrifte. En hulle eis om net met kolonel te praat. En met die pers. Hulle dreig om goeters aan die brand te steek hier in die straat. Skynbaar is daar joernaliste wat hierdie tyd van die aand bereid is om te kom kyk en hoor wat hulle te sê het.”
“Ek kom dadelik.”
Tom bel net toe sy wil ry.
“Ek kan nie nou praat nie, Tom. Daar’s drama by die werk.”
“Nou?”
“Uh-huh.”
“Pas jouself op, Babe. Laat weet my. Ek moet weer stad toe môre, maar die deel van die seminaar wat ek moet bywoon begin eers elfuur.”
“Sal probeer. Sien jou môreoggend, Tom.”
Daar is die hele nag geen rus of duurte of tyd vir enigiets nie. Sy stuur kaptein Mulder vroegaand huis toe om te gaan slaap en gee eers die volgende oggend na sewe weer die leisels vir kaptein Buzani oor. Dinge is weer redelik onder beheer by die stasie, maar dis na nege toe Marlene die Nissan onder haar prieel langs Tom se Harley intrek.
Toe sy by haar voordeur instap, is alles doodstil. Selfs Naas is nog tjoepstil onder sy doekie. Sy besluit om liewer nie slapende budjies wakker te maak nie. Naas kan nogal raas as hy opstaan en sy wil eers sien waar Tom is. Hy lê nie soos gewoonlik met sy lang lyf op die rusbank nie. Sy stap soetjies gangaf tot in haar slaapkamer.
Tom lê met sy rug na haar, halflyf onder die duvet, net in sy jeans. Hy slaap vas. Siestog. Hy het ook maar ’n paar tawwe dae agter die rug. Seker moed opgegee met die gewagtery en wou net gerieflik wees. Die bank is maar knobbelrig. Sy sit haar goed saggies op die leunstoel neer. Wel, nou hoef sy nie verskoning te maak oor sy laat is nie, besluit sy toe sy haar klere losknoop en van haar lyf afstroop asof sy van iets ontslae wil raak. Sy sluit haar dienspistool in die kluis toe, smyt alles wat vuil is in die wasmandjie, bêre die res op hul plekke en gaan draai die stort wyd oop.
Agterna prop sy haar selfoon in die laaier en skakel die klank aan. Net ingeval. Sy oorweeg vir een oomblik om die stasie te bel, maar besluit daarteen. Hulle sal bel as dit woes gaan. Marlene gaan sit eers ’n rukkie aan haar kant van die bed. Sy’s nie lus vir pajamas nie. Sy’s moeg en wil gemaklik raak. En dis mos nie die eerste maal in haar lewe dat sy saam met Tom Lourens op ’n bed is nie? Dit was elke vakansie toe hul families saam weggegaan het, se ding. Kampbeddens, stapelbeddens, opblaasmatrasse, karavaanbeddens, dikwels selfs agter in haar pa se Jeep op ’n dun sponsmatrassie. Noem maar op.
Dis net … hierdie lyk nou darem so half … anders.
Sy staan eers en wonder. Ag, bôgger dit, besluit sy en klouter agter hom op die bed, sommer net so in haar slaapbroekie en ’n skoon T-hemp. Sy nestel haar styf teen sy warm lyf en druk haar neus in sy nek om sy reuk in te asem. Alles aan hom is so bekend. En tog, noudat hy uiteindelik dalk net hare kan wees, ook nuut. En opwindend.
“Waar was jy so lank?” mompel hy en gooi sy arm agtertoe. Sy verwelkom die gewig daarvan oor haar lyf. Veral toe hy haar vaster teen hom aandruk.
“Opgehou,” sê sy, “jy weet hoe dit gaan.”
Toe Tom onverwags met ’n slaperige hand oor die sagte walletjie van haar maag tot laag onderkant haar naeltjie begin vryf, hou sy asem op. Onseker. Dit voel vreemd. Dis Tom. Noudat dit uiteindelik gebeur, weet sy nie of sy met hom daardie grens moet oorsteek nie. Sy lê doodstil. Sy voel tegelyk eienaardig skaam en opgewonde. Weet hy ooit wat hy besig is om te doen? Is hy heeltemal wakker? Verbeel hy hom nie dalk dat hy nog in sy huweliksbedjie is nie? Dat sy Celeste is nie?
“Tom?”
“Hmm?”
Sy hand raak ’n oomblik stil en hervat dan weer die streling. Marlene haal net vlakkies asem. Ag hemel, wanneer laas …? Mag sy? Sy roer nie, want half teen haar beterwete begin haar liggaam reageer op hierdie lieflike plesier. Haar vel is uitgehonger hiervoor. Die effense growwigheid van sy vingerpunte maak elke tere senuweepuntjie waaroor haar lyf beskik wakker. Wagtend. Asof daardie vingers die enigste iets in haar heelal is. Haar brein volg die spoor van sy streling asof haar lewensbestaan alles saamgetrek het tot daardie een deeltjie van haar wat smagtend roep na meer.
Uiteindelik, dink Marlene en sy glimlag salig in die loom skemerte. Sy gaan net vergeet van alles en haarself oorgee. Hoe lank wag sy nie al hiervoor nie? En toe hy omrol en sy warm mond hard oor hare vou, soen sy hom terug met ’n drif en ’n ongeduld wat selfs vir haar, as buitengewoon warmbloedige vrou, ongewoon is. Sy hoor hoe Tom na sy asem snak. Om hom so te hoor, maak lank verborge drifte en emosies diep in haar los. Dat sy en Tom hulle uiteindelik so aan mekaar oorgee, is amper te veel vir haar.
“Sjoe, Babe! Is jy seker?” vra hy hees. Hy kom orent op sy een elmboog en buig oor haar. Asof hy wil sien dat sy soos hy voel. Sy voel die deining van sy borskas. Sy lippe is effens vanmekaar en sy asem onegalig, rukkerig teen haar gesig. Sy lyf voel soos ’n snaar gespanne, sy blou oë vraend, besorgd in hare en sy stem laag.
“My Babe?”
“Ja, Tom,” fluister Marlene, “asseblief. Ons hoef nie langer te wag nie, nóú.” En hy luister vir haar. Hy leun swaar oor haar en vroetel na die eensame kondoom in haar bedkassie. Alles neem hopeloos te lank, maar toe al hul klere uiteindelik op die vloer langs die bed lê en sy hom daar digby haar voel, gereed vir haar, is hy vir haar op daardie oomblik meer dierbaar, meer begeerlik as ooit. Hy is bokant haar en sy sien die wit glim van sy tande in die oggendlig wat soos halfskemer deur die dik kamergordyne sypel.
“Asseblief, Tom,” pleit sy en slaan haar bene om sy lyf.
En net toe bars daar iewers ’n helse lawaai los. Sy voel hoe Tom se skouers ruk. Hulle los mekaar en rol onmiddellik weg soos twee skuldige tieners wat oor die tou wou trap. ’n Senuagtige giggel ontsnap uit Marlene se keel. Sy wonder vir een oomblik of die geluid in haar kop is. Of sy dalk terug is by die werk met die kakofoniese protesgedruis. Met ’n diep sug sak Tom met sy hele gewig op die matras langs haar neer.
“Waddehel?”
Marlene blaas haar asem stadig, bewerig uit terwyl sy luister.
“Weed eater,” sê sy, nog effens uitasem. “Langsaan. Tuindienste. Woensdagoggende. Klokslag 09:30.” Moedeloos sak sy terug in die kussing.
“Goeie bliksem,” sê Tom.
Marlene het nie woorde nie.
“Jammer, nie so nie. Nie met dáárdie lawaai nie. Jammer.”
“Ek