Alles begin met Anna. Annemari Coetser
…”
“Ook weer waar,” sê Laatste. “Ewenwel, Methuen laat vuur toe al die artillerie wat hulle het, maar hulle besef nog steeds nie dat ons in die loopgraaf onder die koppie lê nie. Dit word ’n lang dag. Daar kom versterkings vir die Engelse, maar Cronjé loods ’n nuwe aanval op hulle regterflank. Só lê die Highlanders wat nog oor is die hele goddelike dag in die warm Desemberson en brand hulle wit bene kaiings. Party is so moeg dat hulle in die son aan die slaap raak. Teen die middag spring hulle op en vlug na die westekant, waar die meeste van die Britte intussen versamel het. En daar bly staan hulle veldkanonne oop en bloot, maar ons neem ook nie die kans waar en gryp die goed nie.
“Cronjé stuur toe ’n Boer met ’n wit vlag na die Scots Guards se buitepos om te sê die Britte kan maar hulle ambulanse stuur om die gewondes te kom oplaai, die Boere sal ophou skiet. Dank Vader, want teen dié tyd kon ons die gewondes se gekerm om water nie meer verduur nie. Halfses die middag, net toe die Britte dink alles is verby, begin die Boere se Krupp-kanon op Magersfonteinkop, wat heeldag stil was, op hulle losbrand. Toe is almal weer in die war. Oplaas het die Britte deur die nag teruggeval na hulle kamp by die Modderrivier.”
“En?” vra Rina.
“Dit beteken Methuen kon dit nie regkry om die beleg van Kimberley te gaan ophef nie,” som Anna lakonies op.
“Net so, Hartlam. En Cronjé dink Methuen moet die spoorlyn gebruik en sal nie wil wegbreek daarvan nie. Boonop is hy toe skielik so beïndruk met die loopgrawe, hy laat die burgers daar by Magersfontein ingrawe.”
“Nou wat was die nut van Cronjé se oorwinning nou eintlik?” vra Rina. “Was dit alles tevergeefs?”
“Die Britte is darem gestuit,” herinner Anna haar.
“Juis,” sê Laatste moeg. “Maar die ou piet-verdriet van ’n Cronjé volg nie op nie. Hy sit maar en wag daar by Magersfontein vir Methuen om iets te doen.”
“Het jy gehoor generaal Roberts het laas maand hier aangekom?” vra Rina.
“Dis hoe ek dit ook het,” beaam Laatste. “Ja, dié lord is toe in bevel. En hy gebruik die symste Highlanders om die Boere se aandag af te lei. Teen Cronjé se verwagting in verlaat hy sowaar die spoorlyn en ruk oos van Magersfontein, vlaktelangs, verby Cronjé se stellings en ontset Kimberley!”
“Dit het ons wel gehoor. Maar waar is jy toe gewond, my man?” vra Anna.
Laatste se gesig trek verontwaardig. “Daar in die kamp by Magersfontein, terwyl ons so saam met Piet Cronjé met ons duime sit en speel. Skiet ’n bliksem, een van ons eie krygers wat die nag brandwag staan, waaragtig op my toe ek loop om te gaan broek losmaak.”
Hy is nie geamuseerd toe al vier vroue uitbars van die lag nie.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.