Marlene en die macho man. Anita du Preez
liggies op hul wapens. Marlene kan hulle onrustigheid voel, en hul selfbeheersing omdat almal weet hulle mag nie skiet nie. Hulle is toegerus met skerppunt-ammunisie, daarom moet hulle hulle ten alle koste inhou.
“Stay cool, guys, POP’s are on their way,” sê sy vir haar twee manne.
Skielik vlieg ’n paar klippe deur die lug en konstabel Nyanda gryp na sy wang, net toe Marlene met dankbaarheid die spesiale rooi kentekens van die Publike Orde Polisie skuins agter die protesteerders gewaar. Chaos bars los toe die oorverdowende knalle van die donderbuise opklink. Toe die blou rookgranaat tussen hulle voete begin blom, kies die meeste van die groep koers in die rigting van die hoofstraat. Marlene draf die trappe af na konstabel Nyanda.
“No worries, colonel. Just a scratch,” sê hy en vee ’n streep bloed van sy wang af. Toe Marlene omkyk, is almal weg.
“Nogtans, konstabel. Laat Noodhulp die plek vir jou ontsmet voordat julle op patrollie gaan.”
Marlene besluit om bloot haar stasie se roetine aan te pas. Nadat kaptein Buzani huis toe is, doen sy heel eerste die speurdersparade sodat hulle met hul dagtake kan begin, en verskuif sowel die ondersteuningsvergadering met die Menslike Hulpbronne-bestuur as die misdaadvergaderings elk ’n uur later voordat sy kans kry om haar e-posse na te gaan. Iemand het ’n koppie tee op haar lessenaar neergesit en sy sluk dankbaar voordat sy kontak maak met die provinsiale kantoor om terugvoering te gee oor die aktiwiteite van die afgelope vier-en-twintig uur.
Haar eerste besoek aan ’n misdaadtoneel is dié van ’n inbraak in Teddingtonweg. Dit lê tussen die Liesbeeckrivier en die stasie, wat dit ’n maklike ontsnappingsroete vir die rowers maak. Sy en sersant Jantjies neem die agterste roete om die betogings laer af in die hoofstraat te vermy. Sersant Jantjies lig haar in op pad soontoe. Die rowers het veiligheidshekke oopgeforseer, die voordeur afgeskop en helder oordag met elke elektroniese of digitale toestel wat in hulle smaak geval het, weggestap. Presies soos twee vorige rooftogte, vermoedelik deur dieselfde groep. Dis waarom sy self die toneel wou kom bekyk. Die jong grafiese ontwerper wie se blyplek dit is, sit verslae.
“Hulle het alles gevat,” sê hy, “selfs my backup system met my hele portfolio. Onvervangbaar.”
Marlene kry hom innig jammer.
“Jy is gelukkig dat jy nie tuis was nie,” is al troos wat sy kan aanbied, “anders het jy dalk seergekry.”
By die tweede toneel waarheen hulle ry, was die inwoners minder gelukkig. Die rowers het die bejaarde dame en haar man vasgebind en taamlik verniel voordat hulle met hul buit in die paartjie se bakkie weg is. Maar albei is verbasend oukei. Net baie, baie kwaad.
“Ons sal hulle kry,” belowe sersant Jantjies toe Marlene dit nie sê nie.
Terug by die aanklagkantoor wag die vergadering met die administratiewe personeel en ’n paar onderhoude met die media vir Marlene voordat sy kans kry om nog misdaadtonele te besoek. Die eerste is ’n inbraak by ’n selfoonwinkel en die laaste, die knaende, voortslepende klagtes van huismoles in Wilhelminastraat.
“What is the matter with these people?” vra Zondwa toe hulle na hierdie laaste beplande bestemming van die dag ry.
“Dis wat ons nou gaan uitvind, Zondwa. Die klaagster kan mos nie elke keer bel en as een van ons voertuie uitgestuur word, weer besluit sy wil geen klag lê nie? Ons het eenvoudig nie tyd of mannekrag hiervoor nie. Daarom gaan ons nou finaal vasstel wat aangaan.”
Zondwa vou haar arms en trek haar mond op ’n onvergenoegde plooi. “Well, she was crying wolf again this morning at two o’clock when Barnard and Buzani were called out there. Eish! Barnard told me the plaintiff was quite aggressive to her when she wanted to go inside to make sure. Honestly, colonel, I am glad we are now going to get to the bottom of this. There are children there. Miskien sal sy darem bietjie respect hê vir jou, kolonel. Not waste your time every time.”
“Hmm,” antwoord Marlene. “Jong mishandelde vrouens glo mos elke keer hy sal verander. Die vrou het gewoonlik nêrens anders om heen te gaan nie. Wat word van haar as haar man tronk toe gaan? Dan cover sy maar vir hom en hoop vir die beste.”
“Yeah,” sug Zondwa uit die bloute, “like my mom.”
Marlene kyk skerp na die klein konstabel langs haar, maar die skielik geslote, koppige uitdrukking om Zondwa se mond nooi niks verdere praatjies hieroor uit nie.
Daar is niemand by die eenvoudige grondverdiepingwoonstel toe Marlene en Zondwa gaan klop nie. Alles is bottoe. In die oneweredige sandputjie langs die voorste grasperkie is ’n verlate groen speelgrafie regop in die sand gedruk langs die bypassende emmertjie sonder hingsel. Hulle klop weer, maar toe daar na die derde poging steeds niemand reageer nie, blaas hulle die aftog.
“Sy gaan ons weer uitroep,” sê Zondwa terwyl sy op haar tone staan om deur die skreef in die verbleikte kombuisgordyne te loer. “Ek wéét dit, en dit beter nie ék wees wat die bliksem moet kom arresteer nie, want ek sal myself nie kan keer –”
Marlene sit haar hand ferm op Zondwa se skouer. “Kom, konstabel. En herinner my om jóú nie te stuur as sy weer bel nie.”
Zondwa se oë flits kwaai in Marlene se rigting. “Hoekom?”
“Want jy is te emosioneel hieroor. Dis hoekom.”
“Probably,” sê Zondwa toe sy inklim. Hulle praat niks verder tot by die stasie nie. Marlene vat ’n omweg verby die oggend se oproertoneel, maar selfs hier lê smeulende oorblyfsels van die skermutseling in die straat verwaai deur die skielike windvlaag.
Toe Marlene eers na sesuur die volgende oggend na haar voertuig stap, het dit liggies begin reën. En dit voel vir haar soos ’n antiklimaks. Veral toe sy haar foon uit haar sak haal en vir die eerste maal haar privaat oproepe van die dag behoorlik nagaan en sien dat daar nog nie weer iets van Tom was sedert sy waarskuwing oor die protesstormloop nie. Sy wás taamlik kortaf vroeër. En dis nodig dat hulle dinge uitpraat. Sy stuur gou vir hom ’n boodskap.
Uiteindelik is daar vrede. Ek is op pad huis toe.
Die antwoord kom dadelik.
Ek is bly. Sien jou netnou daar. Ek sal ontbyt maak. En vir jou ’n lekker bad tap.
Hmmm. Dit klink beter, dink Marlene. Miskien is hy spyt oor hy haar soos ’n orige aap op ’n skinkbord laat voel het toe sy by hom in die bed geklim het. Maar sy’s bereid om te luister as hy bereid is om te praat oor wat ook al hom nou eintlik pla.
By die verkeerslig trap sy effens te skerp rem sodat die lêers op die sitplek langs haar rondgly en van die papiere uittuimel. Sy raap alles vinnig bymekaar en sien uit die hoek van haar oog ’n adres. Dis die klagte oor die lawaaierige honde. 99 Milner Road, staan daar geskryf, in Siphokazi se voorbeeldige ronde matriekmeisie-handskrif.
Hmm. Zondwa het gesê die vrou het weer gebel. Sy’t nooit sover gekom om dit verder te voer nie. Daar was net soveel ander prioriteite. Maar dis op haar pad. Sy ry byna elke dag daar verby. Mens kan die plek nie juis mis met al die venstertjies en torinkies nie. Sy’t al baie gewonder wie bly in die kasteelagtige kasarm, maar nog nooit enige tekens van lewe daar opgemerk nie. En sy kyk altyd, want sy wou nog altyd bitter graag weet hoe dit van binne lyk.
Sy het mos darem nou ’n verskoning? Sy is huiwerig om huis toe te gaan waar dinge dalk nog ongemaklik kan wees tussen haar en Tom, al is sy morsdoodmoeg en grom haar maag al weer van die honger. Dalk moet sy tog net loer in die verbygaan. Dit sal haar aandag aftrek van alles – die dramatiese gedoentes by die werk én hierdie ding met haar en Tom. Sy kry haarself sommer jammer. Dat ’n klag oor blaffende hondjies nou so waar as vet haar idee van afleiding geword het!
Toe sy by die adres verbyry, stop sy en maak die ruit oop. Ja-nee. Die gedruis is nogal erg. En dit voor sewe? Sy kan verstaan dat dit die arme buurvrou sal mal maak. Sy herken Beethoven en ’n kruis tussen ’n geblaf en getjankery – of dalk die hoë gil van masjinerie tussenin? Liewe genade. Dit sou haar ook tot raserny dryf.
Sy skakel die enjin af.
Sien jou oor ’n halfuur, whatsapp sy vinnig vir Tom en sit