Die koning se wingerd. F. A. Venter

Die koning se wingerd - F. A. Venter


Скачать книгу
slag juig hulle vir Agab, nie oor wat hy is nie, maar oor wat hy wil word – ’n voortsetting van Omri. Dié toejuiging streel en bemoedig hom. Hy strek weer sy hande uit en toe dit stil word, sê hy: “Die ryk wat my vader Omri opgebou het, sal ek nog verder uitbou. Ek sal Israel nog groter en sterker en ryker maak. Dié wat my daarmee help, sal in die voorspoed en grootheid deel.” Hy bly ’n oomblik stil en kyk aandagtig na elkeen asof hy hul lojaliteit wil peil. “Dié wat in my pad staan, sal ek voor my wegvee!”

      Dié keer staan hulle soos een man op en klap hande en juig Agab toe. Hy praat soos die leeu van Samaria nog altyd gepraat het, hy wil Israel lei soos Omri hom gelei het.

      Agab lig sy drinkbeker hoog. “Ons drink op koning Omri,” roep hy uit. “Ons drink op die toekoms van Israel!” Toe bly hy bewoë staan terwyl hulle sy vader se naam uitroep en hul bekers swaai en juig.

      Agab gaan tevrede sit. Hy meen sy paar woorde het hul harte aangeraak. Hy weet nou dat die gees van Omri in hulle vaardig is – en solank hy daaraan vashou, is hy veilig.

      Maar sy voldoening is nie volkome nie. Dit is sy en Isebel se geleentheid dié, en tog juig hulle vir sy vader asof hy hier teenwoordig is. Sy eiewaan kriewel in hom sodat hy onvergenoeg na die halfgeëte f isant op sy bord afkyk.

      Maar toe staan Joël, die bejaarde hoof van die leër, op. “Ons drink op koning Agab en koningin Isebel,” sê hy, “en ons wens hulle ’n lang en geseënde huwelikslewe toe. Mag hulle ’n sieraad wees vir die huis van Omri.”

      Hulle juig vir Agab en Isebel en drink die heildronk. Tog voel Isebel ook nie heeltemal gelukkig nie. Wat hulle gedoen het, is eerder wellewend as opreg, dink sy. Sy voel aan daar is ’n sekere afstand tussen haar en hulle wat hier sit. Sy sal hulle óf aan die neus moet lei óf hard op hulle moet trap. Hulle sal moet leer dat die koning die koning is, dat die koning die wet is – soos aan die Oosterse howe die geval is. Dié manier van Israel, dat die “volk” die seggenskap het, is gevaarlik. Sy sal die pad vir Agab voorberei om volstrek koning te wees, onaantasbaar, soos haar vader.

      So mymer Isebel. Sy sal heel bo begin. Dit behoort nie moeilik te wees om die liewe siele wat vanaand hier bymekaar is aan Agab te bind nie. Goedgelowige ou manne, behep met hul ereposisies in die hiërargie van Israel, ambisieuse jong manne wat goed weet dat Agab nou die man is wat eer en mag uitdeel.

      Daarom leun Isebel oor en f luister vir Agab: “Moet ons nie ’n slag tussen ons gaste beweeg nie? Kennis maak en gesels? Almal het byna klaar geëet. Terloops, wat het daardie man kom sê?” Sy vra dit met ’n glimlag van reine onskuld.

      “’n Klomp profete rui die mense teen my op,” antwoord Agab vertroulik.

      “Maar dis aanhitsing! Dis koningskending!” f luister Isebel driftig.

      “Sodra die feesvierings oor is, sal ek die ampsdraers vra om hulle te verhoor en te straf. Die ellendelinge! Klomp wolwe in skaapsklere.”

      Isebel staan ergerlik op. “Kom,” sê sy nogtans lieftallig, “stel my aan jou volksleiers voor.”

      Toe sy aan Agab se arm deur die eetsaal beweeg, voel Isebel opgetoë en selfversekerd. Sy stap met ingebore grasie en sy weet alle aandag is op haar gevestig. Aan die hof van haar vader het sy al die fynere kunsies van vorstelike verkeer aangeleer. Sy weet wat om te sê, wat om te vra, hoe om te glimlag, hoe om te vlei. En veral hoe om deurgaans met haar skoonheid te betower. Al hierdie dinge is vir haar vanaand middele tot ’n doel, en sy gaan hulle gebruik soos nog nooit tevore nie.

      Isebel gesels vrolik, verneem na die mense se welstand, vra uit oor hul werk, sê hoe graag sy alles wil leer van Israel en wat nog meer sodat die voormanne van Israel, wat haar aanvanklik met agterdog bejeën het en haar vir ongenaakbaar en arrogant aangesien het, later teenoor mekaar moet erken dat sy hulle verras en verbly het met haar vriendelikheid, belangstelling en warm menslikheid.

      En haar skoonheid! Die nabyheid van haar liggaam is byna oorweldigend.

      “’n Ware koningin,” waag een van die ouer leiers dit.

      “’n Ware vorstin sal sy vir Israel wees,” meen ’n ander.

      En party kyk enigsins jaloers toe hoe sy, ef fens opsy, ’n bietjie langer met die jong Jehu gesels.

      “Daar is ’n saak waaroor ek graag persoonlik met u wil praat, hoofman Jehu,” sê Isebel. Al sê sy dit so lief ies, snap Jehu dadelik dat dit ’n bevel is. “Ek sal u laat weet wanneer ek gereed is … Eers wanneer die bruilofsfees verby is.”

      “Tot u diens, U Majesteit,” antwoord Jehu enigsins oorweldig. Hy het egter nie tyd om te wonder oor haar buitengewone opdrag nie, want Agab sluit hom by hulle aan.

      “Snaaks,” sê Agab afgetrokke, “Nabot van Jisreël het nie opgedaag nie. Wou hom graag aan jou voorstel, my lief. Die beste wynmaker in Israel en ’n leier in die streek Jisreël.”

      “Dalk is hy verhinder,” sê Isebel.

      Dan kon hy laat weet het, wil Agab sê. Pleks daarvan spreek hy Jehu aan. “Ek wil jou bedank dat jy so vinnig opgetree het teen die jong profete wat die werkers in die klipgroef opgerui het, hoofman Jehu. Ek hou van besliste, kragdadige optrede. Is die werkers darem tevrede?”

      “Doodtevrede, U Hoogheid,” antwoord Jehu. “Toe ek daar weg is, het hulle vrolik feesgevier.”

      By die klipgroef word daar inderdaad vrolik feesgevier. Die manne sit en lê in groepe om die vure, eet en drink en vergeet van hamers, koubeitels, blou naels en skrynerige hande – vergeet selfs van die tempel vir Baäl en die galge waarvan die lyke verwyder is.

      Dit gebeur nie aldag dat hulle soveel vleis kan eet en soveel wyn kan drink as hulle wil nie.

      Net een man vier nie fees nie. Sihon, die Kanaäniet, dwaal van groep tot groep en soek. Verneem hier, verneem daar. Deurkruis die werkerskamp van hoek tot kant, en soek.

      Want daardie môre vroeg toe hy wakker word, was Johanan nie in die hut nie. Al sy besittings was nog daar; sy velwatersak, sy slaapmatjie, sy klein siter. Maar Johanan het spoorloos verdwyn.

      5

      In haar ontvangskamer in die paleis van Omri het Isebel alles laat inrig presies soos sy dit wou hê: ’n plat tafel in die middel van die vloer, twee stoele, ’n hoë vaas met blomme, vrugte, wyn …

      Nou wag sy net op Jehu, die hoofman oor duisend, en sy voel vrolik omdat almal gaande is oor die onthaal in die paleis, en oor haar, koningin Isebel – selfs die droogste en behoudendste ou omies uit die afgeleë dele van Israel.

      Sy lyk baie elegant in haar duifblou kleed van Tirreense weefstof. Toe Jehu binnegebring word, loop sy hom tegemoet en groet hom met die nodige sjarme.

      Toe hulle by die tafel gaan sit, sluip die eerste skemering al in, want die son het taamlik laag gesak oor die hoogland van Efraim.

      Die oomblik toe Jehu binnekom, kom Isebel agter dat hy nie op sy gemak is nie. Daar is iets stroefs aan hom. En nou, terwyl hy op haar versoek vir hulle wyn inskink, kry sy die indruk dat hy onhandig en verstrooid is. Dalk maar omdat hy ontuis voel in die teenwoordigheid van die koningin van Israel. Dié samekoms is buitengewoon, dink sy.

      “U lyk gespanne, hoofman Jehu,” merk Isebel op. “Iets wat u pla?”

      Wat ’n besonderse vrou, dink Jehu verbaas. Skerpsinnig en belangstellend. Daar is iets aan haar wat jou laat oopgaan vir haar. Dit is nie net haar skoonheid nie, dit is iets diepers wat jou oorweldig en weerloos maak. Sy het ’n opregtheid wat jou uitlok om geheime met haar te deel, soos met jou moeder.

      “Ek ís gespanne, Majesteit,” antwoord Jehu. “En teleurgesteld.”

      “Ek het gedink hoofman Jehu is bo alle spanning verhewe. Dit is mos die kwaal van gewone mense.”

      “My soldate het ’n arbeider by die klipgroef laat ontsnap …”

      Sy gooi haar kop agteroor, en haar skaterlag vul die klein vertrek. “Die befaamde Jehu verknies hom oor een kwartel wat weggevlieg


Скачать книгу