Annelize Morgan Omnibus 8. Annelize Morgan

Annelize Morgan Omnibus 8 - Annelize Morgan


Скачать книгу
maar hy is te kwaad om toe te gee.

      “Ek is nie meer ’n kind nie, oom Markus!”

      “Maar jy is darem nog nie ’n man nie. Jy sal doen wat ek sê, of ek bemaak die plaas aan Rosalie!”

      Dit ruk Samuel tot stilstand.

      “Goed, ou man, hierdie keer het jy nog die laaste sê,” sis hy, “maar dit sal nie meer lank wees nie.”

      “Ons sal sien,” sê Markus en laat die riem sak. “Op Leydsgrond het ’n Leyds altyd die laaste sê!”

      Samuel loop woedend weg. Hy sal Sarie nie vandag kan sien nie, en hoe gaan hy dit aan haar verduidelik? Hy is nou wel nie verlief op haar nie, maar sy is ’n gewillige meisie, en daar is nie baie van hulle in die buurt nie. Sy maats sal hom uitlag as hulle weet dat oom Markus hom tot gehoorsaamheid gedwing het. Hy spog altyd by hulle dat hy die ou man in die holte van sy hande het, maar noudat oom Derek terugkom, sal dit dalk nie meer so wees nie. Hy moet aan ’n plan dink om Markus te laat sterf voordat Derek terugkom. Dis die enigste uitweg.

      Later, toe hulle weer op die kapkar moet klim om terug te keer huis toe, kom staan Charles by Rosalie. Hy het die diens die oggend in die kerkie gelei, en hy was verheug om die Leydse en die Wepeners ook in die kerk te sien.

      “Ek het spesiaal vir jou gepreek, Rosalie,” sê hy ingenome met homself.

      Sy glimlag vaag.

      “Veral oor die hel en die verderf, nè?”

      Hy kyk geskok na haar.

      “Dis ’n sonde om te spot!”

      Haar blik rus kalm op hom.

      “Dis al waaroor jy gepreek het, Charles. As ek my nie bekeer nie, sal ek na ’n plek toe gaan waar ek nie wil wees nie. Dit was min of meer die strekking van jou preek vanoggend, of wil jy stry?”

      “Jy het my verkeerd verstaan, Rosalie,” sê hy ongelukkig. “Ek wou vir jou die pad na hoop en liefde wys.”

      Sy kyk ’n lang ruk swyend na hom.

      “Jy weet, Charles, ek sal dalk nog eendag met jou trou net omdat daar vir my geen ander keuse is nie.”

      Hy glimlag nederig.

      “Dan sal dit die wil van die Skepper wees.”

      Renier kom by hulle staan en kyk half geamuseerd na Charles wat met ’n selfvoldane glimlag om sy mond voor Rosalie staan. Sy blik dwaal na die meisie in haar roomkleurige uitrusting van swaar sy. Die mouboordjie, kraag en hals is met swart kant afgewerk, en op haar kop het sy ’n swart breërandhoed met ’n roomkleurige strik agter die bol. Sy lyk pikant en pragtig in die tabberd wat slank van voor en vol en wyd van agter vertoon. Ook op die soom is swaar swart kant gewerk, maar dit lyk nie oordoen of uitspattig nie. Dit lyk eerder deftig en smaakvol.

      “Wat het jy vir Charles gesê?” vra Renier toe die jong predikantjie van hulle af wegstap.

      Sy kyk op na hom, en haar oë is helderblou soos die hemel op ’n lenteoggend.

      “Ek het hom vertel dat ek dalk nog eendag met hom sal trou.”

      Hy frons.

      “Jy het ’n fout gemaak, Rosalie. Hy sal dit nou aanvaar dat julle verloof is.”

      Sy skud haar kop.

      “Hy sal dit nie waag nie. Dan sal ek hom in die grootste skande steek wat hy nóg in was.”

      “Ek is bly om te sien daar het nog iets van jou ondeundheid oorgebly.”

      Sy lag.

      “Het jy met jou landauer gekom?”

      “Ja, wil jy saamry huis toe? Jy het nog nie eens ’n draai daarin gemaak nie.”

      Sy skud haar kop.

      “Ek sal dit liewer nie waag nie, dankie. Dit sal ’n groot bohaai by die huis veroorsaak. Op die oomblik gaan dit juis weer redelik rustig.”

      Hy glimlag.

      “Dus is jy nie meer van plan om sommer net so pad te gee nie?”

      “Ek wag tot oom Derek huis toe kom en dan sal ek gaan. Dan hoef ek my nie meer oor oom Markus te bekommer nie.”

      “Ek het gehoor hy kom terug. Dit moes baie vir die ou man beteken het.”

      Rosalie glimlag.

      “Ek het hom nog nooit so uitbundig van vreugde gesien nie. Hy het die kapkar byna omgekeer.”

      Renier lag en dan versag die blik in sy oë.

      “Jy is baie erg oor jou oom Markus, Rosalie. Jy sal hom nie maklik kan alleen laat nie.”

      “Nee, ek sal nie kan nie, maar ek sal dit net ter wille van hom doen. Hy besef nie dat dit vir hom veel beter sal wees as ek weg is nie.”

      Clara haak by Renier in en draai haar rug op Rosalie.

      “Ek het ’n paar dingetjies wat ek met jou wil bespreek, liefling,” sê Clara met ’n liefderyke glimlag.

      Renier is verplig om haastig half oor sy skouer by Rosalie verskoning te maak, en hy kyk verbaas na die meisie toe hy haar oë vol lag op hom gerig sien. Clara sleep hom byna letterlik van Rosalie af weg.

      Op pad terug Leydshoop toe babbel Clara onophoudelik oor Renier en wat hulle alles gepraat het totdat Rosalie lus voel om van die kapkar af te spring. Hanna kom tot almal se redding toe sy die onderwerp skielik in ’n ernstiger rigting stuur.

      “Ek het navraag gedoen oor Ansie du Preez,” sê sy toe daar ’n kort verposing in Clara se relaas kom. Onmiddellik is daar stilte tussen hulle. Oom Markus se hande verstyf om die teuels.

      “En wat het jy uitgevind?”

      Hanna aarsel en sê dan: “Ansie leef nog. Sy het met ’n losieshuis op Bloemfontein begin, en haar dogter is saam met haar daar.”

      Markus ontspan merkbaar en sug van verligting.

      “Ek sal Frank se arm nog hiervoor breek.”

      Rosalie voel ook verlig. Sy het verwag Hanna sou gesê het dat Ansie dood is en dat niemand weet wat van haar dogter geword het nie, maar hierdie nuus bring weer ’n bietjie hoop vir haar. Dit sal dalk nie nodig wees dat sy heeltemal so haastig hoef op te tree nie. Hanna se volgende woorde laat egter weer haar hoop verkrummel.

      “Dit wil natuurlik nie sê dat sy wél ’n pa iewers het nie. Sy kan nog steeds buite-egtelik wees.”

      “Ek wil niks verder oor die onderwerp hoor nie,” sê Markus beslis. “Rosalie is nou mý kind, en so gaan dit bly.”

      Rosalie kyk ver oor die vlaktes uit. Leydshoop is haar tuiste, al is dit ’n bietjie wankelrig op die oomblik. Miskien verander dinge as Derek eers terugkom. Sy sal maar net moet sit en wag en kyk wat gaan gebeur.

      Renier se landauer haal hulle in, en op ’n gelyke stuk aarde steek hy by hulle verby. Hy waai vir hulle, en dan byt Markus op sy tande.

      “Ek sal mos nie dat so ’n bogsnuiter my wen nie!” Hy lig die sweep en laat dit oor die twee perde se koppe klap. “Joehaaaa!” skreeu hy, en sy oë blink van opwinding.

      “Asseblief, Markus … probeer Hanna keer terwyl sy haar hoed styf op haar kop vasdruk. “Jy kan nie so jaag nie!”

      “Ek sal daardie lompe gevaarte maklik klop, Hanna! Hierdie wa word in ’n goeie toestand gehou! Joehaaaa!” Die sweep klap weer oor die perde se koppe, en hulle begin in volle vaart hardloop.

      Renier kyk oor sy skouer terug en sien die kapkarretjie in volle vaart aangery kom. Hy lag opgewek en spoor sy eie perde aan om vinniger te hardloop.

      Rosalie hou haar hoed met die een hand vas, en met die ander klou sy aan die kant van die kapkar. Die rytuig skommel gevaarlik heen en weer, maar oom Markus steur hom nie daaraan nie. Sy oë blink van die opwinding, en hy lag uitbundig.

      Die


Скачать книгу